Aantekening: Kan munisipale wetstoepassingsbeamptes goedsmoeds op die publiek losgelaat word?

  • 0

Aantekening: Kan munisipale wetstoepassingsbeamptes goedsmoeds op die publiek losgelaat word?

Hennie Van As, Departement Publiekreg, Nelson Mandela Universiteit

LitNet Akademies Jaargang 16(1)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Abstract

May municipalities randomly let law enforcement officers loose on the public?

This note describes the manner in which municipal accounting officers exercise their mandates to ensure that municipalities implement and administer their by-laws and other legislation in order to give effect to their constitutional mandate to ensure a safe and healthy environment. This is done mostly by establishing municipal codes that regulate the functions bestowed on municipalities by the Constitution. Although there are various agencies available to enforce these by-laws, such as the South African Police Services, traffic police, municipal police and municipal law enforcement officers, enforcement by the latter category of officials is the focus of this note. The role and place of municipal law enforcement officers, their powers and functions, and the requirements set for their appointment are considered. The duty imposed on the Commissioner of Police to consider certain criteria when furnishing a certificate of competency before a certificate of appointment as peace officer can be issued enjoys special attention. This criterion relates to the training undergone by the applicant with regard to the powers to be exercised. The commissioner must certify that the applicant is competent to exercise the powers defined in Column 4 of the Schedule to GN R1114 of 18 October 2018. The extent to which the training of municipal law enforcement officers complies with the requirements of the Criminal Procedure Act is then considered. It is found that this training is insufficient, and that competency certificates should not be issued based on the training that is currently available. Proposals are subsequently submitted to improve the current state of affairs which, among others, include the establishment of national standards and the need for legislative amendment.

Keywords: by-laws; constitutional functions; municipal executive authority; municipal law enforcement

Trefwoorde: grondwetlike funksies; munisipale uitvoerende bevoegdhede; munisipale wetstoepassing; verordeninge

 

1. Inleiding

Artikel 40(1) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (die Grondwet) bepaal dat die regering uit die nasionale-, provinsiale- en plaaslikeregeringsfere saamgestel is en dat hierdie sfere eiesoortig, interafhanklik en aan mekaar verbonde is. Die Grondwet bepaal voorts dat die plaaslike sfeer uit munisipaliteite bestaan1 en dat die uitvoerende en wetgewende bevoegdhede van ’n munisipaliteit in die munisipale raad gevestig is.2 Die onafhanklikheid van munisipaliteite word onderskryf deur die bepaling dat hulle, onderworpe aan nasionale en provinsiale wetgewing, en soos vervat in die Grondwet, op eie inisiatief die plaaslike aangeleenthede van hul gemeenskappe mag reguleer.3 Die nasionale en provinsiale regerings mag nie plaaslike owerhede se vermoë of reg om hul magte of bevoegdhede uit te oefen, in gevaar stel of beperk nie.4

Daar is drie kategorieë munisipaliteite, naamlik:

  • Kategorie A: ’n munisipaliteit met uitsluitlike uitvoerende en wetgewende bevoegdhede in sy gebied, en wat in die Plaaslike Regering: Munisipale Strukturewet5 (Strukturewet) as ’n metropolitaanse munisipaliteit (metropool) omskryf word.
  • Kategorie B: ’n munisipaliteit wat uitvoerende en wetgewende bevoegdhede in sy gebied deel met ’n kategorie C-munisipaliteit in wie se gebied dit val. Dit word in die Strukturewet as ’n plaaslike munisipaliteit omskryf.6
  • Kategorie C: ’n munisipaliteit wat uitvoerende en wetgewende bevoegdhede het in ’n gebied wat meer as een munisipaliteit insluit, en as ’n distrikmunisipaliteit omskryf word.7

Die Grondwet sit ook die oogmerke van plaaslike regering uiteen, en een daarvan is om, met inagneming van ’n munisipaliteit se finansiële en administratiewe vermoë, ’n veilige en gesonde omgewing te bevorder.8 Ten einde munisipaliteite in staat te stel om hul doelwitte te bereik, ken die Grondwet aan hulle bepaalde magte en bevoegdhede toe.9 Plaaslike owerhede het wetgewende en uitvoerende gesag oor en die bevoegdheid om die aangeleenthede te administreer wat in Deel B van Skedules 4 en 5 van die Grondwet gelys word,10 asook daardie magte wat ingevolge nasionale of provinsiale wetgewing aan hulle toegewys word.11 Artikel 83 van die Strukturewet bepaal dat toegekende magte en bevoegdhede tussen distriks- en plaaslike munisipaliteite binne ’n distrik verdeel moet word; dit word in artikel 84 gedoen. Metropolitaanse munisipaliteite beskik by implikasie oor die uitvoerende en administratiewe gesag ten opsigte van al die magte en bevoegdhede wat deur artikels 156 en 229 van die Grondwet verleen word.12

Die algemene reël is dat munisipaliteite die uitsluitlike uitvoerende gesag het ten opsigte van die funksies wat in Deel B van Skedules 4 en 5 van die Grondwet vervat is. Dit word bevestig deur die beslissing in City of Johannesburg Metropolitan Municipality v Gauteng Development Tribunal:13

While national and provincial government may legislate in respect of the functional areas in Schedule 4, including those in Part B of the schedule, the executive authority over, and administration of, those functional areas is constitutionally reserved to municipalities. Legislation, whether national or provincial, that purports to confer these powers upon a body other than a municipality will be constitutionally invalid.

Ten einde die aangeleenthede onder hul jurisdiksie doeltreffend te administreer, mag munisipaliteite verordeninge uitvaardig.14 Die uitvaardiging van verordeninge is ’n oorspronklike wetgewende bevoegdheid15 wat in die Grondwet erken en deur die Grondwet beskerm word. Elke munisipaliteit is verplig om ’n munisipale kode, bestaande uit al sy verordeninge, tot stand te bring en op datum te hou.16 Dit dien ook as die amptelike rekord van al die munisipaliteit se verordeninge.17

Die uitvoerende en wetgewende magte van ’n plaaslike owerheid berus by sy raad18 en word uitgeoefen deur die munisipaliteit se administrasie op so ’n wyse te organiseer dat daar gefokus word op die bereiking van munisipaliteite se grondwetlike doelwitte, waarvan die bevordering van ’n veilige en gesonde omgewing een is.19 Elke munisipale raad moet ’n munisipale bestuurder aanstel as hoof van administrasie en as rekenpligtige beampte20 wat, onderworpe aan die raad se beleidsvoorskrifte, onder andere verantwoordelik is vir die aanstelling van personeel21 en die administrasie en implementering van die munisipaliteit se verordeninge en ander wetgewing.22

