...
Artikel 36 van die Grondwet, wat voorsiening maak vir die “algemene beperking” van grondwetlike regte, is beskikbaar vir die regering om te gebruik, maar nie om prostitusie steeds onwettig te hou nie. Die rede hiervoor is dat dié artikel slegs vir “beperking” voorsiening maak, nie vir algehele verbod nie.
...
Mense in gemaklike situasies was nog altyd baie gou om teen prostitusie te waarsku, so het Victor Hugo (1802–1885), die skrywer van Les Misérables, gesê: “We say that slavery has vanished from civilization, but this is not true. Slavery still exists, but now it applies only to women and its name is prostitution.”
Luister jy egter na ’n sekswerker, kry jy ’n totaal ander storie. Hier is ’n anonieme stem van ’n sekswerker:
Die sekswerker se wêreld is moeilik, donker en sonder status. Waardigheid in die beroep is skaars en ek beoefen dit om te kan oorleef. My BA-graad sit nie brood op die tafel nie en betaal ook nie my huishuur nie. Ek het twee kinders om te versorg en tans is prostitusie my enigste uitweg om liggaam en siel aanmekaar te hou. Dekriminalisering van sekswerk sal tot ’n mate my selfrespek in lyn bring met die normale samelewing – ’n platform waar mense soos ek op arbeidsregte, voordele en beskerming kan aanspraak maak. Dit sal my ook vrywaar van vervolging.
Wetsontwerp op prostitusie teruggetrek
Hierdie dilemma het onlangs weer ter sprake gekom in die parlement.
Maroela Media berig op 1 Junie 2023 dat John Jeffery, adjunkminister van Justisie en Konstitusionele Ontwikkeling, onlangs tydens sy departementele begrotingsdebat die wetsontwerp wat poog om prostitusie te dekriminaliseer, teruggetrek het.
Jeffery sê die voorgestelde wetsontwerp sal nie in die parlement ter tafel gelê word nie, nadat kommer oor die grondwetlikheid daarvan geopper is. Daar was boonop ook nie ’n regulatoriese raamwerk gereed om die dekriminalisering te hanteer nie.
Verskeie belanghebbendes het die besluit verwelkom, veral die ACDP wat destyds ontsteld was toe die wetsontwerp aanvanklik voorgestel is.
Luidens The Sun van 2 Junie 2023 sê Steve Swart, ACDP-sweep en lid van die portefeuljekomitee vir justisie en korrektiewe dienste, dié wetsontwerp het verreikende gevolge en is in direkte stryd met artikel 18 van die Grondwet en sal lei tot verdere verbrokkeling van sedes en tradisionele waardes wat erken word deur die meerderheid Suid-Afrikaners.
Die dekriminalisering van prostitusie het ongetwyfeld in ’n grootskaalse omstrede aangeleentheid ontplooi en mense landwyd in twee emosionele belaaide kampe verdeel. Leon Forsman, NG-leraar en mediator, som dit só op:
Die dekriminalisering van sekswerkers is ’n Salomo-kwessie en daar is goeie argumente na beide kante. Op ’n etiese, Christelike grondslag kan ons nie prostitusie regverdig nie, maar in dieselfde asem moet ons ook erken dat ons in ’n gebroke werklikheid bly en vervolging los nie die probleem op nie.
Ek is ’n voorstander van die dekriminalisering daarvan sodat dié vroue en mans toegang kan kry tot die regstelsel, mediese versorging en maatskaplike dienste.
Johann Lemmer, wat reeds die afgelope 20 jaar ’n hoogleraar in die wetenskaplike beoefening van seksualiteit en verhoudings is, som hierdie dubbele standaarde soos volg op:
Wanneer seks ter sprake kom, is dit asof mense hul boonste kop verloor en net met hul onderlyf dink – almal. Ook dié wat in die openbaar só veroordelend is teen sekswerk en alles wat seks is. En dikwels omdat hulle self met groter geraamtes in die kas sit. In Jesus se tyd was dit die Fariseërs en nou in die kerkbanke, ván ouderlinge, diakens, kerkraadslede en predikante wat in die openbaar een gesig voorhou en agteraf konkel. Die kerk se geskiedenis is vol van Rooms Katolieke priesters met al hul bose dade. Die mense wat die hardste skree oor moraliteit, staan dikwels agter die deur en het self ’n dubbelstelreëls – een vir ander mense en een vir hulself. Die vader en ontdekker van seks as sonde, Augustinus 4e eeu nC, het self agter die deur gestaan.
Talle kundiges en organisasies is ten gunste van die dekriminalisering van die beroep. Hulle glo dat die voordele die nadele kan uitkanselleer.
Lemmer sê dit is baie belangrik dat alle sekswerkers en sekswerk gedekriminaliseer moet word en dit reeds lankal moes gebeur het.
Manlik sowel as vroulik, anders is dit diskriminasie van die Grondwet. Almal moet van hul dienste gebruik kan maak op ’n basis van vrywillige koper en vrywillige verkoper. In Engels lui dit contractual mutal consent en almal moet gedekriminaliseer word – manlik, vroulik en kliënte.
