.........
Toegepaste taalkunde in Afrikaans (2022) is die eerste boek wat dié linguistiese veld uiteensit met verwysing na die verskeidenheid studieterreine wat deel vorm van die toegepaste taalkunde en dit in verband bring met die Afrikaanse en breër Suid-Afrikaanse konteks. Toegepaste taalkunde is die studieveld wat fokus op hoe taal in regtewêreldkontekste gebruik word.
........

Toegepaste taalkunde in Afrikaans
WAM Carstens & TJ van Dyk (Redakteurs)
Van Schaik
ISBN: 9780627039706
- Kontekstualisering
Toegepaste taalkunde in Afrikaans (2022) is die eerste boek wat dié linguistiese veld uiteensit met verwysing na die verskeidenheid studieterreine wat deel vorm van die toegepaste taalkunde en dit in verband bring met die Afrikaanse en breër Suid-Afrikaanse konteks. Toegepaste taalkunde is die studieveld wat fokus op hoe taal in regtewêreldkontekste gebruik word (Cook 2003:3). Dit sluit die bestudering van taal as kommunikasiemiddel, sosiale praktyk, en taal in konteks in en is ’n praktykgebaseerde benadering tot taalkunde. Die toegepaste taalkunde behels dus die daarstelling van die onderliggende teorieë en modelle wat toegepas kan word om kwessies soos taalonderwys, taalbeplanning, vertaling en meertaligheid in die praktyk te bevorder.
Toegepaste taalkunde het sy wortels in die vroegste van taalkundestudies. Reeds in 1755 het Samuel Johnson sy Dictionary of the English Language, ’n woordeboek wat hy gebruik het om die standaardisering van Engelse spelling te bewerkstellig, gepubliseer. Alhoewel Johnson en ook ander se uitsette as oorsprong vir toegepaste taalkunde dien, het hierdie afdeling van die taalkunde eers werklik in die 20ste eeu tot stand gekom (Schmitt en Celce-Murcia 2013:3–8). Tydens daardie eeu het ’n aantal bewegings posgevat wat aanleiding gegee het tot die vestiging van nuwe beskrywings en pedagogieë in die taalkunde, onder andere veranderinge in die wyses waarop taalverwerwing en taalonderrig benader is (verwys veral na Chomsky 1959, Hymes 1972 en Halliday 1973), asook die inkorporering van sosiale en kulturele faktore in veral fonetiese studies, maar ook leksikonstudies en sintaktiese ondersoeke (Labov 1979; Tarone 1979). Hierdie vernuwende benaderings tot die verband tussen teorie en praktyk het die studieterrein sosiolinguistiek tot stand gebring en daarmee saam die toegepaste taalkunde (verwys na Carstens en Van Dyk 2022 vir ’n volledige uiteensetting van die ontstaan en ontwikkeling van die toegepaste taalkunde).
Alhoewel die toegepaste taalkunde ’n erkende studieveld binne die taalkunde is en daar heelwat gepubliseer is in hierdie verband oor die afgelope 50 jaar, is die oorheersende meerderheid van hierdie publikasies in Engels. Die redakteurs van Toegepaste taalkunde in Afrikaans, Wannie Carstens en Tobie van Dyk, beklemtoon die behoefte aan en nut van ’n Afrikaanse publikasie wat die aard en omvang van toegepaste taalkunde uitlê in die voorwoord van hierdie boek: “Die praktykgerigte en interdissiplinêre aard van toegepaste taalkunde waar die teoretiese kennis en ervaring met die praktyk van twee of meer dissiplines byeengebring word om tot ingeligte besluite oor groter sosiale kwessies (in hierdie geval ‘taal’ en taal-in-onderwys-kwessies in die besonder) te kan kom, is bydraend tot die oorkoepelende doel, naamlik om die diversiteit van ’n meertalige land soos Suid-Afrika te begryp en dit te laat werk.” Die fokus op die toepassing van Afrikaanse taalkundenavorsing as probleemoplossingshulpbron binne die breër meertalige konteks van Suid-Afrika staan dus sentraal tot die konseptualisering en publikasie van hierdie boek.
