Reglement vir die PEN Afrikaans Vertaalfonds

  • 0

Die PEN Afrikaans Vertaalfonds is in Junie 2017 opgerig met finansiële ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO).

Dié fonds se sentrale doelstelling is om die Afrikaanse letterkunde internasionaal te bevorder deur meer vertalings en publikasies van verdienstelike Afrikaanse werke moontlik te maak.

Die vertaling van Afrikaanse letterkundige werke in ander wêreldtale – veral tale soos Engels, Nederlands, Frans, Duits, Italiaans, Spaans en die Skandinawiese tale – is nie net vir die skrywers self erkenning van die gehalte van hulle werk of ’n geleentheid om ’n groter inkomste te verdien nie; dit is ook goed vir Afrikaans as taal. ’n Letterkunde wat nie in vertaling beskikbaar is nie, kan nie onder wêreldletterkunde gereken word nie.

Internasionale aansien vir ons skrywers bevorder die statuur van die Afrikaanse letterkunde as geheel.

Weens die gebrek aan ’n Afrikaanse vertaalfonds, ’n baie algemene verskynsel in ander lande, was dit voorheen besonder uitdagend om vertaalregte vir Afrikaanse skrywers se werk te verkoop. Die PEN Afrikaans Vertaalfonds wil hierdie leemte vul.

Die aansoekvorm kan hier afgelaai word.

Die besluite oor befondsingsaansoeke sal deur die bestuur van PEN Afrikaans in oorleg met ’n verteenwoordiger van TAO geneem word. Die besluite van hierdie beoordelingspaneel sal finaal wees en geen korrespondensie sal oor afgekeurde aansoeke gevoer word nie.

Befondsingsaansoeke word twee keer per jaar oorweeg. Die twee sperdatums vir aansoeke is 15 Mei en 15 November van elke kalenderjaar.

Navrae sowel as volledige aansoeke kan gestuur word na: penafrikaans@gmail.com

Ter beoordeling van befondsingsaansoeke geld die volgende kriteria ten opsigte van:

1) Die Afrikaanse werk

  • Die werk is oorspronklik in Afrikaans geskryf.
  • Die werk is in Afrikaans uitgegee, in Suid-Afrika.
  • Die werk is deur ’n gevestigde uitgewery gepubliseer, d.w.s ’n geregistreerde maatskappy of BK met ’n eie ISBN-nommer en bemarkingsprofiel.
  • Die werk val in een van die volgende genres: romankuns, poësie, kortverhale, narratiewe niefiksie (biografieë, geskiedkundige en aktuele werke) of teksgebaseerde kinder- en jeugboeke.

2) Die vertaling

  • Die befondsing word aangevra vir die vertaling van die Afrikaanse werk in ’n ander wêreldtaal.
  • Daar is nie meer as twee vertalers vir die projek nie.
  • Die vertaling word direk uit Afrikaans gedoen en nie via ’n ander taal nie (indien moontlik).

3) Die buitelandse uitgewery (die aansoeker)

  • Die aansoeker is ’n buitelandse uitgewery.
  • Die fondse word aangevra spesifiek vir die vertaling van die werk en die volledige bedrag toegestaan sal vir die vertaling aangewend word.
  • Die aansoeker is ’n gevestigde en/of gerespekteerde uitgewery.
  • Die aansoeker waarborg dat goeie verspreiding en bemarking van die werk in sy tuismark gedoen sal word.
  • Die aansoek is vir ’n vertaalde werk wat in gedrukte vorm uitgegee sal word.
  • Daar is ’n getekende kontrak tussen die Suid-Afrikaanse uitgewer en die buitelandse uitgewer wat die vertaalde werk wil publiseer, waarvolgens die vertaalregte toegestaan word aan die buitelandse uitgewer OF Die werk is in die openbare domein en ’n kontrak met ’n plaaslike uitgewer is dus nie nodig nie.
  • Die suksesvolle aansoek vir befondsing mag ’n voorwaarde van die kontrak tussen die plaaslike uitgewery en die aansoeker wees.
  • Die vertaler is geïdentifiseer en het aangedui dat hy/sy die opdrag sal aanvaar.
  • Die aansoeker onderneem om die volledige bedrag wat vir die vertaling toegestaan word, aan die vertaler oor te betaal.
  • Die vertaalde werk sal binne 24 maande ná goedkeuring van die aansoek deur die buitelandse uitgewer gepubliseer word. (Verskaf redes indien dit langer sal neem.)

Die volgende oorwegings word in ag geneem ter ondersteuning van aansoeke:

  • Die skrywer se werk is nog nie in vertaling beskikbaar nie.
  • Die werk is genomineer vir plaaslike literêre toekennings en/of het literêre pryse gewen. (Verskaf besonderhede.)
  • Die werk het besonder goed gevaar in die plaaslike mark. (Verskaf verkoopsyfers.)
  • Die buitelandse uitgewer beoog om die vertaalde werk ook in digitale formaat uit te gee.
  • Die buitelandse uitgewer beplan om die vertaalde werk vir literêre pryse in sy tuismark voor te lê. (Verskaf besonderhede.)
  • Indien daar te veel aansoeke vir ’n gegewe periode is, sal voorkeur aan die volgende tale gegee word: Engels, Frans, Spaans, Duits, Nederlands en Sweeds.

Aansoeke moet van die volgende dokumente vergesel word:

  • ’n Bevredigende bemarkingsplan (wat inligting oor verspreiding van die vertaalde werk insluit).
  • Die lisensiëringsooreenkoms tussen die plaaslike uitgewery en die aansoeker m.b.t. die vertaalregte OF Bewys/motivering dat die werk in die openbare domein is en dat ’n kontrak dus nie nodig is nie.
  • Die kontrak tussen die aansoeker en die vertaler(s), indien moontlik.
  • Die vertaler(s) se CV met inligting oor vorige vertalings.
  • ’n Profiel van die uitgewery wat bewys lewer dat dit ’n gevestigde en likwiede sakeonderneming is.
  • Die katalogus van die uitgewery (of webwerf-adres wat bevredigende inligting oor die publikasies van die buitelandse uitgewery verskaf en op datum is)
  • ’n Voorbeeld van die vertaling (8-10 bladsye) en die ooreenstemmende teks in die Afrikaanse werk.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top