Can we be safe? deur Ziyanda Stuurman: ’n resensie

  • 3

Foto van gewere: Pixabay

Titel: Can we be safe?
Skrywer: Ziyanda Stuurman
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624091844

.........

Misdaad is Suid-Afrika se grootste probleem en daarom trek boeke met ’n misdaadtema en Suid-Afrikaners se veiligheid dadelik aandag. Dit is immers ook een van die grootste redes waarom soveel Suid-Afrikaners emigreer.

..........

Misdaad is Suid-Afrika se grootste probleem en daarom trek boeke met ’n misdaadtema en Suid-Afrikaners se veiligheid dadelik aandag. Dit is immers ook een van die grootste redes waarom soveel Suid-Afrikaners emigreer.

Ons leef, soos die skrywer sê, in ’n land van “gevaarlike vreemdelinge”.

Op die agterplat van hierdie boek lees ons dat ons ’n visie vir die land ná apartheid gehad het wat op die visie van die Vryheidsmanifes van 1995 gebaseer was. Dit lui voorts dat “misdaad” en “veiligheid” gelaaide terme is. Daarom pak Stuurman die verwikkelde en gelaaide geskiedenis van misdaad, misdadigers en tronke in Suid-Afrika aan. Sy bepleit ’n radikale opknapping van ons strafregstelsel om te verseker dat ons burgers veilig voel en beveilig word.

Die voorblad is treffend en die lofbetuigings oor die boek, wat duidelik ’n reusetaak was en noukeurig nagevors is, nog meer so.

Die feit dat die skuld vir ons benarde veiligheidsituasie voor die deur van kolonialisme en apartheid gelê moet word, word herhaaldelik benadruk. Sy is van mening dat min sedert apartheid verander het.

Dit is natuurlik grotendeels waar, maar hoekom word daar nie meer melding gemaak van die baie suksesvolle buurtwagte of meer geskryf oor die gemeenskapspolisieforums wat hande met die polisie neem nie? In my dorp het die polisie, GPF (terloops, GPF’s is deur die ANC gestig) en buurtwagte ’n uitstekende verhouding oor alle kleurgrense en is die misdaadsyfer danksy vrywilligers laag. in my boek Bloed op haar hande skryf ek dat ’n gevonniste moordenares wat haar slagoffer 36 keer met ’n mes gesteek het, ná haar vrylating by haar buurtwag op die Kaapse Vlakte aangesluit het. Sy het haar lewe omgekeer. Enigeen kan by buurtwagte aansluit en behoort dit te doen, of hulle ten minste ondersteun.

Stuurman het in onder meer Gugulethu grootgeword. Sy kan dus met gesag oor townships praat. Sy sê sy is van kleins af geleer om waaksaam te wees omdat haar ouers lang ure moes werk en nie altyd tuis was nie. Vir haar beteken veiligheid vryheid. So vertel sy dat toe sy haar eerste motor gekry het, haar pa aangebied het om self ’n paar weke saam met haar daarin in Gugulethu rond te ry sodat sy nie gepla word nie.

Sy kla dat die polisie skaars sigbaar of teenwoordig in Gugulethu is; mens moet maar self na jou eie veiligheid omsien. Sy beweer ook dat die staat se militêre reaksie op bendes en geweldsmisdaad versuim om die historiese oorsake aan te spreek.

Polisie

Stuurman meen dis onmoontlik om die polisie te hervorm. In Suid-Afrika, soos in talle ander kolonies, was die polisie se rol uiters gewelddadig en rassisties van aard, skryf sy. (Dit ondanks die feit dat die polisiediens vandag oorwegend uit swart lede bestaan.)

In Suid-Afrika kry jy bloot ’n saaknommer vir versekeringsdoeleindes by die polisie, maar mens verwag nie juis dat jou saak opgelos sal word nie, sê sy.

Sy meen die ongelykhede in hulpbronne en mannekrag wat ons van apartheid geërf het, is steeds dwarsoor die land die geval.

Daarom is straatkomitees in die sewentigerjare in Gugulethu in Kaapstad gestig. Hierdie komitees het soos howe opgetree vir ’n aantal strate en bestaan nog in hoofsaaklik swart townships. Die feit dat hulle vandag nog bestaan, is bewys daarvan dat die hervormingsproses misluk het, sê sy.

........