Hierdie bydrae stel ondersoek in na die wyses waarop rekenpligtige beamptes van munisipaliteite hul mandaat uitoefen om toe te sien dat munisipaliteite hul verordeninge en ander wetgewing administreer en implementeer ten einde uitvoering te gee aan die grondwetlike doelwit om ’n veilige en gesonde omgewing daar te stel. Dit word vanuit ’n wetstoepassingsoogpunt beskou. Daar word spesifiek gekyk na die rol en plek van die munisipale wetstoepassingsbeamptes (wetstoepassers), hul magte en bevoegdhede, en die vereistes vir hul aanstelling. Daar word dan aan die hand van hierdie vereistes geoordeel in watter mate die aanstelling van hierdie wetstoepassers aan die vereistes van die Strafproseswet voldoen, en voorts word daar voorstelle gemaak om die huidige stand van sake reg te stel. Dit sluit die aanstelling van ’n taakspan in wat die aard en omvang van wetstoepassers se opleiding moet ondersoek, die daarstelling van nasionale standaarde en die wysiging van die Polisiewet om aan die nasionale kommissaris van polisie oorsig- en beheerbevoegdhede te verleen.

 

2. Munisipale funksies

Skedules 4 en 5B van die Grondwet bevat lyste van funksionele areas waarvoor munisipaliteite verantwoordelik is. Die Grondwet bied aan plaaslike owerhede voldoende wetgewende en uitvoerende gesag om hierdie bevoegdhede uit te oefen. Dit is dan ook die belangrikste bron van munisipale gesag, en “oorspronklik” van aard, omdat dit direk van die Grondwet afkomstig is.23

Munisipaliteite verkry ook funksies en magte deur middel van toewysing,24 delegasie en agentskap. 25 Waar funksies toegewys word, word die wetgewende en uitvoerende gesag oor ’n funksie wat buite Skedules 4 en 5B val, oorgedra, en kan die munisipaliteit, indien nodig, verordeninge daaroor uitvaardig. Toewysings kan algemeen van aard wees (waar dit aan alle munisipaliteite toegewys word) of spesifiek (waar dit aan spesifieke munisipaliteite toegewys word).26

Die meerderheid van die funksies wat munisipaliteite mag administreer en waaroor hulle dus ook verordeninge mag uitvaardig, word in Dele 2 van Skedules 4 en 5 in die Grondwet aangetref. Die uiteensetting daarvan hier onder sal aantoon dat sulke funksies die daaglikse omgang tussen inwoners ten nouste raak, en ’n baie groot potensiaal het om tot regsgeskille te lei en om die lewensgehalte van mense te beïnvloed. Geraas, besoedeling, oorlas, die wyse waarop openbare geriewe gebruik of misbruik word, en troetel- of rondloperdiere is maar enkele voorbeelde.

Alhoewel dit hier onder duidelik blyk dat daar eintlik min aangeleenthede is waaroor verordeninge uitgevaardig móét word, bestaan daar ook ’n verpligting om munisipale kodes tot stand te bring. Munisipaliteite het dit feitlik sonder uitsondering gedoen – van die kleinste munisipaliteit tot metropole.27 Die belang wat munisipaliteite aan verordeninge heg, word tekenend weergegee deur die eerste paragraaf op die tuisblad van die Stad Kaapstad se webwerf (my vertaling):

Wat doen die Raad?

Die Stadsraad is die uitvoerende gesag van die Stad, en is verantwoordelik vir hoëvlakbesluite oor hoe Kaapstad regeer moet word. Die Raad is ook die wetgewende liggaam van die Stad, en is verantwoordelik vir die uitvaardiging en implementering van verordeninge, wat plaaslike wetgewing is wat spesifiek vir Kaapstad tot stand gebring is.

Soos reeds gesien, is munisipale verordeninge oorspronklike wetgewing, en as sodanig beregbaar deur die regsprekende gesag.28

Ingevolge Deel B van Skedule 4 van die Grondwet is munisipaliteite verantwoordelik vir die regulering van die volgende:

  • Lugbesoedeling
  • Bouregulasies
  • Kinderversorgingsgeriewe
  • Elektrisiteits- en gasnetwerke
  • Brandbestrydingsdienste
  • Plaaslike toerisme
  • Munisipale lughawens, beplanning, gesondheidsdienste, openbare vervoer en werke
  • Ponte, seehoofde, kaaie en hawens (die regulering van die internasionale en nasionale skeepsbedryf en verwante aangeleenthede egter uitgesluit)
  • Stormwaterstelsels in beboude gebiede
  • Handelsregulasies
  • Die voorsiening van drinkwater en sanitêre dienste (beperk tot huishoudelike afvalwater en rioolstelsels).

Deel B van Skedule 5 van die Grondwet wys die regulering van die volgende toe:

  • Strande en plekke van vermaak
  • Begraafplase, roudienslokale en krematoria
  • Skoonmaakdienste
  • Beheer oor openbare stoornisse
  • Beheer oor ondernemings wat drank aan die publiek verkoop
  • Fasiliteite vir die huisvesting, versorging en begrawe van diere
  • Heinings en omheinings
  • Hondelisensies
  • Lisensiëring en regulering van ondernemings wat voedsel aan die publiek verkoop
  • Plaaslike openbare en sportgeriewe en openbare plekke
  • Markte
  • Munisipale slagplase, parke en ontspanning, en paaie
  • Geraasbesoedeling
  • Skutte
  • Vullisverwydering, stortingsterreine en die wegdoen van vaste afval.

 

3. Munisipale wetstoepassing

Die Grondwet bevat geen direkte verwysing na wetstoepassing as ’n munisipale funksie nie – so ook nie die Strukturewet nie; maar die Stelselswet vereis dat ’n munisipale raad ’n verordening moet uitvaardig om uitvoering te gee aan die implementering en afdwinging van sy tariefbeleid.29 Daar is soortgelyke bepalings ten opsigte van kredietbeheer en skuldinvordering30 en munisipale belasting,31 maar geensins enige vergelykbare bepaling ten opsigte van ander munisipale funksies, magte en bevoegdhede nie. Streng gesproke kan ’n munisipale kode dus uit vier verordeninge bestaan, maar ek is nie bewus van enige munisipaliteit wat hierdie minimalistiese benadering gevolg het nie.

Daar rus wel ’n grondwetlike verpligting op die Suid-Afrikaanse Polisiediens om die “ reg te handhaaf en toe te pas”32, en daardie “reg” sluit munisipale verordeninge in. Die Grondwet skryf voor dat nasionale wetgewing die raamwerk vir die vestiging van munisipale polisiedienste daar moet stel33 en dit word gedoen in die Wet op die Suid-Afrikaanse Polisiediens34 wat bepaal dat enige plaaslike owerheid wat oor voldoende hulpbronne beskik, aansoek mag doen om ’n munisipale polisiediens tot stand te bring.35 Ingevolge die wet is die funksies van munisipale polisiedienste (dit sluit metropolisiedienste in):

  • Verkeerspolisiëring
  • Polisiëring van munisipale verordeninge en enige regulasies waarvoor die munisipaliteit verantwoordelik is
  • Misdaadvoorkoming.

