Wals met Matilda deur Dan Sleigh

  • 2

Wals met Matilda
Dan Sleigh
NB Uitgewers
ISBN: 9780624051466
 

 Klik hier om Wals met Matilda by Kalahari.com te koop.

 Retrospeksie bied altyd die luukse om opnuut te besin. Die luuksheid van sodanige herbesinning rakende ’n roman lê dikwels nuwe aspekte en betekenislae bloot. Besprekings en resensies oor Wals met Matilda deur Dan Sleigh laat die diepere gelaagdheid van die werk agterweë, ’n leemte wat in hierdie artikel gevul word.

Die verhaal gaan primêr oor die herstelproses van ’n ouerwordende skrywer, eens die topverkoper van historiese romans, wie se lewe na die dood van sy vrou, dogter, skoonseun en kleindogter tydelik ontspoor. As gevolg van sy vorige suksesse woon hy in een van sy uitgewersmaatskappy, Goeie Hoop Uitgewers, se woonstelle in Milnerton (Spinnakers, maar in die roman Bay View Villas). Omdat hy na sy vrou se dood net nie weer daarin kon slaag om ’n potensieel suksesvolle manuskrip voor te lê nie, word hy met uitsetting gedreig.

Koos is ’n ou korrelkop, sinies, sarkasties en meestal gewoon onbeskof. Hy som sy griewe teen die lewe op bl 26–7 op en die verteller sê onder andere: “Deur ’n proses van selektiewe wantroue het hy dit reggekry om hom hier te isoleer, te fortifiseer, burokrate te ontduik en ’n beskaafde, indiwiduele bestaan, eenvoudig en amper waardeloos soos dit is, te voer in ’n woonplek van sy keuse.” Mettertyd kom die leser agter dat hierdie bravade ’n masker is waaragter ’n fyngevoelige, sensitiewe en gekweste persoonlikheid skuil wat om hulp vra. Gelukkig het Koos nie selfmoordneigings nie, byvoorbeeld bl 77: “Hy sukkel regop om sy bottel uit die kombuiskas te haal, sluk drie, vier groot slukke direk daaruit terwyl hy aan die wasbak vasklou, blaas sy asem uit totdat sy longe heeltemal leeg is en kyk om hom. Hy moet voortgaan.” Hy bereik sy katarsis-moment wanneer hy voor sy vrou se spieël staan, nie hou van wat hy sien nie (118) en vir homself sê: “Versuip, of swem” (122).

Beide skrywer en hoofkarakter het ’n besondere belangstelling in die geskiedenis van skeepsvaart en daarom is dit nie vreemd dat Koos sy toestand aan die begin van die roman gelykstel aan ’n skip wat sonder stuurman doelloos op die oseaan ronddobber nie. Die bemanning lê leeg, die bootsman se drif is weg, hy gee nie meer bevele nie en kla die dag om omdat die skip wat in die sand vasgesak het, met skade aan romp en tuig, nie weer vlot sal kom nie (16).

Die uitgewersmaatskappy stuur vir Carelina van die Merwe, ’n taalterapeut, oudonderwyseres, redakteur, militante taalpuris en agterkleinniggie van Boerneef, as ’n laaste reddingsboei na Koos. Carelina kom sonder verskuilde agendas, dreigemente of afpersing alleen met die doel om hom weer aan die skryf te kry, bloot omdat sy (en andere) sy romans geniet (154). Sy stel haar eie sielkundige plan in werking, salf nie Koos se gemoedstoestand met onnodige simpatie nie en word sy sielsgenoot (155, 322). Op bl 155 dink Koos byvoorbeeld by homself: “Hulle praat eners: onlogies, soms onsamehangend, hulle kan kommunikeer met die beelde van gedagtes”, amper soortgelyk aan die intuïtiewe kommunikasie tussen hom en sy oorlede vrou, Cornelia. Die manuskrip wat Koos een aand, waansinnig van hartseer en selfverwyt, sin vir sin van sy rekenaar afgevee het, maar waaraan hy en Carelina later weer begin werk, vertel die verhaal van Japie van die Merwe en die ware oorsprong van Matilda se liedjie. Die verhaal vorm ’n parallel met Koos s’n, maar is aan die einde van die roman nog onvoltooid.

