Gangsters deur Carla van der Spuy: ’n resensie

  • 4

Gangsters
Carla van der Spuy
NB-Uitgewers
ISBN: 9780624090137

Bendebedrywighede en geweld is nie net die verantwoordelikheid van spesifieke gemeenskappe of organisasies nie. Dit raak almal.

Stanley Jacobs, ’n IT-kenner wat nou betrokke is by die Cape Flats Museum in Strandfontein, sê gangsters gaan uit na ander gebiede en roof en steel daar. 

Onlangs lees mens weer van twee kinders van die Kaapse Vlakte wat in bendes se kruisvuur beland het. Dis ’n algemene, maar hartseer verskynsel, die onskuldiges wat op die verkeerde tyd op die verkeerde plek is. Veral hul ma’s se lewens verander ingrypend en vir altyd, en die res van die Vlakte-inwoners word met vrees vervul.

Verstaan mens egter waarom jongmense en kinders van so jonk soos 12 gangsters word, is daar tog hoop. Daar is baie sulke voorbeelde in Gangster.

Carla van der Spuy, die skrywer, ondersoek hoekom dinge so verskriklik skeefgeloop het in dié jongmense se lewens. Sy noem juis dat sy ’n stem wil gee aan hulle wie se stories ons normaalweg nie hoor nie. In hul eie (Kaapse) taal.

Lesers loop ook voorbeelde van tronktaal, oftewel Sabela, raak: ’n Frans is ’n niebendelid. ‘n Stimela is ’n nuweling of een wat van ’n ander gevangenis oorgeplaas is. As jy ’n sculpture is, het jy iemand verraai.

Jy mag dié taal egter nie onoordeelkundig gebruik nie.

Deesdae wil baie oudgangsters ’n verskil maak, keer dat ander jongmense by bendes betrokke raak. Van der Spuy voer onderhoude met onder andere gerehabiliteerde gangsters, tronkbewaarders, polisiebeamptes en pastore.

So het pastoor Ricardo Sloster, ’n gewese gangster, as jongman ’n goeie werk losgeslaan. Maar toe raak hy “bietjie windgat”. “Jy dink jy is God’s gift to women. Ek was ’n operator. Ek dink dis waar my lewe skeefgeloop het,” sê hy. Alles het eenvoudig “begin spiral”. Sloster het lank ’n lewe van gewelddadige en aggressiewe misdaad, asook dwelmverslawing, gelei voor hy pastoor geword het.

“Pastor Try Me” herinner weer aan die “Pappie wag vir jou”-advertensie van destyds, skryf Van der Spuy. Sy pa was afwesig en sy ma het hom mishandel. Pastor Try Me het reeds op 12 ’n gangster geword en is op 17 na die Pollsmoor-gevangenis gestuur. Later het hy ander gevangenes geleer hoe om “die nommer te doen”, met ander woorde hoe om ’n “nommer” te wees. Voorbeelde van die nommers sluit in die Twenty-Sixes en die Twenty-Eights, spesifieke bendes in die gevangenis.

Die skrywer voer ’n onderhoud met ’n ma wie se seun vermoor is. Die moordenaar (17) het lank “vry geloop” en sy ma het jare lank gely.

Kurt Olivier is weer ’n oudpolisieman wat ’n gangster geword en toe sy moses teëgekom het.

Gangster wemel van karakters. Die “Lady Gangster” is die eerste vrou wat aan ’n mansbende behoort het. Daarna het sy ’n maatskaplike werker geword. “Dit was my hartsbegeerte om in die tronk te gaan werk, terug te gaan na die juveniles toe,” sê sy.

Jeremy Davis is ’n gewese lid van die gevreesde American-bende. Hy vertel dat hy geroof, ingebreek, dwelms gebruik en “gun geskiet” het. Uit sy (bose) vriendekring is hy die enigste oorlewende. Die ander is doodgeskiet.

Allan Rehbock is ’n “wit” gangster en pa van 11. Hy is erg vermink in gewelddadige bende-oorloë en erken dat hy vele mense die ewigheid in gestuur het. Vandag bedryf hy sy eie liefdadigheidsorganisasie, verleen hulp aan dwelmslawe en gaan haal slagoffers van mensehandel diep uit die onderwêreld uit. Op 11 was hy al ’n gesertifiseerde jeugmisdadiger.

Soos die verhale ontvou, besef mens dis tog moontlik om die kettings wat bendeskap inhou, af te gooi. “As ons by die root van die evil kan uitkom, kan dinge verander. Dis hoekom ons programme het om jongmense te leer daar is ’n beter opportunity vir jou. Gaan studeer. Dit is beskikbaar,” sê Stanley Jacobs. Die gangster moet egter ook wíl hervorm.

Hoekom word iemand ’n gangster? Van der Spuy sê dat daar nooit ’n verskoning vir geweldsmisdaad is nie, wel redes.