Sy glo dat arm mense, in besonder swart en bruin mense, gekriminaliseer word en slagoffers van onmenslike polisiegebruike is.

..........

Sy glo dat arm mense, in besonder swart en bruin mense, gekriminaliseer word en slagoffers van onmenslike polisiegebruike is. As mens egter jou koerant daagliks lees, sal jy besef dat alle rasse soms onder polisiegeweld deurloop en ook dat mense van alle rasse soms die polisie loof vir goeie werk. Op my dorp is daar twee swart speurders wat gereeld die koerant haal omdat hulle nie rus voor hulle die booswigte aangekeer het nie. Hulle het al amper heldestatus bereik.

Stuurman voer aan dat toe die polisie aan almal beskikbaar gestel is, die middelklas skielik minder beskerm gevoel het. Daar is egter geen bewyse, sê sy, dat misdaad sedertdien toegeneem het nie. I beg to differ. Statistieke, veral wat geweldsmisdaad betref, het gestyg.

Dertig jaar gelede het ons ook nie in tronke gewoon wat aan Fort Knox herinner nie. Romano van der Spuy, al 25 jaar lank voorsitter van die plaaslike GPF in Hartbeespoortdam, sê die meeste klagtes wat by die dorp se polisiestasie aanhangig gemaak word, is deur swart mense. Ook vertel ’n vriend, Stanley Cierenberg, dat sy huiswerker sowel as sy tuinman hom voortdurend vertel hoe die polisie op en af in hul township in Kemptonpark ry. Besonder bedrywig en hoogs sigbaar.

Ek het egter Stuurman se bewerings met Stanley Jacobs, ’n gemeenskapsleier in Ocean View en kenner van bendes, bespreek. Hy sê daar is inderdaad bendegeteisterde plekke op die Kaapse Vlakte waar die polisie afwesig is, soos Bonteheuwel. Daar is ook plekke waar die polisiestasies ver van die gemeenskappe af is.

“Ocean View is meer na Kommetjie se kant toe en daar is ’n stasie, maar dis nie baie doeltreffend nie. Daar is wel polisieteenwoordigheid waar jy inkom. Maar ek het opgemerk dat as iets in die noordelike voorstede van Kaapstad gebeur, die polisie vinniger opdaag.

“Toe ek egter die polisie net na eenuur die middag gebel het nadat my motor gesteel is, het hulle eers vieruur die oggend opgedaag. En hulle is nie eers ’n kilometer van my huis af nie.

“In ons gebied is die diens swak. Dan kry jy Grassy Park wat sy eie gebied sowel as Lotusrivier, Ottery, Parkwood en alles tussenin bedien. Dit terwyl Lotusrivier so groot is dat dit ’n polisiestasie op sy eie benodig.

“Hulle het so om en by 1994 gesê hulle gaan ’n polisiestasie by Ottery bou. Dit is so buite beheer daar dat die gemeenskap nou self oorneem het omdat die polisie nie sigbaar is nie. As iemand doodgaan, kom hulle gewoonlik ure later. Die diens is net nie dieselfde nie. Boonop is van die cops korrup.”

Onderpolisiëring

Oor onderpolisiëring skryf  Stuurman dat 200 moorde in 2015/2016 in Khayelitsha voorgekom het teenoor slegs 10 in Kampsbaai in nege jaar tussen 2006 en 2015. Die syfers is skokkend, maar dalk moet mens Kampsbaai se bevolking met dié van Khayelitsha vergelyk. Natuurlik kan die mense van Kampsbaai die beste sekuriteit bekostig wat min van ons middelklasmense beskore is. Net die rykstes van die rykes woon daar.

.......

So het Tafelbaai-hawe 2 636 polisielede per 100 000 inwoners terwyl Harare in Khayelitsha 111 polisielede per 100 000 inwoners het. Ek stem saam dat dit onaanvaarbaar is.

..........

Sy sê polisiëring word oneweredig versprei. So het Tafelbaai-hawe 2 636 polisielede per 100 000 inwoners terwyl Harare in Khayelitsha 111 polisielede per 100 000 inwoners het. Ek stem saam dat dit onaanvaarbaar is.

Dit is beslis waar dat inwoners van lae-inkomste-gebiede meer dikwels vermoor word as diegene wat tot die middelklas en hoë middelklas behoort. Niemand is hul lewe seker op die Kaapse Vlakte nie. Jy kan nie eers jou onskuldige kind na die kafee op die hoek stuur nie, want dikwels beland hul in die kruisvuur van bendes.

