Erla Diedericks oor die rol van die moderne courtesan in vyfsterhotelle

  • 0

Jo Els, ’n regsgeleerde en kranige leser, sê hier op LitNet: “Diedericks ontbloot die skadukant van die wêreld van die sekswerker. Die vrou wat gewillig, of geforseerd, in hierdie bedryf staan.” Dit is so, maar jy kies om te fokus op die heel boonste sport van die bedryf. Hoe so? 

Op die skadukant van die sekswerker is al genoeg gefokus. Ek het meer belang gestel in die soort vrou met wie ek en my lesers (meestal middelklas, wit middeljarige vroue) kon identifiseer. Die High Class Call Girl, of dan ook die Blesser en sy Sugar Baby etc, kom dan ook al hoe meer voor in die gemeenskap. Dit is nie meer so taboe soos voorheen nie. Dit was dus vir my meer relevant. Iets wat my lesers dalk sou kon voel meer met hulle sal kan gebeur as om eendag op ’n straathoek met ’n pimp as baas te beland.

Jy bedank die sekswerkers vir hulle bydraes om hierdie boek te laat gebeur. Hoe het jy te werk gegaan om hulle stories te kon kry?

Ek het as Netwerk 24-joernalis al met ’n sekswerker en ’n dominatrise/sekswerker onderhoude gevoer. So ek het hulle gekontak. Dan ook ... ’n jonger sekswerker (totally a high-class call girl seksbom deluxe) het my gekontak om haar boek te skryf, maar ek het gevoel sy kan dit self skryf, aangesien sy met ’n onderwysgraad sit. Sy het my wel gehelp met inligting vir my boek.

Die naam Courtesan is dadelik ’n kode, want courtesans was sedert die 16de eeu onafhanklike vroue wat met hulle lywe en intelligensie konings en ander adellikes gelukkig gehou het. Vandag nog gaan jy nie courtesans in die dokke kry nie. Courtesans het egter ook nie getrou nie. Hulle is onderhou om vry te wees om mans eroties en intellektueel te stimuleer. Vandag sien ons hulle nie in koningspaleise uithang nie, maar wel in die top-hotelle. Jy skryf daaroor. Hoe goed kom die mense met wie jy gesels het, oor die weg met die hotelpersoneel, hulle wat eintlik die hof hou en diskreet hulle ryk manskliënte se giere moet kan gelukkig hou?

Van die tonele in Dominique speel af in ’n top-vyfsterhotel in Kaapstad. Ek was ’n VIP-lid van die spa daar en het baie inligting gekry oor die doen en late van die call girls daar. Gewoonlik kom hulle in groepe en behoort aan ’n bordeell, maar daar is onafhanklike vroue wat ook daar werk. Die grapevine-skinderstorie is dat die bestuurders maar maak of hulle van niks weet nie, want dit hou die manlike gaste gelukkig. Ek het ook ’n onderhoud gedoen met die bestuurder van ’n VIP-beskermingsdiens en hy het gesê Arabiese sakelui huur dikwels ’n hele hotelvloer en huur dan ’n paar meisies. Die meisies kry soms seer, maar die hotelbestuur tree nooit teen die gaste op nie. Of dit waar is, weet ek nie. Maar ek het wel met my eie oë die madams en hul courtesans-in-training gesien, besig om tee te drink (hier van drie-uur, vieruur af, go check it out), en dan was ek een keer in die einste hotel vir ’n drankie saam met ’n man, en toe ek badkamer toe gaan, is hy deur ’n ouer sekswerker “genader”.  Die spesifieke hotel het dan ook ’n geheime ingang in hul parkeerarea, maar dit lei na die spa en nie na ’n seks-dungeon soos in my boek nie.

Jy is ’n goeie joernalis. Die adel van die 21ste eeu is die top-sakemanne, hulle wat in vyfsterhotelle bly. Dink jy die luukse hotel het oorgeneem by die paleis in terme van mag?

