Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Die fortuinsoekers deur Lerina Erasmus

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Lerina Erasmus

Lerina Erasmus is gebore in Namibië en studeer drama aan die Universiteit van Pretoria. Sy is bekend as aktrise en is die skrywer van Die Mannheim-sage, wat in 1986 vir televisie verwerk is. Lerina is getroud met Günter Schmikal en woon in Johannesburg. Die leliemoordenaar is haar eerste boek sedert die verskyning van Die Mannheim-sage.

Foto: Robert Hamblin


Opsomming

Die Mannheim-sage 1: Die fortuinsoekers
Lerina Erasmus

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798174558

Dis die goudstormloop van die 1880’s. Hebsug, verraad en passie is aan die orde van die dag.

Beeldskone en onafhanklike Deborah von Albein word gedwing om hul familieplaas in die Karoo te verlaat en verhuis na Johannesburg. Te midde van onrusbarende uitdagings – onder meer die dood van haar ma, die
verantwoordelikheid om na haar oppasser, Ma-Fytjie, en haar broer om te sien – moet sy kies tussen Kit Malloy, ’n ambisieuse dobbelsaloneienaar, en Karl Mannheim, eksentrieke erfgenaam van die Mannheim-fortuin.

Malloy se ambisie kom hom egter duur te staan wanneer sy onderhandelinge met Paul Kruger bots met die ideale van Cecil John Rhodes. En Karl Mannheim se obsessie bereik ’n breekpunt wanneer hy besef dat Deborah
se hart net aan een man sal behoort.

Onvermydelike konfrontasies volg. En so begin die drieluik van Die Mannheim-sage ...


Uittreksel

Die voshings steier verwoed op sy agterpote. Sy voorhoewe klief die lug. Hy probeer desperaat om ontslae te raak van die ruiter wat sy wil na hare wil dwing. Die stang byt ’n oomblik lank in sy bek. Sy oë rol wild. Hy runnik rasend. Dan hoor hy die ruiter met hom praat.

Haar stemtoon is gerusstellend.

Onverwags gee die ferm jong hand wat die teuels vashou die perd speling. Verward skiet hy vorentoe in ’n dawerende vaart na vryheid, onwetend dat dit reeds buite sy bereik lê.

Deborah von Albein buig laag oor die perd se nek waarop die salpetervlekke nou kollerig begin uitslaan. Sy weet sy het gewen. Sy weet sy het die vurige dier onderwerp aan háár wil. Sy haat die woord “inbreek”. Die stuwing van sy spiere tussen haar bene maak haar onverklaarbaar opgewonde. Haar rinkelende lag klink op bo die gedawer van die voshings se hoewe. Ruiter en perd word een in hulle vaart om en om die perdekamp. Hulle spoed skeur die wind, wat weerwraak neem deur die jong meisie se hare los te ruk sodat dit vlasblond om haar gesig en skouers wolk.

Deborah se mond is na aan die hings se platgetrekte ore.

“Vinniger! Vinniger!” por sy hom aan.

Nog twee maal om die perdekamp. Die jong vrou dryf hom aan met druk van knie en dy. Die dier se breë bors hyg. Hy raak vaagweg bewus van ander stemme wat aanmoediging skreeu. Dan voel hy die ligte pluk van die stang in sy bek, en hy weet verlig sy hellevaart is vir eers oor.

Deborah bring die hings geleidelik tot stilstand. Sy spring af en streel oor die moeë, geboë nek. Sy lig sy kop op en kyk hom vas in sy bloedbelope oë. In dié oomblikke van oogkontak word ’n hegte band gesmee tussen perd en ruiter. Hy laat haar gelate toe om die teuels oor sy kop te swaai. Sy lei hom na die houtreling, waar twee ander mense wag.

April Sardyn, die stalkneg van Sorgenfrei, klouter flink deur die tralies om die nuwe perd te gaan koudlei. Heinrich von Albein kom orent waar hy langs April teen die hek geleun het. Daar is ’n onmiskenbare uitdrukking van trots op sy gesig.

Hy wag vir sy dogter wat nog met hul getroue ou perdeman staan en praat.

Daar is min jong kêrels in die hele kontrei van Graaff-Reinet wat hulle sit só op ’n perd kan sit, en dit boonop op dié vurige voshings!

