
Foto van Shéri Brynard: www.sheribrynard.co.za
Shéri, nes ek is
Shéri Brynard
ISBN: 9780796320308
NB-Uitgewers
Shéri - Nes ek is, is ’n vars briesie in ’n deurmekaar, donker tyd in ons land. Dit is Shéri Brynard van Bloemfontein, ’n dapper, dinamiese vrou wat nie toegelaat het dat Downsindroom haar onderkry nie, se merkwaardige verhaal soos vertel deur Colleen Naudé. Shéri se ma, Susette, vertel ook van haar lewensreis met Shéri, hul uitdagings, mylpale en gewone ma-en-dogter-aangeleenthede.
Toe Shéri 35 jaar gelede gebore is, het die dokters nie vir Jerry en Susette Brynard baie moed gegee toe Shéri met Trisomie-21-Downsindroom (volledige vorm van die sindroom) gediagnoseer is nie. Die piekniek waarmee Jerry die twee vrouens in sy lewe ingewag het toe Susette met Shéri tuisgekom het na haar geboorte, het egter die tafel gedek vir die wyse waarop die nuwe gesin die lewe sou aanpak: nes enige ander gesin.
Shéri het baie geleenthede gekry, vele struikelblokke oorkom en ’n rits merkwaardige prestasies bereik, maar dit het nie maklik gebeur nie. Hierdie onderwysassistent by Lettie Fouché Skool vir kinders met gestremdhede wat die enigste persoon met Downsindroom is wat ’n diploma in Educare verwerf het, weet wat dit verg. Haar woorde laat jou dink: “Wanneer ek kinders nou as onderwysassistent met skryf en lees help, weet en verstaan ek dat niks vir hulle maklik voel nie. Maar ons hou aan. Ek moet, en hulle moet. Want as ’n mens stadig is, moet jy alles insit. Jy moet aanhou en aanhou, totdat mense glo jy het ook ’n plek waar jy iets vir ander mense beteken. Jy moet harder werk as ander, en jy mag nie moed verloor nie.”
Die rol wat Shéri se gesin, veral haar ma, in haar lewe speel, loop soos ’n goue draad deur die boek. Susette se besluit wat sy in die hospitaal kort na Shéri se geboorte geneem het, het sy gestand gedoen: “Hierdie kindjie gaan alles wat ek haar kan leer, van my leer. Ja, ek moet bly skoolhou, maar vir dié baba in my arms gaan ek die beste ma wees wat sy ooit kan hê.” Shéri beaam dit op ’n hele paar plekke in die boek. Sy besef dat nie almal met Downsindroom so gelukkig soos sy is om ’n liefdevolle gesin te hê wat haar in alles ondersteun nie. Sy was baie na aan pa Jerry, en sy dood in ’n fratsongeluk in 2001 was vir haar ’n groot skok en terugslag. Sy mis hom: hul spesiale verhouding en sy goedige geterg. Dié boek is aan hom en haar ouma Sarie Horak opgedra. Haar twee sussies, Marisa en Suzette, het ook hul spesiale plek in haar hart en lewe. Hulle vertel ook wat dit beteken om Shéri as suster te hê.
Shéri het nes duisende ander persone wat met ’n gestremdheid leef, haar kwota van spot, staar, ongemaklikheid en ’n onvermoë om met haar as ’n persoon te kommunikeer, beleef. Haar eie belewenis en haar ma se weergawe gee aangrypende insig in die ervaringswêreld van die persoon met die gestremdheid en hul naaste familielede. Sy deel ook haar drome, ideale, probleme en haar pad na selfaanvaarding. “Ek is tevrede daarmee dat ek anders lyk as ander mense en nie so slim soos baie van hulle is nie, want ek probeer die beste maak van wie ek is. Ek glo regtig ons moet verantwoordelikheid aanvaar vir wie ons is en nie wegkruip agter ’n sluier van redes waarom ons jammer kan wees vir onsself nie.”
Haar onwrikbare geloof in haar Skepper, onstuitbare deursettingsvermoë, onderskraging van haar familielede en ander rolspelers het alles daartoe bygedra om van haar ’n rolmodel sonder weerga vir mense met ’n gestremdheid te skep. Shéri is die internasionale ambassadeur vir mense met Downsindroom, tree gereeld by internasionale en nasionale geleenthede op, was al in Binnelanders op TV te sien, het bekendes soos Oprah ontmoet en het in ’n teaterproduksie by die Vryfees opgetree.
Colleen slaag daarin om Shéri haar eie storie te laat vertel. Sy sê dat sy net geredigeer het soos wat sy ’n ander skrywer se werk sou redigeer. Shéri – Nes ek is, gaan die leser se horisonne verbreed ten opsigte van die potensiaal van mense met ’n gestremdheid. Dit verskaf waardevolle insig en inligting sonder om voorskriftelik of prekerig te wees. Dit laat jou as leser weer nadink oor mylpale, sukses en die doel van die lewe. En al verloop alle mense met gestremdhede se lewens nie soos Shéri s’n nie, is daar gemeenskaplike behoeftes, drome, uitdagings en geleenthede waarmee ander kan identifiseer.
Shéri het geleer wat haar lewe sinvol maak: “As mense vir my sê dat ek hulle inspirasie is, dan voel dit vir my dat my lewe, wat nie so maklik is nie, nou vir my sin maak.”
Lees gerus Shéri – Nes ek is – dit sal jou nuut en anders na mense met gestremdhede en jou eie lewe laat kyk.

Susette en Shéri Brynard by 'n bekendstellingsgeleentheid van die boek Shéri – Nes ek is in Bloemfontein (foto: Maretha Maartens)


Kommentaar
My kleindogter is Vrydag 6 Augustus met Downsindroom gebore en ek voel tans verpletter. Waar kan ek Sheri se boek kry?