Tussen vriende deur Derick van der Walt: ’n resensie

  • 0

Tussen vriende
Derick van der Walt

Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795801419

Tussen vriende is Derick van der Walt se tweede roman vir volwassenes en is onlangs deur Queillerie uitgegee. Dit is ’n roman wat handel oor die ingewikkelde en ineengevlegte wêreld van vriendskappe tussen drie getroude paartjies in hulle vyftigs.

Die eerste paartjie is Cassie en Phoebie. Cassie is ’n sakeman en Phoebie is ’n tuisteskepper. Sy het ’n stram verhouding met haar ma; hulle kom nie goed oor die weg nie aangesien Phoebie voel sy is nooit goed genoeg vir haar ma nie: “Ek voel nog soos daai skaam, dik, ontoereikende dogtertjie wat ek destyds was. En wat ek waarskynlik steeds in haar oë is.” Cassie en Phoebie se verhouding met hulle seun is ook ongemaklik.

Die tweede paartjie is Adriaan en Ingrid. Adriaan is ’n tandarts en Ingrid het haar eie besigheid. Hulle dogter woon oorsee. Ingrid het so pas ’n knop in haar bors ontdek en Adriaan wonder oor die familieplaas wat moontlik verkoop gaan word omdat sy broer wil emigreer: “As kind kon hy nie wag om van die plaas af weg te kom nie. Tog verlang hy deesdae na die vrede op die plaas. Na die lewe wat mooi en maklik was.”

Derdens is daar Will en Soekie. Soekie is gedurig ontevrede oor hoe sy lyk en sy probeer uiterlik jonger en mooier lyk. Will het ’n skelm verhouding met ’n jong meisie en die skuldig voel daaroor affekteer hom só dat hy angsaanvalle kry.

Die roman bied nie net ’n realistiese blik op die vriendskap tussen hierdie drie paartjies nie, maar ook op elke karakter se lewe: Phoebie wat graag maer wil wees, maar ooreet wanneer sy skuldig voel; Soekie wat aan haar laat sny maar nog steeds ontevrede is oor hoe sy lyk; Ingrid wat die bekommernis oor die knop in haar bors saam met haar ronddra; Will wat skuldig voel oor die buite-egtelike verhouding; Cassie wat sy seun nie verstaan nie; en Adriaan wat eintlik diep binne-in hom ’n plaasboer is. Al ses is identifiseerbare en realistiese maar tog menslike karakters vir wie die leser simpatie ontwikkel. Die boek vertel voorts van die geheime wat die ses karakters vir mekaar wegsteek: Cassie en Adriaan weet van Will maar vertel nie vir hulle vrouens daarvan nie; Soekie vind uit van Will se skelmpie en praat nie daaroor nie (“Soekie onthou dit presies: Dit was die sakdoek wat Will in die wasgoedmandjie gegooi het”); Ingrid hou die knop in haar bors aanvanklik eers stil; en Cassie en Phoebie vertel nie vir die ander oor hulle seun wat vroueklere aantrek en in ’n nagklub sing nie.

Tussen vriende hanteer, behalwe die tema van vriendskap en verhoudinge, ook temas soos ontrouheid, kanker, kinders wat oorsee bly, ouderdom en siekte, kinders wat na hulle ouers moet omsien, die besluit om te emigreer of nie. Dit is temas waarmee baie (vyftigjarige?) lesers sal kan identifiseer: die ongemaklike verhouding tussen ’n pa en ’n seun; die besluite rondom ouers wat ouetehuis toe moet gaan of nie; die versorging van ’n ouer na beroerte; die kennis oor vriende wat buite-egtelike verhoudings aanknoop en die dilemma om die persoon te konfronteer of nie – dit is dinge waarmee baie mense vandag worstel en mee gekonfronteer word. Tog is dit miskien juis die een nadeel van die boek: daar is te veel temas wat slegs vlugtig aangeraak word en nie indringend ontwikkel word nie.  

Maar dit is die verhoudinge en die vriendskappe tussen paartjies waarmee baie lesers sal kan identifiseer. Die tema van verhoudinge is een wat beide kante van die spektrum uitbeeld: Soekie en Will wat aan die einde voorlopig uitmekaar gaan teenoor die ander twee wat tevrede en gemaklik in hulle verhouding is. Daarteenoor is die tema van vriendskap een van ondersteuning en onderskraging: hulle staan by mekaar en kies nie kant nie. Ingrid sê: “Ná dertig jaar se vriendskap het hulle besluit: ’n gekuier net een maal per maand. Geen drumpels word deurgetrap nie. Sy het in Sarie gelees hoe waardevol sulke vriendskappe is. Jy is bevoorreg, want jy het ménse. Jy het ’n ondersteuningstelsel.” Dit is ’n tema waaroor hulle met mekaar kan praat en ’n ondersteuningsnetwerk vorm – hulle is daar vir mekaar.

Tussen vriende is ’n lekkerleesboek, maar enkele punte van kritiek kan tog daarteen genoem word, soos die laaste paar bladsye wat die roman vinnig tot ’n einde laat bring, die ontknoping van kernbesluite wat amper ongemotiveerd plaasvind, en die “gelukkige einde” en “mooi slot” vir twee van die paartjies wat tipies in romantiese verhale voorkom. Ten spyte hiervan is dit ’n roman wat mense gerus kan lees, want dit verwoord nie net die verhaal van vriendskap tussen vriende nie, maar verwoord veral die verhaal van ondersteuning en begrip vir die “foute” wat vriende maak: “Maar as jy fyn luister, eintlik ’n mooi, diep, hartseer melodie, soos dié tussen vriende.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top