Hy sê die probleem ontstaan wanneer die aktiwiteite rondom sekswerk die gemeenskap aanstoot gee en daarom moet streng maatreëls in plek wees om dit te verhoed.
Daar moet streng voorskrifte wees rakende die advertering van dienste, gesondheidsmaatreëls moet in plek wees en belastingregulasies wat die beroep reguleer. Die waarde is baie meer as die nadele as dit reg gedoen word.
Volgens Lemmer is daar geslagsgelykheid in die wetgewing indien dit gedekriminaliseer word en dit sal help om geslagsgeweld en geslagsiekte te bekamp.
Alles wat die Grondwet van ons vra, sal dit doen indien die Wet opgeneem word. Dit is vir my belangrik in wetenskaplike seksuele etiek en dit is die regte ding om te doen.
Lemmer sê voorts die persepsie wat mense het dat sekswerk die platform skep vir omvangryke kriminele elemente dra nie water nie en dat ons huidige wette voorsiening maak om van dié besware doeltreffend aan te spreek.
Sekswerk het absoluut niks met mensehandel, dwelms en al die bose goed te doen nie – absoluut niks. Daar is genoeg wette wat die gesin beskerm en ons kinderwet is van die beste. Daar is ook genoeg wette teen dwelms. Besware oor die Grondwet is net op artikel 18 van die gesin gebou terwyl 90% in die grondwet die teendeel bewys, naamlik die vrye keuse van beroep en baie ander wat sekspositief is.
Hy sê ook daar is baie mense vir wie dit belangrik is om van dié dienste gebruik te maak. Vir ouer mense is prostitusie beslis ’n voordeel waar hulle op bloot ’n saketransaksie basiese dienste kan verkry.
Daar is talle ouerwordende vroue vir wie die diens noodsaaklik is – mans gaan gouer dood en mense se seksualiteit is nie iets wat net doodloop nie. Om dit jou keuse te maak om ’n oplossing te vind op ’n wetlike gereguleerde manier is die antwoord. Gewone gesonde mense moet nie gekriminaliseer word nie.
Marlene Arndt, kliniese sielkundige in privaatpraktyk in Melville, Johannesburg, sê die kriminalisering van volwasse, vrywillige en konsensuele seks, insluitend die kommersiële uitruil van seksuele dienste, is onversoenbaar met die mensereg op persoonlike outonomie en privaatheid. Die verkoop van seksuele dienste en sekswerk is in sy kern ’n eenvoudige transaksie: Geld in ruil vir ’n diens. Solank alle partye binne die wettige ouderdom optree en toestem kan dié transaksie nie ’n misdaad wees nie. Sy sê:
Die regering moet ophou om hulpbronne op vrywillige, volwasse seksuele uitruilings te mors. Dit is tyd om ’n einde te maak aan hierdie skynheilige en verkwistende vervolging van sekswerkers en hul kliënte. Hulle moet eerder fokus op moord, verkragting, roof en seksuele misbruik.
Volgens Arndt keur sommige mense die immorele aard van sekswerk af. Om moraliteit te beoordeel, is vir godsdienstige instellings en dit behoort nie ’n saak vir wetstoepassing, hofsake en tronkselle te wees nie – alles wat die belastingbetaler duur te staan kom.
Dawie Roodt, die hoofekonoom van die Efficient Group, stem saam:
Prostitusie is nie ’n misdaad nie en moes in die eerste plek nooit gekriminaliseer gewees het nie – van die begin af het dit onnodige druk op die staatskas geplaas. Deur die beroep te dekriminaliseer sal voordelig wees en sodoende word dit deel van ’n wettige ekonomie met sy uiteenlopende voordele. Hulpbronne wat nou aangewend word vir die bekamping, kan meer doeltreffend toegepas word om ons stygende misdaad hok te slaan. Dit is nie die staat se rol om moraliteit op die gewone mens af te dwing nie.
Arndt sê talle sekswerkers meen hulle lewer ’n belangrike diens en voel hulle help kliënte deur nie slegs seks te verskaf nie, maar ook geselskap.
Sommige sekswerkers verskaf dienste aan senior burgers en gestremdes. Mans wat impotent is, vind dit ’n nie-veroordelende ruimte en vir geskeides óf diegene wat stoei met ’n ongesonde huwelik, skep die sekswerker ’n veilige hawe.
Die Vryemarkstigting en die Grondwet
Martin van Staden, die Vryemarkstigting se beleidshoof, sê die organisasie steun die dekriminalisering van prostitusie, en meen die departement se jongste besluit ontneem mense van hul konstitusionele reg om hul beroepe vrylik te kies en te kan beoefen.