Op bl 384 sê Koos dat die werklike skryf voorlê eers wanneer hy van Australië terugkeer. Daar is verskeie raakpunte, onder andere Japie se verlies van sy kinderlike onskuld en naïwiteit, die waarskynlike verlies van sy skeeloog Matilda, wat hom met die lewe leer dans het, sowel as verraad deur die primitiefste inboorling (Nev), van wie hy dit nooit verwag het nie. Selfs woordgebruik tussen die twee stories stem ooreen. So sê Koos byvoorbeeld op bl 11: “Matilda is die geluid van wind in hoë bloekoms met wit stamme waarvan die herfswind repe bas gestroop het ... verby, verby. Matilda is weg in die ewigheid se leegte.” Japie ervaar soortgelyke gevoelens van verlies wanneer hy langs die watergat sy skeeloog Matilda se naam keer op keer op die wit populiere uitkerf en die inboorling, Nev vir hom sê: “Die boom gooi weg soos slang. Hy laat jou praat val. Die naam wat jy skryf, gaan in die herfs met die bas saamval” (394). Net soos wat die wind Matilda se naam wegwaai wanneer Japie haar naam hardop uitroep, net so kan hy nie keer dat sy ook sal verdwyn in die ewigheid se leegte nie – of het sy?

Die toon van die roman word reeds op bl 8 gedurende die anatomieklas van prof Hammel uitgestippel. Daar gaan gedissekteer, waargeneem en gediagnoseer word (149.). Dit is al manier waarop daar vir Koos redding gaan kom uit die situasie waarin hy vasgevang is. “Hy het geen lus om ’n nuwe manuskrip te begin nie, sy verstand is leeg soos sy versmorende, doellose lewe in hierdie onnodig lang dae” (49). Nie net sy lewe en emosies gaan tot op die been oopgevlek word nie, maar ook vele ander kwessies wat nie alleen vir Koos nie, maar ook die leser (by implikasie elke landsburger) raak en meermale die harnas injaag: die vervlakking van standaarde, die verkragting van ons taal, die uitbuiting en verwoesting van die natuur en natuurlike hulpbronne, die ongevoeligheid vir die eenvoudige mooi dinge in die lewe. Vgl byvoorbeeld Cornelia se vergeefse pleidooi vir die behoud van die blommetjies in die straat.

Sleigh gebruik veral drie simbole in Wals met Matilda, naamlik die Niksnut, die blou buitelyn op die plaveisel onder sy woonstel se balkon en die geelhouttafel wat Cornelia by ’n antiekemeubelwinkel langs die Weskus gekoop het. Wat eersgenoemde aanbetref, ontmoet Koos nooit hierdie persoonlikheid nie en daarom is sy eerder simbool as karakter. (Eintlik herinner haar oënskynlike leeglêery die Heel Grootbaas aan Koos, wat vir haar die naam gegee het.) Sy is simbool van die lewe waarna Koos hunker; so byvoorbeeld sê hy: “Sy beteken mooiweer en ’n lang wandeling” (10–11) en ’n entjie verder: “Sy is die eerste gedagte aan oorlewing, soos vir die seun in die seilboot wat oor die horison weggewaai is.” Laasgenoemde is ’n verwysing na die gedig “Die wind in die baai” van NP Van Wyk Louw uit Tristia: Elegiese verse (Louw 1994:129). Wanneer Frolich, die direkteur-generaal van die uitgewersmaatskappy, besig is om inventaris van Koos se woonstel te maak omdat hulle alle hoop vir hom verloor het, stap sy verby en dink Koos: “Ons kyk na hoop, na daglig” (90). Die implikasie is duidelik: al is Koos se toestand akuut, is hy nog nie reddeloos nie.

