Onderhoud met Catrina Wessels oor PEN Afrikaans

  • 1

Remona Voges het met Catrina Wessels, die bestuurder van PEN Afrikaans, oor dié organisasie gesels.

Catrina, sal jy asseblief vir ons lesers wat nie bekend is met PEN Afrikaans nie, kortliks verduidelik wie julle is en wat julle doen?

PEN Afrikaans is ’n skrywersvereniging wat aan PEN International, die wêreld se voorste skrywersvereniging, verbonde is. Onder die begrip skrywer tel PEN Afrikaans almal wat met Afrikaanse skryfwerk gemoeid is of ’n gevestigde belang by ons bedrywighede het. Dit sluit byvoorbeeld joernaliste, redigeerders, vertalers, bloggers, akademici, resensente en uitgewers in. Hierdie wye omskrywing van die begrip skrywer is strook met PEN International se omvattende benadering. So ’n inklusiewe benadering omarm enigeen wat hul met skryfwerk bemoei en dit dra daartoe by dat PEN International so ’n groot en gerekende skrywersvereniging is. Lede van PEN Afrikaans is outomaties ook deel van die internasionale organisasie.

Ons organisasie se bedrywighede is gemik op die viering en bevordering van die Afrikaanse woordkuns, die beskerming en bevordering van pers- en uitdrukkingsvryheid, taalregte binne ’n meertalige verband, sowel as die belange van skrywers. Ons pak projekte aan wat hierdie doelwitte dien.

LitNet publiseer elke maand jul maandelikse resensie-oorsig. Watter tendense sien julle in die Afrikaanse boekmark en wat daarvan inspireer of hinder julle?

In die eerste plek is dit lekker om te sien dat daar heelwat resensies en boekbesprekings verskyn. Verskeie publikasies staan kosbare hulpbronne soos tyd, kundigheid, geld en bladruimte aan resensies af. Dit is op sigself verblydend. Hoe meer hoe beter, wat ons betref. Goeie resensies, en daarmee bedoel ek nie noodwendig positiewe resensies nie, vervul ’n belangrike rol en skep 'n ruimte waarin ’n lewendige en sinvolle gesprek oor nuwe boeke kan plaasvind. Daarom werk PEN Afrikaans ook graag saam met Netwerk24 en NB-Uitgewers aan resensiekursusse, waartydens resensente deur kenners touwys gemaak word.

’n Algemene tendens in die boekebedryf wat vir my inspirerend is, is die groot impak wat veral niefiksieboeke oor die afgelope paar jaar gehad het. Dink maar aan The President’s Keepers en Gangster State wat beweerde staatskaping en korrupsie oopgevlek het, en ekstreme reaksies soos intimidasie, regs- en ander dreigemente, en ontwrigtings van boekbekendstellings ontlok het. Die krag van die boek is hierdeur beklemtoon.

Verder is dit wonderlik om te sien dat daar deurlopend hoëgehalte-leesstof in Afrikaans gepubliseer word – oor alle genres heen. Daar was veral ’n opmerklike toename in die aantal digbundels wat verskyn.

Wat ook opvallend is, is dat lesers gewoond is aan gehalte-leesstof en dus nie sal skroom om in ’n resensie, rubriek of Facebook-plasing uit te wys en te staaf wanneer ’n nuwe publikasie volgens hulle nie aan daardie gehalte-maatstawwe voldoen nie. Van die meer kritiese resensies en rubrieke wys dat ons onderskeidende lesers het aan wie daar nie knolle vir sitroene verkoop kan word nie. Dit is mos goeie nuus en dit hou uitgewers op hulle tone.

Die doel van ons resensie-oorsig is om ’n geheelbeeld van die afgelope maand se boekstories weer te gee en sodoende ook hopelik ’n nuttige verwysingsbron te bied vir dié lesers wat wil seker maak dat hulle op hoogte is met al die boekenuus.  

Ons het dit vroeër vanjaar gebruik om ’n ondersoek te doen na geslagsverteenwoordiging in die Afrikaanse boekjoernalistiek deur die sogenaamde PEN-VIDA-telling, waaroor daar hier meer inligting is. Die telling het gewys dat manlike skrywers meer as vroulike skrywers geresenseer word – deur meer manlike as vroulike resensente. Dié resultate moet gesien word in die lig daarvan dat die meeste van die nuwe Afrikaanse boeke wat in die betrokke jare verskyn het, deur vroue geskryf is. Miskien is dit tog iets om voortaan op te let.

