Eleanor Cornelius se Gewone taal: ’n Oorsig het vroeër vanjaar by African Sun Media verskyn. Die boek betrek skryf- en leesprobleme op woord-, sins- en teksvlak. Dit fokus merendeels, maar nie uitsluitlik nie, op regstekste, omdat hierdie tekstipes berug is vir hul ontoeganklikheid en ondeursigtigheid, veral vir niespesialislesers. Gewone taal: ’n Oorsig het dit ten doel om gewone mense te bemagtig en sodoende hulle basiese reg op toegang tot inligting te verwesenlik. Amanda Marais het met Eleanor gesels.
..........
Eleanor, wat presies is gewone taal? En waar kom hierdie begrip vandaan – internasionaal en dan ook in Suid-Afrika?
Kom ek begin met die tweede gedeelte van die vraag.
Hoewel daar maklik gedink kan word dat gewone taal ’n moderne verskynsel in die inligtingsera is, is daar alreeds in die orale kulture van die Grieke en die Romeine oproepe gedoen vir die gebruik van taal wat verstaanbaar is. In die meer moderne geskiedenis word alom aanvaar dat gewone taal in 1953 pertinent in die kollig gekom het toe Stuart Chase die “goobledygook” wat in tekste gebruik word, in sy boek The power of words sterk gekritiseer het. In die tweede helfte van die 20ste eeu, veral vanaf 1960, het die sogenaamde gewonetaalbeweging wêreldwyd in plekke soos die VSA, Kanada, Brittanje, Australië, Nieu-Seeland, Europa, Indië, Singapoer en Hongkong vlam gevat.
Suid-Afrika het eers bykans drie dekades later tot hierdie beweging toegetree, toe die land in 1994 ’n demokrasie geword het. Voor 1994 was gewone taal nie ’n prioriteit in byvoorbeeld regspleging, die gesondheidsorgsektor of die finansiëledienstesektor nie. Die Grondwet en die demokratiese ideale daarvan het ’n teelaarde geskep vir die herevaluering van die regering se taalbeleid en die wyse waarop daar met kwesbare landsburgers gekommunikeer word. Ander belangrike wetgewing wat net voor die Grondwet in werking getree het, is reeds ooreenkomstig gewonetaalbeginsels opgestel. Ek dink hier aan die Wet op Arbeidsverhoudinge. Internasionale kundiges het die Grondwetlike Vergadering van advies bedien oor die bewoording van die finale Grondwet, wat ook in veel meer toeganklike taal geskryf is as wat gewoonlik in wetgewing die geval is, of was. Mag ek net noem dat Suid-Afrika se omskrywing van gewone taal in die Nasionale Kredietwet van 2005 en die Wet op Verbruikersbeskerming van 2008 wyd geloof word – veral internasionaal – vir die omvattendheid daarvan.
Goed, wat is gewone taal dan? Daar is ’n magdom omskrywings daarvan, maar as ek dit kortliks moet saamvat, is gewone taal duidelike en helder taal wat min kognitiewe inspanning van die leser (of hoorder) vereis en wat dadelik verstaanbaar is by die eerste lees (of aanhoor) daarvan. Dit neem die opvoedingspeil en ervaring van die leser (of hoorder) te alle tye in ag.
Vertel vir ons hoe werk gewone taal. Is dit net makliker en eenvoudiger woorde wat ingespan word, of word ander vlakke van taal ook betrek? Kan jy dalk ook vir ons voorbeelde gee van gewone taal in aksie?
Gewone taal werk op alle taalvlakke: woordvlak, sinsvlak, teksvlak en tipografiese vlak. Van hier af aan fokus ek op geskrewe tekste in my antwoorde.
Ek begin met woorde. Natuurlik is die gebruik van kernwoordeskat – teenoor randwoordeskat – ’n belangrike vereiste. Dit hou in dat woorde wat ’n hoër gebruiksfrekwensie het, verkies word bo woorde met ’n laer gebruiksfrekwensie, byvoorbeeld nuttig eerder as dienstig. Tegniese woordeskat (en dit sluit Latynse of vreemdetaalterme in) moet óf vermy word óf verduidelik word. Ek verkies die laasgenoemde opsie, want dit bemagtig die leser vir die toekoms. As die tegniese term vir die leser toeganklik gemaak word, kan sy dit die volgende keer verstaan en self ook gebruik.
