
Foto: Pixabay
Die LitNet Akademies Weerdink-reeks skakel akademiese navorsing met brandende kwessies op die oomblik. Hierdie twee artikels oor munisipaliteite het in die verlede in LitNet Akademies verskyn.
In LitNet Akademies (Regte) het hierdie artikel deur Hennie van As in 2019 verskyn: Aantekening: Kan munisipale wetstoepassingsbeamptes goedsmoeds op die publiek losgelaat word?
In LitNet Akademies (Regte) het hierdie artikel deur DJ Brand in 2012 verskyn: Die finansiële krisis in provinsies en munisipaliteite: Verg dit grondwetlike of politieke oplossings?
Lees wat Eugene Brink nou oor munisipale afgrond en 2026 se scenario's skryf.
In Desember en Januarie het ek wyd en syd regoor die land deur verskeie provinsies gereis.
Ek het gery van die Wes-Kaap, waar ek tans woon, ’n paar dae in die Oos-Kaap en Vrystaat deurgebring, en daarna langer in Gauteng en KwaZulu-Natal vertoef. Sommige nasionale beleide het beslis ’n uitwerking op plaaslike toestande. Werkloses, leeglêers en bedelaars op klein dorpies en selfs stede is byvoorbeeld ’n algemene verskynsel, en dit het inderdaad deels te make met Suid-Afrika se pap ekonomiese groei (0,6% in 2024) en lae investeringsvlakke. Dit syfer ook deur na die staat se finansies en dus na plaaslike owerhede se begrotings en vermoë. Die spook van grondonteiening is inmiddels ’n ekonomiese gevaar.
Tog is daar baie uitdagings op plaaslike vlak wat heeltemal voorkombaar en selfgeskep is. Munisipaliteite is boonop waarskynlik die belangrikste regeringsfeer met bevoegdhede en funksies wat mense se lewens daagliks en ten nouste raak. Hoe jy jou identiteitsdokument kry, of hoe tronke bestuur word, is op stuk van sake van veel minder alledaagse belang as wanneer riool in die straat afloop. Ongeag hul kapasiteit, het plaaslike regerings belangrike pligte, maar helaas is hulle meestal nie in staat nie, of onwillig, om dit uit te voer. Hulle kan selfs meer doen as wat slegs hul toewysings van die tesourie toelaat om beleggings te lok, soos om meer private inisiatief aan te wakker en lok. Kortom, plaaslike regerings raak lewensgehalte regstreeks, en griewe daaroor lei boonop tot sosiopolitieke onrus. Belastingbetalers trek weg om in beter munisipale gebiede te gaan woon.
Tydens my omswerwinge was daar waterbeperkings in Johannesburg, al was die voedingsdamme redelik vol. In KwaZulu-Natal het Ladysmith in ’n vervalle vullishoop ontaard, terwyl vullis hemelhoog op die Suidkus (in snikhete toestande tydens vakansietyd) in die strate opgehoop het oor ’n staking wat toe reeds in sy derde maand was. By ’n blyplek naby Gariepdam in die suidelike Vrystaat hoor ons by die eienaar hoe hulle soms vir 12 ure per dag sonder krag (wat nie beurtkrag behels nie) moet ontbeer en self duur en onvolmaakte planne moes maak om kop bo water te hou. Daar is wel positiewe stories van regenerasie. In Kroonstad het die plaaslike gemeenskap in die algemeen ’n verskil aan die estetiese beeld van die dorp gemaak, maar ek kan my nie uitlaat oor ander aspekte aldaar nie. Ditto op die Suidkus.
’n Onlangse ondersoek deur News24 het onthul dat die Emfuleni plaaslike munisipaliteit in Gauteng (wat Vereeniging insluit) se water- en rioolinfrastruktuur dermate in duie gestort het dat rou riool in mense se huise inloop en paaie in townships vernietig. Te midde hiervan het die munisipaliteit ’n infrastruktuurtoelaag van R640 miljoen oor vyf jaar verbeur omdat dit nie bestee is nie. Daar is insgelyks berig oor hoe rioolstorting in die Buffalo City metropolitaanse munisipaliteit (Oos-Londen en omstreke) die Buffelsrivier besoedel. Die ouditeur-generaal, Tsakani Maluleke, het weens verskeie kwessies skerp teen die metro te velde getrek en hul huidige ouditmening na “gekwalifiseerd met wesenlike “gekwalifiseerd met wesenlike bevindinge” afgegradeer. Een bisarre bevinding was dat die metro twee finansiële bestuurders tegelyk betaal het.
Oos-Kaapse munisipaliteite (wat feitlik almal deur die ANC beheer word) het net in die 2022-’23-boekjaar alleen altesame R5,18 miljard se onreëlmatige besteding aangegaan as gevolg van afwykings van verkrygingsprosesse. Buffalo City is die voorloper met R1,71 miljard en die hewige aantygings van korrupsie teen die metro kan onmoontlik bloot ontken word.
