Good luck to you, Leo Grande: ’n resensie

  • 0

Good luck to you, Leo Grande
Met Emma Thompson en Daryl McCormack
Regisseur: Sophie Hyde

Bestudeer ’n bietjie die titel. Soms kan ’n naam en, vir die algemene kyker, die akteurs, onbekend of onaptytwekkend wees. Alles tel in daardie opsig téén Good luck to you, Leo Grande. Want wat beteken daardie titel? In watter genre val dit? Hoekom hoegenaamd daaroor skryf? En dan die plakkaat met ’n semikaal prostituut en verbysterde gesofistikeerde dame wydsbeen saam op ’n bed? Gaan dit dalk klugtig, neerhalend of aanstootlik eksplisiet en kaal raak?

Destyds, toe Cinema Nouveau nog ’n bloeitydperk beleef het, het gesofistikeerde fliekgangers, wat stimulasie vir die brein gesoek het, hierdie teaters in hul massas ondersteun. Vandag, helaas, word kunsfilms of buitelandse films met subtitels selde aangekoop en konsentreer Nouveau meer op opera- en balletproduksies wat op ’n verhoog verfilm is. Maar in uitsonderlike gevalle tog egter rolprente (soos hierdie een) wat iewers in ’n hoekie sal wegkruip en vinnig weer na stroming verban sal word.

...........
Indien daar dus ’n Cinema Nouveau in jou omgewing is, of hierdie rolprent iewers in ’n kommersiële teater blosend sou opduik, waag ’n kans. Maar dit is op so ’n uitgesoekte smaak gerig dat jy versigtig moet wees wie jy saamnooi. Dalk is dit vir ’n groep vroue wat nadese lank daaroor sal wil debatteer?
.............

Indien daar dus ’n Cinema Nouveau in jou omgewing is, of hierdie rolprent iewers in ’n kommersiële teater blosend sou opduik, waag ’n kans. Maar dit is op so ’n uitgesoekte smaak gerig dat jy versigtig moet wees wie jy saamnooi. Dalk is dit vir ’n groep vroue wat nadese lank daaroor sal wil debatteer?

Dit is eintlik ’n verfilmde verhoogstuk, want feitlik die hele storie en intrige (behalwe die laaste tonele) speel in ’n hotelslaapkamer af.

Beskryf ’n mens waaroor dit gaan is die reaksie dikwels: “Ek gaan kyk nie na hygromans op die skerm nie.”

Prent: YouTube

Weereens ’n miskonsepsie. Want dié drama hanteer soveel temas ernstig, oopkop, verantwoordelik, maar tog ook met tikkies humor, dat jy gou betrokke raak. Dis die humor wat verhoed dat dit in eentonigheid verval. Dit gaan oor onderwerpe wat dikwels as taboe bestempel word en in Pandora se boksie toegesluit moet word. Dis egter so ver van die Fifty shades of grey-fenomeen af (100 miljoen boeke verkoop!) as wat Jurassic world dominion (2022) van ’n kunsfilm af is.

Emma Thompson (uitstekend en baie, baie dapper) is die bekende swaargewigtalent wat grootliks bestaansreg aan Good luck to you, Leo Grande gee – uitspraak “grand” op Engels. Sy is ’n gesofistikeerde maar seksueel gefrustreerde en geïnhibeerde weduwee, slimkop, vol geite en innerlike monsters, en erg neuroties. Sy vra: “Wanneer ’n mens in my situasie verkeer en alleen in ’n vreemde plek in ’n hotelkamer beland, hoekom nie, vir een keer in my lewe, bietjie avontuurlik wees en ’n katelknaap vir die aand huur nie?” (Sy haat die woord prostituut.) Maar hy moet iets vir die oog wees en boonop gesofistikeerd en, nou ja, skadeloos lyk.

Maar ai, die morele dilemma, die verbode-vrug-sindroom en die erkenning dat vroue oor 60 steeds seksuele behoeftes het. Hoe gaan sy daarmee om?

Sy noem haarself Nancy Stokes, probeer ’n ander persona aanneem en haarself dus van buite af bekyk, en huur die duur hings wat blyk ’n bobaas- romantiese plesierspier te wees: Leo Grande. Daryl McCormack gee ’n verrassende genuanseerde en intelligente vertolking. Hy maak tans groot opgang op die Britse verhoog, en speel die rol veelvlakkig, simpatiek en doodgewoon.

