Dominique deur Erla-Mari Diedericks: ’n resensie

  • 2

Agtergrondfoto: Gerd Altmann | Pixabay

...
Dis ’n uitnodiging om te kyk. En dus begin die erotiese riller Dominique met ’n kunsuitstalling met die besliste uitnodiging om te kyk.
...

Titel: Dominique
Skrywer: Erla-Mari Diedericks
ISBN: 9780639607078
Uitgewer: Wenkbrou

Wanneer Dominique du Randt, skilder en sekswerker, by die sielkundige Martin du Plessis aanklop, het sy ’n ongewone versoek. Sy word bekruip, sê sy, en het Martin se hulp nodig om die boosdoener se identiteit vas te stel.

Maar die aksie begin al vroeër, in ’n kunsgalery.

Die skilderkuns is sedert antieke tye met voyeurisme vervleg, en alhoewel nie alle kuns voyeurisme uitlok nie, het alle kunssoorte dít gemeen: Dis ’n uitnodiging om te kyk. En dus begin die erotiese riller Dominique met ’n kunsuitstalling met die besliste uitnodiging om te kyk. Skilderye bedek met naakte kurwes, kruis en dwars oortrek met die knope en toue van erotiese Japannese bondage.

Die sjibaribondagebeeld van die openingstoneel is gepas vir hierdie roman met sy kinkels en kabels, maar meer as dit, met verstrengeldheid en kompleksiteit. Ja, die roman lees seepglad, maar die ontknoping is nie sommer so eenvoudig nie – die leser bly raai, bly dink, bly honger vir nog. Dominique is self so kompleks soos sjibari, en soos wat dié kunsvorm knoop op knoop gebruik word om die genot te verhoog, is Dominique en haar verhaal meer ingewikkeld as wat ’n mens met die eerste oogopslag mag dink. Die teks se sentrale paradoks lê in die gebondenheid én vryheid wat Dominique ook as sekswerker ervaar.

Wat vryheid betref, sien ons hoe Dominique haar beroep gebruik om ’n nuwe identiteit vir haarself te skep. As kind, en in haar huwelik, is sy gebreek, en nou neem sy beheer van haar lewe en haar lyf. Dis die eerste knoop – aan die een kant die idee dat iemand gebroke moet wees voordat sy (of hy) sekswerk oorweeg, maar aan die ander kant vertel Dominique hoe sy die werk geniet. Dit maak van haar ’n interessante en menslike karakter, wat die leser laat raai oor haar ware gevoelens en motivering.

Oor die genot sê Dominique dat om ’n courtesan te wees, vryheid meebring (57.) “Ek hou van die geskiedenis daaragter. Jy weet, daardie tyd, in die sewentiende eeu was die beroep van courtesan die enigste manier hoe ’n vrou dieselfde vryheid as ’n man kon geniet het” (57). Sy gaan voort: “Baie van die courtesans het daardie tyd ook dagboek gehou en een ding is baie duidelik – dié vroue was mal oor seks. Moenie vir een oomblik dink ek hou nie van seks nie. But it’s on my terms.”

Net soos Dominique se sielkundige, Martin, wonder die leser oor die “on my terms”. Dié vraagstuk verhoog die spanning baie doeltreffend. Martin, ’n kenner op die gebied van bekruipers, en die leser, wat darem ook gereeld koerant lees, weet dat sekswerk lewensgevaarlik kan wees. Dominique se vasberadenheid dat sy die … nou ja ... hef in die hand het, maak haar kwesbaar. Die vraag of seks teen betaling, selfs in 2021, überhaupt “on my terms” kan wees, is ’n geldige een. Veral terwyl sekswerk teen die wet is en geweldplegers dus nog makliker kan vryspring, is sekswerk “on my terms” waarskynlik ’n luukse waaroor ’n minderheid oor beskik.

Nogtans, die gegewe van sekswerker wat die werk geniet, herinner aan Belle de Jour se The Intimate Adventures of a London Call Girl (Orion Publishing Group, 2005). Dié boek is gegrond op werklike gebeure, en die skrywer was inderdaad van 2003 tot 2004 ’n hoëklasgesellin in Londen. (Belle is intussen ontmasker as dr Brooke Magnanti, ’n navorser en aktivis met ’n doktorsgraad in forensiese patologie, maar haar verhaal bly feitelik.) Belle begin haar vertelling heel blasé:

The first thing you should know is that I am a whore. Prostitution is steady work. I open my legs. And then I close them. It beats working in an office. After leaving university, I applied for a number of jobs that I never got and watched my savings steadily dwindle. So when a friend gave me the phone number of a madam, I decided to become a call girl. Like you do.

