
Gangsters
Carla van der Spuy
NB-Uitgewers
ISBN: 9780624090137
Carla van der Spuy praat met Naomi Meyer oor Carla se jongste boek, Gangsters.
Carla, waar begin mens as jy ’n boek oor bendes wil skryf? Wat was die eerste tree wat jy gegee het en hoe het jy verder die omgewing verken – jy, vroualleen?
Naomi, die gedagte aan hierdie boek het eintlik toevallig en spontaan ontstaan. Ek was by eerwaarde Jonathan Clayton van Hope Prison Ministries se kantoor om oor ’n vorige boek te gesels toe hy my toevallig van sy vriend pastoor Ricardo Sloster vertel. Sy woorde aan my was dat ek eendag sy roerende lewensverhaal moet skryf. Hy het ’n sonderlinge verhaal en hy is ook my gunsteling eksgangster. Ja, mens kry dit. Glimlag gerus. Ricardo het in sy vorige lewe aan gangs behoort en het in ’n stadium selfs ’n huis met een van die Staggie-broers gedeel. Hy het ’n vreeslik lang vonnis gekry. Gedurende een huisrooftog het die slagoffer, ’n pastoor, se besigheidskaartjie uit sy beursie geval. Ricardo het dit opgetel en gesien dat sy slagoffer ’n pastoor is. Hy het hom gevra of dit werklik die geval is, waarop hy bevestigend geantwoord het. Toe vra hy hom uit die bloute in die middel van die rooftog om vir hom te bid. Ricardo is tronk toe en die pastoor/slagoffer het vir Clayton gevra om ’n oog oor hom te hou, want hy kon in Ricardo se oë sien dat hy nie ’n regte misdadiger is nie. Die ander ou was wel.
Ricardo het nooit ’n nommer in die tronk geword nie, hoewel hulle hom daartoe wou oorreed. Na sy vrylating het hy sy getuienis by sy slagoffer se kerk gaan gee. Hulle het groot vriende geword tot die dag van sy dood. Die pastoor het Ricardo lankal vergewe. Ek het begin wonder oor die ander gangsters se stories – hulle verlede, die armoede, hoe hulle die pad geloop het. Die een storie het na die volgende gelei. Ek het die Gangster Museum en Camp Joy, waar gangsters en dwelmslawe gerehabiliteer word, gegoogle en so met meer gewese gangsters gesels. Al die gangsters ken mekaar en hulle kon my help om ’n “wit” gangster te kry. Ek was nooit vroualleen nie. My getroue vriend Jacques was al die pad saam met my. Hy ly so ’n bietjie aan fomo en wou niks misloop nie. Hy het my oral heen geneem en beskou die hele reis as ’n opwindende avontuur. Hierdie dinge het hom as eienaar van die Hope Hela Foundation baie geraak. Hy wil betrokke raak by die oplossings, wat ’n byna onbegonne taak is. Dit is die rede waarom ek die boek aan hom opgedra het.

In die voorwoord van Gangster maak jy hierdie stelling: "Nog ’n oorsaak is die tekort aan vaderlike rolmodelle. Die pa het dikwels padgegee of hy is wel daar, maar hy is nie betrokke nie. Die seuns kom in opstand teenoor die sogenaamde ’voorskootbeginsel’ en huishoudings met ’n vrou aan die hoof, en hulle besluit dan om ’macho’ te wees. Jy word deel van ’n groep. Jy behóórt. Jou ’broers’ sal na jou omsien."
Dit is ’n beginsel sekerlik baie sin maak, maar my vraag is: Hoe het jy dit wetenskaplik nagevors? Het mensmaklik vir jou hulle stories vertel? Het hulle nie vir hul lewens gevrees nie? (En het jy nie vir jóú lewe gevrees deur die boek te skryf nie?)
