Dominique deur Erla-Mari Diedericks: ’n lesersindruk

  • 2

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.

Dominique
Erla-Mari Diedericks
Wênkbrou (Penguin)
ISBN: 9780639607078

Wanneer ’n bra se streppie losglip en grondwaarts val, stort menige man se sedelike en/of morele waardes ook na benede. Dit het my ’n rukkie geneem om tot die besluit te kom om Erla-Mari Diedericks se Dominique aan te koop, want ek was inherent versigtig, gegewe my middeljarige plattelandse status, om nie die indruk te wek dat die witwarm tonele in die boek (soos ek gehoor het) die enigste rede sou wees om die boek te lees nie. Die voorblad waarsku mos reeds: "Nie vir sensitiewe lesers nie" – en dis nie om jou af te skrik van gru-moordtonele nie.

Ek ontvang toe vir Dominique, maar was nie heeltemal voorbereid op courtisane nie. Die roekelose skaduwee. Die kontras tussen lig en donker. Die boek strek veel verder as streppies en fyn goetertjies – dit ontwikkel in ’n sielkundige riller wat ek nog selde in Afrikaans teëgekom het. 

Diedericks ontbloot die skadukant van die wêreld van die sekswerker. Die vrou wat gewillig, of geforseerd, in hierdie bedryf staan. Of dan lê, onderwerp aan die "kliënt" se soms bisarre wellustigheid. En in hierdie bedryf is daar mans wat gevoelloos gebruik maak van geleenthede en ongeskonde wegstap. Dis die vrou wat met die etiket agterbly. Hoeveel mans op eindelose kursusse en seminare ontwikkel nie weg van die huis die dapperheid om ’n klub van ongure reputasie, ’n ontkleedansklub, by te woon nie? Maar terwyl mans agterna rondom ’n kroegtoonbank met ’n glas bier hul ondervindinge bespreek, is daar ander mans wat obsessies ontwikkel. Dan raak pret en plesier ’n dodelike kat-en-bang-muis-speletjie.

Ek het Dominique inderdaad "tintelend" gevind – soos Kerneels Breytenbach in ’n onderhoud gesê het – maar ook dieper en donkerder ontdekkings gemaak. Dis ’n fyn uitgewerkte, deeglik nagevorste sielkundige riller wat my aandag van bladsy 1 tot die slim "ontknoping" op bladsy 257 behou het. En helaas was dit gepas dat ek die boek klaargelees gekry het skuins na middernag een weeksaand, by ’n leeslamp in ’n donker huis ... want dis die regte tyd vir die boek. Dominique, en dan courtisane, is die geheimenisse van die nag. Jy durf hulle nie helder oordag onder ’n wilgerboom langs ’n rivierstroompie aan nie.

Dit was my eerste Erla-Mari-boek, en aangesien my voorliefde misdaadfiksie is, sal ek nog bitter graag verder wil lees van hierdie begaafde skrywer.

Bly te kenne, Erla-Mari. Jy het ’n paar grense hiermee verskuif. 

 

Jo Els

  • 2

Kommentaar

  • erla diedericks

    Jy wil my ook nie na middernag aandurf nie, my liewe Jo! Maar ek is heel veilig met 'n glasie wyn in die helder daglig. Hierdie is 'n WOW-resensie. Dit het skoon my streppie van my skouer laat afglip xx

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top