Die Boendoesbaai-ding
Rudi Venter
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798175951
Die Boendoesbaai-ding (2017) is die ideale speurverhaal om jong lesers se liefde vir lees te stimuleer en hul nuuskierigheid vir speurverhale te prikkel.
Hierdie boek is ’n relevante voorbeeld van ’n speurverhaal wat op so ’n wyse geskryf is dat ’n jong leser dit interessant sal vind. Dit kan as ’n kleuter in die speurverhaalgenre beskryf word, omdat dit al die bestanddele vir ’n speurverhaal bevat, maar nie op dieselfde vlak van ’n Deon Meyer-titel soos 7 Dae (2011) is nie. Daarom is dit belangrik om te verstaan waaruit ’n goeie speurverhaal bestaan.
Berendina Volschenk verskaf ’n eenvoudige definisie:
In die tradisionele speurverhaal is die oplossing van ’n geheim – ’n moord of ’n misdaad – sentraal. Daar is ’n speurder, dikwels bygestaan deur ’n helper, ’n ondergeskikte medespeurder, wat die geheim ontrafel. (2010:8)
Hierdie definisie beklemtoon die hoofelement van ’n speurverhaal: die funksie van die raaisel is om die spanning tot op breekpunt op te bou en dan ’n onverwagse antwoord op die raaisel te verskaf. Dit is spesifiek die uitstel van die antwoord op die raaisel wat die leser laat aanhou lees. Die Boendoesbaai-ding ontgin hierdie aspek op ’n verteerbare dog steeds ingewikkelde manier deurdat daar meer as een raaisel betrokke is.
Hierdie tipe verhale, waar raaisels gaandeweg ontrafel word, kan teruggevoer word na die Oedipus Rex-verhaal van Sophokles (Hambidge 2008). In hierdie verhaal is daar ook die sfinks, ’n mitologiese dier, wat lief is om in raaisels te praat. In Sophokles se verhaal bewaak die sfinks die stad van Tebes. Oedipus moet die raaisel wat die sfinks aan hom stel, korrek beantwoord voordat hy die stad mag binnegaan. Omdat hy die sfinks verslaan, word hy koning van Tebes en trou met die koningin Jokaste, onwetend dat dit sy ma is.
Die speurverhaal het in die laaste eeu toegeneem in gewildheid onder lesers. “Die speurverhaal het ’n hoogtepunt bereik met skrywers soos Wilkie Collins, Arthur Conan Doyle en Agatha Christie” (Head 2013:12). Hier kan Die Boendesbaai-ding vergelyk word met tradisionele speurverhale soos The woman in white (1859) en die bekende karakters van Sherlock Holmes en Dr Watson, asook Agatha Christie se The mysterious affair at Styles (1920). Alhoewel hierdie tekste almal op ’n meer volwasse gehoor gemik is, stel dit al die kenmerke van goeie speurverhale ten toon.
Die Boendoesbaai-ding is meer gepas vir ’n lesersgehoor van ongeveer 12 tot 16 jaar, alhoewel ek self die boek geniet het.
Boendoesbaai se raaisel begin met die stank van die plaaslike rivier en ’n bankroof van ongeveer 20 jaar tevore. Die skuldiges is destyds nooit opgespoor nie. Die ontknoping is onverwags en wie ten einde die skuldige is, betrap die leser onkant. Dit is ’n lekkerlees-speurverhaal wat die leser laat aanhou wonder wat werklik met die Boendoesbaai Derby van 1993 gebeur het. Dit is die groot raaisel waarom nog ander kleiner raaisels draai. Die ander raaisels sluit in: die rede vir die stank wat rivierlangs van Stofbergdam, by die ou wapenfabriek, afkom. En wat voer die slinkse Eloff-broers in die mou? Daar is ook die raaisel van die posbode wat jare gelede op dieselfde dag as die Boendoesbaai Derby spoorloos verdwyn het.
Die hoofkarakter, Eddie, tree tot ’n mate as speurder op, omdat hy aanvanklik die leidrade begin volg. Sy skoolvriendin, Maryna, maak vriende met twee neefs wat vakansie kom hou op Boendoesbaai en saam maak hulle ’n wonderlike avontuur mee en ontrafel die raaisel van die bankroof, waarvan die geld nooit gevind is nie – tot nou.
Anders as die tradisionele speurverhaal is hier nie ’n moord in die ware sin van die woord betrokke nie en kan hierdie speurverhaal die grondslag lê vir die jong leser om speurverhale te geniet. Dit het ’n goeie verteltrant en is verteerbaar vir die jonger leser, en daar is boonop genoeg intrige om die leser aan die raai te hou.
Bibliografie
Hambidge, J. 2008. Die onopgeloste raaisel met spesifieke verwysing na Die Jakkalssomer van Dirk Jordaan. LitNet Akademies, 5(1).
Head, P. 2013. Tyd as struktuurelement in speur- en misdaadfiksie met spesifieke verwysing na drie tekste deur Deon Meyer. MA-verhandeling. Universiteit van Kaapstad.
Volschenk, B. 2010. ’n Vergelykende studie van die tradisionele speurverhaal en die literêre speurverhaal met spesifieke verwysing na vier Afrikaanse speurverhale. MA-verhandeling. Universiteit van Pretoria.