- Bydrae tot die Afrikaanse Taalkunde
Die sentrale fokus en rigtinggewende navorsingsvraag wat aanleiding gegee het tot die ontwikkeling en publikasie van Toegepaste taalkunde in Afrikaans word in die voorwoord bewoord as: “Wat is toegepaste taalkunde en wat is die praktiese neerslag hiervan in Afrikaans?” Aanvullend, en met die oog op die doel wat die redakteurs in die voorwoord stel, kan die breër konteks van Afrikaans in ’n meertalige Suid-Afrika bygelees word.
Hierdie publikasie is nie die eerste wat handel oor die toegepaste taalkunde in Afrikaans nie. Dit word voorafgegaan deur akademiese artikels soos die 2017-publikasie van Albert Weideman in Tydskrif vir Geesteswetenskappe, “Is die toegepaste taalkunde ’n onderdeel van die linguistiek?” en vele ander. Reeds in 1974 lewer VN Webb ’n kongresbydrae getitel “Die Afrikaanse taalkunde: ’n middel tot ’n doel?” by ’n simposium oor die toegepaste taalkunde by die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (vandag Universiteit van Johannesburg). Toegepaste taalkunde is dus nie ’n nuwe veld vir Afrikaanse taalkundiges nie en die praktyke, kontekste en kwessies waarin toegepaste taalkundige benaderings ter sake kom in Afrikaans het veral ná 1994 in akademiese publikasies aan bod gekom. Temas soos taalbeleid, taalonderrig, taalverwerwing, taal en identiteit en taalpolitiek, naas vertaling, tolking en teksredigering is veral op die voorgrond.
Die Digitale Bibliografie van Afrikaanse Taalkunde (DBAT) bevat tans meer as 2 000 inskrywings wat handel oor aspekte van toegepaste taalkunde, insluitend tolking, vertaling, taalpolitiek, taalbeplanning en taalonderrig (NWU 2022). Die publikasies van outeurs soos Charl Wolhuter oor taalonderrig en taalgebruik in die klaskamer, Albert Weideman oor akademiese geletterdheid, assessering en eksaminering, en Tom McLachlan en Michael le Cordeur oor taalbeplanning en -beleid bevestig dat die Afrikaanse taalkundetradisie nie onvertroud is met die praktiese toepassing van taalkundenavorsing in regtewêreldkontekste nie en ook nie oningelig is oor wat die subdissiplines van toegepaste taalkunde behels nie.

African SUN Media
In die laaste dekade het ’n aantal boeke wat bepaalde temas in die Afrikaanse konteks binne die toegepaste taalkunde breedvoerig aanspreek, die lig gesien, onder meer: Carstens en Van de Poel se 2010-publikasie wat hersien is in 2012, Teksredaksie, wat dien as ’n handleiding vir die opleiding van teksredakteurs in Afrikaans en breedvoerige beskrywings van tekslinguistiek as dissipline insluit; en Eleanor Cornelius se Gewone taal: ’n oorsig wat in 2020 die lig gesien het en dien as riglyn vir meer inklusiewe, deursigtige en toeganklike taal in regskontekste in Afrikaans.

https://www.litnet.co.za/gewone-taal-asseblief-sodat-kwesbares-ook-verstaan/
Alhoewel hierdie twee publikasies nie die enigste of belangrikste publikasies is nie, kan hulle wel uitgesonder word, omdat dit subdissiplines van die toegepaste taalkunde in Afrikaans omskryf en uitbou sodat daar praktiese riglyne gebied word vir die toepassing van die teoretiese inhoud in die praktyk. Taalgebruik as medium van teks en in regskontekste kom dus onderskeidelik in elkeen van hierdie publikasies aan bod met ’n fokus op die probleme wat in hierdie velde ervaar word in die konteks van ’n meerkulturele en meertalige Suid-Afrika, moontlike oplossings en die teoretiese begronding daarvan, en volledige uiteensettings van hoe hierdie oplossings toegepas kan word. Beide publikasies vestig dus nie net die dissipline nie, maar is veral waardevol omdat hul riglyne gee wat ondersteuning in praktiese kontekste bied.