Al die gangsters met wie ek gesels het, het gepraat oor afwesige pa’s of pa’s wat geen noemenswaardige rol in hul lewens gespeel het nie. Dieselfde geld gevonniste misdadigers in vorige misdaadboeke. Die pa’s is eenvoudig weg. Dus identifiseer die seuns met die manne in die gangs. Ek het nie syfers daaroor gekry nie, maar dit was wat ek die afgelope tien jaar keer op keer bevind het. Dieselfde geld vir die vroue. Die mense het maklik gepraat. Hulle wou hul stories vertel. Dis natuurlik alles vooraf gereël deur middel van leiers in die gemeenskappe, soos Stanley Jacobs en Ricky de Reuck wat by die Cape Flats Museum betrokke is, en pastoor Craven Engel van Camp Joy naby Strandfontein op die vlakte waar gangsters gerehabiliteer word. Ek dink daar is ’n soort joernaalterapie daaraan verbonde om jou storie vir ander te vertel. Mense wil probeer sin maak uit hul lewens en waar dinge so verskriklik verkeerd geloop het.
Ek het nie die indruk gekry dat hulle vir hul lewens gevrees het nie, want hulle is mos almal uit die gangs uit en het gerehabiliteer. Jy het blykbaar net rede tot kommer as jy by ’n opposisiegang aansluit, maar nie as jy die nou pad bewandel nie. Daar was wel sekere gegewens, soos dié oor opposisienommers in die gevangenis wat hulle verswyg het. Mens praat nie daaroor uit nie. Ook nie oor die seksuele geweld of die aantal moorde wat gepleeg is nie. Ek was nie bang terwyl ek die boek geskryf het nie, want jy is so ingestel op die storie en die feite dat jy nie tyd kry of daaraan dink om bang te wees nie. Agterna vra jy jou wel af waarin op aarde jy jou begewe het en wat jou besiel het as jy in die koerante van die bendegeweld lees. Veral die afgelope week. Maar my dierbare vriend Jacques Pratt was heeltyd by my en het my rustig gemaak. Hy was op sy dag Onnie van die Jaar. Hy het my oral geneem en as ek wou uitchicken, het hy my net kalmeer en gesê ek moet rustig en positief wees. Ja, ons was in die hartjie van Mitchells Plain en Khayelitsha, maar miljoene mense woon daar en gaan met hul daaglikse bestaan voort. Ons was net enkele dae daar; hulle woon hul lewe lank daar.

Ek sien in jou boek sommige van die verhale is aangeteken met name wat verander is. Ander verskyn onder die persoon se regte naam. Was dit vir sekere mense maklik en bevrydend om openlik, onder hul eie naam, te praat? En die ander?
Ja, die meeste het hoegenaamd geen probleem gehad om te praat nie. Hulle het almal aangevoer dat hulle gerehabiliteer is en dat hul verhale eenvoudig vertel moet word. Hulle besef ook dat hul organisasies so publisiteit en moontlik ondersteuning kan kry. So is Rehbock genooi om sy verhaal op VIA te vertel. Baie is motiveringsprekers en is baie opgewonde omdat hulle verhale nou deur middel van ’n bekende uitgewer aan die groot klok gehang word. Die ma van die kind wat geskiet is, het versoek dat ons skuilname gebruik omdat sy steeds daar woon. Mens moet dit respekteer. By "Mario" is daar ’n lang storie agter die storie. Hoewel hy ingestem het om sy storie te vertel en ek alles op band het dat ek besig was om ’n boek te skryf, wou hy skielik kop uittrek toe die boek op pad drukkers toe was. Ons moes sy verhaal onder ’n skuilnaam instuur.
Jy het die Cape Flats Museum besoek as deel van jou navorsing. Vertel asseblief vertel vir ons lesers daarvan – en dink jy almal kan dit veilig as toerismebestemming besoek? Deel asseblief besonderhede hiervan.
Ja, ek en Jacques het dit besoek en was aangenaam verras. Daar kort egter nog heelwat geld om dit uit te brei. Baie is reeds uitgerig met betrekking tot die geskiedenis van die gedwonge verskuiwings in die vyftiger- en sestigerjare van die bruin mense vanaf plekke soos Constantia en Distrik 6. Pragtige foto’s en muurskilderye beeld die geskiedenis uit. Daar is ook ’n replika van ’n sel – daar waar bendelede dikwels beland – in al sy grusaamheid. Ook ’n kamer waar foto’s van die bruin strugglehelde uitgebeeld word. Die ergste is die gedenksaal wat beplan word vir kinders wat deur bendelede vermoor is. ’n Hele kamer word daarvoor ingerig, maar elke ouer word vooraf besoek om die foto’s en toestemming te kry. Dis absoluut hartverskeurend. Toere word in die toekoms daarheen beplan met eg-Kaapse disse soos snoek en patats wat deur die anties voorberei gaan word. Ek is baie opgewonde daaroor.
