PEN Afrikaans Vertaalfonds kondig suksesvolle aansoeke aan

  • 0

Ronelda Kamfer, Nathan Trantraal en Hester Kruger binnekort in vertaling

PEN Afrikaans kondig met trots drie nuwe suksesvolle aansoeke by die PEN Afrikaans Vertaalfonds, wat moontlik gemaak word deur finansiële ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO), aan. Na oorweging van die aansoeke wat teen die Mei 2019-sperdatum ontvang is, sal die volgende drie vertalings befonds word:

  • ’n Franse vertaling van ’n keur uit Ronelda Kamfer se werk
  • ’n Franse vertaling van Chokers en survivors deur Nathan Trantraal
  • ’n Nederlandse vertaling van Een nag en ’n bietjie deur Hester Kruger.

Ronelda Kamfer

Éditions Caractéres sal ’n Franse vertaling van ’n keur uit Ronelda Kamfer se bundels (Noudat slapende honde, grond/Santekraam en Hammie – almal Kwela Boeke) uitgee. Pierre-Marie Finkelstein, vooraanstaande literêre vertaler van werke deur onder andere Marlene van Niekerk, Ingrid Winterbach, Achmat Dangor en Karel Schoeman, sal die vertaling behartig. Éditions Caractéres is in 1950 gestig en is ’n gerekende uitgewer van onder meer essays, poësie, romans en kunsboeke. Die uitgewery is ook bekend vir sy kunsuitstallings en skrywersbyeenkomste en beoog om ook byeenkomste rondom Kamfer se poësie te reël. Kamfer se werk het voorheen tot groot lof in Nederlandse vertaling verskyn (Uitgeverij Podium), en haar bundel grond/Santekraam is ook onlangs in Italiaanse vertaling uitgegee (Raffaelli Editore). Dit is die eerste Franse vertaling van haar werk.

Nathan Trantraal

Nathan Trantraal se 2013-debuutbundel Chokers en survivors (Kwela Boeke) sal binnekort vir die eerste keer in vertaling gelees kan word. Éditions LanSkine, ’n onafhanklike uitgewery wat sedert sy totstandkoming in 2008 meestal poësie publiseer, beoog om die Franse uitgawe in November 2019 die lig te laat sien. Die vertaler is Pierre-Marie Finkelstein. Chokers en survivors het aan Trantraal in 2015 die Ingrid Jonkerprys besorg en is deur die beoordelaars geloof as “aangrypend, eerlik en sonder enige sentimentaliteit.”

Uitgeverij Mozaïek, ’n gevestigde uitgewer van verskeie Afrikaanse skrywers in Nederlandse vertaling, sal Een nag en ’n bietjie deur Hester Kruger (Human & Rousseau) in Nederlandse vertaling uitgee. Gerda Lok-Bijzet is vir die vertaling verantwoordelik, wat na verwagting in Oktober 2019 in beide gedrukte en e-boekformaat sal verskyn. Die boek handel oor die belewenis en gevolge van ’n plaasaanval en word deur Antjie Krog as ’n “buitengewoon meesleurende leeservaring” beskryf. Een nag en ’n bietjie is Hester Kruger se debuut. “Dis ’n dun boekie, maar die implikasies van hierdie teks het ’n enorme reikwydte,” skryf Joan Hambidge in ’n resensie. 

Die PEN Afrikaans Vertaalfonds se sentrale doelstelling is om die Afrikaanse letterkunde internasionaal te bevorder deur meer vertalings en publikasies van verdienstelike Afrikaanse werke moontlik te maak.

Die twee sperdatums vir aansoeke is 15 Mei en 15 November van elke kalenderjaar.

Die reglement met volledige riglyne en bepalings is beskikbaar by: https://www.litnet.co.za/reglement-vir-die-pen-afrikaans-vertaalfonds/

Medianavrae kan gerig word aan PEN Afrikaans by penafrikaans@gmail.com.

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top