Ek het in ’n dokument wat ek herskryf het, die volgende tegniese terme teëgekom:
Enige verslapping, toegewing of tydverlenging wat deur die kredietgewer aan die kredietopnemer toegestaan word, word nie geag ’n novasie of afstanddoening van die kredietgewer se regte ingevolge hierdie gebruiksvoorwaardes uit te maak nie en dit sal ook nie aanleiding gee tot die uitwerking van estoppel teenoor die kredietgewer nie.
Die gebruik van persoonlike voornaamwoorde (ons en u) het my in staat gestel om die laefrekwensiewoorde kredietgewer en kredietopnemer te vermy. Die regsterme novasie en afstanddoening kon ek vermy deur te verduidelik wat dit behels. Ek het ’n meer toeganklike sinoniem vir estoppel gebruik (wanvoorstelling), maar ook ’n omskrywing van estoppel voorsien.
Indien ons enige bepaling van hierdie ooreenkoms verslap, ’n toegewing maak of aan u uitstel gee, beteken dit nie dat ons afstand doen van ons regte ingevolge hierdie ooreenkoms nie. U sal ook nie kan beweer dat u hierdie ooreenkoms gesluit het op grond van ’n wanvoorstelling nie (sien die omskrywing van “estoppel”* in die woordomskrywing op bladsy 5).
* Estoppel is waar ’n lid beweer dat hy/sy ’n ooreenkoms op ’n wanvoorstelling gesluit het, sodoende skade gely het en XXX dan by sodanige wanvoorstelling wil hou.
Op woordvlak moet die gebruik van komplekse voorsetsels en voorsetselgroepe ook vermy word, omdat hulle dikwels vaagheid in die hand werk. Daar is dikwels ’n simplekse voorsetsel soos in of van wat ’n komplekse voorstelgroep kan vervang. In plaas daarvan om ten behoewe van te gebruik, kan gewoon vir gebruik word. Ruimtebeperkings laat my nie toe om woordvlakkwessies verder te hanteer nie.
Op sinsvlak wil ek net kortliks noem dat dit nie net suiwer daaroor gaan om korter sinne te gebruik nie. Dit veroorsaak dikwels dat die samehang van die teks daaronder ly. Sinslengte moet in ag neem word, maar nie in isolasie van sinskompleksiteit nie. Ander sinskwessies wat aandag moet kry, is byvoorbeeld die lang aanlope wat gereeld in regs- en wettekste voorkom, nominaalkonstruksies, die weglaat van betreklike voornaamwoorde in betreklike konstruksies (wat uitermate inspanning kan veroorsaak) en veelvuldige negativering.
Ek gee een voorbeeld van hoe ’n lang én komplekse sin herskryf kan word.
In terme van die kredietgewer se beskermingskema aanvaar die kredietopnemer dat hy teenoor die kredietgewer aanspreeklik sal wees vir enige betalings wat deur die kredietgewer gedoen is of wat die kredietgewer verplig is om te doen ten opsigte van of voortspruitend uit enige gebruik van die kaart voordat die kredietgewer redelikerwys in staat is om op te tree na aanleiding van die kennisgewing of voor ontvangs van die skriftelike bekragtiging soos na verwys in klousule 3.2.
Voordat ek wys hoe ek die sin herskryf het, wil ek net daarop wys dat die teksredigeerder tydens herskrywing nie net aan een taalvlak aandag kan gee nie. Dit is sinloos om die uitermate sinslengte te probeer hanteer sonder om ook aan woordeskat- en ander kwessies aandag te gee. Die teksredigeerder werk dus gelyktydig op veelvuldige vlakke.
U is aanspreeklik vir enige betalings vir transaksies met u kaart totdat u ons skriftelik in kennis stel dat u kaart weggeraak het, gesteel is of ongemagtig gebruik is of word en ons dan in staat is om op te tree.