Positiefregtelik maak artikel 22 van die Grondwet ruim voorsiening vir beroepsvryheid. Dit stel in ondubbelsinnige terme dat enige Suid-Afrikaner enige beroep van hul keuse mag beoefen, tensy dit noodwendig ander se regte skend, soos ’n kontrakmoordenaar. Daar is geen ander grondwetlike basis waarop die regering die keuse van ’n beroep mag beperk nie.
Volgens Van Staden mag die regering wel, indien hy so besluit, die beoefening van ’n beroep reguleer, maar die Grondwet vereis dit hoegenaamd nie. Dit is waarom die adjunkminister van justisie se opmerking dat die wysigingswetsontwerp “ongrondwetlik” sal wees indien dit nie regulering insluit nie, só verbyster.
Van Staden sê artikel 36 van die Grondwet, wat voorsiening maak vir die “algemene beperking” van grondwetlike regte, is beskikbaar vir die regering om te gebruik, maar nie om prostitusie steeds onwettig te hou nie. Die rede hiervoor is dat dié artikel slegs vir “beperking” voorsiening maak, nie vir algehele verbod nie. ’n Beperking op ’n reg moet altyd die kernsubstansie van die reg erken en behou.
Daar ís ander stemme
Luidens TimesLIVE van 4 April 2019 het Mickey Meji, ’n aktivis vir vroueregte en wat haarself as ’n oorlewende van prostitusie beskryf, in haar toespraak by die derde wêreldkongres in Duitsland oor seksuele uitbuiting van vroue aangevoer dat alle sekswerk vroue finansieel, sielkundig en fisies benadeel.
Meji het die aandag gevestig op ’n internasionale debat rondom die wettiging van prostitusie. Die Kwalene-oorlewingsbeweging, ’n organisasie wat sy vroeër in die lewe geroep het, wou hê SA moet ’n gelykheidswet aanvaar waarvolgens sekswerkers nie gekriminaliseer sal word nie, maar diegene wat voordeel trek uit die sekshandel, soos verkopers en kopers, aan die groot klok gehang moet word.
“Prostitusie is nóg seks, nóg werk en ook nie ’n vrye keuse nie,” sê Meji, wat krities was oor die ANC se besluit by sy Nasrec-konferensie in 2017 om die volle dekriminalisering van prostitusie te wettig.
Die meeste sekswerkers en instansies wat aan sekswerkers hulp verleen, stem egter nie saam nie.
Dit gaan oor sekswerkers se gesondheid
Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) steun die dekriminalisering van sekswerkers in ’n verklaring en sê onlangse modelleringstudies toon ’n vermindering van 46% in die MIV/Vigs-syfers wanneer sekswerk gewettig word. Die organisasie moedig lande aan om die welstand van sekswerkers wat binne hul grense woon en werk, te ondersteun.
Die Sex Workers Education and Advocacy Taskforce (Sweat), ’n nie-winsgewende organisasie wat voorspraak maak vir die gesondheid en menseregte van sekswerkers, sê ook solank sekswerk gekriminaliseer word, sal sekswerkers steeds deur struikelblokke gekonfronteer word – aksies wat hul menseregte direk en indirek skend en toegang tot gesondheidsorg onbillik verminder. “Dit laat hulle weerloos vir uitbuiting en teistering deur kliënte, polisiebeamptes en die regstelsel in die breë.”
Volgens Sweat sal die dekriminalisering van sekswerk dié mense bemagtig om binne ’n menseregteraamwerk te funksioneer en onder andere die volgende meebring:
- Die verwydering van kriminele aanklagte teen sekswerkers.
- Die bedryf van bordele en individuele sekswerkers as gewone besighede.
- Die vermoë om wette te implementeer wat sekswerkers teen spesiale risiko’s beskerm.
- Die minimalisering van diskriminasie sal sekswerkers in staat stel om makliker toegang tot basiese dienste te verkry.
- Die potensiële vermindering van mishandeling met toenemende aanmeldings by die polisie.
Die organisasie sê die kriminalisering van sekswerk het mense nie daarvan weerhou om seks te verkoop om ’n bestaan te maak nie.
Die kriminalisering van sekswerk het dit minder veilig gemaak en sekswerkers se toegang tot geregtigheid vir misdade teen hulle gepleeg, ondermyn. Dit stel hulle bloot aan ongekontroleerde mishandeling en uitbuiting deur wetstoepassers, insluitend polisiebeamptes.
Só lyk die kriminalisering van sekswerk nou
Luidens ’n Netwerk24-artikel van 26 September 2022 word die verkoop van seks verbied deur die Wet op Seksuele Misdrywe en die koop daarvan deur die Wysigingswet op Strafreg (Seksuele Misdrywe en Verwante Aangeleenthede). Prostitusie (nou meer bekend as sekswerk) word dus steeds as ’n misdaad in Suid-Afrika beskou.
Bronne:
https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/wetsontwerp-oor-prostitusie-teruggetrek/
https://www.who.int/teams/global-hiv-hepatitis-and-stis-programmes/populations/sex-workers
Lees ook:
Erla Diedericks oor die rol van die moderne courtesan in vyfsterhotelle