Wat betref die Suid-Afrikaanse Polisiediens en munisipale polisie, is die reg duidelik in soverre dit die wetstoepassingsfunksie ten opsigte van verordeninge aangaan. Soos in die vorige paragraaf gesien, belas die Grondwet die polisie om die reg, insluitende verordeninge, toe te pas. Munisipale polisiedienste word deur die Polisiewet gemagtig om munisipale verordeninge te polisieer,36 maar die werklikheid is dat alhoewel enige munisipaliteit ’n munisipale polisiediens daar kan stel en hul afdwingingsverpligtinge ten opsigte van verordeninge aan die Polisiewet kan ontleen, slegs die metropolitaanse munisipaliteite, behalwe Buffalo City en Mangaung, oor sulke polisiedienste beskik. Wat die niemetropolitaanse munisipaliteite betref, was die Swartland-munisipaliteit die enigste uitsondering, maar die diens is stelselmatig uitgefaseer, en teen Julie 2013 het dit nie meer bestaan nie.37 Van die vernaamste redes vir die uitfasering daarvan is die omvattende vereistes wat vir die totstandbring en bedryf van sulke dienste gestel word,38 asook die kostes wat daarmee gepaardgaan. Ten spyte hiervan is daar, benewens die metropolisie en verkeersafdelings by munisipaliteite, ongeveer 30 000 wetstoepassingsbeamptes in diens van die 278 munisipaliteite in Suid-Afrika – almal met onlangs uitgebreide magte en bevoegdhede wat drastiese gevolge vir die publiek kan inhou.39

Alhoewel verwysings na wetstoepassers yl is, impliseer die bevoegdheid om wetgewing tot stand te bring die bevoegdheid om dit af te dwing. Hierdie standpunt word gedeeltelik onderskryf deur Bekink, wat van mening is dat:

One can possibly also argue that limited municipal law enforcement is necessary for all municipalities to ensure the effective performance of their functions. Without law enforcement powers, municipalities will be toothless to enforce their own or other applicable rules and regulations and would thus be severely undermined in respect of their own functions and responsibilities.40

Bekink41 kom voorts tot die gevolgtrekking dat munisipale wetstoepassing nie ’n direkte munisipale funksie is nie, omdat daar nie in Bylaes 4B en 5B van die Grondwet daarna verwys word nie, en dat plaaslike owerhede dus geen wetgewende bevoegdheid met betrekking tot wetstoepassing as ’n funksie het nie. Hy is voorts van mening dat dit deur munisipaliteite uitgeoefen kan word slegs indien dit ingevolge nasionale of provinsiale wetgewing ingevolge artikel 156(1)(a) en (b) van die Grondwet aan hulle toegewys word. Hy baseer sy standpunt op die feit dat Bylaes 4B en 5B van die Grondwet nie na wetstoepassing as ’n munisipale funksie verwys nie.42 Hy ondersteun sy standpunt verder deur aan te voer dat ten einde vir munisipale wetstoepassing voorsiening te maak, die wetgewer die Polisiewet gewysig het om vir die daarstelling van munisipale polisiedienste voorsiening te maak.43 Dit is so, maar die blote feit dat daar slegs ses uit ’n moontlike 27844 munisipaliteite is wat oor ’n munisipale polisiediens beskik, is aanduidend van die omslagtigheid en kostes wat met die daarstelling van sulke dienste gepaardgaan. Om hierdie redes word spesifieke wetstoepassingsfunksies aan munisipale wetstoepassingsbeamptes, wat nie munisipale polisiebeamptes is nie, deur GK R1114 toegewys.

Die aangeleenthede wat in Bylaes 4B en 5B gelys word, is juis daardie aangeleenthede waaroor munisipaliteite “the right to administer” het. Artikel 156(6) van die Grondwet bepaal dat ’n munisipaliteit die reg het om enige bevoegdheid uit te oefen met betrekking tot ʼn aangeleentheid wat redelikerwys nodig is vir, of verband hou met, die doeltreffende verrigting van sy funksies. Voorts mag die Minister van Justisie ingevolge artikel 334 van die Strafproseswet45 by wyse van kennisgewing in die Staatskoerant verklaar dat enige persoon wat uit hoofde van sy of haar amp in ’n omskrewe kategorie van persone val, binne ’n gebied wat in die kennisgewing omskryf word, ’n vredesbeampte is vir die doeleindes van die Wet, of enige oortreding of klas oortreding wat dienooreenkomstig gespesifiseer is.

Die kategorie “wetstoepassingsbeamptes wat deur munisipaliteite aangestel is” is in Kolom 1 van Deel 5 van Regulasie 209 van 19 Februarie 2002 geskep.46 Kolomme 2, 3 en 4 omskryf onderskeidelik die amptenare se jurisdiksiegebied, die oortredings waaroor hulle bevoegdhede het, en die omvang van hul magte. Deel 5 van dié regulasie is op 19 Oktober 2018 herroep en vervang deur Deel 5 van Regulasie 1114 van 19 Februarie 2002 (GK R1114).47

 

4. Vereistes vir aanstelling

Geen persoon wat ingevolge artikel 334 van die Strafproseswet ’n vredesbeampte is, mag sy of haar magte of bevoegdhede uitoefen tensy hy of sy in besit is van ’n aanstellingsertifikaat wat deur sy of haar werkgewer uitgereik is nie.48 Die Minister van Justisie mag ook by wyse van kennisgewing in die Staatskoerant die voorwaardes bepaal waaraan voldoen moet word voordat ’n aanstellingsertifikaat uitgereik mag word.49 Een van die voorwaardes is dat ’n werkgewer’n aanstellingsertifikaat mag uitreik slegs indien die werkgewer in besit is van ’n bevoegdheidsertifikaat wat deur die Kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisiediens uitgereik is.50 Die bevoegdheidsertifikaat moet verklaar dat dusdanige persoon na die oordeel van die kommissaris bevoeg is om die magte wat in Kolom 4 van die Bylae omskryf word, uit te oefen.51 Voordat ’n bevoegdheidsertifikaat uitgereik word, moet die kommissaris die volgende kriteria oorweeg:

  • vorige kriminele oortredings
  • of die aansoeker ingevolge die Wet op Vuurwapens 60 van 2000 of enige ander wetgewing onbevoeg verklaar is om ’n vuurwapen te besit
  • die opleiding wat die aansoeker ondergaan het ten opsigte van die magte wat uitgeoefen mag word.52

Die verklaring van bevoegdheid het dus in ’n groot mate betrekking op die opleiding wat die voornemende wetstoepasser deurloop het. Die opleiding moet die aansoeker in staat stel om die magte wat uitgeoefen mag word, behoorlik uit te oefen.