Dit is vir my moeiliker om hier te demonstreer hoe daar op teksvlak te werk gaan, omdat ruimte beperk is. Ek kan bloot noem dat die teksredigeerder op hierdie vlak – die makrostrukturele teksvlak – daaraan moet dink om inhoudsopgawes en oorsigte (of opsommings) vir langer tekste te voorsien, om ’n woordomskrywingsgedeelte in te sluit, om beskrywende titels en opskrifte te gebruik, om aandag te gee aan die inhoudelike struktuur van paragrawe, om inligting logies te plaas, om voorbeelde te verskaf wat die leser help om ’n abstraktheid te snap, om nommering te gebruik wat eenvoud en helderheid in ’n teks verhoog, om items wat gelys word, vertikaal aan te bied, en om kruisverwysing sover moontlik te vermy.
Wat die tipografiese vlak betref, moet lettertipe, lettergrootte, reëllengte, interlinies (die vertikale afstand tussen reëls), en die gebruik van justering (geblokte teks) en oop ruimte op die bladsy in ag geneem word. Ons moet onthou dat lesers nie net sukkel met ontoeganklike taal nie; die leesbaarheid van ’n teks word ook beïnvloed wanneer té klein letters of lettertipes wat moeilik lees – en dekodering bemoeilik – gebruik word.
Dit is ongelukkig so dat Afrikaans haar hoëfunksietaalstatus in verskeie kontekste grootliks verloor het. Kan gewone taal help om hierdie situasie te verbeter?
Afrikaans is ongelukkig inderdaad haar status as hoëfunksietaal grootliks kwyt. Ons moet wel onthou dat Afrikaans steeds die derde grootste huistaal is wat deur 12,2% van die bevolking gepraat word. 9,7% van die bevolking praat Afrikaans buite die huis. Die taal word in ’n mindere of meerdere mate deur alle bevolkingsgroepe gebruik. Afrikaans word gereeld in die howe gebruik, veral waar getuies en beskuldigdes byvoorbeeld nie Engels (goed) magtig is nie. Hierbenewens is Afrikaans ook ’n gevestigde wetenskapstaal. Ons moet dus nie vergeet of ontken dat Afrikaans tog steeds wyd gebruik word nie.
Hoewel Afrikaans al hoe minder vir hoër funksies gebruik word, kan die gebruik van gewone taal wel ’n groot bydrae lewer tot die verdere wyer gebruik van die taal. Indien daar met Afrikaanssprekendes gekommunikeer word in taal wat hulle geredelik kan verstaan, en konstruksies gebruik word wat nie uitermate kognitiewe inspanning vereis nie, sal al hoe meer mense geneig wees om belangrike dokumente te lees wat hulle lewens en lewenskeuses kan beïnvloed. Dit sal dan meebring dat hulle ingeligte besluite kan neem oor hulle en hulle kinders se lewens, en dalk ook dié van hulle bejaarde ouers; dat hulle meer geneig sal wees om aan demokratiese en politieke prosesse deel te neem; en dat hulle voel dat hulle ingesluit word. Dit is dus belangrik dat mense hulle taalregte moet opeis – taalregte wat in die Grondwet verskans word – en nie bloot aanvaar dat alles in Engels moet wees nie. Afrikaanssprekendes is gelukkig gewoonlik nogal gesteld op hulle taalreg!
Steven Pinker spreek in sy boek The sense of style: The thinking person’s guide to writing in the 21st century skerp kritiek uit teen ontoeganklike taalgebruik, wat hy onder meer “academese”, “bureaucratese” en “legalese” noem. Hy meen dat ontoeganklike taalgebruik dikwels ’n manier is om die feit te verdoesel dat jy nie juis iets te sê het nie: Jy klínk so (onverstaanbaar) geleerd dat niemand dit waag om jou te bevraagteken nie. Dink jy dat gewone taal die teenmiddel vir hierdie probleem van ’n kaal keiser is?
Hierdie vraag hou verband met die kritiek wat gereeld teen die gebruik van gewone taal geopper word. Die kritiek kom gereeld vanuit regsgeledere. Regsgeleerdes staan gereeld daarop dat regstaal is wat dit is, omdat die reg presies en ondubbelsinnig moet wees; derhalwe die noodsaak om tradisionele style en regsjargon te gebruik. My siening hiervan verskil: Die gebruik van gewone taal werk juis vaagheid en ondubbelsinnigheid teë.