Volgens The dictionary of symbols (Chevalier en Gheerbrant 1996:102) ontliggaam die kleur blou enigiets wat daarin vasgevang word. Die leegheid binne die lyne verteenwoordig Koos se lewe wanneer die roman begin. Hy sê later vir Carelina: “Dis dan die blou buitelyn van my lewe” (169). Koos se siel het hom verlaat; hy is niks anders as ’n leë dop nie. Koos kyk dikwels af op die blou buitelyn; dit bly ’n teenwoordigheid in sy lewe, byna net soos die storie oor Matilda wat hom nie wil uitlos nie. Snags sit hy en staar na die titel op sy rekenaar, die enigste woorde wat oorgebly het van die roman wat hy probeer skryf (92).

Op bl 91 verbind Koos in woord en gedagte die roman en omlyning met mekaar: “Die prent bly oningevul, die saak is nog nie afgehandel nie.” Net soos wat die polisieondersoek eers voltooi moet word voordat die volle waarheid, en dus invulling van die buitelyne van die liggaam, kan plaasvind, net so moet Koos eers geestelik herstel voordat hy inhoud kan gee aan die buitelyne van sy lewe, sowel as die roman wat hy probeer skryf. Beide ondersoek en herstel is prosesse wat sy eie tyd dikteer. Die ironie is dat Frolich en ander materialisties ingestelde individue soos hy, geen begrip hiervoor het nie.

Koos verbind ook die kleur blou met hoop. Vergelyk byvoorbeeld die ooreenkoms tussen Goeie Hoop Uitgewers en die logo op die Waratah, een van die skepe van die Blue Anchor Line-redery. En dan volg die sin: “Die blou anker is altyd die simbool van goeie hoop, nie waar nie?”, alhoewel dit hier ietwat ironies bedoel word. Wanneer Koos geleer het om met die onafwendbare saam te leef en weer beheer oor sy lewe te neem, word die blou buitelyne op die plaveisel afgewas. ’n Periode in sy lewe is verby.

Die geelhouttafel staan sentraal in Koos se lewe. Die kleurryke lewe van hierdie meubelstuk word op bl 396 geskets. Benewens die feit dat dit in ’n vorige roman van Koos as ’n dissekteertafel diens gedoen het, het dit “alle vorms van liefde geken”. Vir Koos was dit die middelpunt van vreugdevolle tye saam met Cornelia en sy gesin. So byvoorbeeld op bl 76: “Om en om hierdie tafel het hy met haar (Matilda) op sy arm gedans en gedraai totdat hulle duiselig en laggend in die groot leunstoel neerval.” Die tafel was ook die plek waar sy vrou haar passie vir plante uitgeleef het. Saam met lede van die Weskus Botaniese Vereniging kon sy tussen ’n warboel lêers, teekoppies en koekbordjies ’n hond uit ’n bos kuier en ’n nuwe energie nie alleen in hulle huis nie, maar ook in Koos blaas (35). Om hierdie tafel het Koos geskryf, gesels en gelag – dit was die plek waar passie, vreugde en plesier volkome aardse geluk geword het met ’n eindelose, ewige dimensie. Nou is daar ’n stoflap oor sy rekenaar, omdat dit nooit meer gebruik word nie, en in plaas van lewende mense, net “dooie” foto’s van sy geliefdes. Elke keer wanneer Koos by die tafel verby stap, word dit ’n stille aanklag teen die mens wat hy geword het. Op bl 127 sê Eric vir Koos: “Om te wals met Matilda is om te dans met die lewe.” En daarvoor sien Koos op hierdie stadium nie kans nie. Om nou aan die boek te werk sal verraad wees teen die mense wat hy verloor het. Hy moet eers die verlies verwerk voordat hy in staat sal wees om weer by die geelhouttafel te gaan sit, die stoflap van sy rekenaar af te haal en weer te begin skryf. Hy laat vir Carelina uiteindelik toe om hom weer te herinner aan al die goeie tye wat hy rondom hierdie tafel geniet het. Sonder die figuurlik gesproke “deelname” van hierdie meubelstuk sal daar nie vir Koos herstel kan wees nie.

