Die laaste soen

  • 1

“Die laaste soen” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.

As jy wil deelneem, lees hier meer oor die kompetisie. Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.

*

Die laaste soen

Wat bly oor van soene? Wonde, daarenteen, laat letsels.
– Bertolt Brecht in Die trofeë van Lucullus

Op daardie besondere Saterdagoggend was dit sesuur al lig, want dit was somer. Hy het voor die groot venster van sy sitkamer op die agtste vloer gestaan en kyk hoe die swaeltjies vaartbelyn deur die lugruim swiep. Majestueuse wit wolke was besig om in die ooste op te bou en onder langs die sypaadjie by die vulstasie het vlae liggies in die wind gewapper. Dit was een van daardie oomblikke wat hy probeer vashou het, want hy het besef dat dit binnekort teen daardie tyd van die oggend donker en koud sou wees.

Dit was die 15de Desember 2011 dat hy ’n afspraak gehad het met Vicky. Sy het effens anders gelyk toe sy met die trappe van die plesierpaleis in Waterkloof afgekom het, anders as wat hy haar kon onthou van die vorige keer; miskien het sy haar hare verander? ’n Paar minute later was hy op die masseerbed op sy maag en het deur ’n ovaalvormige opening in die bed na die vloer gekyk. Op die marmerteëls reg onder hom was ’n versierende porseleinbak gevul met water en op die bodem was twee groot rooibruin herfsblare. Die blare het baie eg gelyk, maar hulle was natuurlik vals, vals soos die marmer en die naam, Vicky; Vicky wat op daardie oomblik nakend langs hom gestaan het, was besig om sy rug met aromatiese olie in te vryf. Hy kon net haar voete sien, pers geverfde toonnaels met ’n ring aan een van die klein toontjies. Kalmerende new age-musiek het gespeel deur ingeboude luidsprekers in die dak.

Hoekom het hy hom bevind in so ’n plek wat die kanniedood-Calvinis in hom se goedkeuring nie weggedra het nie? Was dit sy middeljarekrisis, eensaamheid, verveeldheid of bloot die begeerte van die vlees? Die verslawing was nie eenvoudig nie, nie net vir ’n lyf nie, maar ook vir ’n emosionele konneksie met die fontein van sy jeug. En ’n verslawing vat ’n mens weg uit die normale wêreld na die geheime skemerwêreld van die swartmark waar selfs intimiteit ’n verbruikersartikel kan word.

Hy het gehou van Vicky. Sy kon maklik lag en haar humor was op sy golflengte. Aanvanklik het sy Engels met hom gepraat, seker die taal van die meeste van haar kliënte. Net naweke was sy beskikbaar. Gedurende die week was sy ’n skakelbeampte vir ’n maatskappy in Johannesburg, die stad waar sy ook gewoon het. Dit het hy op ’n vorige besoek uitgevind, ongeveer ’n maand tevore. Dis ’n kuns om ’n goeie masseuse te wees, die kuns van net die regte aanraking. Vicky was nie ’n uitstekende masseuse nie. Hy sou haar 7 uit 10 gee op daardie gebied, maar sy het ’n girlfriend-ondervinding gebied, al was dit geveins, waarvoor hy haar 10 uit 10 sou gee. Die gevoel wat romantiese liefde genoem word, het hy al dikwels ondervind en wat het hy vir Vicky gevoel? Dit sou naïef en dwaas wees om op iemand in haar beroep verlief te raak, maar daar is baie soorte liefdes en een van hulle was van toepassing op sy gevoel vir Vicky.

Alhoewel sy net Saterdae daar gewerk het, het sy baie mans behandel en hy het gewonder of sy hom kon onthou. Ná ongeveer vyf minute se stilte het sy egter gesê: “Jy hou mos van rockmusiek.” Die vorige keer het sy hom geterg toe hy gesê het hy hou van rock. Blykbaar het dit nie gepas by iemand van sy ouderdom nie. Vicky was 20 en hy was 58.

Hy het ’n negentig minute afspraak met haar gereël sodat daar genoeg tyd vir hom sou wees om haar ook te masseer. Herfshande sou dan beweeg oor die gladde bruin somerrug van ’n jong vrou. Toe hy haar gevra het om om te draai, het sy kruisbeen op die bed gaan sit, met die twee rondingtjies, kleinerig soos hy daarvan gehou het, en tepeltjies wat parmantig na hom gepunt het. “Nee, jy wil net stout wees,” het sy geantwoord. Op ’n vreemde manier wat hy nie kon verstaan nie, was sy ook kuis.

“Vertel my iets,” het sy gevra, en toe hy nie aan iets kon dink nie, het sy gesê: “Vertel my van jou hoërskooldae.” Hy het haar vertel van hoe skaam en teruggetrokke hy was, nooit eers ’n meisie gehad nie en jare later was die eerste meisie wat hy gesoen het, sy niggie. Daar was ’n volmaan in die hemel bokant die strand waar hulle geloop het. Dit was die somer van 1977 ’n paar weke voor Kersfees. Sy was pas klaar met skool en hy was drie-en-twintig jaar oud, maar het soos ’n tiener gevoel op sy eerste afspraak met ’n meisie. Onverwags het sy na hom gedraai en hom vurig begin soen. Hy het gebewe van opwinding terwyl sy hande oor haar liggaam beweeg het. ’n Paar minute later het hulle in sy motor gesit en net gesels.