Dié hartseer situasie word hoofsaaklik toegeskryf aan bendes en dwelms. Dit is oor en oor aan my bevestig toe ek navorsing vir my boek Gangster gedoen het. Armoede speel ook ’n rol, en natuurlik die gedwonge verskuiwings vanaf plekke soos Distrik 6 in die vyftiger- en sestigerjare. Ja, hier het apartheid en kolonialisme beslis ’n rol gespeel.

Soos sy skryf, is dit te wyte aan die sosiale orde en ekonomiese omstandighede en ongelykheid. Dit is presies wat gewese bendelede my ook vertel het. Daar was egter ook gevalle waar geldgierigheid ’n rol gespeel het. Een gewese bendelid wat ’n pastoor geword het, het my vertel dat sy dwelmverskaffer ’n skatryk vrou was wat tien motors besit het. Wie op aarde het tien motors nodig? Hy is later met haar getroud; beide het hervorm en hulle is vandag ’n gerespekteerde pastoorspaar.

Weermag

Ek het verskeie townships in Kaapstad vir navorsing vir Gangster ten tye van die weermag se teenwoordigheid daar besoek. Mense het my egter vertel dat hulle dit verwelkom het. Ons is ook uiters hoflik deur hulle behandel.

Maar Stuurman is van mening dat militêre ingryping beslis nie ’n strategie is om misdaad te beveg of op te los nie. Sy haal Roegshanda Pascoe van die Manenburg-gemeenskapsveiligheidforum aan as sy skryf: “The first one (Fiela 1) in 2015 backfired as the moment they left we had a big gang fight in Manenburg.”

Sy sê die militêre ontplooiing van 2019 op die Kaapse Vlakte het wel ’n onmiddellike uitwerking op die misdaadsyfer gehad, maar dit was nie ’n permanente oplossing nie, omdat sommige inwoners voel dat hulle in ’n oorlogsone leef. Boonop het die weermag “’n aaklige en gewelddadige geskiedenis” in Suid-Afrika.

(Tog is die jongmense en diegene wat vir bendes gewerf word ná onafhanklikheid gebore.)

Hoe dan nou? Moet die weermag dalk permanent ontplooi word? Met die onlangse onluste en plundery wat plaasgevind het nadat die boek geskryf is, het die teenwoordigheid van die weermag sowel as die taxi’s beslis ’n beduidende uitwerking gehad. As dit nie daarvoor was nie, sou die land in totale anargie verval het.

Maar in die onlangse verlede het die weermag gekom en die weermag het gegaan en daar was geen verandering nie, skryf sy. Sy voeg by dat daardie R64 miljoen wat gedurende Julie 2019 en Maart 2020 vir programme bestee is, gebruik kon gewees het om die kinders van die strate te hou. Ja, dit is nogal iets om oor na te dink. Daar is helaas min ontspanningsgeriewe en opbouende programme vir kinders op die Vlakte en in townships.

Howe

Stuurman beweer ook dat die howe se uitkomste die gevolg van kolonialisme en apartheid is.

Daar is ’n hele hoofstuk getiteld “For whom do the courts work?”

Sy skryf dat die howe in die verlede in die lig van kolonialistiese kapitaliste nooit neutraal was nie. Antiapartheidsaktiviste is gereeld tot tronkstraf en harde arbeid gevonnis en selfs gehang.

Volgens Stuurman het nie veel verander nie. Sy beweer dat die “mees ongelyke samelewing ter wêreld se oordeel gekleur word”.

As jy geld het, kan jy goeie regsverteenwoordiging bekostig en jy kom los, dui sy aan. Die regstelsel is steeds volgens haar in kolonialisme, ’n buitelandse regstelsel en natuurlik “die verdraaide geregtigheid onder apartheid gewortel”.

Tog lees ons van skatryk (wit) mans wat hul vroue vermoor het, en ondanks goeie regsverteenwoordiging nogtans agter tralies beland het.

Tronke

Ook die tronke loop deur. Sy beskryf dit as plekke wat in “permanente tuistes omskep word vir diegene wat sosiaal uitgesluit word en wat ’n disproporsionele aantal swart en bruin mense huisves wat hoofsaaklik kleiner oortredings begaan het”.