Al het Koos/Sleigh ’n renons in ingewikkelde literêre teorieë, resensies, besprekings oor intertekstuele bronne en verwysings in literêre werke, gebruik hy in Wals met Matilda ’n breë verwysingsraamwerk wat nie alleen die hele verhaal tot ’n hegte eenheid saamsnoer nie, maar ook die grondslag vorm vir die oorkoepelende tema wat hy in die roman ondersoek. Sleigh onderskat nie sy lesers nie, en daarom verskaf hy nie onnodige inligting nie. In teenstelling met Thomas Mann se wenk dat ’n skrywer lesers nie verstandelik moet vermoei nie en ook nie intellektuele inspanning van hulle moet verwag nie (165), stuur Sleigh sy lesers biblioteek toe, net soos wat prof Hammel met sy student, mnr Wobma, gedoen het om ontbrekende kennis rakende sekere verwysings in te win. Benewens voor die hand liggende temas soos verlies en trauma en die verwerking daarvan, staan die vraag na die sin van die lewe sentraal. Sleigh sluit ’n magdom verwysings en intertekstuele bronne in sy teks in, maar vir doeleindes van hierdie bespreking word gefokus op dié wat direk verband hou met die oorkoepelende tema van die roman.

Die belangrikste verwysing is dié na Heitsi-eibib, ’n religieuse heldefiguur uit die Khoisan-mitologie (36), waarvan die argaïese betekenis soos ’n goue draad deur die roman loop. Benewens towenaar was hierdie figuur, in aansluiting by die lewenswyse van die Khoisan, ook beskermheer van jagters. In sommige stories word hy beskryf as medeskepper van die heelal, omdat hy verantwoordelik was vir spesifieke karaktereienskappe in spesies. Heitsi-eibib kon homself ook na ’n noodlottige voorval weer opwek en is daarom verbind met die proses van lewe, dood en hergeboorte/herskepping.

Eerstens dui Heitsi-eibib die boustene aan wat harmonie in die natuur waarborg. Tydens ’n gesprek met Eddie Fortuin, terwyl laasgenoemde vanuit Koos se woonstel na Robbeneiland kyk en slegs aan die politieke konnotasie daarvan kan dink, vertel Koos vir hom van sy vrou se ideaal om die eiland te rehabiliteer na sy oorspronklike, natuurlike toestand. Wanneer Fortuin hom dan uitvra na die oorspronklike plante en diere wat sy sou wou hervestig, verwys Koos te midde van ’n uitgebreide lys terloops na hierdie mitologiese figuur. Die Khoisan was waarskynlik die eerste mense wat die ondermaanse bewandel het, maar omdat hul oorspronklike lewenswyse verwoes is, moet Heitsi-eibib as ’n tipe triekster-figuur, saam met die hottentotsgot, nou hul plek kom volstaan in die moderne era. Omdat hulle in harmonie met die natuurlike ritmes van die natuur gelewe het en net daaruit geneem het wat hulle nodig gehad het, was hul oorlewing gewaarborg, omdat die natuur elke keer ná ’n ingreep weer kon herstel. Die implikasie kragtens die roman is duidelik: die mens kan met ander woorde oorleef slegs in ’n wêreld waarin al die verskillende elemente in balans met mekaar is en bronne nie oorbenut word deur materialistiese vergrype nie. Met dit in gedagte kyk die leser nou op ’n ander manier na Koos se uitbarstings oor die manier waarop die mens sy omgewing net ter wille van materialistiese voordeel misbruik en in die proses verwoes.

