NB-Uitgewers se voorstelle vir jou vakansieleeslys

  • 0

LitNet het by NB-Uitgewers gehoor watter boeke wat vanjaar by hulle verskyn het, op jou vakansieleeslys moet wees. Daar is iets vir elke ouderdom en smaak, wat natuurlik ook wonderlike kersgeskenke sal maak. Hier is hulle voorstelle.

Martelize kook! Jy’s genooi. deur Martelize Brink
Kos & drank

RSG-omroeper en glanspersoonlikheid Martelize Brink bring vir jou die heerlikste kuierdisse. Die versameling van meer as 80 resepte strek van brode, uithanghappies, vis en seekos en watertandhoofdisse met vleis, wild en hoender, tot by die maaltye wat sy graag na ’n lang werkdag in haar warm kombuis geniet. Die geregte is uniek, smaaklik en suiwer genot – wie het kon dink aan beeswange of spinasie-paneer vir die eetkamertafel? Iedere resep is getoets, gekeur en verspot maklik om te maak.

Prys: R350
ISBN: 9780798172721
Uitgewer: Human & Rousseau

Hans steek die Rubicon oor deur Rudie van Rensburg
Humor

Hans loop op 90 nié met ’n loopring nie. Sy orige kinders maneuvreer hom vanuit hul tuistes oorsee in Huis Madeliefie in, maar Hans skop nog kliphard, en gou lei hy ’n ouetehuisopstand teen die onhoudbaar drakoniese matrone. Dis daggakoekies, ontkleedansers en vet sports net waar jy kyk in hierdie hoogs komiese roman oor oudword op eie terme.

Prys: R220
ISBN: 9780795801471
Uitgewer: Queillerie

Lees ’n gedeelte uit die boek in die Du Toitskloof Wyne | LitNet Eerste Slukkie.

Tussen vriende deur Derick van der Walt
Fiksie

Will het ’n stukkie. Iemand by die werk, jonk genoeg om sy dogter te wees. En Adriaan en Cassie weet daarvan, maar bly tjóépstil.

Asof dít nie die vriendekring genoeg ontwrig nie, sing Cassie en Phoebie se seun skielik in ’n bedenklike nagklub en Phoebie se eksie-perfeksie ma wil kom kuier in Pretoria – dalk vir báie lank. (Phoebie eet sommer ’n éclair.) Adriaan se Ingrid het pas wéér ’n knop in haar bors gevoel, hul enigste dogter is ver oor die waters, en dan’s daar boonop Adriaan se familieplaas wat verkoop moet word noudat sy broer wil padgee Australië toe.

En heeltyd wonder Phoebie en Ingrid: Wat skort met Will se vrou, Soekie? Sy’t onlangs aan haar gesig laat werk en sy lyk fantasties, maar iets is fout in haar oë.

Die wel en wee van drie paartjies in hul 50’s, komies, lewensgetrou en eg. ’n Storie vir almal wat al ooit oor hul vriende gewonder het, mense nes ek en jy, almal met hul eie geheime.

Prys: R250
ISBN: 9780795801419
Uitgewer: Queillerie

Die vrou in die blou mantel deur Deon Meyer
Misdaad en spanningsromans

Bennie moet ring koop. En nie sommer ’n hierjy-ring vir sy Alexa nie. Hoe op aarde moet hy nou dít bekostig? Dan word ’n vroueliggaam gevind en sy word Bennie en Vaughn se probleem toe daar besef word sy’s ’n buitelander: Alicia Lewis, ’n kunskenner op die spoor van ’n ou skildery. Wanneer Lithpel Davids die naam Billy de Palma in Alicia se skootrekenaar vind, weet Vaughn daar’s gróót fout. Want hy ken vir Billy, en Billy is bad, bad news ...

Prys: R190
ISBN: 9780798176903
Uitgewer: Human & Rousseau

Alles begin met Anna deur Annemari Coetser
Fiksie

Dis 1934. Poppie Nienaber is 22 jaar oud, en sy werk in die Haberdashery-afdeling in Mr Cristal se algemene handelaar op Bethlehem. Saam met haar ouer sussie, Anna, woon hulle in tant Nelie se losieshuis in die straat af, en haar broer Jannie kom kuier gereeld op ’n Sondagmiddag, sedeprekies en al.