Ek sien gereeld in my werk as dosent hoe mense van ontoeganklike taal gebruik maak, en die redes hiervoor is wyd uiteenlopend. Ek ervaar hoe studente van hoër registers in hulle skryfwerk gebruik maak: eerstens omdat hulle glo dat dit is wat van hulle verwag word, maar tweedens – en meer gereeld – omdat hulle self nie seker is van dit wat hulle probeer oordra nie. Dit is moontlik om deur jou verhewe taalgebruik jou eie onkunde te versteek en vaagheid by jou leser te veroorsaak. Gewone taal is duidelik, helder, ondubbelsinnig en verstaanbaar – daar is weinig geleentheid om iets weg te steek.
In my navorsing het ek al kontrakte gesien wat geweldig lank is en klousules bevat wat teenstrydig is. Die rede hiervoor is dat daar dikwels klousules bygevoeg word sonder om bestaande klousules wat dalk uitgedien of verouderd is, te verwyder. Dit is dus duidelik dat sulke kontrakte nié ondubbelsinnig is nie, en die argument oor akkuraatheid, duidelikheid en ondubbelsinnigheid hou dus nie steek nie.
In die literatuur word daar dikwels onderskei tussen leesbaarheid en verstaanbaarheid. Wat is hierdie twee begrippe presies, en hoe kan gewone taal veral verstaanbaarheid aanhelp?
Twee konsepte wat van belang is vir gewone taal is leesbaarheid (Engels: readability) en verstaanbaarheid (Engels: comprehensibility). Ek onderskei soos volg tussen die twee. Ander navorsers mag moontlik met my verskil.
Leesbaarheid het te make met hoe maklik of moeilik dit vir ’n leser is om ’n teks te dekodeer; met ander woorde dit wat lesers gewoonlik met onder-na-bo-prosessering inneem. Die leser kan die letters onderskei en die woorde herken – en probeer om op hierdie manier betekenis van die teks te vorm. Ongesofistikeerde of ondoeltreffende lesers lees gewoonlik so. Hulle neem dít in wat op papier (of die skerm) aan hulle aangebied word, stukkie vir stukkie in. Die leesproses is egter sodanig dat sulke lesers nie die groter prentjie van die teks kan sien nie en dus sukkel om die teks in die geheel te verstaan. Dit herinner aan hoe jong kinders leer lees: Hulle vorm die klanke en volg die teks met die vinger, van een letter na die volgende letter totdat hulle die woord kan herken. Maar dikwels as hulle gevra word wat hulle gelees het, kan hulle nie sê nie, want hulle het al hulle kognitiewe energie vir dekodering gebruik.
Verstaanbaarheid word geassosieer met interpretasie. Prosessering in hierdie geval is van bo na onder. Dit beteken die leser bring haar voorkennis, domeinkennis en verwagtinge na die teks en hierdie kennis word dan in verband gebring met dit wat in die teks aangebied word. Die teks self dra nie betekenis nie, maar die leser lei betekenis uit die teks af. Die leser lees nie woord vir woord nie, maar vinnig en doeltreffend. Sy reageer op wenke in die teks en vorm hipoteses oor wat verder in die teks gaan volg. Bo-na-onder-prosessering kenmerk die leesproses van vaardige en doeltreffende lesers wat die groter prentjie van die teks, en die boodskap wat in die teks oorgedra word, verstaan. Hulle spandeer min kognitiewe energie aan dekodering, wat meer as genoeg hulpbronne beskikbaar laat om betekenis van die teks te vorm.
Teksredigeerders moet van hierdie belangrike onderskeid kennis neem. Die tekste wat hulle redigeer, moet genoegsaam wenke gee wat selfs die ongesofistikeerde lesers se moontlik gebrekkige voorkennis kan aktiveer (deur eksplisiete inligting in die teks aan te bied) – dit kan help met begripsvorming wat nie net op dekodering neerkom nie.
Kan gewone taal help om mense te bemagtig, en indien wel, hoe sal dit gebeur?
