In gesprek met Kleinboer oor die kosmos en sy bundel erf en elders

  • 1

Agtergrondfoto: Gerd Altman | Pixabay

Titel: erf en elders
Skrywer: Kleinboer
ISBN: 9781991256164
Uitgewer: Naledi

Die bundel erf en elders is in boekwinkels beskikbaar en kan ook aanlyn by Naledi bestel word, met gratis aflewering. Albert de Vos het met Kleinboer gesels.

Ek is nie ’n letterkundige nie, so ek wil sonder om akademies te raak so ’n bietjie gesels oor jou skryfwerk en jou nuwe bundel erf en elders. In die bundel skryf jy oor jou lewe in en om jou huis in Yeoville. Daar is ook herinneringe en heelwat humor te make met die triviale dinge van ons bestaan. Uit “beurtkragblues”:

massiewe vuurbal doer in die lug
en kokende lawa ’n ent onder ons voetsole
maar hier op die skilletjie aardkors
sit ons al weer sonder elektrisiteit
en skud kop en sug “hierdie land” (p 42)

Ek wil eerstens weet hoe en wanneer het jou liefde vir skryf begin?

Ek was in graad 2 en sewe jaar oud. Juffrou Mulder, ons onderwyseres in Laerskool Kreft in Kemptonpark, het vir ons klas die storie vertel van die haas en die skilpad se resies, hoedat die haas vinnig weggespring en ver voorgeloop het. Die skilpad het treetjie vir treetjie gevorder, stadig maar seker. Later het die haas vaak geword en besluit om vir ’n rukkie onder ’n boom te dut. Die haas se droom van ’n landery vol wortels was te diep en hy het verslaap. Wakker geskrik, die erns van die situasie besef en soos ’n vlakhaas weggespring en gehol om die skilpad in te haal. Helaas, tevergeefs. Die skilpad het die resies met ’n photo finish gewen.

Die onderwyseres het ons graad-tweetjies aangesê om die storie tuis in ons eie woorde oor te skryf en daai agtermiddag het ek dit dan ook gedoen. Maar ag, ’n dag of wat later het Juffrou Mulder vir my ma, wat ook ’n onderwyseres by die skool was, iets vertel wat my ma aan my oorgedra het. Sy het gesê: “Jou kind se opstel is baie goed, maar jy het hom daarmee gehelp.” En dit terwyl ek voor my siel geweet het dat ek dit heeltemal op my eie geskryf het. Ek het so ’n magtelose gevoel ervaar oor ek geweet het dit was buite my bereik om die onderwyseres daarvan te oortuig.

Verskoon my lang relaas oor die haas, maar dis dan hoe ek tot die besef gekom het dat ek ’n sekere aangetrokkenheid tot die skryfproses het.

Ons het ongeveer 20 jaar gelede in Johannesburg ontmoet en al dikwels saam gekuier by restaurante en jou huis in Yeoville. Ek onthou ’n vel papier wat jy dikwels uit ’n baadjiesak te voorskyn gebring het om nog iets wat jy onthou het, daarop te skribbel. En dan ook jou chaotiese studeerkamer! Hoe beplan jy jou gedigte? Kom ’n gedig net uit die bloute na jou?

Ja, uit die bloute. Dikwels begin dit met ’n enkele waarneming, soos dat my sewejarige Jack Russell, Roxy, se helder blafgeluid amper oornag meer skor geword het. Ek glo nie dis weens ’n groeisel in haar keel nie, maar eerder dat sy besluit het om meer “volwasse” te klink. Ek het haar ’n nuwe troetelnaam gegee, Hees Hondjie. Dalk ontaard dit later in ’n gedig wat my ander hond, Jessie, ook betrek.

