Alles begin met Anna deur Annemari Coetser

  • 0

Netwerk24 in samewerking met NB-Uitgewers en PEN Afrikaans het onlangs twee resensiekursusse aangebied. Liné Enslin het die Kaapse kursus bygewoon en deel haar indrukke van Alles begin met Anna – ’n opdrag wat sy voor haar bywoning van die kursus moes skryf. Lees ook Alta Cloete se indrukke van dié boek.

Alles begin met Anna
Annemari Coetser
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798176170

Alles begin met Anna is ’n familiesage met storielyne wat soos treinspore Suid-Afrika se oorlogsgeskiedenis deurkruis en uiteindelik by dieselfde eindbestemming aankom.

Annemari Coetser is ’n skrywer van kortverhale, liefdesromans, jeugromans en kinderverse. Met hierdie publikasie bewys sy haar bedrewenheid wanneer dit kom by navorsing, verslagdoening van verhale soos dit aan haar oorvertel is, en die kuns om alles deur middel van fiksie tot ’n boeiende historiese roman saam te bind. 

Alles begin met Anna begin aanvanklik met twee parallelle vertellings: dié van Anna Nienaber (gebore in 1873) en dié van haar jongste dogter, Anna Nienaber (gebore in 1913), wie se noemnaam Poppie is. Hoewel die lewe albei op hul unieke reise neem, onderskeidelik deur die Anglo-Boereoorlog en die Tweede Wêreldoorlog, is armoede, verlies, romanse, vriendskap en goedbewaarde familiegeheime temas wat telkens voorkom en die parallelle toenemend nader aan mekaar bring. Die Annas se verhale verweef met dié van ander en deur onverwagse omstandighede eindig almal op dieselfde plek: Germistonstasie in 1942, waar Poppie wag op ’n trein uit Natal.

“By wie leer ’n mens dan om lief te hê as jy nie ouers het nie?” Só vra Faan, Poppie se vriend, haar aan die begin van die eerste hoofstuk. Poppie moes by ander kinders in die kinderhuis, haar ouer suster (ook Anna gedoop) en haar broers leer. Hoekom sy op die ouderdom van nege saam met haar sibbe by die Charlotte Theron Kinderhuis afgelaai is, skyn op die oog af voor die hand liggend te wees, maar daar steek meer agter Poppie se vermoedens dat Anna iets wegsteek.

Op ’n tegniese vlak lees die verhaal gemaklik en vloeiend. Vir jonger lesers sal enkele woorde onbekend wees, soos "poliets", "korswel", "musiekie", "kawerjaans" en "lampetbeker", maar hierdie woorde sal ouer lesers waarskynlik nostalgies laat terugdink aan hul kinderdae. Die woordeskat, maar ook die feitelike inhoud en die konsekwentheid daarvan, getuig van deeglike navorsing en begrip vir van die tydvak waarin die verhaallyne afspeel.

Genderstereotipes is teenwoordig gegewe die tydvak, maar die wyse waarop die vrou as ’n sterk en selfstandige figuur tydens die verloop van veral die Anglo-Boereoorlog uitgebeeld word, is verfrissend. Dit roep die beeld van Anton van Wouw se standbeeld Afskeid in Bloemfontein op: ’n man wat op sy perd op pad oorlog toe is en omdraai om sy vrou met ’n babatjie in haar arms te groet (https://www.travelblog.org/Photos/7970233). Die vroue moes agterbly, die plaaswerk voortsit en hul kinders versorg. Verder het hulle geweet dat dit dalk net ’n kwessie van tyd is voor die Britte op hul plase sou opdaag, hul huise sou afbrand en hulle na konsentrasiekampe sou wegneem. Vroue, ook dié in die roman, moes hul kinders se behoeftes voor hul eie stel, probeer oorleef sonder om ’n kind aan die dood af te staan weens siektes, en terselfdertyd hoop hul mans keer ongedeerd terug.

Coetser het deernis met haar karakters en hul belewenisse, soos dit in die volgende aanhaling duidelik is: “So sag is die skrik in haar [Poppie se] keel dat sy eers agterkom sy huil toe sy haar trane op haar pop se kop sien val.” Ook die romantiese verhoudings se verloop is natuurlik, ongegedwonge en sonder soetsappige sentiment en clichés. Die beskrywende aard van die vertelling en die gebruik van foto's van die werklike mense op wie die karakters geskoei is, laat die leser toe om elke karakter te leer ken.

As jy dink Alles begin met Anna is net nóg ’n boek oor die Anglo-Boereoorlog en Tweede Wêreldoorlog en dat daar nie met ’n vars perspektief na karakters binne hierdie verwysingsraamwerke gekyk kan word nie, sal jy met die lees van die roman verkeerd bewys word.

Op dieselfde manier waarop Suid-Afrikaners die skerwe moes optel na die verwoesting wat die Anglo-Boereoorlog gesaai het, tel Coetser die dele van onvertelde stories van verlies en liefde op en skep daaruit ’n familiesage waarmee selfs jonger lesers hulle maklik sal kan vereenselwig.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top