Die grootste voordeel van die gebruik van gewone taal is die bemagtiging wat dit meebring. Met gewonetaalgebruik word ’n besondere sosiale agenda nagestreef wat aan alle landsburgers, maar veral ook die kwesbares onder ons, agentskap gee om aktiewe deelnemers te word in sake wat hulle raak, op alle vlakke van die samelewing. Hulle is dus nie passiewe toeskouers op die rand van die samelewing nie. Dit hou in dat hulle ingeligte besluite kan neem oor belangrike aangeleenthede wat hulle lewens regstreeks raak. Ons moet nooit vergeet dat toegang tot inligting ’n basiese mensereg is wat in die Grondwet verskans is nie – ons demokrasie berus daarop.
Vertel ons asseblief hoe jy dink die boek gebruik moet word; met ander woorde, wat sou vir verskillende groepe lesers die beste manier wees om die boek te ontsluit?
Amanda, hoe die leser die boek gaan gebruik, gaan baie afhang van haar doel. Die boek het ’n wye lesersgehoor, wat insluit voor- en nagraadse studente, akademici/navorsers, taalpraktisyns wat in taalkantore in diens is, vryskutters, regspraktisyns, skryfinstrukteurs en skrywers. Uit die aard van die saak sal dit goed wees as die gebruiker die boek van begin tot einde deurlees. Maar ek gee toe: Die boek is lywig en omvattend. Nie almal stel noodwendig belang in die historiese ontwikkeling van die gewonetaalbeweging plaaslik en elders nie, of in die verhouding tussen gewone taal en vertaling nie. Hierdie temas word in die eerste deel van die boek behandel. Die eerste deel van die boek bevat wel ’n nuttige kontrolelys vir gewone taal en ontwerp; dit word in hoofstuk 5 aangebied en gee aan die gebruiker van die boek praktiese leiding hoe om die gewonetaalprojek aan te pak. Dit is ’n onontbeerlike hulpbron wat elke gebruiker wat haar hand aan gewone taal wil waag, móét raadpleeg. Die tweede deel van die boek het ’n sterk teoretiese inslag. In hierdie deel verduidelik ek waarom mense soms leesprobleme ervaar en watter metodes gebruik kan word om tekskwaliteit en leesbaarheid te bepaal. Ek bespreek ook watter probleme op verskillende vlakke kan voorkom: op woord-, sins- en teksvlak (wat tipografie insluit). Indien die gebruiker van die boek nie daarin belangstel om te verstaan watter konstruksies en konvensies vir lekelesers probleme veroorsaak nie, sal sy dit moeilik vind om nie te verval in geykte maniere van skryf nie. Die grootste waarde van die boek is in die baie toepassings wat in die derde deel voorkom. Ek maak gebruik van outentieke tekste, of uittreksels uit tekste, en demonstreer dan aan die hand hiervan hoe die beginsels van gewone taal toegepas kan word: weer op woord-, sins-, teks- en tipografiese vlak. Gebruikers van die boek sou dus reeds baie waarde uit die boek kry as hulle net die laaste deel bestudeer.
Eleanor, waar kom jou belangstelling in gewone taal vandaan – wat was die aanvanklike prikkel wat jou hierdie terrein laat betree het?
As jongmens het ek vir ’n paar jaar as vertaler van regstekste vir die staat gewerk. Ek het min ervaring van hierdie soort tekste gehad en dus maar baie gesukkel met die vertaling daarvan, omdat die taalgebruik in die brontekste so geweldig eiesoortig en vreemd was. My mentor, Tom MacLachlan, het telkens my werk nagegaan. Gereeld was my hele vertaling vol merkies, strepies, pyltjies, invoegings en weglatings, wat my natuurlik verleë laat voel het! Maar gou het ek agtergekom dat regstaal eintlik baie voorspelbaar, resepmatig en formuleagtig is – en as jy eers die "kode" gesnap het, is dit makliker om ’n goeie doelteks te lewer. Met verloop van tyd was daar al minder en minder strepies, pyltjies en merkies in my vertalings. Volgehoue blootstelling aan die oënskynlike vreemdheid en eiesoortigheid van regstaal het my myself die vraag laat afvra: As ek, met al my goeie opleiding en kwalifikasies, vir so lank gesukkel het met die vertaling van hierdie ekstreme variëteit, hoeveel te meer sal die breë bevolking nie begripsprobleme met sulke tekste ervaar nie? Dit was goed 25 jaar gelede. En steeds is dit ’n studieveld wat ek nog nie by benadering met my navorsing uitgeput het nie.