..........
Te min word vertel oor die mense van die Kaapse Vlakte se geskiedenis.
...........
Te min word vertel oor die mense van die Kaapse Vlakte se geskiedenis. Dit kan ’n groot toerisme-aantrekkingskrag word, maar geld word gekort en dit lyk nie juis of die regering baie vrygewig is nie. Ons het nooit onveilig daar gevoel nie. Dis by Strandfontein, naby die see. Dis steeds deel van die Vlakte. Hulle sal nie so ’n museum op ’n gevaarlike plek soos Manenberg en Hanoverpark oprig nie. My gevoel is dat mens op daardie spesifieke plek omtrent so veilig is soos enige ander plek in ons land. Ek het pas met Stanley Jacobs, ’n gemeenskapsleier, gesels wat baie by die museum betrokke is en hy sê die museum is reeds “soort van oop”. Hy het sy familie reeds daarheen geneem en die geskiedenis met hulle gedeel. As daar ’n groep mense is wat die museum wil besoek, 10–20 of meer, sal hy hulle persoonlik rondneem en die hele storie aan hulle vertel. So kan geld vir die museum ingesamel word wat weer in die museum self belê kan word. Hy neem ook binnekort ’n groep skoolkinders deur die museum. Die amptelike opening het egter nog nie plaasgevind nie.
Ek lees die storie van een van die mense in jou boek. My hart breek vir die outjie wat op agtjarige ouderdom verkrag is. Jou boek handel nie eintlik net oor gangsters nie. Dit handel oor die kinders wat gangsters word. Hoe kry mens die kinders uit die strate, hoe kry mens hulle in beskermde omgewings waar daar vir hulle geleenthede is? Hoe kry mens hulle om oor hul trauma te praat dat daar iets gedoen kan word voordat dit te laat is? Dalk kan jy nie al die oplossings gee nie! Maar het jy tydens jou navorsing vasgestel wie kan help en is daar noodnommers of adresse wat kinders kan besoek wat in sulke omstandighede vasgevang is?
Daar is nie geriewe vir die kinders nie! Ja, die slagoffer word dikwels die oortreder. Dit is die tragiese waarheid. Hierdie lewe is wat vir hulle normaal is. Hierdie kinders wat later gangsters word, laat my altyd aan die “nature versus nurture”-beginsel dink. Hoe anders kon baie van die gangsters se lewens nie uitgewerk het as hulle in die noordelike voorstede van Kaapstad of die ooste van Pretoria grootgeword het nie? Tog is daar diegene wat kies om nie gangsters te word nie. Hulle het dikwels sterk (moederlike) rolmodelle.
.........
Ja, die slagoffer word dikwels die oortreder. Dit is die tragiese waarheid.
...........
Ja, my boek gaan beslis ook oor onskuldiges en kinders wat kanonvoer vir gangsters is en mense wat wil help. Wonderlike mense. Maar dis nie naastenby genoeg nie. Die gangsterprobleem, verneem ek, word net al groter, maar ek hoop van harte dat hierdie boek, en natuurlik die Cape Flats Museum, mense van hierdie dinge bewus sal maak. Daarom het ons kontakbesonderhede van verskeie organisasies agter in die boek. Maar daar is nie genoeg geriewe vir kinders wat slagoffers van trauma of PTSV is nie. Ek weet nie of die siklus ooit gebreek sal word nie, maar ek wens groot maatskappye, filantrope en mense met baie geld kom na vore en belê in ontspanningsgeriewe en kursusse vir die kinders en jongmense sodat hulle ’n beter toekoms kan beleef. ’n Lewe weg van armoede en gangsterism. Daar is ook baie trauma en hopeloos te min beraders en sielkundiges, het ek gehoor. Daar is eintlik niks vir die kinders nie. Dit sal ’n goeie begin wees om hierdie kinders te bemagtig, na hulle uit te reik sodat hulle nie so toekomsloos is nie. Ek sou graag wou sien dat mense as beraders optree. Vrywilligers.
