Kinders wat lees en die publikasie van kinderboeke in elke kind se moedertaal: ’n onderhoud met Leoné Tiemensma

  • 0

Prent: Teo Zac op Unsplash

Leoné Tiemensma praat met Naomi Meyer oor Leoné se onlangse LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)-artikel oor prenteboeke en oor haar navorsing rondom die verskyning van kinderboeke in al die Suid-Afrikaanse landstale.

Leoné, daar het onlangs die artikel "Die produksieprofiel en -patrone van prente- en geïllustreerde kinderboeke in Suid-Afrika in die 21ste eeu (2000–2020)" uit jou pen in LitNet Akademies (Geesteswetenskappe) verskyn. Waaroor handel jou navorsing en wat het jou geïnspireer om oor hierdie onderwerp navorsing te doen?

Van kleins af was ek mal oor boeke en lees. In Potchefstroom het Carl Lohann die wêreld van kinderliteratuur met soveel entoesiasme vir ons as  studente oopgemaak, en die saadjie is daar geplant. Vir my as jare lange onderwyser in tale was kinderliteratuur na aan my hart. My loopbaan het n wending geneem met ’n pos as kinderbibliotekaris en ek kon my verlustig in kinderboeke, storie-ure en ander leesprogramme vir kinders. Vir my meestersgraad het ek die omgewing waarin kinders funksionele geletterdheid ontwikkel, nagevors en ek het weer eens besef hoe belangrik ’n boek in die hand is. Toe ek begin dink aan verdere navorsing, het Maritha Snyman my op die spoor van die uitgeegeskiedenis van Suid-Afrikaanse kinderboeke geplaas en belangstelling daarin geprikkel.

Daar was ’n rukkie gelede ’n groot debat op LitNet oor kinder- en jeugboeke en die ondersoek na gendertemas in die Trompie-reeks. Dit was duidelik dat baie Afrikaanse lesers met nostalgie en heimwee terugdink aan kinderboeke uit hul jeug en dat sekere onderwerpe baie heftige reaksie uitlok.

Gendertemas en omstrede onderwerpe lok inderdaad heftige reaksie uit. Afrikaanse lesers wat in die vorige eeu grootgeword het, kan hulle vereenselwig met karakters uit daardie era, want letterkunde weerspieël die denkpatrone en gees van ’n sekere tyd. Daar is talle “tydlose” karakters wat altyd geliefd sal wees. My kleinseuns in Australië geniet steeds Trompie en die Swart Kat! Daar word deesdae uit ander perspektiewe na gender en ander kwessies gekyk en dit sal onvermydelik in eietydse verhale deurskemer.

Dink jy dat daar proporsioneel ewe veel Afrikaanse boeke in die verlede verskyn het as vandag? Dat Afrikaanse kinders of jongmense soveel gelees het soos vandag s’n? Of moet die vraag eerder wees: Koop die Afrikaanssprekende ouers van die kinders soveel boeke vir hulle kinders vandag as wat hulle voorheen vir hul kinders gekoop het?

............
Kinders wat lees, lees boeke in Afrikaans of Engels.
..............

Afrikaans is steeds ’n invloedryke taal, al is dit die huistaal van slegs 10,6% van die bevolking. Dat soveel kinderboeke nog in Afrikaans uitgegee word, toon dat daar ’n koper- en lesersmark bestaan. Ten spyte daarvan dat Engels dominant in die publikasiebedryf is, word meer as ’n derde (35%) van kinder- en jeugboeke sedert 2000 oorspronklik in Afrikaans uitgegee (teenoor 64% in Engels en 0,7% in ander inheemse tale). Kinders wat lees, lees boeke in Afrikaans of Engels.

Uit ’n uitgewersoogpunt sal dit altyd handel oor of ’n boek verkoop en of dit finansieel sin maak om dit te publiseer, of hoe? As jou bevindinge is dat daar meer Afrikaanse of Engelse boeke verskyn as boeke in die ander landstale, sou die kwessie nie direk daarop dui dat Afrikaanse en Engelse lesers a) finansieel beter daaraan toe is as lesers in ander landstale nie, of b) dat sprekers in ander landstale dalk nie soveel boeke in hul eie taal koop nie (om watter rede ook al, maar hoofsaaklik seker finansieel)? 