Poppie weet daar is geheime in die familie waarvan sy niks weet nie, en dat Sussie Anna dinge van haar weghou. Party goed onthou sy vaagweg, soos haar ma wat staan en strykwerk doen, die skroeireuk van ’n stryklaken wat hang in die lug. Dis wanneer Poppie besluit om haar eie potjie te gaan krap op Senekal dat dinge stadig in plek begin val. En dis nie lank hierna nie dat sy die spoorwegklerk Frikkie Bredenkamp ontmoet ...

Alles begin met Anna is losweg gebaseer op die skrywer se eie familiegeskiedenis. Die roman vertel ’n roerende verhaal oor drie geslagte heen, van voor die Anglo-Boereoorlog tot die aanloop en gebeure van die Tweede Wêreldoorlog. Bowenal vertel dit die verhaal van Coetser se eie ouers Poppie en Frikkie, en waar sý, die skrywer, vandaan kom.

Meesleurend én toeganklik – hoogs leesbare historiese roman in dieselfde trant as Vuur op die horison

Prys: R280
ISBN: 9780798176170
Uitgewer: Human & Rousseau

Hoezit, Antie? Vrikkie hier deur Deon Visser
Kortverhale

Vrikkie Visser is ’n fiktiewe karakter wat die nasie se harte gesteel het met sy briewe aan sy “Antie”, in Volksblad en op Facebook. Hy het duidelik ’n snaar geraak en gou ’n groot aanhang verwerf. Vrikkie vertel van sy wedervaringe met sy oom Vissie, sy vriend Bra Pietie (draakstekery met Brad Pitt) en sy antie Velti, en praat oor alles van dieet tot rugby en landsake. Vrikkie, al kan hy nie spel nie, se briewe is vol menslikheid en ’n reuseskoot humor. Dis storievertel op sy beste. Jy sal lê van die lag omdat jy die prentjies so voor jou kan sien!

Prys: R190
ISBN: 9780798176422
Uitgewer: Human & Rousseau

Sirkus deur Irma Venter
Algemene fiksie

Dis die laat tagtigs in Johannesburg. Adriana van der Hoon is agtien. Haar aktivis-pa het jare lank oorsee geld vir die Education Trust ingesamel, en nou staan die veiligheidspolisie op haar drumpel met ’n ultimatum. In Berlyn leer sy oorleef. Dis waar sy haar talent om messe te gooi vervolmaak, en waar sy Yasen Todorov ontmoet. Hier, weg van alles wat bekend is, leer Adriana dat mens oor alles kan onderhandel, ook jou onskuld.

​Sirkus​ is Venter se vyfde roman – haar beste nog.

Prys: R240
ISBN: 9780798174411
Uitgewer: Human & Rousseau

Ena Murray Keur 16
Liefdesverhale

Toe dokter Ben Roux na sy geboortedorp terugkeer, weier sy vrou, Marlene, om saam te gaan in Haar grootste offer. Sy is immers ’n stadsmens en sal nie elders aard nie. Toe sy egter uitvind van haar swangerskap, moet sy hoor dat hy wil skei.

Matrone Anmar Cloete se wêreldjie het in die vyf jaar sedert haar verbreekte verlowing gekrimp tot die paadjie tussen haar woonstel en die hospitaal in Skaduwees van gister. Ten spyte van haar toewyding, word haar pos oornag omtrent oorbodig. Hoekom vind dokter Paul van Drüten fout met alles wat sy doen? En asof dié spanning nie genoeg is nie, moet sy hoor dat haar gewese verloofde ook nou by die hospitaal gaan werk.

Karen Viljoen word melaats verklaar in Plekkie in die son. Dié oordeel dryf haar uit haar huis, haar droomhuwelik met Otto, haar baba – tot in Genadendal, inrigting vir melaatses. Kan Otto se liefde dié vuurproef deurstaan? In Genadendal, en by dokter Tertius Louw, vind Karen God se genade is tog genoeg.

Prys: R245
ISBN: 9780624083580
Uitgewer: Tafelberg

Die De Zalze-moorde deur Julian Jansen
Ware misdaad

Kan dwelms, jaloesie en geld ’n normale 20-jarige daartoe dryf om byna sy hele gesin met ’n byl uit te wis?

Die Van Breda’s van Stellenbosch was skynbaar die perfekte gesin. Skatryk, suksesvol en gewild. In die luukse De Zalze-landgoed het hulle ’n droomlewe gelei.

En toe verander alles in ’n oogwink. Die land is tot stilstand geruk deur die nuus van Martin en sy vrou, Teresa, en hul 22-jarige seun Rudi se grumoorde. Die blondekop tiener, Marli, het net-net oorleef, maar kan weens ’n breinbesering niks van dié noodlottige nag onthou nie.