Verreweg die meeste jongmense wat gangsters word, kom uit gebroke huise. Armoede en werkloosheid seëvier. Die vaderfiguur wat veronderstel is om ’n rolmodel te wees, is in die meeste gevalle afwesig. Seuns sonder pa’s (Lux Verbi), wat ook pas verskyn het, werp meer lig op dié probleem.

Vaderloosheid raak meer as 60 persent van kinders wat in Suid-Afrika gebore is, lees jy. Dit lei daartoe dat die kind of jongmens iewers wil behoort. Die Lady Gangster sê: “Dissie ding van ek het seergekry en wie gaan kom troos?” Sulke jongmense wil van geweet wees. Hulle wil spesiaal voel en ook ’n lewe van geld en mag lei. Jongmense wat op die ou end gangsters word, word aangetrek deur handelsnaamklere, spoggerige motors en rolle note. Dit beteken geluk en ontsnapping uit armoede.

Of so glo hulle. Min wetende dat (benewens die risiko om self doodgemaak te word) bendelid-wees dikwels lei tot dwelmmisbruik (“om die conscience te ease”), geweld en moord. Pastoor Leon Jacobs is ’n voorbeeld. Hy het sy tweelingbroer met ’n mes doodgesteek.

Die Covid-inperkings het die bendeprobleem vererger, skryf Van der Spuy. Kinders het vir lank nie skoolgegaan nie en dikwels by bendes aangesluit. Dwelmmisbruik is dan basies ’n gegewe. Dis ook kommerwekkend dat seuns dikwels die gangsterskap van hul pa’s voortsit. Jeremy Davis (voorheen van die Americans-bende) stel dit so: As jy teen bendegeweld op die Kaapse Vlakte wil optree, begin by jou eie familie.

Mens lees hoe wapens en alkoholiese drank in die gevangenis gemaak word, hoe dwelms daar beland, oor die bestaan van “wyfies” onder die manne, asook oor presies hoe sommige bendelede tot inkeer gekom het.

Insiggewend is ook die goeie verhouding tussen verskillende rasse in die gevangenisse. Wandisile Nqeketho, medestigter van die 18 Gangster Museum in Mandelapark, Kaapstad, sê trouens: “Eintlik ... kan ons wat buite is by die mense wat binne is omtrent rasseharmonie leer.” Die jong Chad Crowley stel dit so: “Want ... dis jou broer en hy behoort aan jou nommer en jy beskerm hom.”

Danie Bester, ’n oudbewaarder in die Krugersdorp-gevangenis, vertel dat hy berugte misdadigers soos Moses Sithole, ’n reeksmoordenaar en “silent killer” wat “doodgewoon” lyk, ontmoet het. Ook vir Ralph Haynes van die Boeremafia wat sy “dik arms” om Bester geslaan en gesê het: “Sersantjie, net een druk dan breek ek jou nek.”

Hoewel die dwelm- en gangsterprobleme geweldig groot is, is daar wel organisasies en individue wat alles insit om kinders te waarsku dat misdaad nie lonend is nie. Hulle help ook die kinders om hul lewens te hervorm. Kom dit by motiveringspraatjies, kan ’n gewese gangster in ’n oranje tronkpak wel as ’n afskrikmiddel dien.

Gemeenskappe doen harde werk, ja. Maar die inwoners bepleit meer sigbare polisiëring. Daarby moet kinders in die straat speel omdat ontspanningsgeriewe ernstig te kort skiet. Hulle beland maklik midde-in die spervuur van bendegeweld. Dit gebeur met soveel kinders dat die Cape Flats Museum ’n gedenkmuur vir hulle opgerig het, skryf Van der Spuy.

Nqeketho reken dat as almal bang is vir die bendes, niemand die probleem sal aanpak en ’n oplossing sal vind nie. “En dan sal bendebedrywighede eenvoudig genormaliseer word. Die volgende generasie gaan die slagoffers wees,” sê hy.

Dit moes baie moed gekos het van Van der Spuy en Jacques Pratt, haar goeie vriend en stigter van die Hope Hela Foundation, om tydens die skryf van hierdie boek die potensiële gevaar in sekere dele van die Kaapse Vlakte te trotseer. Dit was sekerlik ook ’n groot uitdaging om gewese gangsters op te spoor.

Gangster is ’n nodige en belangrike boek. Die sêding “Kennis is mag” geld beslis hier. Dis die een boek wat jy in 2021 móét lees.

  •  Indien jy hulp wil verleen (of dalk nodig het), of meer wil uitvind oor die mense of organisasies wat in Gangster genoem word, raadpleeg gerus die kontaklys agterin die boek.
Lees ook:

Gangsters: ’n onderhoud met Carla van der Spuy

  • 4

Kommentaar

  • Goeie naand Carla.
    Ek sal graag vir jou 'n e-pos wil stuur, maar weet nie of jy dit self ontvang nie. Ek is tans besig om jo boek oor Mens of Monster te lees. Ek sou graag my opinie aan jou wou gee, aangesien my man ok in die gevangenis was. Ek het baie respek vir wat jy doen. En hoop ek sal tog van jou hoor.
    Baie dankie.
    Andria

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top