Die begin is voorspelbaar. Dis nie vir Nancy so maklik om skielik, as middeljarige vrou, haar klere uit te pluk en tot kooikaskenades oor te gaan nie. Haar paranoia, skaamte, skok oor wat sy aangevang het en brandende selfverwyte skop in. Maar hy is duur en sy soek waarde vir haar geld!

Leo, aan die ander kant, is ewe gesofistikeerd, sagsinnig, vol begrip (’n vorige kliënt was 82) en wil net vir die gespanne vrou oorkant hom haar soort plesier gee. Hy dring homself nie aan haar op nie, nog minder stroop hy al sy klere af wanneer hy, mooi lyf en eksotiese voorkoms en al, die kamer binnestap.

Moenie dat jou verbeelding op loop gaan dat dit in ’n seksuele sirkus gaan ontaard waarin karakters gestereotipeer of verneder gaan word nie. Die verantwoordelike drama ontvou stadig en geleidelik wanneer Leo en Nancy (nie hul regte name nie) openhartig oor die aard van seks, eensaamheid, skugterheid, intimiteit en seks gesels. Ook oor hul eie onsekerhede en tekortkominge. Elkeen van die twee karakters begin dan hul emosies stroop tot hulle kaal en weerloos voor mekaar staan.

.............
Moenie dat jou verbeelding op loop gaan dat dit in ’n seksuele sirkus gaan ontaard waarin karakters gestereotipeer of verneder gaan word nie. Die verantwoordelike drama ontvou stadig en geleidelik wanneer Leo en Nancy (nie hul regte name nie) openhartig oor die aard van seks, eensaamheid, skugterheid, intimiteit en seks gesels. Ook oor hul eie onsekerhede en tekortkominge.
...............

Dit gaan hierna oor hoe Nancy haarself gaan oortuig om nie selfbewus oor haar middeljarige lyf te wees nie, en vir Leo om vir haar te gee wat sy so broodnodig het: intimiteit, ’n sagte aanraking, om gespreksgenote in plaas van seksspeelgoed te word. Ook om oop te maak en Nancy kans te gee om vrede met haarself te maak. Maar dan word die bordjies verhang en is dit Leo se beurt om te verduidelik hoekom so ’n slim, mooi jong man hierdie “werk” (wat steeds teen die wet is) gekies het.

Aanvanklik raak die gesprekke net te lank, te herhalend met soms ’n ligte irritasiewaarde aan Nancy se ongegronde vrese en Leo wat haar maar telkens geduldig en sagkens akkommodeer. Tot by die vierde bedryf.

Van hier af is die handskoene af. Weet elkeen genoeg van die ander en “ken” hulle mekaar goed genoeg om tot seks oor te gaan? Of gaan dit ’n selfbewuste fiasko wees? Kaalgat Karel wat met bibberboudjies in die gang gaan afhol?

Die kliënt/prostituut-storie is al tevore in Afrikaans op beide die verhoog en as romans vertel, en die rolprent loop dieselfde pad omdat die skrywer se motiewe eerlik is en die regisseur, Sophie Hyde, soveel respek en begrip vir haar karakters het. Hulle het al drie soms naak gerepeteer en gesels.

Moenie ’n tipiese seksklug verwag waar naaktheid, konserwatisme en die versugting na “verbode seks” die potensiaal van die storie vervlak nie. Soos ander soortgelyke verhale gaan dit meer oor emosionele naaktheid en seks met ’n brein as ’n blatante kaalhollery soos op ’n skoolkonsert met skeutjies naaktheid.

’n Waarskuwing: Die laaste paar tonele is moeilik en sielsopenbarend skrynend. Emma Thompson erken dat die slottoneel die moeilikste toneel is wat sy ooit verfilm het.

Moenie Good luck to you, Leo Grande op sy bolyf takseer nie. Alhoewel dit eintlik ’n muur-tot-muur-dialoog-verhoogstuk is, delf dit veel dieper en beklemtoon dat daar so min plesier in die lewe is. Moenie dat ’n swak selfbeeld of wanpersepsies jou dit ontneem nie.

En wag tot die woorde eers bedaar het en ons sien wie die karakters eintlik is ...

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top