Mettertyd word die ander seun, Henri, wat ongeskonde is en weet wat werklik gebeur het, aangekla van die driedubbele moord.

Dan begin familie en vriende een-vir-een praat. Hulle skets ’n prentjie van ouers wat raadop was met hul moeilike “eenkantkind”. Henri se dwelmverslawing het blykbaar tot “groot onmin” in die huis gelei en hy was glo “die moer in” vir sy ouers omdat sy broer, Rudi, voorgetrek is.

Kan dit wees dat die Van Breda’s se eie kind die byl gelig het?

Prys: R225
ISBN: 9780624080985
Uitgewer: Tafelberg

Shisanyama deur Jan Braai
Kos & drank

Mzanzi se beste braairesepte, spesiaal uitgesoek en getoets deur die alombekende Jan Braai. As jy wil weet wat Suid-Afrikaners geniet, en hoe hulle braai, is dit die boek vir jou! Shisanyama is gepak met eenvoudige resepte met maklik bekombare bestanddele en dek alles van ou staatmakers tot vars nuwe braai-idees. Nog ’n Jan Braai-wenner.

"Maak nie saak wat jy dit noem nie, elke Suid-Afrikaner weet hoe belangrik braai is. Dit is om die vuur dat ons kuier, lag, argumenteer en dik stukke gesels. Lank mag dit lewe!" – Sipho Hlongwane

Prys: R345
ISBN: 9780798176361
Uitgewer: Human & Rousseau

Goudmyn deur Wilbur Smith
Misdaad en spanningsromans

Toe Jak Stapelberg die pos van hoofbestuurder van die Sonderkloof-goudmyn aangebied word, weet hy dis te goed om waar te wees. Hy is te jonk en boonop beskik hy nie oor die nodige kwalifikasies nie.

Sy vermoede word bevestig toe Manfred Steyner sy voorwaarde stel: Jak moet doen wat hy vra, sonder teenspraak.
En Jak stem in, want dié kans gaan nie gou weer verbykom nie. As hy net eers die werk het, kan hy Manfred se opdrag mos weier. Nie Jak óf Manfred het rekening gehou met die eintlike magte wat Jak se aanstelling bewerk het nie.

Terwyl dié magte planne smee om die grootste goudmyne te vernietig en die ekonomie omver te werp, is Jak se aandag verdeel. Dit blyk dat ’n sindikaat gouderts uit die myn steel. En dan is daar Tess, Manfred se beeldskone maar gefrustreerde vrou, wat ongeoorloofde begeertes in Jak wakker maak ...

Mag, gierigheid, wraak en begeerte vier hoogty op die goudvelde van die 1960’s in dié Afrikaanse vertaling van Wilbur Smith se gewilde Gold Mine.

Prys: R280
ISBN: 9780795708213
Uitgewer: Kwela

Koms van die motman deur Chris Karsten
Misdaad en spanningsromans

Elf jaar gelede is Ella Neser se pa amper noodlottig gewond. En nou, jare later, word die skuldige, Arthur Wilky, weens goeie gedrag op parool vrygelaat. Binne weke is daar egter nuwe moorde – en van die slagoffers is voormalige tronkmaats van Wilky.

Ella kan nie begryp hoekom haar speurderkollegas nie die verbintenisse tussen die verskillende moorde raaksien nie. Wat van die motlyke wat telkens by die moordtonele figureer? Selfs kaptein Silas wil nie ag slaan op haar vermoedens nie ... 

In dié slotroman in die jongste Ella Neser-trilogie speel Karsten weer eens kat en muis met die leser. Wie ís die moordenaar, en waarom huiwer die Nommers-bendemitologie deurgaans soos ’n skaduwee op die rand van die verhaal? 

Chris Karsten, meesterverteller aan die woord, soos altyd. 

Prys: R290
ISBN: 9780798176224
Uitgewer: Human & Rousseau

Shéri – Nes ek is deur Shéri Brynard en Colleen Naudé
Inspirasie

Shéri Brynard is gebore met Downsindroom. Dokters het haar ma maar min moed gegee, maar vandag, 35 jaar later, is Shéri ’n lewendige jong vrou met ’n menigte avonture op haar kerfstok. Sy het vir Oprah ontmoet, hand geskud met die president en by internasionale konferensies opgetree. Shéri was ook te sien in Binnelanders. Hier vertel sy openhartig van die harsteer en die vreugdes van haar merkwaardige lewe. Haar ma, Susette, deel ook háár kant van die storie as ouer.