Wat hy nie vir Vicky vertel het nie, was dat hy onmiddellik hopeloos verlief was, en dit was ’n fout. Nou ná al die jare besef hy dat sy ingelyfde niggie dalk net wou vry en sy intense emosies het haar onkant gevang. ’n Paar dae later het sy en haar ouers weer teruggekeer na hulle plaas in die Transvaal en die droewige seun-man alleen agtergelaat. In daardie jare het sy romantiese weemoedigheid hom daartoe gedryf om “gedigte” te skryf en die swart boekie waarin hy in ’n netjiese handskrif sy hart uitgestort het, is nog steeds in sy besit. Daarin is ook ’n paar tieneragtige gedigte opgedra aan sy eerste liefde.

My oupa en ek

Ek had ’n oupa
wat altyd op die stoep gesit
en staar het
tot in die Transvaal
waar hy sy jeug verloor het

nou toe ek vandag
op die stoep sit
het ek skielik ’n ooreenkoms herken
want toe ek daar sit
kyk ek oor die vaalblou see
oor die wit sandduine
dwarsdeur die cumulus wolke
tot in jou oë

Hy het haar onlangs onverwags gesien in ’n winkelsentrum terwyl sy besig was om met ’n roltrap na onder te beweeg. Dekades het verloop en tog het hy haar herken. Sy het hom nie opgemerk nie en as sy ’n totale vreemdeling was, sou sy nie sy aandag getrek het nie; net ’n gewone ouer vrou tussen al die mense.

Vicky het sy storie snaaks gevind, maar sy wou weet of daar dan nooit iemand anders was nie, en toe hy antwoord dat daar heelwat mooi meisies op skool was, het sy gesê dat sy nie net “mooi” bedoel nie. Sonder om hom te beskuldig, het sy hom laat besef hy was oppervlakkig en dat hy besig was om ’n prys daarvoor te betaal, nie net figuurlik nie, maar ook letterlik.

Op haar beurt het sy hom vertel van die ondeunde dinge wat sy en haar maats op hoërskool aangevang het, soos om ’n onderwyser se klein motortjie op te tel en tussen twee bome in te skuif. “Maar nou is ek nie meer stout nie,” het sy bygevoeg. Aldus soet Vicky met die gladgeskeerde skulpie wat vreemde mans met haar hande na die paradys toe kon neem.

Later het hy op sy rug gelê terwyl sy hom masseer, besig om op te bou na ’n hemelse einde. Sy het haar gesig naby aan hom gebring en gesê: “Ek wil in jou gedagtes kyk.” En toe meteens en onverwags het sy hom begin soen, lank en passievol soos ’n jong meisie haar jong kêrel sou soen.

Nog voordat hy vir Vicky totsiens gesê het daardie dag het hy geweet dat die soen nie weer herhaal sou word nie en dit was ook so. In die ongewone beroep wat Vicky beoefen het, is daar in elk geval ’n ongeskrewe reël om nooit te soen nie; slegs die hande word gebruik om genot te verskaf.

Hy het huiswaarts gekeer en langs die strate het die Jakaranda-bome al die meeste van hulle blomme verloor. Hy was nounet in ’n tydmasjien, het hy besef, wat hom meer as dertig jaar teruggeneem het. Wat gebeur het, het so onwerklik gevoel dat Vicky net sowel ’n wese uit die buitenste ruimte kon wees.

’n Maand het verbygegaan voordat hy haar weer besoek het. Sy was stiller as gewoonlik en terwyl sy sy rug masseer het, het sy vir hom gesê dat sy nie meer daar gaan werk nie. Sy het gevoel dit was nie reg teenoor haar boyfriend nie. Met sy gesig weggedraai van haar kon sy nie sien dat daar trane in sy oë begin opwel het nie. Hierdie keer is daar geen soene tussen hulle uitgeruil nie. Uit nuuskierigheid het hy haar gevra hoe dit gebeur het dat iemand soos sy ’n masseuse geword het. “I wanted to do something extreme,” was haar antwoord.

Hy sou die ekstreme Vicky nooit weer sien nie. “Jy moet na American Beauty kyk,” het hy vir haar gesê voordat hy haar gegroet het. Hy het hom vereenselwig met die komitragiese hoofkarakter van die rolprent en gehoop dat sy dalk sy laaste gryp na skoonheid en jeug beter sou verstaan as sy na die film kyk.

’n Halwe jaar later het hy Pretoria verruil vir ’n koue sonlose winter in ’n klein woonstel in Kaapstad, en nou is dit meer as ’n dekade en drie woonstelle later. Hy sit hier by ’n straatkafee met ’n hand wat liggies bewe, maar helaas nie van opwinding nie. As Vicky nou verby hom sal loop, sal hy haar nie herken nie. Vicky wat hom wou leer dat dit nie net die lente is wat mooi is nie, maar ook herfs en selfs winter op sy eie manier.

Lees die ander verhale hier:

Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top