Toegepaste taalkunde in Afrikaans is wel enig in sy soort omdat dit die enigste publikasie in Afrikaans is wat toegepaste taalkunde asook die verskeie subdissiplines daarvan uiteensit en omskryf, eerder as om net op ’n enkele dissipline te fokus. Dié publikasie bied dus ’n vertrekpunt vir navorsers, dosente en studente wat onvertroud is met toegepaste taalkunde as veld of ’n bepaalde subdissipline daarvan en behoefte het aan oorsigtelike en sistematiese uiteensettings daarvan. Die voordeel van die boek is dat dit as vertrekpunt dien vir die uitbou van subdissiplines soos taalsosiologie of taalbeplanning op ’n soortgelyke wyse as dié waarop regstaal deur Cornelius uitgebou is. Die waarde van hierdie publikasie lê dus nie net daarin dat dit die eerste publikasie is wat poog om al die moontlike subdissiplines van toegepaste taalkunde op ’n bondige wyse aan te bied in ’n enkele publikasie nie, maar dat die bondigheid van die besprekings en die breë omvang van die publikasie in sy geheel ’n geleentheid skep vir kundiges om leemtes in die bestaande navorsing te identifiseer en subdissiplines uit te bou.
Die boek open met die daarstelling van die historiese ontwikkeling van die veld, ’n bepeinsing oor die insluiting daarvan by die breër studieterrein linguistiek, en die navorsingsbenaderings en metodologieë wat aangewend word in die toegepaste taalkunde, waarna drie navorsingsvelde of praktykgesentreerde kontekste waarin die toegepaste taalkunde gebruik kan word, naamlik taal en onderrig, taal en gemeenskap, en taalpraktyk, uiteengesit word. Hiernaas word daar ook ’n afdeling oor verwante dissiplines soos forensiese linguistiek, stilistiek en psigolinguistiek ingesluit.
Hierdie publikasie is van besondere nut vir die onderrig van toegepastetaalkundedissiplines op tersiêre vlak, omdat dit die essensie van die veld asook die verskeie subdissiplines uiteensit. Die tematiese indeling van die inhoud volgens taal en onderrig, taal en gemeenskap, en taalpraktyk maak die inhoud ook toeganklik vir diegene wat dit vir ’n spesifieke doel en met ’n spesifieke belangstellingsveld in gedagte aankoop. Te meer is hierdie publikasie ’n eerste vir Afrikaans omdat dit nie net aanlyn op Van Schaik se webtuiste in digitale formaat aangekoop kan word nie, maar elke hoofstuk individueel aangekoop kan word, sodat die leser kan kies wat vir hulle van belang is. Hierdie model is nog nie vantevore vir ’n Afrikaanse publikasie gebruik nie en beklemtoon dat die belange van die lesers vooropgestel is tydens die konseptualisering van die publikasie.
In ’n onderhoud met Ina Strydom op Taaldinge (RSG 2022) asook tydens die bekendstelling van Toegepaste taalkunde in Afrikaans in Brooklyn op 20 Februarie 2023 meld Carstens dat die Afrikaanse studentemark toenemend pryssensitief is en dat studente daarom dikwels nie ’n boek nuut aankoop nie, maar eerder tweedehands aanskaf of slegs leen vir gebruik. Studente argumenteer dan ook dikwels dat hul nie onnodiglik ’n boek wil aankoop wanneer slegs een hoofstuk relevant is vir hul studies nie. Die redakteurs van Toegepaste taalkunde het hierdie besware ter harte geneem en daarom, in samewerking met Van Schaik, ’n model gekonseptualiseer wat lesers toelaat om elke hoofstuk afsonderlik aan te koop in ’n e-formaat en sodoende die totale koste van toegang tot die inhoud te verlaag.