Dit is waar dat die tronk vol arm mense is. Maar dit wemel ook van gevaarlike mense en psigopate. Besoek net die privaat gevangenisse in Bloemfontein en Makhado, waar party gevangenes tot 1 000 jaar of meer gevonnis word. (Ek was daar.)  Hoësekuriteitgevangenisse wat met al die moderne geriewe aan kampusse herinner. Ons praat hier van gevangenes soos reeksmoordenaars, verkragters en plaasmoordenaars wat ongekende wreedhede gepleeg het. (Geen melding word in die boek van plaasmoorde gemaak nie, hoewel om te boer die gevaarlikste beroep in Suid-Afrika is en boere van alle rasse al vermoor is.)

Ek stem saam dat mense soms onnodig vir geringe misdade in die selle gegooi word. Mens se hart gaan uit na die brandarm ma wat kos vir haar kind in Spar steel of babadoeke in Pep. Maar ek weet ook van lede van die GPF wat vir die einste vroue wat met hul babas toegesluit word, babakos en doeke bring.

Baie gevangenes is egter in selle en gevangenisse omdat hulle daar hoort.

Die tronke is beslis oorbevolk en ’n broeiplek vir siektes, soos sy skryf. ’n Vrou wat weens moord op haar man in ’n tronk in Gauteng sit, het my vertel dat meer as 500 van haar medegevangenes COVID-19 het.

Gevangenisse is uiters gevaarlik. In die gevangenisse vir mans regeer die nommers en as jy nie by ’n nommer aansluit nie, is jy ’n “Frans” wat die vuil werk doen. Tronke is inderdaad ’n nagmerrie.

Maar my ervaring nadat ek talle tronke en gevangenes besoek het met wie ek onderhoude vir my boeke gevoer het, is ook dat dit van die bestuur afhang. Ek het al tronke besoek met pragtige biblioteke en ’n hoof wat saam met die vroue tradisionele kralewerk doen.

Sosiale media

Stuurman gee ’n dwarsklap na sosiale media en fopnuus wat paniek saai en onwaarhede versprei, soos die valse WhatsApp-boodskap deur ’n Afrikaanse vrou oor kinders wat kamma ontvoer word uit winkelsentrums in Brits, Nelspruit, Bloemfontein en Johannesburg. Hier het sy ’n goeie punt beet. Ons het oorgenoeg misdaad; daar hoef nie verdere grudade uitgedink te word nie.

Sekuriteitsdienste

Stuurman beskryf die sekuriteitsdienste wat deel van ’n miljardrandbedryf uitmaak, as winsgewend. Daar is meer privaat sekerheidswagte in Suid-Afrika as wat daar lede van die polisiediens is.

Sy laat egter na om te sê dat die sekerheidsbedryf ook ’n groot werkgewer vir almal is.

Bendes

Stuurman is ook reg as sy praat van polisiekorrupsie ten opsigte van bendes. Ek het met ’n gewese bendelid gepraat wat my openlik vertel het dat hy terwyl hy ’n knap en gerespekteerde polisieman was, ook ’n bendelid was.

Betreffende die hoofstuk oor bendes is ek dit met haar eens dat swak finansies en rolmodelle tot die vorming en bestaan van bendes bydra. Dit is ’n manier om armoede af te skud. Mens kan ook nie wegkyk van die feit dat bendes in ’n mate deur die gemeenskap gerespekteer word nie. Hulle is mos die mense met die bling en die vertonerige begrafnisse.

Dwelms

Stuurman bepleit die dekriminalisering van persoonlike dwelmgebruik. Dit sal myns insiens ’n groot fout wees. Mense behoort nie tronk toe gestuur te word as hulle net in besit van dwelms is nie, argumenteer sy.

Ongelukkig begin dit altyd by persoonlike gebruik, dan volg verslawing en handel. Elke enkele bendelid en geweldsmisdadiger met wie ek gesels het, het dwelms gebruik of daarmee handel gedryf. Bendes begin en eindig met dwelms. Dwelms stel jou ook in staat om die wreedste moorde denkbaar te pleeg. Dis vernietigend.

.......

Op die Kaapse Vlakte is dit doodmaklik om dwelms in die hande te kry. En as jy eers verslaaf is, is jy in die palm van gewetenlose dwelmhandelaars se hand.

.........