Aansluitend hierby is ook die verwysing op bl 84, wanneer Koos na ’n skildery van Walter Tittle oor ’n Poolse seekaptein kyk en dan onthou dat die ou meester hom laat verstaan het dat in die mens se lang verhouding met die see daar van die begin af meer haat as liefde was, godlose mens teen godlose natuur: chaos. En dit is hoe Koos die wêreld rondom hom ervaar.

Die natuur/omgewing omvat vir Koos ook die geestelike dimensie van die mens wat sy skeppende vermoë, emosies, verbeelding, kultuur, taal, ens huisves. Koos wil die ewewig tussen liggaam en gees bewaar en in stand hou, want hy weet daarsonder is die mens geestelik dood en die lewe niks anders as ’n troostelose tronk nie. In Koos se donkerste uur van nood interesseer die toestand van die mens en kwessies wat sy voortbestaan hier op aarde en/of in die hiernamaals raak, hom opnuut. Die eintlike vrae wat prof Hammel dus op bl 10 aan sy studente vra, terwyl hy hulle kennis toets oor die verskillende organe van die nakende figuur voor hulle op die tafel, is: “Is die mens gees of lyf alleen? Is die wonderbaarlike liggaam ons enigste lewe, die miserabele tronk van ons gees?” Sedert die skepping worstel die mens met hierdie vrae en Koos het ook nie ’n klinkklare antwoord nie. Eintlik wil hy maar net weet of daar vir hom ’n aardse hiernamaals uit hierdie lewende hel moontlik is.

Ter bevestiging van die belangrikheid van hierdie ewewig teken die skrywer die verhouding tussen Koos en sy vrou, Cornelia. Toe sy nog gelewe het, was sy lewe in balans, was hy ’n gelukkige individu wat sy passie kon uitleef en gelukkig was (141). Met haar dood is die ewewig tussen liggaam en gees versteur en Koos in ’n tydelike doodstoestand. Dit manifesteer in die feit dat hy nie sy uiterlike versorg nie; hy eet nie behoorlik nie, drink ’n halwe bottel whisky per dag, gebruik nie sy medikasie nie en is in die geheel gesien in ’n bejammerenswaardige toestand. Hierdie toestand van Koos word deur verskillende intertekstuele verwysings onderskryf, onder andere “Mignon” uit Wilhelm Meister’s Apprenticeship deur Goethe en vertaal deur Laurence Snyders, “The Forsaken Merman”, ’n gedig van Matthew Arnold (47) en “Iris” deur Jacques Perk (88).

“Tronk” sluit hier ook aan by Koos se konseptuele ruimte-ervaring. Al is Bay View Villas die lelikste plek wat hy nog ooit gesien het (17), verteenwoordig dit vir hom die laaste herinnerings aan sy vrou, Cornelia, Matilda en haar gesin. Aan die begin van die roman beskou hy dit as sy lewenslyn; hy besef eers later dat dit niks anders as ’n tronk is wat hom gevange hou en elke dag sy hartseer voed nie. Hierdie verwysing sluit ook aan by die watergat, Kombo, waar Japie vir die Australiese polisie wegkruip. Hoe Japie uiteindelik daarin kon slaag om na Suid-Afrika terug te keer, sal ons later in Koos se voltooide Wals met Matilda kan lees.

Die tweede aspek van ’n sinvolle lewe hou verband met die kollektiewe en persoonlike geskiedenis van die individu. Die skrywer beklemtoon dat daar geen hede sonder ’n verlede kan wees nie. Dit vorm saam met ewewig in die natuur ’n noodsaaklike element wat die balans tussen liggaam en gees waarborg. Hiervoor span die skrywer veral twee verwysings in, naamlik die sogenaamde runes en die twee Griekse godinne Kleio en Mnemone.