Nee, want hierdie mans sien nie noodwendig die vroue net in hotelle nie. Die adel van ons eeu is nie nét sakemanne nie. Dis ryk mans. Politici. Loodgieters met paar besighede, prokureurs. Beroemde mans, sangers, akteurs.

Praat van name: Dominique het baie betekenisse in hierdie boek!

Die tragiese waarheid is dat ek net ’n naam gekies het wat ek van gehou het, en dit was Monique du Randt. Toe laat weet ’n vriend van my dat daar regtig so ’n vrou is en sy het donker hare en lyk baie soos die girl wat ek in die boek beskryf, en toe verander ek dit na Dominique, want ek was nie lus vir ’n lawsuit nie. Dominique klink toe vir my Frans (wat inskakel by courtesan) en ook half kinky oor die Dom- wat Dominique en Dominatrise/Dominatrix deel. Maar trust resensente om die betekenis van die naam te google en ’n mens slimmer te laat klink as wat jy is. Baie dankie!

En toue ... dit gaan oor meer as Japannese knoopwerk, nie waar nie?

Shibari versus kinbaku. Die term shibari word deesdae baie gebruik in porn. Maar ek wou spesifiek konsentreer op kinbaku. As mens kyk na die semantiese betekenisse van die woorde, kom shibari van shibaru, wat gebruik word vir die handeling van vasbind, pakkies vasbind, skoenveters vasbind. Dit is meer ’n aksie en kan byvoorbeeld verwys na wanneer ’n meester byvoorbeeld sy knope oefen op vrywilligers of demonstrasies doen of dan selfs porn, en daar geen sensualiteit by betrokke is nie. Kinbaku beteken om styf vas te bind – kinbakubi ... pragtige gebondenheid, wat dui op die sensualiteit en verbintenis tussen die meester en sy dorei (slaaf). Soos wat die Japannese dit stel: Kinbaku skep ’n verbintenis tussen harte met knope. 

Kinbaku (S. B. | Pixabay)

Kortliks: Shibari is meer vasbindporn en kinbaku is vasbind met tantric seks.

Ja, maar jy het nou die bergklimtoue en hulle knope gesystap ...

Wel, ek het besluit om  ’n Afrikaïese kinkel in te bring deurdat die kunstenares-karakter ’n kombinasie van stopper knots en dan die kinbaku in haar kuns gebruik. Ek het by my eksman (’n rotsklimmer) gaan uitvind hoe die knoop werk en sommer ook terloops gehoor hoe ek hom sou kon vermoor tydens ’n bergklimsessie sou ek wou. Vir navorsing natuurlik. 

Dominique is ’n sekswerker, maar voor sy Courtesan, die alter ego, geword het, is sy seksueel mishandel. Eintlik sê hierdie boek baie oor vrouwees in ’n manswêreld, veel meer as oor sekswerk. Of lees ek dit verkeerd?

Ja, dit is so. Solank mans seks as hul geboortereg sien, sal vroue seks kan verskaf in ruil vir geld as hul getroude susters dit nie voorsien nie. Solank as wat patriargie in beheer is, sal vroue nooit dieselfde vlak as mans bereik in die werkplek nie en sal sekswerk wel ’n ekonomiese oorweging wees.

Maya Fowler haal, in haar baie goeie resensie van Dominique, vir Belle de Jour by. Sy is een van die bekendste sekswerkers in ons tyd, juis omdat sy so goed kan skryf. Haar blog oor haar sekswerk het haar baie bekend gemaak, en die boeke wat daarop gevolg het, nog meer. In haar ander lewe maak sy siek kinders gesond en is ’n akademikus. Ek weet van sekswerkers wat hulle eie boeke wou skryf en toe agtergekom het dis moeiliker as wat hulle dink. Wat sê die mense wat jou met die navorsing gehelp het oor jou boek?