As navorser lewer jy ’n belangrike bydrae tot die teoretiese onderbou van gewone taal. Vertel ons dus asseblief meer oor jou akademiese benadering tot hierdie terrein?
Ek het eenkeer, in ’n heel ander konteks, ’n werkswinkel oor gewone taal bygewoon. Ons moes kort teksgedeeltes herskryf deur van makliker woorde en korter sinne gebruik te maak. Aan die einde van die werkswinkel het ons ’n lysie van konstruksies gekry wat aanbeveel word: Gebruik makliker woorde, skryf in die aktiewe vorm, vermy die passiefkonstruksie en gebruik aksiewoorde. Ek het die lysie in die asblik gegooi, omdat dit geen teoretiese onderbou gehad het nie en geen verduidelikings gebied het vir waarom hierdie konstruksies aanbeveel word nie. As jy die frase “plain language” gaan naslaan op Google, sal jy afkom op resepte vir duidelik skryf. Selfs van die boeke wat in die buiteland, en plaaslik, oor die onderwerp uitgegee word, is baie prakties, maar daar is min akademies-teoretiese begronding vir die uitsprake wat gemaak word en die riglyne wat gegee word. Ek het in my doktorale navorsing ’n teoretiese raamwerk gebruik wat sterk op die tekslinguistiek berus en kon ’n akademiese tuiste vir gewone taal in hierdie veld uitgrawe. In die buiteland en hier plaaslik is gewone taal baie bepaald ’n praktiese toepassingsgebied en daar is mense wat ongelooflike werk doen. My bydrae is om aan gewone taal ’n teoreties-akademiese inslag te gee wat dit verder ontwikkel as ’n veld wat waardig is van robuuste navorsing vanuit verskillende perspektiewe. Toenemend begin nagraadse studente hierdie veld betree. Dit is vir my goed, want dit beteken meer mense kan toetree tot diskoerse op hoër intellektuele vlakke oor lees, skryf, begrip, agentskap, toegang tot inligting, en alles wat met gewone taal verband hou.
In watter domeine is die gebruik van gewone taal die nodigste?
My eerste antwoord is: in alle domeine. Dit sluit in die gesondheidsorgsektor (wat die farmaseutiese bedryf insluit), die regspleging en natuurlik die howe, die finansiëledienstesektor, die onderwys, die kerk, die staat (elke enkele staatsdepartement moet duidelik en ondubbelsinnig met die bevolking kommunikeer), die toerismebedryf, die bemarkingswese, wetenskapsbeoefening (veral waar die bevindinge van belangrike navorsing aan leke gekommunikeer word) en die media. Die lysie is sekerlik nie volledig nie. Enigiemand wat vir ander skryf, moet die beoogde leser in gedagte hou en belangrike vrae vra oor die leser se opvoedingspeil, motivering om die teks te wil lees, haar voorkennis oor die onderwerp, die doel waarmee sy moontlik lees, haar taalkundige en leesvermoë, en selfs die gemoedstoestand waarin sy moontlik kan wees wanneer sy die teks lees. ’n Omvattende profiel van die beoogde leser is van wesenlike belang vir die suksesvolle gebruik van gewone taal.
Lees ook die volgende interessante artikels deur Eleanor Cornelius:
In LitNet Akademies: “Sinskonstruksies kenmerkend van Afrikaanse regstaal”.
“Die benutting van leserskommentaar by die herskryf van ’n verbruikersdokument in gewone Afrikaans”.
Haar bydrae tot ons Vierde Nywerheidsrewolusie-seminaar: “Wat sou die impak van die Vierde Nywerheidsrewolusie op vertaling en tolking kon wees?”
Kommentaar
Ek stem saam dat regstaal vereenvoudig kan word, maar met respek, ek stem nie saam met die idee dat estoppel as 'n woord of 'n regsverskynsel met wanvoorstelling vervang kan word nie. Estoppel het 'n baie wyer aanwendingsgebied as wanvoorstelling by kontraksluiting.
Kort woorde, kort sinne, klein paragrawe met een sentrale idee per paragraaf, het my mentor in die praktyk my geleer. En dit is presies wat die Hofreȅls in pleitstukke, eedsverklarings en hoofde van argument verwag.