PEN VIDA-telling: ’n ondersoek na geslagsverteenwoordiging in die Afrikaanse boekjoernalistiek

  • 0

Agtergrond

Tydens die 2018 PEN International-kongres, wat in September in Pune, Indië plaasgevind het, is die sogenaamde “PEN VIDA count” aan PEN-sentrums wêreldwyd bekendgestel en die onderskeie sentrums is aangemoedig om ’n eie PEN VIDA-telling van stapel te stuur.

VIDA – Women in Literary Arts is ’n Amerikaanse nie-regeringsorganisasie wat daarop gemik is om lig te werp op moontlike geslagsongelykhede in die boekjoernalistiek en uitgewersbedryf. Dit word gedoen deur vrywilligers wat versigtig alle gepubliseerde resensies in gevestigde koerante, tydskrifte of literêre bylae fynkam met ’n paar vrae voor oë: Hoeveel vroueskrywers se werk word geresenseer? Hoeveel resensente is vroue? Die groot vraag is: Is daar ’n billike balans?

Sedert 2011 publiseer VIDA jaarliks hul telling en ’n verslag wat hul resultate toelig. Hul verslag ken ’n persentasie toe aan vooraanstaande literêre publikasies wat weerspieël hoeveel bladruimte dié publikasies aan vroueskrywers en -resensente afstaan. Die publikasies waarop hul fokus, is dié wat tipies aansienlik tot die bevordering van ’n skrywer se loopbaan kan bydra.

Deur die jare het VIDA hierdeur groot geslagsongelykheid in die boekjoernalistiek aan die kaak gestel, met swaargewigte soos The New York Review of Books, The London Review of Books en The Paris Review wat minder as ’n kwart van hul boekeblad aan vroueskrywers en -resensente toegewy het. The Paris Review is ’n voorbeeld van ’n publikasie wat sedert hul bewuswording van dié wanbalans baie moeite gedoen het om meer vroueskrywers en -resensente te betrek.

Een van die beweegredes vir die ure en ure wat VIDA-vrywilligers aan dié telling afstaan, is die oortuiging dat ’n literêre gemeenskap voordeel daaruit trek as 'n verskeidenheid stemme gehoor word. PEN Afrikaans is dit dawerend hiermee eens en het daarom besluit om ons eie PEN VIDA-telling te doen om te probeer bepaal hoe dié saak in die Afrikaanse boekjoernalistiek daaruit sien.

Werkswyse

PEN Afrikaans publiseer sedert Januarie 2017 ’n oorsig van resensies en boekstories wat in Afrikaans verskyn het en digitaal beskikbaar is. Ons versprei ook ’n lys van nuwe Afrikaanse boeke wat elke maand verskyn. Hierdie twee bronne verskaf nuttige data vir ’n VIDA-telling vir 2017 en 2018.

Die publikasies waarop daar vir doeleindes van ons VIDA-telling gefokus is, is dié wat gereeld resensies publiseer: Boeke24 (die dagblaaie), Rapport se boekeblad en LitNet.

Hierdie publikasies wend ’n daadwerklike poging aan om ruimte te bied vir boekbesprekings en resensies, en ploeg finansiële en ander hulpbronne in om dié ruimte daar te stel.

Die fokus van ons VIDA-telling was diepgaande, langer stukke oor ’n boek of ’n skrywer. Vollengte resensies en skrywersprofiele is dus ingesluit. Oorsigresensies (wat meer as twee boeke dek) is nie in aanmerking geneem nie, ook nie nuusbrokkies of ander boekverwante aankondigings nie.

Die bespreking van boeke in koerante en ander publikasies bou skrywersloopbane en gee verkope ’n hupstoot. Die keuse van watter boeke geresenseer word en wie die resensies skryf, is bepalend. Die VIDA-telling werp lig op daardie aspek van seleksie, keuring of kuratorskap. LitNet se resensie-essays is daarom byvoorbeeld wel getel, maar nie lesersindrukke nie. Alhoewel lesersindrukke vir alle praktiese doeleindes wel resensies is, word dit nie deur LitNet gekeur of aangevra nie. Lesers skryf en stuur dit uit eie beweging na LitNet se redaksie vir plasing.

Verdere punte oor die werkswyse:

  • Omdat dit nie altyd moontlik is om te weet wanneer ’n boek onder ’n skrywersnaam verskyn het en, indien wel, wat die geslag van die ongeïdentifiseerde skrywer is nie, is die geslag van die skrywersnaam gevolg.
  • Alle nuwe Afrikaanse boeke is getel – ongeag die genre daarvan.

2017 se resultate

Wat blyk uit die resultate van die 2017-telling (onder beskikbaar), is dat daar deur die bank meer manlike skrywers as vroulike skrywers geresenseer is – deur meer mans as vroue (behalwe in die geval van LitNet wat in 2017 ’n eweredige balans tussen manlike en vroulike resensente gehandhaaf het.)

Hierdie resultate behoort gesien te word in die lig daarvan dat die oorgrote meerderheid Afrikaanse boeke wat in 2017 verskyn het, deur vroue geskryf is. Slegs 36% van die Afrikaanse boeke wat in 2017 verskyn het, het mans as skrywers of mede-skrywers.

(*Die kategorie “regspersoon” het betrekking op boeke waar ’n instansie soos ’n uitgewery of navorsingseenheid aangedui is as skrywer van die boek.)

Rapport

LitNet

Boeke24

2018 se resultate

40% van die Afrikaanse boeke wat in 2018 verskyn het, het ’n man as skrywer of mede-skrywer, terwyl 52% van die Afrikaanse boeke uit vroue se penne voortvloei. Die kategorie “regspersoon” het betrekking op boeke waar ’n instansie soos ’n uitgewery of navorsingseenheid aangedui is as skrywer van die boek.

Ten spyte van die groter uitsette, is vroueskrywers ook in 2018 minder geresenseer as hul manlike kollegas in al drie die publikasies wat deel van hierdie telling uitmaak. Die resultate is hier onder beskikbaar, gesorteer volgens publikasie.

In teenstelling met Boeke24 en Rapport, wat beide oorwegend van manlike resensente gebruik gemaak het, het LitNet in 2018 aansienlik meer vroulike as manlike resensente gepubliseer.  

Rapport

LitNet

Boeke24

Alhoewel die akkuraatheid van die resultate nie gewaarborg kan word nie, kan ons wel meld dat die telling met redelike sorg gedoen is en gegrond is op data wat PEN Afrikaans deurlopend insamel en moniteer.

Die resultate berus op ’n telling van die resensieoorsig wat PEN Afrikaans maandeliks in samewerking met die betrokke publikasies byeenbring en versprei, sowel as die maandelikse publikasielyste van die uitgewerye wat plaaslik Afrikaanse boeke uitgee, naamlik Jonathan Ball Uitgewers, LAPA Uitgewers, NB-Uitgewers, Naledi, Penguin Random House en Protea Boekhuis.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top