Nog ’n waarneming: In die badkamer het ’n pak van 18 toiletrolle in my gesigsveld my uit die bloute hierdie gediggie laat prakseer, moontlik vir my volgende bundel:

privaat

howard hughes was teen die einde
’n mal kluisenaar maar ek identifiseer
met die manier waarop hy honderde
(dalk duisende) rolle toiletpapier
by sy biljoenêrswoning laat aflewer
en teen die mure van sy toilet
tot teenaan die dak opgestapel het
daar het hy op die troon gesit
asof in ’n padded cell, koning van sy waansin
en niemand kon eers ’n poepie uit hom hoor
ontsnap nie dit was nie hulle besigheid nie

Koos Kombuis het in ’n bespreking van jou digbundel gesê dat jou gedigte dalk eerder prosa genoem kan word en sommige van jou gedigte lees amper wel soos kort-kortverhale. Wat is jou opinie hieromtrent?

Ek stem net deels met Koos saam. Heelwat van my gedigte voel vir my soos propperse poësie, byvoorbeeld die een wat begin met “die mens wik / maar babelas beskik”. Ander verse in my bundel vertel wel storietjies, byvoorbeeld die een met die titel “ek hoop daai wasmasjien werk steeds”.

Ek wil noem dat baie ander Afrikaanse digters ook “beskuldig” kan word dat hulle elemente van prosa betrek. In Plunder, ’n bundel van ware digter Antjie Krog, lees mens byvoorbeeld op p 46: “haar wange is donsig / sy het ’n los somersrok aan / sy voel hoe dit lig aan haar gladde lyf raak”.

Ek is nie bekend met al die elemente van die digkuns nie, maar as ek jou gedigte lees kan ek sien jy het jou woorde sorgvuldig gekies en dat daar ook ’n gevoel van ritme in jou versreëls is. So begin “nog ’n heidense sondag”: “my vrou is so danig / oor ’n breë sambreel / soos ek oor ’n ruim wynglas” (p 74). Ander elemente soos rym ontbreek en ek neem aan dit is omdat jy die vrye vers verkies? Het jy enige kursusse in die skryf van gedigte geloop of jouself op ’n manier geskool in die skryfkuns?

Ek beoefen die vrye vers, ja, maar rym ontbreek darem nie heeltemal nie. Die gedig “florida” begin só: “ek wens ek was daar / om saam die ruimte in te vaar”.

En in ’n ander gedig rym “kerktoring” met “horing”. Ek sal erken dat rym soms ’n happy accident is en nie doelbewus nie.

Nee, ek het geen kursusse geloop nie. Ek het wel derduisende briewe aan verskeie mense geskryf; dit was my leerskool. En baie gelees toe ek jonger was.

In “ek tik” skryf jy:

moenie klap of dooddruk nie
asseblief
help die verdwaalde broertjie eerder
saggies af na die vloer
weg van jou suikerpot
om sy dieet gesond te hou (p 25)

Jy skryf hier oor ’n miertjie en dit is letterlik waaroor dit gaan. Is ek verkeerd as ek sê dat jy nie iemand is vir metafore nie en dat dit ’n element is wat ontbreek in jou gedigte?

O, ek dog die miertjie is ’n metafoor vir die mens! Nee, ek speel sommer, ek gee jou gelyk. Ek los metafore maar vir ander skrywers. Wanneer Totius dig van ’n wa met wiele wat wreed oor ’n plantjie ry, bedoel hy waarskynlik die magtige Britse Ryk wat die Boerevolkie vertrap. En ’n swetende ysterkoei het sekerlik dieper betekenis. Maar wanneer my oog soos ’n kameralens na ’n palmboom kyk, skryf my vingers palmboom. Iewers het iemand geskryf “a rose is a rose is a rose”.

Jou gedigte is geskryf in suiwer en natuurlik goedversorgde Afrikaans en baie min Engelse woorde of slang word gebruik. Die kwessie van “suiwer” Afrikaans het ’n sensitiewe en omstrede saak geword en dan moet ’n mens ook seker wonder oor wat die definisie van “suiwer Afrikaans” is.

Hoe voel jy oor die saak? Is daar verskillende soorte Afrikaans sonder dat die een beter as die ander is?