’n Lugleegte van leierskap
Maar die Oos-Kaap is nie alleen in hierdie kreeftegang en gebrek aan administratiewe en politieke leierskap nie. Maluleke betreur in haar jongste ouditverslag dat herhaaldelike pleidooie oor verbetering ’n muis gebaar het. “Continued excellence at municipalities that maintained their clean audit status and a reduction in the number of municipalities with disclaimed audit opinions offer a further glimmer of hope. Otherwise, there is still little to celebrate.”
Slegs 34 (13%) van alle munisipaliteite het skoon oudits verwerf – waarvan die Wes-Kaap ver meer as die helfte uitmaak. Altesame 45 se menings het verbeter, maar 36 het agteruitgeboer. Stad Kaapstad is die enigste metro wat ’n skoon ouditmening ontvang het, en die Wes-Kaap het ook verreweg die minste aan konsultante bestee.
Andersyds is ganse provinsies se munisipaliteite erbarmlik. Dertien munisipaliteite (68%) in die Vrystaat is al vir meer as vyf jaar in ’n knellende geldelike posisie. Dit is ook die provinsie met die meeste wesenlike onreëlmatighede. Geen Vrystaatse munisipaliteit het vir die laaste twee boekjare ’n skoon oudit ontvang nie. Vier het nie eens ’n ouditmening gekry nie, omdat die inligting nie betyds beskikbaar was nie. Daarbenewens het geen munisipaliteit in Noordwes ’n skoon ouditmening vir twee agtereenvolgende jare behaal nie – nieteenstaande groot bedrae wat aan konsultante bestee is.
Die nienakoming van wetgewing, onbevoegde projekbestuur en ontoereikende finansiële bestuur is as probleemareas uitgelig: “Municipalities lost revenue because they were not billing and collecting revenue, and due to water and electricity losses as a result of infrastructure neglect. They were also not careful with their spending practices” skryf Maluleke.
Ouditmenings is nie noodwendig al wat tel wanneer die toestand van ’n munisipaliteit gemeet word nie. Dit is baie meer waarskynlik dat ’n swakker munisipaliteit (ten opsigte van dienslewering en algehele lewenstoestande) soos Okhahlamba plaaslike munisipaliteit in KwaZulu-Natal ’n skoon oudit kry, terwyl ’n betreklik goeie een soos uMngeni in dieselfde provinsie dit dalk in ‘n bepaalde jaar nie kry nie. Dit is egter die uitsonderings, en in die algemeen is dit munisipaliteite wat onder ANC-beheer (alleen of deel van ’n koalisie) val, wat negatiewe menings ontvang en inderwaarheid gebrekkig is wat dienslewering betref. Geen munisipaliteit wat vir ’n dekade skoon oudits ontvang het, is nou, of selfs onlangs, deur die ANC beheer nie. Om eerlik te wees, vaar die IVP (hetsy alleen of in koalisies) nie veel beter nie.
Baie problematiese munisipaliteite is ook polities onstabiel. Wankelrige koalisies en binnegevegte in die ANC veroorsaak diskontinuïteit en ontwrigting in talle munisipaliteite. Voeg daarby ’n bykans hardnekkige en onbevoegde burokrasie en die rooi ligte flikker helder. Ratings Afrika, ’n firma wat onder meer munisipaliteite se finansies ontleed, waarsku al sedert ten minste 2022 dat plaaslike regering op die rand van ’n afgrond is.
...........
Ratings Afrika, ’n firma wat onder meer munisipaliteite se finansies ontleed, waarsku al sedert ten minste 2022 dat plaaslike regering op die rand van ’n afgrond is.
...........
Scenario’s vir 2026
Die meeste landelike munisipaliteite in Suid-Afrika se noordelike, sentrale en oostelike streke gaan waarskynlik weer volgende jaar onder ANC-beheer wees. ’n Minderheid kiesers stem anders in verskillende soorte verkiesings, en 2024 se stempatrone kan ten minste in die Vrystaat, Noordwes, Limpopo, die Oos-Kaap en Mpumalanga herhaal word. Daar is eenvoudig net nie ’n lewensvatbare opposisie wat die ANC sterk kan uitdaag nie, en as hul plaaslike toestande dié kiesers nou nog nie pla nie, sal dit waarskynlik ook nie in 2026 nie.
Die regerende party kan wel in Gauteng se metro’s sukkel, maar steeds die grootste rolspeler daar bly en ook skaflik in ander plaaslike en distriksmunisipaliteite daar vaar. Die wegblystem kan bepalend in Suid-Afrika se grootste en rykste provinsie wees, en die ANC vaar juis om hierdie rede swakker in plaaslike verkiesings. In Johannesburg is die opposisie egter so verdeeld dat dit koalisies sonder die ANC bemoeilik. In Tshwane is dit desgelyks problematies vir die DA, en dalk VF+, om ’n lewensvatbare koalisie te vorm. Deesdae is ActionSA en Herman Mashaba veel meer geneë om met die ANC as met die DA saam te werk. ActionSA sal dalk ’n afname in steun in Tshwane voel oor die ontsetting van die DA-geleide koalisie daar, maar sy kiesers gaan nie skielik almal vir die DA stem nie. Hulle mag selfs stemme bykry.