Op ble 125 ev verwys die skrywer na die rune (inskripsie) op die skip Halve Maen waaroor Koos navorsing gedoen het tydens sy besoek aan Londen toe hy sy toekomstige skoonseun ontmoet het. Afgelei van die woord runa in Goties, wat “geheime ding of misterie” beteken, verwys ons woord rune na ’n skryfsisteem uit die Romeinse en Germaanse Ystertydperk. Die simbole het ook ’n magiese betekenis gehad en is gebruik vir die opstelling van regsdokumente, die skryf van poësie, inskripsies, en as religieuse simbole, maar het nooit tot ’n gesproke taal ontwikkel nie. Die oorspronklike betekenis van die simbole is verlore en mense is bereid om hul hele lewens te wy aan die ontsyfering daarvan (Blum 2008:12). Dit is aangebring op swaarde (die sogenaamde oorwinningsrunes), sowel as op skepe se rompe om hulle teen gevaar te beskerm. Simbole is later ook op muntstukke aangebring (Blum 2008:20). In moderne tye word die antieke runes gebruik om die lewe se geheime en wonderwerke te verstaan en slaan dit ’n brug tussen die antieke geskiedenis en die moderne era. Hierdie verwysing eggo dus Koos se sentimente rakende die plek wat die geskiedenis in die moderne mense se lewe behoort in te neem, maar hy skryf op daardie betrokke dag in sy boek: “Was die rune towerspreuk of vloek?” Hierdie vraag sluit aan by die belangrike plek wat naamgewing in die roman inneem, sowel as die noodlot se rol daarin. So byvoorbeeld het Koos en Carelina op ’n stadium ’n gesprek oor die vreemde name wat sommige ouers aan hulle kinders gee. Hier lê die skrywer ’n verband tussen runes en die naam wat Eric besluit het om aan sy eersgebore dogter te gee. Koos vra verskeie kere of Matilda se lewe gespaar sou gebly het as sy net ’n ander naam gehad het.

Die studie na runes en hulle betekenis is ook ’n bewusmakingsveldtog rakende die mens se eie innerlike bewussyn en ’n studie van persoonlike ontwikkeling en geestelike groei. Dit is met ander woorde ’n spieëlbeeld van die onderbewuste en belig die mens se eie vrese en motiverings wat belangrike elemente in die besluitnemingproses van die individu is (Blum 2008:9).

Die skrywer verwys tweedens na twee godinne uit die Griekse mitologie, naamlik Kleio en Mnemone (175). Kleio is een van die nege dogters uit die samekoms tussen Zeus en Mnemone (Woodard 2007:90). Hulle is ook bekend as die nege muses en godinne van musiek, sang en dans (Geddes en Grossett 1997:419). Wanneer Kleio, godin van die geskiedenis, gekoppel word met haar moeder (geheue), omvat haar funksie veel meer as die gewone optekening van alledaagse insidente. Die geskiedenis wat in die geheue bewaar word, het ook die waardesisteem waarvolgens geleef is, die reëls en energieë van die heelal, sowel as die sirkelgang van die lewe ingesluit. (Vgl die konnotasie met die mitologiese figuur Heitsi-eibib hier bo.) Volgens Sleigh is dit juis hierdie funksie van die geskiedenis waarsonder ’n sinvolle lewe nie moontlik is nie, want dit is rigtinggewend en gee aan die mens ’n verwysingsraamwerk waarvolgens hy sy eie posisie binne die kollektiewe definieer.