Met watter groot projekte hou julle julself op die oomblik besig?

Ons is baie opgewonde oor die PEN Afrikaans Vertaalfonds, waar buitelandse uitgewers kan aansoek doen om befondsing om ’n Afrikaanse werk te vertaal met die oog op publikasie daarvan. Die Vertaalfonds, wat moontlik gemaak word deur die finansiële ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Onderwys, het oor die afgelope twee jaar al 14 vertalings van Afrikaanse werke befonds. Die volgende sperdatum vir aansoeke is 15 November en ons sien daarna uit om te sien watter aansoeke dié ronde oplewer.

Ons het vanjaar in samewerking met die Jakes Gerwel Stigting ’n skrywersresidensie geloods en is bly om te kan bevestig dat dit volgende jaar weer aangebied sal word. Opbetaalde lede van PEN Afrikaans sal dus kan aansoek doen om vir ’n maand in die pragtige Paulethuis op Somerset-Oos tuis te gaan om aan hul skryfprojekte te werk. Ons sal datums en ander besonderhede nader aan die tyd kommunikeer.

Die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg, ’n wetsontwerp wat ons land se kopieregwetgewing wysig, is ook ’n uiters belangrike saak en ’n prioriteitsprojek vir PEN Afrikaans, aangesien ons van mening is dat die wetsontwerp die posisie van skrywers erg benadeel deur hulle van bestaande regte en inkomstestrome te ontneem. Ons sal aanhou aandag hieraan gee en die stem van skrywers laat hoor.

Ander bedrywighede het met boeke en skryfwerk te doen: Ons stel maandeliks ’n resensie-oorsig saam, soos hier bo genoem; ons bied ’n rubriekreeks in Taalgenoot aan; en ons publiseer ook kwartaalliks ’n nuwe artikel in ons artikelreeks genaamd “Die wêreld van die skrywer”. Ons het onlangs ’n bundel gepubliseer waarin ons artikelreeks van verlede jaar vervat is. Die titel is Wat elke skrywer moet weet en dit bevat kenners se bydraes oor praktiese en regskwessies wat skrywers raak. Ons hoop dat dit ’n nuttige verwysingsbron vir ons lede is.

’n Nuwe bestuurskomitee is onlangs aangestel. Kan jy vir ons vertel wie die lede is?

Ja, graag. Die verkose lede van die bestuur vir 2019–2021 is:

  • Bernard Odendaal
  • Carolyn Meads
  • Charl-Pierre Naudé
  • Danie Marais (ondervoorsitter)
  • Fiona van Kerwel
  • Izak de Vries
  • Jolyn Phillips
  • Marga Stoffer (voorsitter)
  • Naomi Bruwer (tesourier).

Die bestuur bestaan dus uit skrywers en digters, en ook mense wat in die uitgewersbedryf, sowel as met skryfontwikkeling- en geletterdheidsprojekte werk. Uit die aard van die bestuurslede se ervaring en agtergrond het die groep ’n goeie greep op die uitdagings wat deur plaaslike skrywers, lesers en die groter boekewêreld in die gesig gestaar word. Ek sien baie uit daarna om met hulle saam te werk.

Ons sal ons bes doen om skrywers se stem te laat hoor waar nodig, ’n bydrae te lewer tot die bevordering van die Afrikaanse woordkuns en diensbaar teenoor ons lede te wees.

Sluit gerus by ons aan deur hierdie aansoekvorm in te vul.

PEN Afrikaans Vertaalfonds kondig suksesvolle aansoeke aan

Fotogalery: Ses skrywers skryf tesame op Somerset-Oos

Artikels en resensies uit Taalgenoot se Herfs 2019-uitgawe

PEN Afrikaans: Die wêreld van die skrywer – Henning Pieterse

PEN Afrikaans-nuusbrief: Oktober 2019

PEN Afrikaans: Afrikaanse resensies en boekgesprekke in September 2019 

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top