Soos genoem, lê hierdie publikasie se waarde nie slegs in die inhoud wat aangebied word nie, maar ook in die geleentheid wat dit skep vir verdere navorsing en publikasies. Twee potensiële moontlikhede wat na vore kom, het met die volgende vrae te doen:
(i) Kan ’n hiërargiese of taksonomiese uiteensetting van die verhouding tussen subdissiplines miskien daargestel word? Hoofstuk 1 bied ’n besonder nuttige uiteensetting van die navorsingsterreine, navorsingsinstrumente en organisasies, verenigings en akademiese tydskrifte wat van belang is vir die toegepaste taalkunde. In hoofstuk 2 word hierdie uiteensetting verder aangevul met ’n beskrywing van die sewe opeenvolgende tradisies binne die toegepaste taalkunde, terwyl hoofstuk 3 gewy word aan die verskeie navorsingsbenaderings in die toegepaste taalkunde. Tog ontbreek daar vir my as leser ’n geheelbeeld van hoe die verskillende benaderings, soos kurrikulumontwerp of taalpolitiek, in verband gebring kan word met teksredigering en vertaalkunde. Daar kan onder meer besin word oor of ’n dissipline soos toegepaste sosiolinguistiek nie sentraal staan tot die basiese beginsels van toegepaste taalkunde nie en daarom geïntegreer kan word in die besprekings wat die afdeling oor taal en onderrig voorafgaan, eerder as om ingedeel te word as ’n verwante dissipline, óf oor die mate waartoe tekslinguistiek geïntegreer is in teksredigering of onder taalpraktyk ingesluit kan word. Dat die dissiplines wat in die boek aangebied word, tot ’n meerdere of mindere mate met mekaar verband hou en daar interdissiplinêr gewerk kan word, kom duidelik uit die perspektief en struktuur van die publikasie na vore, maar ’n eksplisiete daarstelling van die taksonomiese verhouding tussen die subdissiplines sou ’n waardevolle bydrae tot dié publikasie kon wees en bied verskeie moontlike navorsingsgeleenthede vir ander kundiges op die gebied.
(ii) Kan daar dalk oor die verhouding tussen teoretiese raamwerke en metodologieë besin word? Die aard en doel van die boek is, soos reeds genoem, om te bepaal wat toegepaste taalkunde is en hoe dit prakties deurslag in Afrikaans in ’n meertalige konteks vind. Hierdie doel vereis dus nie ’n onderskeid tussen teoretiese raamwerk en metodologie nie, maar eerder om erkenning te gee aan soveel subdissiplines as moontlik, daarom die afdeling oor verwante dissiplines. Hierdie afdeling is een van die nuttigstes in die publikasie, omdat sommige van hierdie dissiplines minder bekend is en nog nie veel aan bod gekom het in taalkundenavorsingspublikasies nie. Dit is egter opvallend dat sommige van die hoofstukke in hierdie afdeling teoretiese raamwerke daarstel, soos in die geval van psigolinguistiek en kognitiewe linguistiek, terwyl ander hoofstukke besprekings bied van dissiplines wat dikwels eerder as metode van ondersoek dien, soos korpuslinguistiek.
Die indeling in 38 hoofstukke wat die pennevrug van meer as 55 kundiges is, is egter nie ’n ongekompliseerde of klein taak nie. In lig hiervan moet die redakteurs en medewerkers op die skouer geklop word vir die kohesiewe en afgeronde geheel wat die boek en elke hoofstuk afsonderlik vorm. Carstens en Van Dyk kry dit reg om ’n besonderse teks saam te stel wat nie net in die geheel sinvol is nie, maar waarvan elke afsonderlike hoofstuk waardevol is uit eie reg. Sommige hoofstukke sluit dan ook subdissiplines of verwante dissiplines in wat nog nie vantevore in ’n boek van hierdie aard ingesluit is nie, en sodoende word navorsers, dosente en studente blootgestel aan dissiplines wat minder bekend is in die Afrikaanse taalkundenavorsingstradisie, maar wel relevant is in die breër meertalige konteks waarin Afrikaans gebesig word. Die hoofstuk oor psigolinguistiek kan as voorbeeld hiervan geneem word: Alhoewel dit moontlik is dat Afrikaans by breër psigolinguistiese studies betrek word, kom slegs vier inskrywings wat psigolinguistiese navorsing oor en in Afrikaans bevat, in DBAT voor. Deur die essensie van hierdie dissipline in Toegepaste taalkunde in Afrikaans weer te gee, skep die redakteurs van dié publikasie ’n scenario waar hierdie dissipline meer toeganklik gemaak word vir huidige en toekomstige taalkundiges om voortaan meer Afrikaanse navorsing in hierdie veld aan te pak.
- Samevatting
As publikasie is Toegepaste taalkunde in Afrikaans nie net belangrik vir navorsers en akademici wat in taalkunde spesialiseer nie, maar dit het ook ’n praktiese waarde vir die breër gemeenskap van taalgebruikers in Suid-Afrika. Deur bevordering van ’n toegepaste benadering tot taalkunde kan die uitdagings rondom taal in Suid-Afrika op ’n effektiewe en praktiese manier aangepak word.