In haar woorde aan Martin blyk Dominique ook redelik blasé te wees oor haar loopbaan, maar haar beskrywings elders weerspreek haar nonchalante uitinge. Oor haar eerste kliënt vertel sy byvoorbeeld: “Alles gebeur te vinnig, te veel, te …”; die man is “slu, suigend, slurpend”; en dan die woord “forseer”, wat die idee van gemak of genot weerspreek (54). Ons sien dus dat Dominique se inlywing in die beroep nie so maklik is soos Belle s’n nie; inteendeel, hierdie eerste kliënt praat vooraf met smaak oor vernedering, en tydens die voorval dink Dominique: “Haal asem, haal asem, haal asem. Om godsnaam, hou net aan met asemhaal” (54). En dan ná die tyd: “Naarheid skok in haar maag” en “vernedering slaan haar vol in die maag. Dit ruk aan haar stukkend gesuigde borste en ontplof in haar mond” (55).

Ná hierdie episode neem Dominique beheer van haar situasie. Mettertyd ontwikkel sy haar sekswerkpersona Courtesan, die alter ego vir die Dominique wat as kind verneder is en deur haar aanneemma as hoer uitgekryt is: “Jy is ’n hoer nes jou ma” (61). Nou is Dominique (onder andere) dominatrise. Die gebruik van die woord “hoer” herinner weer eens aan Belle de Jour wat die woord “heropeis” met haar “The first thing you should know is that I am a whore.” En só besluit Dominique self om “hoer” te word, maar “on my terms”.

Oor Dominique as voyeurisme kan ’n mens heelwat sê. Daar is kunstenaar-Dominique wat bondagetonele skilder waarvoor sy model speel; ’n galery vol “kykers”; Dominique se bekruiper; Martin, wat haar flamenko-passies in die vierkant van die mediese gebou waarneem; en boonop die leser. ’n Mens sou kon vra: “Wie kyk nou eintlik vir wie?” Die effek is soos ’n kamer vol spieëls.

’n Uitbeelding tel as voyeuristies, sê Elisabeth Schellekens, professor in filosofie aan die Universiteit van Uppsala in Swede, as die kyker ’n spesifieke soort plesier of genot daaruit put:

That delight must at least partly be grounded in the fact that we are witnessing something that, in some sense, we shouldn’t be witnessing. In other words, the particular frisson that voyeuristic works give us relies fundamentally on breaking a moral taboo or crossing the line of what is traditionally regarded as morally acceptable. … What in the end distinguishes voyeurism in art from voyeurism in non-artistic contexts is that in art we are invited to simultaneously occupy the point of view of the voyeur and observe ourselves qua spectator from an external point of view so as to reflect on our morally problematic indulgences. Ordinary voyeuristic records, much like ordinary pornographic pictures and films, do not tend to invite the viewer to reflect on their broader context, or on their underlying meaning but rather offer something more instrumental and one-dimensional.

Volgens Schellekens se definisie is hierdie teks dus voyeuristies, maar binne die artistieke konteks, want Dominique nooi die leser juis om hom- of haarself in die spieël te ondersoek, en na te dink oor “our morally problematic indulgences”. Ek wil dit duidelik stel dat ek nie hier ’n stelling maak oor die morele implikasies, al dan nie, van sekswerk nie. Waaroor dit wel vir my gaan, is die kliënt se optrede teenoor die sekswerker, want dít is waar die indulgence moreel problematies kan raak. Wanneer Dominique byvoorbeeld sê dat sy geensins “golden showers” gee of ontvang nie (226), en die kliënt hierdie grens oorskry, is die kliënt se dwang moreel problematies.

...
Hierdie teks is juis nie pornografie nie, want die leser word uitgenooi om oor Dominique se motivering, selfbeskikking (“agency”) en selfverwesenliking te besin, asook oor wat haar kliënte dryf.
...

Terug na Schellekens: “Ordinary voyeuristic records, much like ordinary pornographic pictures and films, do not tend to invite the viewer to reflect on their … underlying meaning but rather offer something more … one-dimensional.” In die ontleding van ’n teks soos Dominique is hierdie punt veral belangrik, omdat lesers maklik uitbeeldings van lyflike plesier afmaak as pornografie. Hierdie teks is juis nie pornografie nie, want die leser word uitgenooi om oor Dominique se motivering, selfbeskikking (“agency”) en selfverwesenliking te besin, asook oor wat haar kliënte dryf. Inderdaad, Diedericks skryf eksplisiet sonder om kru of geyk te wees – en dít sit nie sommer in enige skrywer se broek nie. Ek wil my verder verstout om te sê sy kry dit reg om taal te gebruik wat nog nie holrug gery is deur ander in die genre nie.