 

5. Magte en bevoegdhede van munisipale wetstoepassingsbeamptes

Die magte en bevoegdhede wat aan munisipale wetstoepassingsbeamptes toegewys word, is vervat in die Skedule tot GK R1114, en dit is ’n beduidende uitbreiding van die magte wat ingevolge die Skedule se voorganger toegewys is.53 Eerstens is die kategorieë oortredings van 13 na 16 uitgebrei, en tweedens is groter magte toegewys. Wat voorgenoemde betref, het munisipale wetstoepassingsbeamptes jurisdiksie oor enige oortreding van:54

  • ’n Verordening of regulasie wat deur of vir ’n munisipaliteit uitgevaardig is.55
  • Artikel 5 van die Wet op Besighede56 en enige regulasies wat daarkragtens afgekondig is.57 Hierdie bepaling58 omvat ’n verskeidenheid formele en informele besighede wat binne munisipale grense aangetref word, en artikel 6A gee ook aan plaaslike owerhede die bevoegdheid om verordeninge uit te vaardig oor die plekke waar, die tye wanneer en die produkte waarmee informele handelaars handel mag dryf. Ingevolge artikel 2(3)(c) mag daar ook opgetree word teen diegene wat lisensievoorwaardes verbreek.
  • Oortredings wat in artikel 38 van die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid59 gespesifiseer word.60
  • Artikel 24 van die Wet op Nasionale Bouregulasies en -standaarde.61 Hierdie artikel kriminaliseer enige oortreding van die wet – en dit is omvangryk.
  • Artikel 2162 van die Wet op Brandweerdienste63 en enige verordeninge64 en regulasies wat ingevolge hierdie Wet afgekondig is.
  • Artikel 4 van die Wet op Beheer van Toegang tot Openbare Persele en Voertuie.65
  • Bepalings van die Wet op Dwelms en Dwelmhandel66 wat met die besit of gebruik van, of die handel in, dwelms verband hou.
  • Artikel 82 van die Derde Algemene Wysigingswet.67 Hierdie artikel kriminaliseer die besit van enige werktuig of voorwerp waar daar ’n redelike vermoede is dat dit gebruik is of kan word om huisbraak mee te pleeg of om onwettig toegang tot ’n motorvoertuig mee te verkry, en waar die besitter nie in staat is om ’n bevredigende verduideliking van sodanige besit te gee nie.
  • Artikels 36 en 37 van die Algemene Wysigingswet van 1955.68 Dit is oortredings wat verband hou met die onvermoë om aanvaarbare rekenskap te gee ten opsigte van die besit van goedere, en waar wetstoepassers nie redelikerwys rede het om te glo dat goedere wettig bekom is nie.
  • Wetgewing wat op die verskaffing, besit of vervoer van bedwelmende drank van toepassing is. Dit beteken dat wetstoepassingsbeamptes ook kennis moet hê van die Drankwet69 en die regulasies wat daarkragtens afgekondig is.70
  • Artikels 3 (algemene verbod op die onwettige besit van vuurwapens), 84 (dra van vuurwapens op ’n openbare plek), 90 (onwettige besit van ammunisie) en 94 (verbod op die besit van dele van vuurwapens) van die Wet op Vuurwapenbeheer.71
  • Enige misdaad wat gemeld word in Bylae 1 tot die Strafproseswet, met die uitsondering van hoogverraad en sedisie.
  • Artikels 3 van die Wysigingswet op Strafaangeleenthede72 wat verband hou met die peuter aan of die beskadiging of vernietiging van noodsaaklike infrastruktuur, of die verlening van samewerking of hulp om enige van bogenoemde vergrype te pleeg.
  • Wetgewing wat van toepassing is op stads- of grondgebruikbeplanning wat in ’n munisipale gebied van krag is.
  • Padverkeers- of padvervoerwetgewing wat in ’n munisipale gebied van krag is. Voorbeelde hiervan sluit die Nasionale Padverkeerswet,73 Stedelike Vervoerwet,74 die Verkeerswet,75 die Nasionale Verkeersregulasies,76 die Oorgrenspadvervoerwet77, en dan ook nog munisipale verordeninge en provinsiale regulasies in.
  • Artikel 7 van die Wet op die Beheer van Tabakprodukte.78 Dit gee aan wetstoepassers die gesag om regulasies af te dwing wat deur die Minister kragtens die wet afgekondig word (dit is grotendeels die verbod op rook op sekere openbare plekke), die verbod op die advertering en verkoop van sekere tabakprodukte,79 en die verkoop of verskaffing van tabakprodukte aan persone onder die ouderdom van 16 jaar,80 en dit gee aan wetstoepassers die bevoegdheid om enige perseel te betree waarop daar redelikerwys vermoed word ’n muntoutomaat te wees wat gebruik word om tabakprodukte te verkoop, ten einde te bepaal of die wet nagekom word.81

Die magte van munisipale wetstoepassingsbeamptes word in Kolom 4 van die Skedule vervat. Dit sluit in:

  • Die uitreiking van skriftelike kennisgewings ingevolge artikel 341 van die Strafproseswet ten opsigte van die oortreding van enige verordening of regulasie wat deur of vir ’n plaaslike owerheid gemaak is (dit staan in die algemeen bekend as afkoopboetes), en dan ook sekere voertuigverwante oortredings.82
  • Die uitreiking van skriftelike kennisgewings ingevolge artikel 56 van die Strafproseswet. Dit is ’n kennisgewing wat die oortreder aansê om op ’n voorgeskrewe datum en tyd in die hof te verskyn ten einde te antwoord op ’n aanklag wat in die kennisgewing omskryf is. Die kennisgewing gee ook aan die oortreder die geleentheid om ’n erkenning van skuld te betaal.83
  • Die magte wat aan ’n vredesbeampte toegeken word om enige persoon sonder ’n lasbrief in hegtenis te neem
    • wat ’n misdaad in sy of haar teenwoordigheid pleeg84
    • wat redelikerwys vermoed word ’n misdaad te gepleeg het wat in Bylae 1 tot die Strafproseswet genoem word, behalwe die oortreding van ontsnapping uit wettige bewaring85
    • wat uit wettige bewaring ontsnap het of poog om te ontsnap86
    • wat in besit is van enige werktuig of voorwerp waar daar ’n redelike vermoede is dat dit gebruik is of kan word om huisbraak te pleeg, of om onwettig toegang tot ’n motorvoertuig te verkry en waar die besitter nie in staat is om ’n bevredigende verduideliking vir sodanige besit te gee nie87
    • wat in besit is van vermoedelik gesteelde eiendom88
    • wat gedurende die nag by enige plek gevind word onder omstandighede wat redelike gronde verskaf vir ’n vermoede dat ’n misdaad gepleeg is of gaan word89
    • wat redelikerwys vermoed word ’n oortreding te pleeg of gepleeg het ingevolge enige wet wat die verskaffing, besit of vervoer van bedwelmende drank of afhanklikheidsvormende dwelms, of die besit of wegdoening van vuurwapens reguleer90
    • wat wetstoepassers doelbewus in die uitvoering van hul pligte belemmer.91
  • Die bevoegdheid om die naam en adres te vereis van persone wat hy of sy bevoeg is om te arresteer, wat vermoedelik ’n misdaad gepleeg het of gepoog het om te pleeg of wat, na die mening van die vredesbeampte, getuienis kan lewer ten aansien van die pleging van ’n misdaad of ’n poging daartoe en om so ’n persoon sonder lasbrief in hegtenis te neem indien hy of sy sou weier om ’n naam en adres te verskaf, of indien dit vermoedelik vals is.92
  • Die uitvoering van lasbriewe vir arrestasie.93

Die mees betekenisvolle uitbreidings van die magte van munisipale wetstoepassers is dat die beperkinge op hul arrestasiebevoegdhede wat voorheen ten opsigte van oortredings ingevolge verordeninge, die Wet op Besighede en die Wet op Beroepsgesondheid en –veiligheid gegeld het, opgehef is.94 Voorts is die wetstoepassingsfunksie ten opsigte van die volgende wette bykomend aan hulle toegewys:

  • Wet op Beheer van Toegang tot Openbare Persele en Voertuie.
  • Die Algemene Wysigingswette.
  • Wysigingswet op Strafaangeleenthede.
  • Padverkeers- of padvervoerwetgewing wat in die onderskeie munisipale gebiede van toepassing kan wees.95
  • Wet op die Beheer van Tabakprodukte.
  • Wetgewing wat van toepassing is op stads- of grondgebruikbeplanning wat in ’n munisipale gebied van krag is.

Waar wetstoepassers se arrestasiebevoegdhede voor die inwerkingtreding van R1114 hoofsaaklik tot oortredings ingevolge Bylae 1 tot die Strafproseswet beperk was, is dit nou uitgebrei om oortredings van bogenoemde wette en verordeninge in te sluit.

 

6. Die risiko

In metro’s en groter munisipaliteite sal heelwat van die bevoegdhede deur spesialisamptenare uitgeoefen word. Bou- en beplanningsverwante aangeleenthede, masjinerie- en beroepsveiligheid en padverkeer is voorbeelde hiervan, maar by die oorgrote meerderheid plaaslike owerhede bestaan so ’n luukse nie, en sal dit die taak van wetstoepassingsbeamptes wees. Die uitgebreide bevoegdhede wat aan munisipale wetstoepassingsbeamptes opgedra is ingevolge GK R1114, veral dié ten opsigte van arrestasie sonder ’n lasbrief en die magtiging om wetgewing toe te pas waaroor hulle voorheen geen jurisdiksie (en dus ook geen opleiding) gehad het nie, stel werkgewers aan groter risiko’s bloot as wat voorheen die geval was. In 2015 byvoorbeeld is siviele eise ter waarde van R14 miljard (16 000 nuwe eise) teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens ingestel, waarvan die oorgrote meerderheid weens onregmatige arrestasies en die mishandeling van verdagtes en aangehoudenes ten tye van of ná arrestasie was.96 Dit laat die volgende vrae ontstaan:

  • Is die opleiding wat tans aan wetstoepassingsbeamptes gebied word, voldoende om die kriterium van “opleiding wat die aansoeker ondergaan het ten opsigte van die magte wat uitgeoefen mag word” te bevredig?
  • Behoort die bevoegdhede van wetstoepassers wat reeds in diens is, beperk te word tot daardie aspekte waarvoor hulle “bevoeg” verklaar is vóór die inwerkingtreding van GK R1114?

 

7. Opleiding en aanstelling van munisipale wetstoepassers

Een van die kriteria wat deur die Kommissaris van Polisie oorweeg moet word wanneer daar oor die uitreiking van bevoegdheidsertifikate aan wetstoepassers besin word, is die opleiding wat die aansoeker ondergaan het ten opsigte van die magte wat uitgeoefen mag word.97 Die praktyk is dat die aansoek vergesel moet wees van ’n sertifikaat deur ’n voorafgoedgekeurde opleidingsinstelling wat bevestig dat die nodige opleiding deurloop en suksesvol voltooi is.

Hierdie opleidingsinstellings val hoofsaaklik in drie kategorieë, naamlik verkeersopleidingskolleges wat deur die Minister van Vervoer ingevolge die Nasionale Padverkeerswet goedgekeur is,98 hoëronderwysinstellings en private diensverskaffers. Die kursus wat deur die kolleges en die private instansies aangebied word, is SAQA ID No. 377224 “Demonstrate an understanding of the role and functions of a Peace Officer and Traffic Warden” wat by die SASSETA geregistreer is. Hierdie eenheidstandaard99 is in 2012 en 2015 geregistreer, en die herregistrasie daarvan het op 1 Julie 2018 in werking getree – dus voor die inwerkingtreding van GK R1114. Instellings van hoër onderwys word by die Departement van Hoër Onderwys geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys.100 Dieselfde wet het die kwaliteitsliggaam vir hoër opvoeding (ETQA) tot stand gebring, en kort leerprogramme word dienooreenkomstig deur universiteite aangebied. Een hiervan is ’n kursus getiteld “Wetstoepassing deur Vredesbeamptes” wat deur die Nelson Mandela Universiteit aangebied word en deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens goedgekeur is as synde voldoende vir die uitreiking van ’n bevoegdheidsertifikaat.101 Al bostaande kursusse word oor ’n periode van vyf dae aangebied, met die moontlikheid om bykomende opleiding aan die Nelson Mandela Universiteit te deurloop. Hierdie opleiding is op sekere beroepsklasse soos bou-inspekteurs, brandweerbeamptes en munisipale gesondheidsbeamptes gerig.