Op die Kaapse Vlakte is dit doodmaklik om dwelms in die hande te kry. En as jy eers verslaaf is, is jy in die palm van gewetenlose dwelmhandelaars se hand.

Sekswerkers

Stuurman het baie empatie met sekswerkers, wat volgens haar oorgekriminaliseer word. Dis veral die aanname dat hulle nie verkrag kan word nie omdat hulle hulself op ander gebiede seksueel beskikbaar stel waaroor sy omgekrap is.

“Abolition”

Sy bepleit gevangenisstraf as ’n heel laaste uitweg vir die heel ernstigste misdade, maar selfs dan moet tronke gebou word as “plekke van hervorming vir die oortreder en nie as straf nie”.

Sy is ’n aanhanger van die “abolitionist”-teorie en verwys na ’n artikel deur Paul T Clarke waarin hy vra of ons regtig polisie en gevangenisse nodig het. Die geld wat vir rubberkoeëls gebruik word, kan eerder vir gesondheidsorg, opvoeding, en maatskaplike toelaes gebruik word.

Nou kan mens vra waar die geld daarvoor vandaan moet kom in die lig van die grootskaalse onlangse plundery met verliese van miljarde rande wat tot veel meer lewensverlies en skade sou gelei het as daar nie ingegryp is nie. Ook tot nog meer werkloosheid en nog meer hongersnood.

Ek is dit met haar eens dat te veel mense verhoorafwagtend in tronke is omdat hulle nie borg kan bekostig nie. En dan is hulle weens geringe misdade soos winkeldiefstal aangekeer.

Sy verwys in hierdie verband na ’n projek in Rotterdam, Nederland waar mense buite die tronk genooi word om gevangenisse te besoek en om gevangenes te ontmoet. Hierdie gevangenes word toegelaat om buite die tronk te werk om sodoende weer aan te pas in die gemeenskap. Ek weet egter darem nie of ’n dagpas vir ’n reeksmoordenaar of kaper in ons land sal werk nie!

Oplossings

In die hoofstuk getiteld “What are we going to do? What are we going to change?” stel Stuurman voor dat mense hul stemme by die stembusse laat geld, asook meer aktivisme, mobilisasie en steun vir diegene wat reeds hul werk doen.

Heel aan die einde van die boek is ’n bladsy wat kortliks handel oor wat ons benodig om veiliger te wees. Sy vra vir betekenisvolle hervorming, ’n dapper afskaffingtoekoms, om nie politici se gladdebekpraatjies en kitsoplossings te glo nie en om die polisie en gevangenisse se geskiedenis te herevalueer. Ook moet bewegings wat polisiegeweld  beveg, meer steun ontvang. Nogal ’n onbegonne taak.

Hoewel die boek nuttige inligting bevat, was dit vir my moeilik om te lees, omdat dit so akademies soos ’n verhandeling is en met die talle voetnotas aan ’n universiteithandboek herinner. Dat party sinne boonop tot 11 reëls lank kan wees is ook hinderlik. Maar nou ja, Stuurman is ’n akademikus en die boek moet in daardie lig gelees word. Dis nie die soort boek wat jy vir ontspanning lees nie.

Wie sal dit lees? Ek dink nie die aanslag werk vir die breë publiek nie. Dit blyk uit ’n aanlyn gesprek met die skrywer dat die boek nie wyd beskikbaar is nie. (Wel by Exclusive Books.) Dit vertel my dat dit op ’n sekere teikengroep gerig is.

........

Diegene wat meer intellektueel ingestel is, in politieke wetenskap belangstel en studente in hierdie rigting, behoort dit egter leersaam te vind.

.........

Diegene wat meer intellektueel ingestel is, in politieke wetenskap belangstel en studente in hierdie rigting, behoort dit egter leersaam te vind.

  • Carla van der Spuy is die skrywer van sewe waremisdaadboeke.

Lees ook:

Gangsters deur Carla van der Spuy: ’n resensie

 

 

 

 

 

  • 3

Kommentaar

  • Dit lees asof die resensent nie die onderwerp begryp nie, of emosioneel ontsteld daaroor was. Nie baie nuttig vir 'n leser nie. Baie staaltjies en vermoede. Teleurstellend.

  • Jacques Pratt

    Ek beskou die resensent as 'n kenner op haar gebied. Sy skryf al tien jaar ware misdaad. Vir my is die resensie gebalanseerd en objektief.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top