Verskeie stories, veral in die orale tradisie, is van mitologiese oorsprong. Een wat besonder goed aansluit by Wals met Matilda vertel die verhaal van ’n eens voorspoedige polis in antieke Griekeland. Die mense het geen kontak met hulle verlede of geskiedenis gehad nie en toe die voorspoedige lewensomstandighede hulle begin verveel, breek skermutselings tussen magsoekende oproermakers en die regering uit. In die proses word onder andere biblioteke, boeke, literêre en geskiedkundige geskrifte, artefakte, standbeelde en plekke van geskiedkundige belang verwoes. Nadat die opstande onderdruk is, wou die regering hê dat die mense soos voorheen moes voortleef in hul oënskynlik gelukkige, maar naïewe toestand wat hulle natuurlik maklik beïnvloed- en manipuleerbaar gemaak het. Hulle het die mense van hierdie sienswyse oortuig deur te aan te voer dat daar geen vooruitgang kan wees as die mens gevange gehou word deur die verlede nie; daarom het hulle die geskiedenis as gevaarlik en ondermynend geklassifiseer en voortgegaan om dit te verwoes.

Gelukkig het gedeeltes van die literêre en geskiedkundige geskrifte, sowel as ander bronne, behoue gebly, omdat dit in Mnemone se geheue gestoor is. Vermom as een van die dorpie se inwoners, begin sy om gedeeltes uit die literatuur en geskiedenis aan die mense te verkoop. Sodoende kon sy verhoed dat die geskiedenis heeltemal uitgewis word en dit lei tot die dorpie se geestelike herlewing. Die mense begin om weer te dink, te redeneer en sekere waardes te bevraagteken.

Maar soos wat met alle goeie dinge gebeur, kom daar ook ’n einde aan hierdie fase in die dorp se geskiedenis. Op ’n dag daag drie polisiemanne op en maak vir Mnemone dood. Ten einde die ernstige aard van die situasie en die wrede aard van die regeringswette te beklemtoon, skryf die skrywer van hierdie mitiese verhaal dat hy doodsdreigemente van die regering ontvang het. Die laaste reëls van die storie is ’n beroep op onverskilliges en onbelangstellendes om wakker te skrik.

Hierdie mite sluit aan by Koos se oproep, byna smeking, by gewone landsburgers om afstand te doen van hul malle gejaag na materiële dinge, wakker te word en te sien wat besig is om onder hulle neuse te gebeur. In plaas daarvan dat die regering moeite doen om die geskiedenis van hierdie land en die volke wat daarin woon/gewoon het, te bewaar, het museums, as stoorplekke (Mnemone) van die geskiedenis en eeue oue gebruike voeling verloor met die hedendaagse gemeenskap. Dit wat hulle bewaar, het uit die samelewing verdwyn omdat niemand meer daarin belangstel nie. ’n Voorbeeld hiervan is die tanende uitgewersbedryf omdat mense al hoe minder lees. Die mens bewaar nie meer die natuur nie, die ewewig tussen liggaam en gees is versteur, en bo alles word dit wat ware menswees definieer, verwaarloos. Vir Koos het daar in die moderne tye ook die einde van ’n era aangebreek: die wêreld word “Animal Farm”: ligte word stelselmatig gedoof om ons in die donker te leer leef (97). Koos het geen hoop meer vir hierdie land nie en moedig vir Carelina aan om liewers oorsee te gaan sodat sy nie die ineenstorting van die samelewing en gepaardgaande beskawing hoef te aanskou nie.

Verwysings na die Maginot-linie (177) word gebruik om ’n strategie op te roep waarvan mense hoop dat dit effektief sal wees, maar wat dan hopeloos misluk. Hierdie linie, vernoem na die Franse minister van oorlog, André Maginot, is deur die Franse op die vooraand van die Tweede Wêreldoorlog al langs hul grens met Duitsland opgerig, soortgelyk aan die Alpine-linie tussen Frankryk en Italië. Hierdie versterking was bedoel om in die geval van ’n aanval genoeg tyd te wen sodat die Franse weermag homself kon mobiliseer en die Duitsers vanuit België kon aanval. Alhoewel die linie direkte aanvalle verhoed het, was dit strategies oneffektief, omdat die Duitsers Frankryk via België binnegeval en Frankryk binne ses weke oorweldig het. Net so kon Koos ook nie vir altyd weerstand bied teen pogings van buite om hom te help nie, al het hy homself teen die aanslae van die lewe gefortifiseer (27). Soos die Duitsers met Frankryk, het Carelina ’n ompad deur sy hardgebakte uiterlike gevind. Sy verower nie alleen Koos se vertroue nie, maar ook sy hart.