Stanley Jacobs, skrywer en gemeenskapsleier, se woorde vanoggend aan my was: “Ons het ’n groot probleem op die Kaapse Vlakte. Ons het nie counsellors nie en die ouens word ook nie geleer hoe om met kinders te werk nie. Ek het professore en doktore van UWK wat ek gekontak het en ons gaan praat oor berading en trauma en emosionele intelligensie. Ons het eintlik skootrekenaars nodig, want met tegnologie kan jy baie mense help. Jy kan ’n skootrekenaar opstel en dan kan jy in ’n veilige plek met ’n berader praat. Die ding is net, daar is baie min safe spaces. Daar is kinders wat verkrag word en deur die ander uitgelag word. Hulle word hiermee groot en het nooit berading gekry nie. Die kinders moet met die goed loop en dis waarom ek nou bitter graag beroepsmense wil kry. Ons het nie sulke geriewe nie. Ek is eerlik met jou. Die kerke is veronderstel om sulke projekte te hê. Ek wil hê die kerke en die moskees moet sulke projekte in hul geboue begin en dan kan ons reël dat hierdie kinders aanlyn met die mense kan praat. Hulle kan die kinders dalk vooraf ontmoet. Ons kan elke aand vir die kinders ’n uur van ons tyd gee. Ek kan nie vir jou so ’n plek op die Kaapse Vlaktes wys waar die kinders iemand kan bel nie. Daar is nie ’n Cape Flats traumasentrum nie.”
Ek lees die stories van ma’s wie se kinders deur gangsters geskiet is. Dink jy dit help om te praat? Hoe breek mens die siklus van sinlose dood, kinders en grootmense wat doodgeskiet word net omdat hulle iewers heen loop en per ongeluk op die verkeerde tyd op die verkeerde plek is?
Hulle praat en dit help vir sommige ma’s om met iemand wat simpatiek is daaroor te praat – ’n soort joernaalterapie vir hul trauma – en daar was al opmarse gereël om politici hiervan bewus te maak, maar kort voor lank word daar wéér ’n kind geskiet. Chad Crowley, ’n gemeenskapsheld oor wie ek in Gangster skryf, kry dit wel reg om reg in hul kanonvoer in te loop en hulle te waarsku dat daar groot moeilikheid gaan wees as nog ’n kind geskiet word. Die bendes is baie gebiedsgebonde en soms is daar ’n soort onderwêreldse respek en ’n ceasefire.
Maar as jy weer ’n koerant oopslaan, is dit maar weer so. Onskuldige kindertjies word vermoor. Ek dink om net te praat gaan nie help nie. Daar moet daadwerklik opgetree word. Toe ons Mitchells Plain einde 2020 besoek het, was die weermag daar. Dit was toe heelwat veiliger, het ek verneem. Ek wens dit kan ’n permanente instelling wees. Ten minste is dit ’n afskrikmiddel. Dalk moet van die raadslede wat die gemeenskap verteenwoordig, ook meer aktivisties optree.
.........
Maar as jy weer ’n koerant oopslaan, is dit maar weer so. Onskuldige kindertjies word vermoor. Ek dink om net te praat gaan nie help nie. Daar moet daadwerklik opgetree word.
...........
Het jy The wire gekyk? Ou TV-reeks. “The king stays the king.” Strukture, in netjiese hiërargie: Mens kry ’n wettige wêreld en dan ’n onderwêreld. Die onderwêreld betaal beter, daar is meer adrenalien, maar hier kan mens natuurlik makliker sterf weens jou dade. Die reeks speel in Baltimore in die VSA af. Ek wonder of jy iets hiervan in ons land se bendes herken.
Ek het dit ongelukkig nie gesien nie, maar dit klink so bekend. Ja, die onderwêreld borrel oor van opwinding en adrenalien, maar jy leef op geleende tyd. Dis wat Charmaine Coetzee, die Lady Gangster, en ander my vertel het. Die helfte van hul makkers is in gangstergeweld dood. En hulle is nog jonk. Een man het al vier neefs begrawe wat by gangsterism betrokke was.