Shéri is die verhaal van ’n buitengewone vrou wat danksy harde werk, wilskrag, deursettingsvermoë – en ’n diepe afhanklikheid van God – haar lewe voluit leef.

Prys: R210
ISBN: 9780796320308
Uitgewer: Lux Verbi

Biele Bybelpretboek 4 deur Marius Greeff
Christen-leefstyl

Die Bielie Bybelpretboek 4 is perfek vir liefhebbers van blokraaie en ander woordspeletjies. Dit is ’n prettige manier om meer van die Bybel te leer en ook om jou kennis van die Bybel te toets. Die Bielie Bybelpretboek 4 is nie net vir individue bedoel nie – dit kan selfs in kleingroepe of Sondagskoolklasse gebruik word. Dit sal ure se genot verskaf. Die Bielie Bybelpretboek 4 bevat meer as 160 aktiwiteite met onder meer: woordsoeke, koderaaie, blokraaie en sudoku’s.

Prys: R120
ISBN: 9780796320452
Uitgewer: Lux Verbi

Op pad: ’n reisjoernaal deur Dana Snyman
Reis- en vakansiegidse

Dana Snyman sien dinge op sy eiesoortige, aweregse manier. In deel een is hy op pad saam met die TV-span van Op pad met Dana. Soos hulle die land deurkruis op soek na stories, beleef Dana nie net die lief en leed van die mense met wie hy gesels nie, maar ook sy eie innerlike reis. Hy kom huistoe met ’n optelhond -- en met ’n nuwe manier van kyk. In deel twee kyk hy rugby. In kroeë, township-huisies, saam met oom Frik du Preez en Joost van der Westhuizen. Snaaks, skerp en  onthutsend eerlik.

Prys: R250
ISBN: 9780624077176
Uitgewer: Tafelberg.

Die Mannheim-sage 1-3 deur Lerina Erasmus
Algemene fiksie

Die fortuinsoekers

Die mens is ’n verbasende wese, dink hy, om tegelykertyd soveel botsende emosies te kan ervaar en verwerk. Aan die een kant het hy nou met doelgerigtheid ’n man se dood beplan. Dit bevredig hom. Verraad vir verraad.”

Dis die goudstormloop van die 1880’s in Johannesburg. Hebsug, verraad en passie is aan die orde van die dag. 
Die sewentienjarige Deborah von Albein word gedwing om hul familieplaas in die Karoo te verlaat en na die Goudstad te verhuis. Dis hiér, terwyl sy onverwags as hul gesin se broodwinner optree, waar sy boonop moet kies tussen Kit Malloy, ’n ambisieuse dobbelsaloneienaar, en Karl Mannheim, die eksentrieke erfgenaam van die Mannheim-fortuin.

Malloy se ambisie kom hom egter duur te staan wanneer sy onderhandelinge met Paul Kruger bots met die ideale van Cecil John Rhodes. En Karl Mannheim se obsessies bereik ’n breekpunt wanneer die vooruitsig van ’n volmaakte toekoms een nag aan skerwe spat.

Onvermydelike konfrontasies volg. En só begin die drieluik van ​Die Mannheim-sage​ ... 

Gebaseer op die gewilde radio- en TV-reeks deur die bekende aktrise en skrywer Lerina Erasmus.

Prys: R295
ISBN: 9780798174541
Uitgewer: Human & Rousseau

Die goudkewers

Johannesburg dreig om ’n spookdorp te word. Die opbrengs van die myne is deurspek met piriet, en die stad se mynmagnate moet al hoe dieper in die aardkors laat myn. Spoedig verwerf hulle ’n nuwe bynaam: die goudkewers.

Ook op politieke gebied begin die onweerswolke saampak. Deur die bemoeienis van Cecil John Rhodes word die fondamente gelê vir die gedoemde Jameson-inval, wat aanleiding gee tot die bloedige Vryheidsoorlog tussen Brittanje en die twee Boererepublieke.

Dit is teen dié agtergrond dat die meesleurende liefdesverhaal van Deborah Mannheim en Kit Malloy afspeel. Ná sy betrokkenheid by Boer én Brit word Kit gedwing om kant te kies; terselfdertyd keer Karl Mannheim terug as soldaat, vasbeslote om die liefde van sy vervreemde vrou, Deborah, te herwin. Maar Deborah is verskeur: Kies sy Kit of eerder haar verpligtinge teenoor die skatryk Mannheim-familie, wie se myne skielik haar verantwoordelikheid geword het?

