Laaste hulde aan Dan Sleigh

  • 1

Foto van Dan Sleigh: Naomi Bruwer

Die skrywer Dan Sleigh is op 29 Julie 2023 oorlede.

LitNet plaas – met toestemming – hier onder huldeblyke en foto’s deur familie en vriende. (Uit die skrywes sou mens kon aflei dat Dan Sleigh se grootwordjare en sy vroeë blootstelling aan ’n VOC-baken op die plaas waar hy gebore is, dalk die inspirasie kon wees vir sy volgehoue belangstelling, navorsing en skrywes oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis.)

James Sleigh, broer

Ons ouers het 12 kinders grootgemaak. Dit was tussen die jare 1917 en 1944. Dit was ’n moeilike drie dekades wat die twee Wêreldoorloë en ’n tyd van ernstige ekonomiese depressie ingesluit het.

Ten spyte van die moeilike tyd waarin ons grootgeword het, het al die kinders suksesvolle lewens geniet en goeie ouderdomme bereik. Dit het ons aan ons baie toegewyde en baie hardwerkende ouers te danke.

Nou is daar nog net vier van ons oor.

Ek is nommer nege in ouderdomsvolgorde van hierdie gesin. Dan was nommer 10. Ons twee het die voorreg gehad om op die plaas Geelbek aan die suidpunt van die Langebaan-lagune gebore te word.

Daar is geen beter plek waar ’n kind sy beginjare kon deurbring nie.

Op Geelbek staan daar ’n VOC-baken. Die steen is in 1785 deur goewerneur Van der Graaf daar geplant om die noordelike grens van die kompanjie se gronde aan te dui. Hierdie steen was Dan se eerste ontmoeting met Jan Kompanjie.

Presies watter invloed die VOC-steen op Dan se belangstelling in die VOC gehad het, weet ek nie. Sy belangstelling in die geskiedenis van die jare van seilvaart kon moontlik ook gespruit het uit kennis van ons seevaarder-voorvaders wat na die Kaap gekom het. Aan vaderskant was dit die Britse Vloot se luitenant Francis Wallace Sleigh, eerste luitenant / seilmeester van die HMS Russell en later vlootassistent van lord Charles Somerset. Aan moederskant was dit kaptein-ter-see Niklaas (Klaas) Acker, gesagvoerder van, onder andere, die Duijfje van die VOC en later die VOC se ekwipasiemeester aan Die Kaap. (Beide hierdie here is met dogters uit die Laubscher-familie van die plaas Roodebloem getroud.)

Dan Sleigh en twee van sy broers, Marius en Hynie, by die VOC-steen op Geelbeksfontein. (Foto: verskaf.)

Die VOC-steen op Geelbeksfontein. (Foto: verskaf.)

In hierdie groot gesin het Dan reeds kleintyd begin om die aandag te trek. Hoewel hy toe reeds stil van geaardheid en met sy eie mening was, onthou ons dat ons moeder eendag gesê het dat Dan altyd ’n “plannetjie” het waarmee hy besig was. Hierdie “plannetjies” was nie altyd ten gunste van almal nie en my moeder se mening was toe reeds dat hy eendag óf ’n groot skelm óf ’n akademikus gaan word. Gelukkig was die tweede scenario die regte een. Een van hierdie sg plannetjies was om vir homself ’n valskerm van ’n kombers te maak en daarmee van ’n 12 voet hoë muur af te spring. Hy het homself disnis geval, maar sy valskerm moes tot ’n mate gewerk het, want hy het niks gebreek nie!

Ons as familie is trots op die werk wat hy gedoen het en die sukses wat hy behaal het. Sy onselfsugtigheid het hy by ons ouers geleer. Toe ek eendag hoor dat hy vir maande aan ’n projek gewerk het waarvoor daar geen betaling was nie, het ek vir hom gesê dat hy minder onselfsugtig moet wees. Hy het nie saamgestem nie.

Dit was altyd ’n plesier om Dan in die geselskap en aan tafel te hê. Hy was ’n goeie en ’n gawe mens. Hy was altyd geduldig om ’n idee of konsep te verduidelik. Al was die vraag hóé dom. Ek dink dat hy ’n goeie onderwyser was.

Ons was gelukkig om hom in die familie te hê. Ons onthou sy humorsin en sy spontane lag. En ons sal altyd sy groot liefde vir Dewetia en vir Jean onthou.


’n Gedenkdiens is op 10 Augustus 2023 by die NG Kerk Pinelands vir Dan Sleigh gehou. Die diens is regstreeks via YouTube uitgesaai:

Lees ook:

Dan Sleigh (1938–2023)

LitNet Akademies-resensie-essay: 1795 deur Dan Sleigh

Retoervloot deur Dan Sleigh: ’n resensie

Een interview met Dan Sleigh over Eilande

Wals met Matilda deur Dan Sleigh

Aspekte van postkoloniale verset in Eilande deur Dan Sleigh

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top