In teenstelling hiermee word polisiebeamptes oor ’n tydperk van 20 maande opgelei, waarvan agt maande intensiewe opleiding by ’n aangewese polisie-akademie is.102 Die Polisiewet103 bevat voorts ook verskeie bepalings wat oor die voortgesette opleiding van polisielede handel.104

Die opleiding van verkeersbeamptes duur een jaar.105 Op 29 Oktober 2018 het die Minister van Vervoer die nuwe leerplan vir die opleiding van verkeersbeamptes goedgekeur.106 Hiervolgens strek die opleiding oor drie jaar, met ingang 1 November 2018. Die leerplan vir verkeersbeamptes maak nie vir wetstoepassing van verordeninge voorsiening nie,107 alhoewel dit een van hul funksies is.

Die minimumvereiste vir aanstelling in enige metropolisiediens is verkeersbeampte-opleiding108 plus 10 weke verdere opleiding,109 wat aan die standaarde moet voldoen wat deur die Nasionale Kommissaris van Polisie vasgestel is.110 Die kommissaris het ook oorsigbevoegdhede ten opsigte van die opleiding wat metropolisiebeamptes moet deurloop.111

Voorgaande vier paragrawe, gelees met die uitgebreide bevoegdhede van munisipale wetstoepassers, dui op ’n onomwonde “nee” ten opsigte van die eerste vraag wat in paragraaf 6 gestel is. Die opleiding wat wetstoepassers ondergaan ten opsigte van die magte wat hulle mag uitoefen, is nie voldoende om die vereistes van regulasie b(iii) van GK R1114 in so ’n mate te bevredig dat die Kommissaris van Polisie met ’n geruste hart bevoegdheidsertifikate kan uitreik nie. Die antwoord op die tweede vraag wat in paragraaf 6 gestel word, moet in die lig van die voorgaande bespreking óók noodwendig “nee” wees. Wetstoepassers moet by wyse van beleid nie toegelaat word om die uitgebreide magte wat deur GK R1114 verleen word, uit te oefen tot tyd en wyl hulle verdere opleiding ondergaan het nie.

Dit laat die vraag ontstaan: Wat is voldoende opleiding? Dit val nie binne die omvang van hierdie aantekening om ’n kurrikulum te ontwerp nie, aangesien die doel van die aantekening is om vas te stel of die opleiding wat tans aan munisipale wetstoepassers gebied word, voldoende is om aan die vereistes van die Strafproseswet te voldoen. Bykomend tot die opleiding wat tans aangebied word, is die vermoë om tussen regmatige en onregmatige arrestasies te onderskei en om nie op menseregte inbreuk te maak nie, van uiterste belang. Kennis van die inhoud van die wetgewing wat aan munisipale wetstoepassers toegewys is (in paragraaf 5 gelys), is onontbeerlik. Die opheffing van beperkinge wat bestaan het ten opsigte van arrestasiebevoegdhede in gevalle waar verordeninge oortree word, vereis deeglike oorweging, aangesien daardie wetgewing oor aangeleenthede handel wat van geringe tot ernstige oortredings wissel. Dit bring mee dat wetstoepassers die inhoud van hul verordeninge sal moet ken, asook die aangewese wyse waarop oortredings benader moet word, byvoorbeeld of daar strafregtelik of administratief of siviel opgetree moet word. Die vermoë om behoorlike verklarings af te lê en af te neem, moet ook nie uit die oog verloor word nie. Dit baat nie dat wetstoepassers al hierdie bykomende bevoegdhede het, maar nie in staat is om behoorlike verklarings af te lê nie. Daar kan nie van die polisie verwag word om hierdie bykomende werklas te hanteer nie, aangesien dit ook by daardie instelling ’n probleem is. Hoofregter Mogoeng Mogoeng het selfs al verklaar dat regters bereid sal wees om polisiebeamptes te leer om “proper police statements” te skryf en het hierdie onvermoë geïdentifiseer as ’n faktor wat die regspleging belemmer.112

 

8. Quo vadis?

Ten einde te verseker dat wetstoepassers bevoeg is om hul magte uit te oefen en hul blootstelling aan siviele eise te beperk, moet rekenpligtige beamptes van munisipaliteite die wetstoepassingsbevoegdhede van amptenare beperk tot dit waarvoor hulle opgelei is, tot tyd en wyl hulle verdere opleiding ondergaan het. Die Stelselswet113 bepaal dat munisipaliteite hul menslikehulpbronvermoëns moet ontwikkel tot op ’n vlak wat hulle in staat stel om hul funksies en magte ekonomies, doeltreffend en verantwoordbaar uit te oefen. “Doeltreffend en verantwoordbaar” is die sleutelwoorde in hierdie konteks. Munisipaliteite mag vir hierdie doel begroot,114 en ook by die relevante SETA om befondsing vir opleiding aansoek doen.115

Daar word verder voorgestel dat die Minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling ’n taakspan saamstel om, in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens, ’n leerplan of standaard te ontwikkel vir die opleiding wat munisipale wetstoepassers moet deurloop. Gesien in die lig van die feit dat die magte en bevoegdhede van munisipale wetstoepassingsbeamptes so drasties uitgebrei is, behoort die Polisiewet gewysig te word om voorsiening daarvoor te maak dat die Nasionale Kommissaris, soos in die geval van munisipale polisiebeamptes, nasionale standaarde vir die opleiding van munisipale wetstoepassingsbeamptes kan vasstel.116 Die opleidingstandaarde moet voorts in die Staatskoerant gepubliseer word en magte soortgelyk aan dié in artikels 64 M en N van die Polisiewet moet aan die Minister van Polisie en die Lid van die Provinsiale Uitvoerende Raad toegeken word117 vir gevalle waar van die standaarde afgewyk word. Dit sal munisipale wetstoepassers ook op ’n meer eweredige voet met verkeersbeamptes plaas. Laasgenoemde se leerplanne word in werking gestel deur die Minister van Vervoer by wyse van ’n afkondiging in die Staatskoerant.118

Pragmaties beskou, kan so ’n leerplan stapsgewys ingestel word, en die beamptes wat opleiding ontvang se wetstoepassingsbevoegdhede moet afhanklik gemaak word van die vlakke van opleiding wat voltooi is. Daar behoort ’n behoorlike akkrediteringsproses ingestel te word en bevoegdheidsertifikate behoort uitgereik te word slegs indien die opleiding deur geakkrediteerde instellings aangebied is.

 

Bibliografie

Bekink, B. 2006. Principles of South African Local Government Law. Durban: LexisNexis.

Community Law Centre, University of the Western Cape (June 2007). Developmental local government: Determining appropriate functions and powers. https://dullahomarinstitute.org.za/multilevel-govt/publications/de-visser-and-may-determining-appropriate-powers.pdf 9 (9 November 2018 geraadpleeg).

De Visser, J. 2005. Developmental local government – a case study of South Africa. Antwerpen: Intersentia.