Aan die einde van die verhaal verloor Koos sonder sy eie toedoen sy woonstel. Saam daarmee laat hy ook sy mistroostige lewe van die afgelope paar jaar agter. Dit beteken nie dat hy die herinnerings aan sy vrou en familie gaan vergeet nie. Dit hou hom egter nie langer gevange nie, maar vorm deel van sy eie persoonlike geskiedenis. Dit herinner hom aan die feit dat jy oor sekere gebeure in jou lewe geen beheer het nie en jou daarvan moet weerhou om foute uit die verlede te herhaal. Die geskiedenis van sy lewe is nie meer ’n albatros om sy nek nie, maar word in die hede verreken, en hy kan as ’n herskepte wese die lewe weer in die oë kyk.

Dan Sleigh voltooi dus die sirkel/proses waarmee hy op bl 8 begin het. Disseksie, waarneming en diagnose vorm ’n parallel met die mitologiese figuur Heitsi-eibib. Die boustene in die natuur wat harmonie waarborg, naamlik lewe, dood en wedergeboorte/herskepping, is ook die boustene van Koos se herstelproses. “Verloor, soek en herwin” (380) is volgens hom die enigste proses in die verwerking van trauma wat sukses waarborg, nie die wetenskaplike prosesse wat deur die een of ander hoogaangeskrewe akademikus voorgeskryf word nie (43). Wanneer Koos met Carelina se hulp weer daarin slaag om die ewewig in sy lewe te herstel, word hy hergebore/herskep en is hy is weer in staat om met passie sinvol te leef. Nou kan Koos self waarlik met die lewe dans en triomfeer oor die doodsheid wat sy hele bestaan oorgeneem het.

Wals met Matilda is alles wat ’n goeie literêre werk behoort te wees. En veel meer.

Bibliografie

Blum, RH. 2008. The book of runes. A handbook for the use of an ancient oracle: The Viking runes. New York: St Martin’s Press.

Chevalier, J en A Gheerbrant. 1996. Dictionary of symbols. Londen: Penguin.

Collins, TJ en VJ Rundle. 2005. The Broadway anthology of Victorian poetry and poetic theory. Concise edition. Kanada: Broadway Press.

Geddes en Grosset. 1997. Classical Mythology. New Lanark, Scottland: Geddes en Grosset Ltd.

Louw, P (samesteller). 1994. Die mooiste van Van Wyk Louw. Kaapstad: Human & Rousseau.

Mnemosyne, Goddess of memory. www.goddessgift.com/goddess-myths/g-mnemosyne.htm (15 Desember 2013 geraadpleeg).

Saan religion. http://en.wikipedia.org.wiki/Khoisan (22 November 2013 geraadpleeg).

Sleigh, D. 2011. Wals met Matilda. Kaapstad: Tafelberg.

Snyders, L. Von Goethe, Johann W. Wilhelm Meister’s Apprenticeship.
www.recmusic.org/lieder/get_text.html?textld =17760

en.wikipedia.org/wiki/Wilhelm_Meister’s_Apprenticeship (22 November 2013 geraadpleeg).

Woodard, RD (red). 2007. The Cambridge companion to Greek mythology. Cambridge: Cambrigde University Press.

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Emil Pretorius

    Mag ek vra vir Dan Sleigh se adres, epos-adres. Ek soek hulp ivm Marchand voorvader uit Frankryk.

    Dankie. EACP.

  • Avatar
    Essay van Blerk

    'n Wonderlike, diepsinnige roman. Mens kan lank en lekker daaroor dink. Die verwysings na die mitologie baie interessant.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top