Elke storie was vir my uniek, maar ek het groot bewondering vir Charmaine Coetzee, die Lady Gangster, wat gevoel het sy “belong” met al die broers in die gang (geen ouers gehad nie) en wat nou ’n opgeleide maatskaplike werker op die Vlakte is, waar sy haar eie mense help. Sy verstaan. ’n Storie wat ook vir my meer na fiksie as niefiksie geklink het (ek het aan sy lippe gehang) is dié van Leon Jacobs. Hy was een van vyf broers onder een dak wat elkeen aan ’n ander bende behoort het. Broer teen broer. Sy arme ma! Hy het later met een van die grootste dwelmhandelaars op Mitchells Plain getrou. Sy was skatryk en het in ’n stadium tien karre gehad. Leon het sy eie (tweeling)broer vermoor nadat dié ’n sigaretstompie op sy seun se been doodgedruk het.
Leon het bekeer en hy het sy dwelmhandelaar ook bekeer. Dis nou etlike jare later en hulle is ’n senior pastoorspaar wat goeie werk doen. Hy is by die YMCA betrokke en besoek talle skole om kinders teen gangsterism te waarsku.
Glo jy dat rehabilitasie of transformasie werklik moontlik is? Dink jy ook die mense wat handomkeer verander het, laat mense en verwoesting agter wat ander mense hieraan kan laat twyfel? Wat het jy gesien en beleef wat jou laat dink dis moontlik, of nie? So baie pastore en bekerings lees ek tussen die stories. Het jy elke storie vertrou wat jy gehoor het? Het dit soms vir jou gevoel iets klink te goed om waar te wees? En ook: Is bekering tot ’n religie altyd die oplossing?
Ek glo aan rehabilitasie en aan tweede kanse. Ek het dit al baie keer gesien. Ricardo Sloster is vir my ’n wonderlike voorbeeld. Sy hart is in sy gemeenskap. Die gevangenis het nie altyd ’n goeie reputasie wat rehabilitasie betref nie. Daar sluit talle immers by die nommers aan! Pastoor Engel van Camp Joy waar gangsters gerehabiliteer word, spog met ’n rehabilitasiesyfer van 70% wat puik is. Wat van die ander 30%? En wat van al die gangsters wat nooit daar uitkom nie (dit moet vrywillig wees), en wat van dié wat teruggaan tronk toe of nooit uitgevang word nie?
Vir Gangster het ek uit die aard van die saak gesels met eksgangsters wat by my aanbeveel is en wat misdaad afgesweer het en deur geestelikes en leiers in die gemeenskap as gerehabiliteer beskou word. Baie word pastore en bedryf hul eie liefdadigheidsorganisasies. Gangsters word gevrees en gehaat, maar ook vreemd genoeg soms bewonder oor al die bling, handelsmerke en geld. Maar oor die algemeen word hulle gehaat.
.........
Ek glo aan rehabilitasie en aan tweede kanse. Ek het dit al baie keer gesien.
...........
Pastore verteenwoordig presies die teenoorgestelde van ’n gangster. Dan kry jy respek. Jy word ’n pilaar in die samelewing. Maar ek skryf al tien jaar lank misdaadboeke en oor misdadigers. Ek het talle tronke besoek en talle onderhoude gevoer. Ek het ook vrywilliglik baie tronkbesoeke gedoen. Soms was ek aangenaam verras, ander kere teleurgesteld – veral as ek uitvind dat hulle vir my gelieg het. Daar is natuurlik die verhoogakteurs wat briljante toneelspelers is en maak asof hulle bekeer of rein soos lenteblomme is, want iets moet jy doen om uit die tronk te kom of ’n goeie indruk te skep. Goeie Christelike gedrag kan in jou guns tel. Hulle kan dalk voorgee hulle is hierdie toegewyde Christene. Sielkundiges sal jou vertel talle is egter narsiste en sosiopate.
Benewens bekering (wat beslis sy suksessyfer het) dink ek die grootste afskrikmiddel is egter die gedagte om terug tronk toe te moet gaan. ’n Forensiese sielkundige het aan my vertel hoe langer jy in die tronk gesit het (en hoe langer die vonnis geduur het), hoe minder is die kanse dat jy sal wil teruggaan tronk toe. Dan maar eerder die smal weg bewandel, want jy wil nie daar wees nie.
Jy skryf die boek as wit vrou. Hoe waak mens teen stereotipes, teen veralgemenings, en hoe vertel jy die stories van mense uit totaal ander omstandighede as joune? Hoe stel jy hulle self aan die woord sonder om in die pad van die lens te staan?