Is dít dalk die rede waarom Deborah so min trek het vir die klompie vryers wat deurentyd rede soek om te kom kuier? Maar dan was sy dogter van meet af aan van ’n ander stoffasie gemaak as hulle.

Heinrich onthou nog die nag van haar geboorte soos gister. ’n Helder ster het dié nag verskiet. Van die bruin mense het dit as ’n voorteken gesien en voorspellings gemaak oor die kind se toekoms. Hy het daaroor gelag.

Heinrich het haar grootgemaak om die grond lief te hê. Sy meisiekind met die vlasblonde hare en donker Von Albein-oë het hom nie teleurgestel nie. Haar liefde vir Sorgenfrei word net deur sy eie geëwenaar.

Deborah was ’n nuuskierige, leergierige kind. Dit het almal wat met haar onderrig belas was plesier verskaf. Haar goewernantes was dit almal roerend eens dat sy verstandelik ’n buitengewoon begaafde meisie is. Heinrich het hulle opdrag gegee om haar nie net Latyn,

Frans en Duits te leer nie, maar ook algebra en meetkunde. Hy het haar self later leer boekhou, en was opnuut verras deur die kind se logika en vinnige begripsvermoë.

Deborah het beslis ’n sakebrein. Met haar vernuf sal sy nie vir een van die boere in die kontrei hoef terug te staan wanneer hy die dag nie meer daar is nie.

Heinrich het Alisha se teregwysings dat hy hulle dogter mannetjiesagtig opvoed, tog ter harte geneem. Daarom het hy sy vrou selfs gesteun in haar pogings om die soms onwillige Deborah te skool in etiketreëls en die sosiale verfyndhede wat so eie aan Alisha is.

Alisha is ’n uitmuntende pianis en het Deborah ook klavierlesse gegee, maar tot haar spyt het die kind geen trek gehad vir elegante salonmusiek nie. Die kind se lenige, jong hande wou veel eerder die drif van ’n Beethoven, uiters onvroulik volgens Alisha, verklank. Sy moes later maar kopgee en aanvaar dat Deborah nie haar musieksmaak deel nie.

Heinrich maak die hek oop vir sy dogter. Die wind en opwinding het ’n blos op haar gesig gelaat. Haar donker oë skitter van genot toe haar pa haar styf teen hom vasdruk. Sy lag.

“Vanjaar trap ek en dié vosperd almal op die skou uit! Dis darem ’n vurige dier, Pa! April dink ons moet hom met Fleur laat paar.”

“Jy’t voorwaar knap gedoen, my meisiekind!” Hy vee die weerbarstige hare weg uit haar gesig en glimlag tergend. “Ek weet nou nie of jy dit so beplan het nie, Deborah, maar jy’t my al weer omgerokkel . . .”

“Wat meen Pa?”

“Die hings is joune.”

“Pa! Bedoel Pa dit?”

Hy knik geamuseer. Haar berekende onskuld is tog so bekoorlik.

Hy is oortuig dat sy met opset die perd voor hom ingebreek het omdat sy gewéét het haar vertoning sou die deurslag gee. Hy hou egter sy gedagtes vir homself en verlustig hom in sy dogter se reaksie. Deborah slaan haar arms om sy nek en gee hom ’n klapsoen.

“Dankie, liefste Pappa! Ek gaan hom Vlam noem!”

Heinrich haak by sy dogter in. Sy is al amper so lank soos hy.

“As jy só aangaan, neem jy ál my pronkperde af!”

Sy kind se helder lag laat sy hart warm klop.

Hulle begin koers kry met die skaduryke akkerlaan langs na die opstal wat nou met sy gewels rosig gebaai in die laatmiddagson staan.

Die reusagtige akkerbome ets fyn kantpatroontjies teen die afgewitte mure wat geslagte gelede deur Heinrich se voorvader gebou is toe hy hom as pionier op Sorgenfrei kom vestig het.

Dis aan daardie versiende eerste Heinrich te danke dat Sorgenfrei, in teenstelling met so baie van die ander plase in die kontrei, selfs in die dorste tye groen bly. Hy het die bergfontein se water laat opdam in die natuurlike holte wat laer af links van die opstal lê. Daardie dam is nou, tagtig jaar later, omring deur reuse-treurwilgers, Deborah se geliefkoosde wegkruipplek.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top