.........
Hierdie boek is dus ’n waardevolle hulpbron vir taalpraktisyns, taalonderwysers, beleidmakers en enigiemand wat belangstel om taal aan te wend om probleme in die meertalige konteks van Suid-Afrika op ’n praktiese manier aan te pak.
.............
Hierdie boek is dus ’n waardevolle hulpbron vir taalpraktisyns, taalonderwysers, beleidmakers en enigiemand wat belangstel om taal aan te wend om probleme in die meertalige konteks van Suid-Afrika op ’n praktiese manier aan te pak.
Die publikasie is ook ’n belangrike bydrae tot die studieveld van Afrikaanse taalkunde, aangesien dit die eerste boek is wat die konsep van toegepaste taalkunde in verband bring met die Afrikaanse en breër Suid-Afrikaanse konteks, toegepaste taalkunde as konsep uiteensit, en die verskeie subdissiplines daarvan saamvat.
.........
Hierdie publikasie sal bydra tot die ontwikkeling en bevordering van die Afrikaanse taal as deel van Suid-Afrika se meertalige erfenis, maar kan ook dien as vertrekpunt vir toekomstige navorsing en die uitbou van die subdissiplines wat daarin vervat is.
..........
Hierdie publikasie sal bydra tot die ontwikkeling en bevordering van die Afrikaanse taal as deel van Suid-Afrika se meertalige erfenis, maar kan ook dien as vertrekpunt vir toekomstige navorsing en die uitbou van die subdissiplines wat daarin vervat is. Toegepaste taalkunde in Afrikaans lewer dus ’n waardevolle bydrae tot die bestaande korps publikasies wat op toegepaste taalkunde in Afrikaans geskoei is.
Dit is enig in sy soort, nie net inhoudelik nie, maar ook as eksperimentele publikasie met betrekking tot die digitale beskikbaarheid daarvan en die aankoop van individuele hoofstukke eerder as die publikasie in sy geheel. Hierdie boek berei die weg voor vir vele ander wat ook van hierdie publikasiemodel gebruik kan maak, en skep ’n vertrekpunt waarvandaan vernuwende en aktuele taalkundenavorsing in toegepaste taalkunde in Afrikaans onderneem kan word.
Bibliografie
Carstens, WAM en TJ van Dyk (reds). 2022. Toegepaste taalkunde in Afrikaans. Pretoria: Van Schaik.
Carstens, WAM en K van de Poel. 2012. Teksredaksie. Kaapstad: African SUN Media.
Cook, G. 2003. Applied linguistics. Oxford: Oxford University Press.
Cornelius, E. 2020. Gewone taal: ‘n Oorsig. Kaapstad: African SUN Media.
NWU (Noordwes-Universiteit. 2022. Digitale Bibliografie van Afrikaans. https://collections.nwu.ac.za/dbtw-wpd/textbases/bibliografie-afrikaans/dbat.html (11 Maart 2023 geraadpleeg).
RSG (Radio sonder grense. 2022. Taaldinge. https://www.rsg.co.za/rsg/omny/taaldinge-26-februarie-2023 (11 Maart 2023 geraadpleeg).
Schmitt, N. (red). 2013. An introduction to applied linguistics. London: Routledge.
Schmitt, N en M Celce-Murcia. 2013. An overview of applied linguistics. In Schmitt (red) 2013.
- Roné Wierenga, Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA)
Lees ook:
Afrikaans se digitale toekoms: ’n onderhoud met Wannie Carstens en Roné Wierenga
Elders gesien: As akademikus probeer ’n mens altyd ’n sinvolle bydrae maak
Stephanus Muller praat met Lizabé Lambrechts, uitvoerende bestuurder van Nuuseum
Die digitalisering van NALN se knipselversameling: jongste verslag
NALN word 50! Mylpaal en LitNet Akademies-NALN aanlyn katalogus
Lewende, gesaghebbende digitale biblioteek vir Afrikaanse letterkunde
Openingstoespraak: tentoonstelling Ingrid Jonker ‒ Literatuurmuseum, Den Haag
“Wat gestolen is, zal terug moeten gaan” – Wat te doen met koloniale roofkunst?
Persbericht: Archieven Surinaams-Nederlands slavernijverleden binnenkort digitaal te raadplegen