Ek weet darem nie. Ek het verskriklik baie boeke gelees wat deur sekswerkers geskryf is, en dis báie goed geskryf. Ek dink dis maklik om te doen en kan jou roem verskaf. En seker ekstra besigheid ook. Baie bekende en professionele vroue het al geskryf oor hul loopbane as courtesans en dan beroemd geraak. Van die boeke wat ek gelees het vir navorsing, is Hooked deur Samantha X, The courtesan handbook deur Arden Moon, The girlfriend experience deur Rebecca Dakin. Maar ek dink sulke boeke is dalk nou al ou nuus. Net een van my sekswerkerbronne het my boek gelees en sy het gedink dat ek Courtesan meer moes verontskuldig het. Volgens haar is haar lot, haar beroepskeuse, grootliks ander mense se skuld.

Fowler sê ook die kunswerke in die boek maak hiervan ’n ope uitnodiging om te kyk. In te kyk. En, soos Jo Els sê, jy laat val meer as net streppies ... Wat wou jy dat mense sien?

Ek wou hê hulle moet die waarheid sien oor die menslike psige. Ons almal het ’n praktiese en ’n dromerkant, ’n Romantiese en ’n seksuele kant. ’n Oorlewingskant. En ons almal het al iemand gestalk. Al is dit net op facebook.

Jy het op ’n ander openbare forum genoem dat van jou gay mansvriende jou ook geleer het om Courtesan te help met die manlike seksgereedskap, die ter hande en ter monde te neem daarvan. Vertel?

Nee, nie my gay mansvriende nie, maar wel twee baie bekende skrywers wat my een erotiese boek (Tafelberg het dit nooit uitgereik nie) geredigeer het. Die een (wat wel gay is) wou die hele tyd by my weet hoekom die karakter nie die man ’n blowjob gee nie en hoekom sy nie hier lek en daar suig nie, en as ’n getroude vrou in my laat dertigs het ek (tot my skande) nie geweet waarvan hy praat nie. So daar het ek geleer hoe om oor seks te skryf. Die truuks wat Courtesan in die boek beskryf, en haar sekservarings, is net so aan my beskryf deur die sekswerkers. Ek is self ’n baie vervelige vanillavroutjie. Glo dit of nie.

Sekswerk is steeds ’n grys gebied in Suid-Afrika, en mense soos Dominique beland soms in gevaarlike posisies – soos in die boek gebeur. Talle instansies, waaronder die Sex Workers Education and Advocacy Taskforce (SWEAT), beywer hulle vir die wettiging van sekswerk juis om die mans en vroue in die beroep te beskerm. Hoop jy dat jou boek mense dalk anders sal laat kyk na die wêreld se oudste professie?

Sekswerk moet gewettig word. Dit moet gehanteer word as ’n beroep. Maar ek dink steeds nie dis gesond nie. Ek sou eerder wou sien dat mans geleer word dat seks nie hul geboortereg is nie. Dat vroue gelyke geleenthede en betaling kry in die werkplek sonder om te moet terugval op sekswerk. En dat vroue nie geleer word om te onderhandel met seks nie ... of dit nou is om geld, ’n gratis ete of ’n huwelik te bewerkstellig.

Ou Martin. Ai, tog. Is daar hoop vir hom?

Natuurlik is daar hoop vir hom! Ek is juis nou besig met die opvolg, en dalk gebeur daar iets wonderliks met hom, dalk nie. Hy is ten minste nie seksisties nie en kan weer oopkop raak, so ek dink hy kan dalk die liefde van sy lewe vind of dan ten minste net ’n goeie sekslewe. Hy is nie ’n slegte ou  nie.

Uiteindelik gaan die boek oor selfaanvaarding … is ek reg?

Lees die boek weer. Ek dink nie iemand aanvaar hulself regtig nie. Sy wil nie regtig ’n sekswerker wees nie; Martin wil nie regtig alleen en sonder seks en liefde wees nie; die kliënte wil beslis nie sonder seks wees nie. En die kliënte sou verkies het om met hul eie vroue seks te hê, glo dit of nie.

So niemand aanvaar hulself juis nie, maar hul aanvaar hul situasie en maak die beste daarvan. Soos ons almal maar.

Lees ook:

Dominique deur Erla-Mari Diedericks: ’n resensie

Dominique deur Erla-Mari Diedericks: ’n lesersindruk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top