Ek sal sê ja, daar is verskillende soorte Afrikaans sonder dat die een beter as die ander is. Skryf ek in Standaardafrikaans? Ja. Ek waardeer wel ook poësie wat vanuit ’n ander tongval geskryf word, byvoorbeeld die werk van Nathan Trantraal. Ek voel myself onmagtig om sy werk enigsins te kritiseer, want ek is nie in Kaaps onderlê nie. Wanneer iemand egter in Standaardafrikaans skryf “kom saam my winkel toe”, sal ek my mond goed uitspoel oor die “met” wat ontbreek.

Uit “ek hoop daai wasmasjien werk steeds” kom hierdie woorde: “maar raak toe verslaaf aan / wilde vroue se ruie slootjies / en hou aan en aan en aan / en seks word bloot meganies / en die neerskryf van elke lyf / in ’n dagboek obsessief” (p 20). Ek was al dikwels by geleenthede waar jy as spreker opgetree het en dit het my dan opgeval hoe gemaklik en met eerlikheid jy praat oor dinge waaroor ander eerder sal swyg. Voel jy ooit dat ’n preutse familielid of vriend oor jou skouer loer wanneer jy skryf en dat dit dan jou inhibeer in jou skryfwerk?

Nee, ek voel nie geïnhibeer nie. Ek het min kontak met familie en vir die preutses onder hulle se mening voel ek vere. Ek het nie my boeke vir my ouers (nou oorlede) gaan wys nie. Toe ek met my eerste swart vrou trou, het my pa in ’n brief geskryf: “Jy het my aan die kruis vasgespyker.” Sy pyn was werklik en ek wou dit nie vererger deur hom bloot te stel aan my reis deur die underbelly nie. Wat my vriende betref: Ek aanvaar dat alles wat ek skryf nie elkeen se cup of tea is nie, maar hulle mening gaan my nie ontspoor nie.

Die kere dat ek by jou gebraai het, het jy altyd sorgvuldig die wyn uitgesoek en daar was amper ’n soort ritueel by jou omgaan met alkohol. Ten tye van die skryf van hierdie woorde is jy al 60 dae op die waterkar en dit wil nogal gedoen wees. Dink jy alkohol het jou ooit op enige manier gehelp om meer kreatief in jou skryfwerk te wees?

Ja, alkohol het my kreatiwiteit gevoed. Terwyl ek drink, voel ek gelukkig en sorgvry en dis asof ’n vuis om my brein verslap en “ongewone” gedagtes my soms te binne skiet. Die volgende oggend is daar die pyn en waas van ’n babelas en om daartéén in te skryf, help my dan om weer ’n soort van ekwilibrium te bekom.

Noudat ek nugter is, speel drank steeds ’n rol in my kreatiwiteit. Ek het reeds meer as 10 gedigte vir ’n volgende bundel neergepen, en goed die helfte van hulle gaan oor die proses van onthouding en selfs ’n hunkering na drank. Maar ek voorsien ’n fase waarin die nugtere ekke heelwat ander temas ook sal betrek.

Jy erken in erf en elders dat jy nie iemand vir “stroperigheid” is nie, maar ek was nogal weemoedig gestem oor die verbygaan van dinge met die lees van die laaste woorde in die bundel:

en ek wonder of my vrou
indien ek voor haar aftjop (heel waarskynlik)
haar belofte gestand sal doen en my
weg van hierdie besoedelde stad
natal toe sal laat aanry in ’n verkoelde lykswa
oor van reenenspas verby die ruïne van ’n motel
waar my pa ons gesinnetjie in die 1960’s
met die beste kerrie & rys ooit bederf het
(nie wegneem nie maar aansit
gestyfde katoenservette en ’n uitsig oor die drakensberg)
en my in ’n sagte heuwel buite pietermaritzburg
in haar familie se groot erf sal wegbêre

Hoe hanteer jy verganklikheid; dink jy dikwels daaroor?

Ja, die verganklikheid spook nogal by my, die vlugtigheid van alles. Ek sê gereeld vir blommetjies in die verbygaan: “Ek sien julle, hoor!” Môre sal hulle verwelk wees en oormôre leweloos. My eie einde is nie so eksak te voorspelle nie, maar ek tart die verganklikheid wel deurdat my testament nie heeltemal op datum is nie.