Ekonomiese realiteite beïnvloed produksie. Boeke moet wins kan maak, wat nie altyd die geval met kinderboeke vir die algemene boekmark is nie. Suid-Afrika het ’n gevestigde mark vir opvoedkundige boeke (skoolboeke). Die opvoedkundigeboekbedryf is die grootste sektor in die uitgewersbedryf, met 61% van die totale boekverkope. Boeke in Afrikatale is hoofsaaklik vir die opvoedkundige mark bedoel. Ekonomiese beperkinge as gevolg van armoede en werkloosheid veroorsaak dat boeke net te duur vir die meeste Suid-Afrikaners is. Daar is eenvoudig nie geld vir boeke nie. Boeke word as ’n luukse beskou.

.............
Boeke in Afrikatale is hoofsaaklik vir die opvoedkundige mark bedoel. Ekonomiese beperkinge as gevolg van armoede en werkloosheid veroorsaak dat boeke net te duur vir die meeste Suid-Afrikaners is. Daar is eenvoudig nie geld vir boeke nie. Boeke word as ’n luukse beskou.
...............

Daar was ’n sêding in Portugal en sy Algarve-streek: As jy dit bou, sal hulle kom. Die vraag is of uitgewers van kinderboeke dus doelbewus meer boeke in ander landstale behoort uit te gee sodat dit aan lesers beskikbaar is. Is dit ’n voorstel om te maak?

Die uitgeebedryf het talle uitdagings in ’n land met soveel verskillende amptelike tale. Die boekmark weerspieël nie die demografiese samestelling van die land nie. Ouers van kinders wat nie Engels as huistaal het nie, moedig kinders aan om sou gou as moontlik Engels te leer en stuur kinders na Engels skole. Dit is ’n realiteit dat Engels die lingua franca is en nodig is om werk te kan kry.

Jou navorsing bevind dat hedendaagse Suid-Afrikaanse kinderboeke ’n wye verskeidenheid onderwerpe aandurf, en dat die karakters divers is en die samelewing weerspieël waarbinne die boeke verskyn. Dis wel ten opsigte van taal waar die groot ongelykheid sigbaar is, of hoe?

Dit is wel so dat die groot ongelykheid in tale lê. Dit is egter verblydend dat karakters en milieus van kinderverhale die samelewing weerspieël waarbinne dit verskyn, soos Niki Daly se nimlike Jamela en Refiloe Moahloli se verhale.  Daar is voortreflike illustreerders in ons land wat die Suid-Afrikaanse landskap getrou en realisties voorstel waar kinders hulle met die karakters en hulle omgewings kan assosieer.

Baie verskynings en bekronings in Afrikaans, minder bekronings in Engels en nog minder van al die publikasies of pryse in ander landstale. Dis jou bevindings. Is dit iets waarvan mense kennis kan neem om dit te verander? Of juis waarvan mense kennis kan neem as hulle op soek is na boeke om te koop, of boeke wil skryf (wat gee die uitgewers uit?), of uitgewers wat boeke uitgee (moet ons iets anders uitgee, of juis voortbou op wat ons nou doen?)?

Die meeste boeke wat uitgegee word, is in Engels en Afrikaans en gevolglik die mees bekroondes. Die ATKV-toekennings, waar die beoordeling deur kinders gedoen word, is gewild. Skryfkompetisies en pryse kan skrywers aanmoedig om te skryf.

Jy haal ’n skrywer aan wat skryf dat ’n kinderleser belangrik is, want daardie kind word later ’n volwasse leser. Watter faktore is bepalend tov of ’n kind uiteindelik aanhou om te lees, of in sy eie taal te lees, en dan uiteindelik ’n volwasse leser word?

Daar is geen waarborg dat ’n kind lief vir lees en later ’n volwasse leser gaan word nie! In dieselfde huis waar lees en boeke van kleins af bevorder word, sal een kind ’n leser wees en een nie. Tog is dit belangrik dat daar soveel moontlik gedoen moet word om ’n kind aan die lees te kry, hetsy deur die ouerhuis, skool, of sy omgewing. Blootstelling aan en beskikbaarheid van boeke is bepalende faktore.