Evans, S. 2018. Mogoeng's conundrum: How to unclog the court system. 23 November. https://www.news24.com/Analysis/analysis-mogoengs-conundrum-how-to-unclog-the-court-system-20181123 (5 Februarie 2019 geraadpleeg).

Eyewitness News. 2016. SAPS racked up staggering R14 billion in civil claims in last financial year. https://ewn.co.za/2017/04/20/saps-racked-up-staggering-r14b-in-civil-claims-in-last-financial-year (20 November 2018 geraadpleeg).

Insurance Chat. Ongedateer. A new approach to the training of Traffic Officers http://www.insurancechat.co.za/2012-02/a-new-approach-to-the-training-of-traffic-officers (20 November 2018 geraadpleeg).

Republiek van Suid-Afrika. Plaaslike regering. https://www.gov.za/about-government/government-system/local-government (5 Februarie 2019 geraadpleeg).

Suid-Afrika, Departement van Hoër Onderwys en Opleiding. sj. Traffic Officer’s Career Information https://www.careerhelp.org.za/content/traffic-officers-career-information (20 November 2018 geraadpleeg).

Suid-Afrikaanse Polisiediens. 2018. Media Statement from National Media Centre. 22 Mei. https://www.saps.gov.za/newsroom/selnewsdetails.php?nid=15815 (20 November 2018 geraadpleeg).

 

Eindnotas

1 Grondwet art. 151.

2 Grondwet art. 151(2).

3 Grondwet art. 151(3).

4 Grondwet art. 151(4).

5 Plaaslike regering: Munisipale Strukturewet (Strukturewet) 117 van 1998 art. 1.

6 Strukturewet art. 1.

7 Ibid.

8 Grondwet art. 152.

9 Grondwet artt. 156, 229.

10 Grondwet art. 156(1)(a).

11 Grondwet art. 156(1)(b).

12 Strukturewet art. 83.

13 2010 2 SA 554 (HHA).

14 Grondwet art. 156(2).

15 Fedsure Life Assurance vs Greater Johannesburg Transitional Metropolitan Council 1998 12 BCLR 1458 (KH).

16 Plaaslike regering: Munisipale Stelselswet (Stelselswet) 32 van 2000, art. 15.

17 Stelselswet art. 15(2)(b).

18 Stelselswet art. 11.

19 Stelselswet art. 51(c).

20 Strukturewet art. 82(1).

21 Stelselswet art. 55(1)(e). Dit sluit die aanstelling van bestuurders uit wat direk aan die munisipale bestuurder verantwoordbaar is.

22 Stelselswet art. 55(1)(l).

23 Sien Fedsure Life Assurance v Greater Johannesburg Transitional Metropolitan Council 1999 1 SA 374 (KH) parr. 44, 45, asook Maccsand v City of Cape Town (709/10; 746/10) [2011] ZASCA 141 (23 September 2011) par. 22 waar die hof met verwysing na City of Cape Town v Robertson 2005 2 SA 323 (KH) par. 60 verklaar dat ’n munisipaliteit onder die huidige grondwetlike bedeling nie ’n “mere creature of statute, otherwise moribund, save if imbued with power by provincial or national legislation but an organ of state that enjoys ‘original’ and constitutionally entrenched powers, functions, rights and duties that may be qualified or constrained by law and only to the extent the Constitution permits”.

24 Grondwet art. 156(1)(b).

25 Grondwet art. 238(1).

26 De Visser (2005:148); sien ook Community Law Centre (2007) vir verdere toeligting.

27 Persoonlike ervaring. Van die meer as 60 munisipaliteite waarvoor ek verordeninge opgestel het, was Kannaland in die Wes-Kaap (met vyf raadslede) die kleinste, en die Stad Kaapstad (met meer as 200 raadslede) die grootste.

28 Grondwet art. 165.

29 Stelselswet art. 75(1).

30 Stelselswet art. 98(1).

31 Wet op Munisipale Eiendomsbelasting 6 van 2004 art. 6.

32 Grondwet art. 205(3).

33 Grondwet art. 206(7).

34 Wet op die Suid-Afrikaanse Polisiediens (Polisiewet), 68 van 1995 art. 64A(1).

35 In hierdie stadium is dit slegs metropolitaanse munisipaliteite wat aan die vereistes van die Polisiewet kan voldoen.

36 Polisiewet 1995 art 64E(b).

37 Dit is herstruktureer tot die Swartland Verkeers- en Wetstoepassingsdiens ingevolge besluit 7.4 van die Uitvoerende Burgemeesterskomitee, en op 30 Mei deur die Raad goedgekeur vir inwerktreding op 1 Julie 2013.

38 Polisiewet art. 64A, 64C.

39 Inligting per e-pos ontvang van die president van die sg. Institute for Municipal and Public Safety of Southern Africa (IMPS-SA), 14 November 2018.

40 Bekink (2006:235 vn. 105).

41 Bekink (2006:235).

42 Ibid.

43 Wet 83 van 1998, soos aangehaal deur Bekink (2006:236).

44 Republiek van Suid-Afrika. Plaaslike regering.

45 Strafproseswet 51 van 1977.

46 GK R209 in SK 23134 van 19 Februarie 2002 (R209).

47 GK R1114 in SK 41982 van 19 Oktober 2018.

48 Strafproseswet art. 334(2)(a).

49 Strafproseswet art. 334(3)(a).

50 R1114, reg. (b)(i).

51 R1114, reg. (b)(ii).

52 R1114, reg. (b)(iii).

53 R209.

54 Kolom 3 van die Skedule tot GK R1114.

55 Art. 14 van die Stelselswet, 2000 skep die moontlikheid dat standaardkonsepverordeninge deur die minister wat vir plaaslike regering verantwoordelik is, in die Staatskoerant afgekondig kan word en dat munisipaliteite dit dan kan aanvaar. Dit het egter nie in die praktyk inslag gevind nie.

56 Wet op Besighede 71 van 1991.

57 Ingevolge hierdie bepaling moet persone wat sekere besighede bedryf, in besit wees van ’n lisensie wat deur die munisipaliteit uitgereik is. Die tipes besighede word in items 1, 2 en 3 van Skedule 1 tot die Wet op Besighede gelys. Van die belangrikste is ondernemings wat voedsel aan verbruikers verkoop, bederfbare kos, sekere gesondheids- en vermaaklikheidsgeriewe en die smous van maaltye of bederfbare produkte.

58 Dit is die strafbepaling vir oortreding van art. 2(3) van die Wet op Besighede.

59 Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid 85 van 1993.