Die roman het ’n goeie spanningslyn, veral te danke aan die rillerelement. Die raaisel rondom die bekruiper, die atmosfeer van gevaar rondom beide bekruiper en sekere kliënte, verskaf spanning wat die erotiek alleen nie sou bied nie. Die einde is verrassend, maar soos met ’n goeie riller of horror die geval is, bly daar ’n mate van prikkelende onsekerheid agter: die hoendervleisgevoel waar die leser wonder tot hoe ’n mate die verteller betroubaar/onbetroubaar is, en tot hoe ’n mate ons met iets meer onheilspellend te doen het. Die feit dat die slot nie in kruike en kanne aangebied word nie, is ’n plus.

Die boek lees maklik, en Diedericks skryf met flair. Enkele beelde wat uitstaan, is: “Die lug is donker gevlek met die skemerte se smerige vingers” (18) en die beskrywing van glase in ’n dekorwinkel: “Koeldrankglase. Whiskeyglase. Glase met tuitlippe. Oopmondglase, langbeenglase. Kristal en lood. Lood en kristal. Glase wat wag om gevul te word” (191) – die subtiele vergelyking tussen vrou en glas is aangrypend. Nog ’n beeld (ook klankbeeld) wat opval, is die beskrywing van Dominique se aanneemma se suurstofmasjien nadat ons hoor hoe sy Dominique van kindsbeen af afkraak daarvoor dat sy ’n “hoer” is soos haar biologiese ma: “Soms verbeel sy dat die masjien vir haar fluister: Sjeeeh … sjaaaaa … Jy’s ’n hoer, nes jou ma” (70). Dit is ’n beeld vol patos, maar die rymelement dui op ’n donker humorsin. Verdere humor, heelwat ligter, is op bl 101 te sien, waar Dominique met vroue in haar oefengroep gesels en seks bespreek word: “Blow jobs is vir negotiations. … Vra vir Cathy. Sy het haar hele huis so laat renovate.”

Wat karakterisering betref, het die skrywer moeite gedoen om beide mans en vroue volledig uit te beeld. As kunstenaar fokus Dominique op die vrou, met net enkele mans wat in fokus kom. Oor ’n skildery by haar uitstalling: “In kontras met die detail waarmee die vrou uitgebeeld is, is die mans se gesigte gedeeltelik geverf” (8). Dis net die man wat as “roofdief” beskryf word wat in detail geskilder is. Dit laat ’n mens wonder hoe mans oor die algemeen geskets gaan word in die roman, maar anders as in Dominique se kunswerk, sien ons ook die binnewêreld van ’n aantal mans, spesifiek dié van haar sielkundige, Martin, wat sit met enorme geestelike letsels rondom seks. Hierdie uitbeelding sorg vir nuanse in die werk. Ja, ons sien die roofdier(e), die uitbuiters, die mans wat (in die woorde van Charlie Sheen) vroue nie soseer betaal vir seks nie as om ná die tyd spore te maak. Danksy Martin, en ook Dominique se kliënt Danie, sien ons hoe mans ook seergemaak word, verneder word, deur mans sowel as vroue. ’n Enkele aspek van karakterisering waaroor ek wonder, is die oudpolisieman Phillip – ook ’n kliënt – se gewoonte om “Oh my word” te sê. Phillip is ’n interessante, goedgevormde karakter, maar dié sêding pas nie lekker in sy mond nie.

Hierdie boek is een wat ek glo enige aanhanger van rillers of erotiek sal geniet. Die skrywer is ’n ervare verteller, die teks is knap geredigeer, en met dié publikasie bied Wenkbrou, ’n druknaam van Penguin, die Afrikaanse leser iets heeltemal nuuts.

Bronne:

Belle De Jour. 2005. The Intimate Adventures of a London Call Girl. 2005. Orion Publishing Group.

Elisabeth Schellekens, 2012. “On voyeurism in art.” In. Hans Maes & Jerrold Levinson(Reds). Art and pornography: Philosophical Essays. Oxford University Press.

  • 2

Kommentaar

  • erla diedericks

    Baie dankie vir hierdie wonderlike en goed deurdagte resensie! Ek voel nou wonderlik en slim en ek is so bly jy het die boek geniet, Maya.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top