Daar is nie juis ’n manier om die verganklikheid te hanteer nie, behalwe om intens bewus te wees van die “hier en nou” se kosbaarheid. Dis egter nie altyd maanskyn en rose nie, maar dikwels ook ’n pyn in die gat, soos daai oomblik wanneer jy jou nuwe motor se modderskerm die eerste skraap toedien.

Die mensdom met al sy waarnemings en groeiende kennis – ons weet byvoorbeeld dat die Andromeda-sterrestelsel teen sowat 300 kilometer per sekonde na die Melkweg onderweg is, maar dit gaan nog 2,5 miljoen jaar neem om hier uit te kom. Geen mens gaan hier wees om dit te aanskou nie. Al ons kennis voel egter nie daarom vir my nutteloos en vergeefs nie.

Dis dalk ’n floue troos dat dit nie net ons is wat aan die vrek is nie, maar almal en alles. Laat my toe om uit Wikipedia aan te haal:

In physical cosmology, the Big Rip is a hypothetical cosmological model concerning the ultimate fate of the universe, in which the matter of the universe, from stars and galaxies to atoms and subatomic particles, and even spacetime itself, is progressively torn apart by the expansion of the universe at a certain time in the future, until distances between particles will infinitely increase. The estimate is that the Big Rip would occur approximately 152 billion years into the future at the earliest. [Torn apart, ek sê.]

Sarel Sambok (links) en Kleinboer was albei gereelde bydraers tot LitNet in die beginjare. Sarel, Kleinboer se broer, is intussen oorlede. (Foto: Izak de Vries)

Ten laaste, watter vraag sal jy graag gevra wil word en wat sal jou antwoord op die vraag wees?

Jy sou my kon vra: “Wat is jou grootste regret, wat berou jy die meeste?”

Ek is jammer ek het Frank Zappa se musiek eers ontdek sowat 20 jaar ná sy eerste album verskyn het. Daar is wel versagtende omstandighede. Wanneer mens op ’n Oos-Randse dorp in die 60’s en 70’s grootgeword het, was daar uiters min mentors wat die album Freak Out! na jou sou uithou en sê: “Luister bietjie hierna.” Dit sou ook met hierdie waarskuwing moes kom: “Jy gaan dalk nie aanvanklik daarvan hou nie.”

Ek is ook jammer ek is so uitstellerig van aard. Ek het heelwat later as die gemiddelde mens my eerste seks gehad en my eerste mikrogolfoond in my 40’s en my eerste lugbraaier in my 60’s aangeskaf (laasgenoemde was wel nie vroeër beskikbaar nie).

En dan is ek bitter spyt ek het my oorlede ma se diamant in ’n oomblik van misplaaste mededeelsaamheid en oordrewe altruïsme weggegee. Die diamant was deel van die ring waarmee my ouers rondom 1950 verloof geraak het. Later, toe hulle meer vermoënd was, het my pa vir my ma ’n nuwe knewel van ’n diamant gekoop vir haar ring en die oorspronklike diamant in ’n nekhouertjie laat sit, met ’n goue kettinkie. Ek het daai nekhouertjie geërf. My huislike toestande was destyds chaoties, deels omdat my vrou, Lungi, baie gedrink en “verkeerde” mense toegelaat het om in ons huis te kom kuier. Ek was bang die nekhouertjie word gesteel en toe steek ek dit onder die spaarwiel in my kattebak weg. Ag, een aand in ’n kroeg raak ek toe so roekeloos dat ek die hangertjie in die kattebak loop haal en vir ’n hoer present gee. Eina, eina, eina. Ek wonder waar in die wêreld daai diamant nou is; dit sou baie goed op my huidige nugter vrou gelyk het. Dit troos my nie eintlik dat die heelal se Big Rip alle diamante (en hierdie sin) ook eindelik uitmekaar gaan ruk en in partikels gaan verstrooi nie.

Lees ook:

Toyota US Woordfees 2023: ’n onderhoud oor Spierwit blues en Hennie Aucamp se dagboeke

Albert de Vos: "Ek is eintlik hééltemal onder die radar"

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top