Prenteboeke is, soos jy tereg skryf, ’n soort boek waar kinders die prente lees voordat hulle die woorde kan lees. Uitbeelding van wie en wat die kind sien, is dus ’n ander soort taal om in ag te neem. Wat is die kultuuruitbeelding, die lyftaal, die prominensie van die verskillende karakters en die omgewings wat uitgebeeld word. Wil jy iets van jou bevindinge hieromtrent deel?

Die wêreld van die kind van vandag is ’n visuele wêreld met televisie, die internet en rekenaarspeletjies. Die visuele aanbod in boeke hou inderdaad kulturele implikasies in. Dit is baie belangrik dat die teks saam met die illustrasies die karakters en milieu binne ’n geloofwaardige kulturele en sosiale konteks plaas.

Dink jy dis hoegenaamd duidelik uit jou studie of Suid-Afrikaanse kinders soveel lees of meer lees as voorheen? Of is dit nie werklik waaroor jou studie handel nie? Of kan mens nie uit hierdie soort navorsing hierdie vraag beantwoord nie?

Dit was nie die fokus van my navorsing nie, maar die grootste deel van die bevolking – ook kinders – is nie lesers nie. Daar is nie ’n gevestigde leeskultuur in Suid-Afrika nie. In 2013 het die South African Book Development Council (SABDC) byvoorbeeld bevind dat slegs 14% Suid-Afrikaners boeke lees en dat slegs 1% bereid is om ’n boek te koop. Die hoë vlakke van ongeletterdheid en lae geletterdheid onder volwassenes, asook lae geletterdheidsvlakke onder leerders, soos telkens in PIRLS-verslae uitgewys word, dra by tot die swak leeskultuur. Ander faktore in die samelewing  wat ’n rol speel, is oa armoede, ’n gebrek aan biblioteke en beskikbaarheid van boeke. Na 1994 is skoolbibliotekarisposte afgeskaf en talle skoolbiblioteke gesluit. Lees word geassosieer met studie en leer.

Wat is jou algemene gedagtes oor Suid-Afrikaanse kinders wat lees?

Suid-Afrika is een van die mees ongelyke lande in die wêreld, en dit word ook weerspieël in “kinders wat lees”. Die gebrek aan ’n algemene leeskultuur lei daartoe dat daar nie ’n vraag na boeke is nie. Kinderboeke is ’n subsisteem van die groter literêre sisteem, waarin talle verskillende rolspelers ’n bydrae kan lewer. Betrokkenheid en toewyding van hierdie rolspelers is nodig om hierdie genre te laat groei en ontwikkel. Organisasies soos Biblionef, Puku en Nal’ibali se toewyding is van onskatbare waarde. Lees gerus Elizabeth le Roux se artikel “Concepts of reading in South African reading promotion campaigns” (2017, Mousaion, 35(3)).

Ten slotte: Hoe lyk die ideale situasie tov kinderboeke wat in Suid-Afrika verskyn en wat moet gedoen word om dit te verander, of waarop behoort voortgebou te word?

Marjorie van Heerden vertel die verhaal van twee jong skoenbemarkers uit Europa wat in die 19de eeu na Afrika gestuur is om die mark vir hulle produkte te assesseer. Die een se bevinding was: “Vergeet daarvan! Niemand daar dra skoene nie!” Die ander een se verslag lui: “Daar is ’n mark waarvan ’n mens net kan droom! Niemand daar het skoene nie!” Hierdie uitdaging kan inspireer, want “Min kinders in Suid-Afrika het boeke!”

Lees ook:

2022: Die (on)verkwiklike jaar van Trompie en kie

Skin we are in: an interview with Sindiwe Magona

Die produksieprofiel en -patrone van prente- en geïllustreerde kinderboeke in Suid-Afrika in die 21ste eeu (2000–2020)

Gendertemas in Topsy Smith se Trompie-boeke

Die sleutel tot die vreugde en plesier van kinderboeke

Dis net vel, my pel: ’n onderhoud met Izak de Vries

Leesbegrip? ’n Kinderboek kan jou kind se wêreld oopbreek

Trompie ’n chauvinis?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top