Dit is ’n baie interessante vraag. Stanley Jacobs wat ’n Facebook-blad Cape Flats Stories bedryf en my baie met die boek gehelp het (ek glo ons gaan vorentoe saam ’n pad stap), het so ’n vraag op sy blad gekry. Ek het dit verwag. Ek het selfs ’n bietjie skuldig gevoel. Daar is soveel briljante bruin skrywers op die Vlakte en ek slurp hul werk op. Die meeste hiervan word egter as fiksie bemark, maar ek glo dis fiksie met ’n groot skoot waarheid in.
My aanvanklike uitgewer, wat later na ’n ander posisie geskuif het, was ’n bruin vrou. Dit het my baie gemaklik laat voel. Sy het ook gesê dis reg dat ek die ware lewenskarakters presies aanhaal soos wat hulle praat. Daardie lekker Kaaps met die Engels en Afrikaans gemeng en nog ’n paar lekkerklinkwoorde by wat ek geleer het. Ek het ook, waar moontlik, die hoofstukke na die mense toe gestuur en gevra of dit reg is dat ek hulle so aanhaal. Geen probleem nie. Alles reg. Dit was hul houding. Ek wens almal was so maklik om mee te werk.
Stanley se reaksie op die vrou wat die vraag gevra het wat ’n wit vrou op die Vlaktes maak en hul stories vertel, was dat my boek dalk ’n baie groter teikenmark (die wit mark) kan bereik en mense so meer bewus kan maak van wat op die Vlaktes aangaan. Bewusmaking is immers een van ’n skrywer se doelwitte. Ander deelnemers aan die gesprek was ook van mening dat dit tog nie saak maak wie hul stories vertel nie, solank dit vertel word. Ek het immers die mense se eie stemme gebruik. Die boek is nie ’n meningstuk nie. Dit is die mense se eie stories in hul eie woorde en hul eie taal. Anders is dit nie eg nie. Ek het wel aan die einde van die boek tot ’n gevolgtrekking oor diversiteit gekom.
.........
Die boek is nie ’n meningstuk nie. Dit is die mense se eie stories in hul eie woorde en hul eie taal. Anders is dit nie eg nie.
..........
Ek moet bieg: Jou boek laat my met elke storie voel of ek wil hê iemand moet alles verander. Hoe het jou boek jóú laat voel? Hoe slaap mens snags? En noudat dit verskyn het: Watter terugvoer kry jy, ook van mense van die Vlakte?
Ja, mens wens vir ’n towerstaffie wat alles sal laat regruk na die era voor die gedwonge verskuiwings, maar dis net wensdenkery. Ek het genadiglik tot dusver baie goeie terugvoer oor die boek gekry. Wat ’n verligting! Ook van die mense van die Vlakte. Ek dink dis belangrik dat mense wat nie daar woon nie, besef wat daar aangaan. My grootste wens is ’n traumasentrum op die Vlakte waar veral die kinders kan ontlont. ’n Plek waarheen die kinders geneem kan word en kan besoek en net kind kan wees. In ’n veilige omgewing. Met mense (beraders) kan praat wat verstaan. Die mense sal vrywilligers moet wees. Daar is nie geld nie. Die boek het my hartseer laat voel, maar ook hoopvol. Ek is een van die mense wat eerder prakties probeer dink as om my oor te gee aan ’n geween en ’n gekners van tande. Ricky de Reuck van die Vlakte se YMCA met wie ek ook in die boek gesels het, het reeds ’n uitnodiging ontvang om ’n groep toe te spreek. Dis wat mens wil hê. Om bewusmaking daar te stel. Ons is met die grootste warmte op die Vlakte ontvang. Selfs al is ons whities. Ek is gek oor die mense van die Vlakte. Hulle het ons altyd welkom laat voel. Mense was gretig om hul verhale te deel. Soms, vertel ’n vriend wat ’n sielkundige is, is dit reeds ’n vorm van terapie net om gehoor te word. Ek hoop daar kom hulp. Daar is kontaknommers agter in die boek. Mense wat by traumaberading betrokke wil raak, kan gerus vir Stanley by 066 206 9207 bel.


Kommentaar
I would like to know if the book Gangster is going to be released in English and if so when will that be?
Thanks