In KwaZulu-Natal is dit egter ’n ander storie met die opkoms van die MK-party en die IVP wat aldaar herleef. As 2024 enige aanduiding is, kan MK wel ’n hele boel munisipaliteite beheer. Hulle ervaar egter erge interne konflik en kan dalk oor ’n jaar heeltemal disfunksioneel wees met Jacob Zuma wat sy greep op die party verloor het. Die IVP en tot ’n mindere mate die ANC sal daaruit kan munt slaan, terwyl die DA hul gebruiklike bietjie steun in die provinsie kan verwag. Solank Cyril Ramaphosa die land en ANC lei, behoort sy party nie grootskaalse of enige koalisies met MK aan te gaan nie. Dieselfde geld die DA. Dit keer egter nie die IVP om in sekere munisipaliteite hande met MK te vat nie.
Die DA sal waarskynlik weer in Kaapstad en sekere Wes-Kaapse munisipaliteite, soos Drakenstein en Mosselbaai, seëvier, maar hul steun gaan begin fragmenteer in die provinsie. Die VF+ onder leiding van hul voormalige Wes-Kaapse leier, Corné Mulder, wil klaarblyklik meer as net ’n koalisievennoot vir die DA wees. Onlangse kommentaar dui daarop dat hulle hulself eerder wil onderskei van die DA, en as twiste in Wes-Kaapse plaaslike rade ’n aanduiding is, selfs meer regstreeks met die DA in die provinsie en elders sal meeding. Verwag maar sowel pragmatisme as konfrontasie.
Daar is ook die groeiende PA-faktor met Gayton McKenzie wat as minister in gewildheid binne en buite die bruin gemeenskap toeneem. Hulle kan steun by die DA wegrokkel in die Wes-Kaap en koalisies tussen hulle en die VF+ – selfs sonder die DA – kan nie uitgesluit word nie. Die oostelike munisipaliteite in die provinsie, soos Bitho (Plettenbergbaai), Knysna en Beaufort-Wes, sal waarskynlik weer bestrede wees en op koalisies uitloop. Die PA gaan ook daar vordering maak.
Die EFF kan op plekke in die land goed vaar en ’n koalisievennoot word, maar dit is nou al bewys dat ’n stadion vol ondersteuners nie groot steun by die stembus vir hulle beteken nie. Hul binnegevegte en prominente bedankings is ook besig om die middelpuntvlietende kragte te versterk.
Nog ’n aangeleentheid is die rol wat die RNE hierin kan speel. Regeringsvlakke kan dalk formeel geskei wees, maar nie persepsies nie. Dit kan die VF+ loon om voor volgende jaar se verkiesing uit die RNE te onttrek en weer ’n volwaardige opposisierol te speel, nie slegs jeens die ANC en ander linkse partye nie, maar ook teenoor die DA, wat nie so maklik die RNE kan verlaat nie.
...........
Die DA se toekoms is moeilik om te voorspel. Leon Schreiber munt uit in sy portefeulje, maar die res is in moeilike rolle waarin hulle nog hul voete vind. Dit kan nog verander, maar verkeerde besluite en te min teenkanting teen toksiese beleide kan hulle duur te staan kom, veral as ander opposisiepartye hul kanse beter aangryp en die DA min kans het om hul swart steun beduidend te laat groei. Hulle sal nietemin die tweede grootste party bly, maar sal moet veg om alleen in heelparty munisipaliteite aan bewind te bly. In plaaslike verkiesings is konsentrasie van steun belangriker as ’n landwye syfer. Bowenal is daar miskien ’n leierstryd vir hulle in die verskiet.
............
Die DA se toekoms is moeilik om te voorspel. Leon Schreiber munt uit in sy portefeulje, maar die res is in moeilike rolle waarin hulle nog hul voete vind. Dit kan nog verander, maar verkeerde besluite en te min teenkanting teen toksiese beleide kan hulle duur te staan kom, veral as ander opposisiepartye hul kanse beter aangryp en die DA min kans het om hul swart steun beduidend te laat groei. Hulle sal nietemin die tweede grootste party bly, maar sal moet veg om alleen in heelparty munisipaliteite aan bewind te bly. In plaaslike verkiesings is konsentrasie van steun belangriker as ’n landwye syfer. Bowenal is daar miskien ’n leierstryd vir hulle in die verskiet.
Natuurlik het die burgery ander rolle om te speel in hul dorpe en munisipaliteite as om bloot te stem. Weerstand en samewerking moet deurgaans geskied, terwyl vele groeperinge nou al gewys het dat praktiese aksies werk. Die vernaamste probleme en hul oplossings hang egter van goeie regering af, en daarom is stem steeds van groot belang.
Lees ook:
Wes-Kaapse onafhanklikheid: ’n bondige blik op die regsinstrumente
Aantekening: Kan munisipale wetstoepassingsbeamptes goedsmoeds op die publiek losgelaat word?