60 Dit is omvangryk en sluit in oortredings van artt. 7, 8, 9, 10(1), (2) of (3), 12, 13, 14, 15, 16(1) of (2), 17(1), (2) of (5), 18(3), 19(1), 20(2) of (4), 22, 23, 24(1) of (2), 25, 26, 29(3), 30(2) of (6), 34 of 36; oortredings van, of die versuim om te voldoen aan, kennisgewings ingevolge artt. 17(6), 19(4) of (7), 21(1) of 30(1)(a), (b) of (c) of (3), (4) of (6); oortreding van of die nienakoming van ’n voorwaarde of vrystelling ingevolge art. 40(1); die maak van valse verklarings of die verskaffing van vals inligting; die verhindering van amptenare om hul pligte uit te voer; die versuim om aan redelike versoeke van amptenare gehoor te gee; deur hom- of haarself as ’n inspekteur voor te doen, en nog vele meer, maar die voorafgaande lys word beskou as voldoende om die omvang van wetstoepassers se magte ingevolge hierdie wet te illustreer.

61 Wet op Nasionale Bouregulasies en -standaarde 103 van 1977.

62 Dit sluit in die opsetlike verhindering van brandweerbeamptes om hul pligte na te kom (art. 8(1)), die versuim om ’n opdrag na te kom (art. 14(1)), die weiering of versuim om opdragte binne die gegewe tydperk na te kom (art. 18(2)) en om sonder geldige rede die brandweer te ontbied.

63 Wet op Brandweerdienste 99 van 1987.

64 Ek het min munisipaliteite teëgekom wat nie ’n brandveiligheidsverordening afgekondig het nie, en daardie verordeninge bied die grondslag vir vele oortredings. As voorbeeld kan genoem word dat die boeteskedule wat die oortredings ingevolge die brandveiligheidsverordening van Nelson Mandelabaai (afgekondig in Buitengewone Provinsiale Koerant No. 1803 van 30 Nov. 2007) lys, 12 bladsye beslaan. Behalwe hierdie oortredings inkorporeer die verordeninge ook nog die Suid-Afrikaanse Nasionale Standaarde wat nagekom moet word.

65 Wet op Beheer van Toegang tot Openbare Persele en Voertuie 53 van 1985.

66 Wet op Dwelms en Dwelmhandel 140 van 1992.

67 Derde Algemene Wysigingswet 129 van 1993.

68 Algemene Wysigingswet 62 van 1955.

69 Drankwet 29 van 2003.

70 Nasionale Drankregulasies afgekondig in GK R8040 in SK 26689 van 2004.

71 Wet op Vuurwapenbeheer 60 van 2000.

72 Wysigingswet op Strafaangeleenthede 16 van 2015.

73 Nasionale Padverkeerswet 93 van 1996.

74 Stedelike Vervoerwet 78 van 1977.

75 Verkeerswet 29 van 1989.

76 Nasionale Verkeersregulasies, 2000.

77 Oorgrenspadvervoerwet 4 van 1998.

78 Wet op die Beheer van Tabakprodukte 83 van 1993.

79 Wet op die Beheer van Tabakprodukte art. 3(1).

80 Wet op die Beheer van Tabakprodukte art. 4(1).

81 Wet op die Beheer van Tabakprodukte art. 5(1).

82 Strafproseswet Skedule 3.

83 Die hoofverskil tussen ’n art. 56-kennisgewing en ’n art. 341-kennisgewing is dat die art. 56-kennisgewing nie tot munisipale verordeninge en sekere verkeersverwante oortredings beperk is nie, maar dat dit gebruik kan word om boetes op te lê vir enige oortreding wat deur ’n munisipale wetstoepassingsbeampte afgedwing kan word en waarvoor daar ’n bedrag as erkenning van skuld vasgestel is ingevolge art 56(1)(c) van die Strafproseswet.

84 Strafproseswet art. 40(1)(a).

85 Strafproseswet art. 40(1)(b).

86 Strafproseswet art. 40(1)(c).

87 Strafproseswet art. 40(1)(d).

88 Strafproseswet art. 40(1)(e).

89 Strafproseswet art. 40(1)(f).

90 Strafproseswet art. 40(1)(h).

91 Strafproseswet art. 40(1)(j).

92 Strafproseswet art. 41(1).

93 Strafproseswet art. 44.

94 Vgl. die bewoording van par. (c) in Kolom 4 van Deel 5 van GK R209 in SK 23134 van 19 Februarie 2002 met die bewoording van par. (d) in Kolom 4 van Deel 5 in GK R1114 in SK 41982 van 19 Oktober 2018.

95 Die volgende dien as voorbeelde: die Nasionale Padverkeerswet 93 van 1996, die Nasionale Padverkeersregulasies 2000, die Nasionale Padvervoerwet 5 van 2009, die Oorgrens Padvervoerwet 4 van 1998 en die Padvervoerwet 29 van 1989.

96 Eyewitness News (2016).

97 GK R1114, reg. (b)(iii).

98 Suid-Afrika, Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (ongedateer). Daar is 14 in Suid-Afrika.

99 Op NQF-vlak 4 met agt krediete.

100 Wet op Hoër Onderwys 101 van 1997.

101 Skrywe onder verwysing 11/1/3/1 gedateer 28 Mei 2010.

102 Suid-Afrikaanse Polisiediens (2018).

103 Die Polisiewet van 1995 art. 32 bepaal dat die Nasionale Kommissaris van Polisie moet bepaal watter opleiding polisiebeamptes moet deurloop, en art. 24 bepaal dat die minister regulasies t.o.v. opleiding mag uitvaardig. Sien o.a. GK No 663 in SK 41754, gedateer 6 Julie 2018.

104 Polisiewet artt. 11, 15C, 24, 32, 37 en 48.

105 Die minimumvereiste is die suksesvolle voltooiing van die Further Education and Training Certificate (FETC): Road Traffic Law Enforcement, ID 62289: Insurance Chat (ongedateer).

106 GK No 1184 in SK 42006 gedateer 29 Oktober 2018.

107 Kurrikulumkode 541201000, goedgekeur deur die Kwaliteitsraad vir Handel en Beroepe (Quality Council for Trades and Occupations) en geregistreer as SA Kwalifikasie Identiteitsnommer 97639.

108 Polisiewet art. 64L(1).

109 Telefoniese onderhoud met Andrew Moses, adjunkhoof van die Nelson Mandelabaai Metropolisie op 20 November 2018.

110 Polisiewet art. 64L(1).

111 Polisiewet art. 64L(3).

112 Evans (2018).

113 Stelselswet art. 68.

114 Stelselswet art. 68(2).

115 Stelselswet art. 68(3).

116 Polisiewet art. 64L(1).

117 Dit sluit ingrypings ingevolge artt. 100 en 139 van die Grondwet in.

118 Nasionale Padverkeerswet art. 75 gelees met reg. 2B(3) van die Nasionale Padverkeersregulasies, 2000.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top