Gebaseer op die gewilde radio- en TV-reeks deur die bekende aktrise en skrywer Lerina Erasmus.

Prys: R320
ISBN: 9780798174824
Uitgewer: Human & Rousseau

Die goudbaronne

Die spanninge tussen Deborah, Karl en Kit woed steeds. Deborah se verbittering teenoor Karl vererger, en daarby versuur haar liefde vir Kit. Weens Karl se onvermoë om sy vrou se liefde te herwin, word die lewe vir hom onuithoudbaar, terwyl Deborah en Kit terselfdertyd hul eie letsels dra. Op die vooraand van die Eerste Wêreldoorlog word Kurt Mannheim en Vickey Malloy verlief op mekaar, maar val dan vas in ’n skermutseling in Europa. Wat hou die toekoms vir die Mannheims en Malloys in?

Prys: R320
ISBN: 9780798174855
Uitgewer: Human & Rousseau

Rympies vir kleintjies en kleuters saamgestel deur Riana Scheepers, Suzette Kotzé-Myburgh en Gertie Smit
Strokiesprente & grafiese roman vir kinders

"Omdat rympies so ’n waardevolle opvoedkundige rol speel, is die verskyning van elke nuwe rympieboek ’n geleentheid om toe te juig, veral as dit so ’n pragpublikasie soos Rympies vir Kleintjies en Kleuters is." Carike Keuzenkamp

Hierdie bundel is die opvolger van die baie suksesvolle Rympies vir Pikkies en Peuters wat in 2015 verskyn het. Met sy prettige volkleur-illustrasies bied dit ’n keurversameling verse spesiaal saamgestel vir drie- tot vyfjariges. Digby 400 rympies deur meer as 100 skrywers dek al die onderwerpe wat deel is van klein kinders se leefwêreld – in heerlike, maklike, sprankelende Afrikaans. Aangesien die bundel sorgvuldig beplan is om aan nasionale opvoedkundige vereistes te voldoen, vorm dit ’n onmisbare hulpmiddel vir opvoeders en versorgers in speelskole, met ’n nuttige gebruiksgids agter ingesluit.

Rympies vir Kleintjies en Kleuters sal egter ook tuis wees in elke huis – om nie te praat van kuiertyd by Ouma en Oupa nie!

Prys: R310
ISBN: 9780624081920
Uitgewer: Tafelberg

Krappie en die kroon deur Fanie Viljoen
Kinder en jeug

Krappie is vir niks bang nie. Maar wanneer hy skarrel om ’n blink ding doer op die rotse te gaan ondersoek, word hy weggespoel in ’n wilde onderwater avontuur! Die koning van die krewe se kroon is weg en Krappie is in groot moeilikheid. Gelukkig ontdek hy dat met ’n bietjie vertroue in ander, vriendskap soms op onwaarskynlike plekke te vind is.

’n Heerlike voorlees- en selfleesstorie deur die gewilde Fanie Viljoen. 

Prys: R140
ISBN: 9780798175432
Uitgewer: Human & Rousseau

Die Boendoesbaai-ding deur Rudi Venter
Fiksie vir jong volwassenes

Wanneer Eddie twee mans hoor praat oor ’n rooftog jare gelede tydens die Boendoesbaai Derby, is hy vasberade om die geheim te ontrafel. Kon so iets skokkends ooit in hulle klein kusdorpie gebeur? Maryna Cloete, pal met haar neus in ander se sake, meng natuurlik dadelik in met sy planne. Hulle pad kruis ook met die Von Dempter-neefs, Hein en Roelof, wat in die woonwapark kamp vir die vakansie. En gou word dit duidelik dat vraagtekens soos coat hangers die dorp vol hang.

Prys: R155
ISBN: 9780798175951
Uitgewer: Human & Rousseau

Hoë hakke met hoogwater deur Jacolet van den Berg
Fiksie

Die surfer-meisie Simoné, die wulpse huisvrou Andrea en die gesofistikeerde weduwee Maggie is vreemdelinge vir mekaar. Maar op ’n dag wat die lewe hul al drie platgeslaan het, bring die noodlot hulle in ’n ou kombi byeen en so begin ’n onwaarskynlike maar besonderse vriendskap. Wie sou kon raai dat hul liefdes en verliese toe nié so verskillend is nie? Saam trotseer dié drie vroue die hoogwater in hul lewe, hoë hakke en al.

Prys: R245
ISBN: 9780795708183
Uitgewer: Kwela

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top