Dis net vel, my pel: ’n onderhoud met Izak de Vries

  • 5

Prente: Catalyst Press

Dis net vel, my pel
Nina Jablonski en Holly McGee (in Afrikaans vertaal deur Izak de Vries)
Catalyst Press
ISBN: 9781733547413

Izak de Vries vertel vir Naomi Meyer van Dis net vel, my pel, sy Afrikaanse vertaling van It’s just skin, silly!.

Izak, daar was ’n paar weke gelede ’n bekendstelling van ’n boek getitel It’s just skin, silly!, wat jy in Afrikaans as Dis net vel, my pel vertaal het. Hoe het hierdie boek jou pad gekruis, en hoe het jy by die vertaling daarvan betrokke geraak?

Ons is genooi om in Oktober by die Otto-stigting op te tree. Hulle werk in Distrik 6 en ek kon nie aan ’n beter plek dink as juis Distrik 6 om hierdie boek aan die wêreld bekend te stel nie.

Oor die vertaling: Dalk moet ek noem dat ek reeds van voor die uitgewers, Catalyst Press, bestaan het, ’n deel was van die beplanning daarvan. Catalyst is ’n onafhanklike uitgewer wat fokus op boeke oor, of skrywers uit, Afrika.

Toe ek die oorspronklike Engelse uitgawe van dié boek, It’s just skin, silly!, sien, het ek geweet dat dit in Suid-Afrika sal werk; ook het ek geweet dat Google translate nie altyd die betekenis korrek sou oordra nie.

Ek het dus aangebied om, met die hulp van ’n groot span mense, die boek in toeganklike en korrekte Afrikaans te vertaal.

Ek het ook die boek aan verskillende Suid-Afrikaners gewys wat reeds in ’n baie vroeë stadium positief was. Stefaans Coetzee het ’n aanbeveling geskryf en Michael Jonas, die uitvoerende hoof van die Afrikaans Taalmonument en -museum, het ’n hartroerende voorwoord geskryf. Jonas sluit sy voorwoord af met: “Die publikasie laat my gemakliker voel in my eie vel.”

Mense sê maklik iets soos: “Maak nie saak of jy pienk, pers of blou is nie” ... Noudat jy ’n boek soos hierdie vertaal het: Is daardie sêding die waarheid? Máák dit saak watter kleur jou vel is as dit kom by waartoe ’n mens in staat is?

Ek gaan Epi Dermis, beter bekend as Vel, vra om self te antwoord. Op bladsy 13 staan: “Mense praat nie altyd die waarheid oor my nie. Dit maak seer. Kleur maak jou nie ouliker, vinniger, slegter, sterker, slimmer of gevaarliker nie.”

Daar het jy dit. Beter kan ek dit nie stel nie.

Hoekom is mense se velle verskillende kleure?

Duisende jare gelede was ons voorouers grootliks boomlewend met baie hare, maar die mens het ’n unieke vermoë ontwikkel om lang ente op twee bene te hardloop, danksy ons vel wat so slim is. Die mens se vel laat ons toe om te sweet, en daarmee het ons ’n geweldige voordeel bo diere. Hoe beter ons kon hardloop, hoe minder was al die hare nodig.

’n Vel wat aan die son blootgestel word, brand egter maklik. Daarom het ons melanien in ons velle. Ek gaan gou weer vir Vel vra om self hieroor te gesels. Op bladsy 22 staan:  “Ek moet versigtig wees vir die son. As ek rooi brand, is ek deur ultravioletstrale beskadig. As ek genoeg melanien het, sal ek net effens bruin brand. As ek te min het, eina!”

Aangesien alle mense in Afrika, naby die ewenaar, ontstaan het, was al die eerste mense se velle swart. Ons almal het dus swart voorouers.

..........
Aangesien alle mense in Afrika, naby die ewenaar, ontstaan het, was al die eerste mense se velle swart. Ons almal het dus swart voorouers.
............

Toe gebeur ’n vreemde ding. Van ons voorouers trek weg uit Afrika en gaan bly in plekke soos Europa en Asië waar die son glad nie so helder skyn nie.

Daar het mense met baie donker velle gesukkel om genoeg vitamien D te vervaardig. Vitamien D is iets wat ons velle maak as ons in sonlig kom. Mense met ligter velle kon makliker die vitamien D maak, en hulle het dus meer kinders in daardie streke gekry.

Kom ons vra vir Vel om te verduidelik. Op bladsy 24 staan: “Soos mense getrek het na plekke met minder son, soos Europa en Asië, het ek my donker kleur verloor. Ek het dus van my melanien verloor. Die meeste van ons weet nie dat dit is waarom mense se velle so verander het nie. Is dit nie interessant nie?”

Jy is met ’n mediese dokter getroud; dalk brei dit jou algemene kennis oor die mediese wetenskap in die alledaagse lewe uit. Was daar enigiets wat jy geleer het oor die menslike vel, op biologiese vlak en ook oor mense se persepsies, terwyl jy die boek vertaal het?

Ek het reeds met die nagaan van die oorspronklike Engelse boek se proewe seker gemaak dat Elma saamstem met die wetenskap. Toe ek begin vertaal, was dit ook baie nodig om seker te maak ek gebruik die korrekte terme.

Ek moet nou ’n lansie breek vir die skrywers. Nina Jablonski en Holly McGee is in die eerste plek navorsers. Hulle het albei lang lyste ewekniebeoordelde publikasies agter hul name.

Hulle kennis is dus uitstekend. Dit is die manier waarop hulle hierdie kennis verpak het, sodat ’n leek soos ek dit kan verstaan, wat hierdie boek opwindend maak. Hulle vervleg moeilike biologiese konsepte met die geskiedenis en bied dit aan op ’n manier wat gewoon sin maak.

Karen Vermeulen, die Kaapse kunstenaar, het hulle woorde visueel indrukwekkend gemaak met haar illustrasies.

Waar kan mense die boek koop? Is dit algemeen in boekwinkels beskikbaar? Of kan mens dit iewers bestel?

Hopelik is dit binnekort in alle boekwinkels beskikbaar, maar soos ek oor enige boek in Suid-Afrika sê: Vra jou naaste boekwinkel om dit vir jou te bestel. Bargain Books sal moeite doen, waar hulle ook al in die land is, om ’n boek te kry wat nog nie op hulle rak is nie. En as mens kleiner, onafhanklike boekwinkels soos The Book Lounge in Kaapstad, Graffiti Books in Pretoria of Fogarthy’s in Gqeberha besoek, dan besef jy wat klantediens is. Hulle sal spesiaal moeite doen om die boek vir jou te kry.

Hier is die besonderhede as iemand wil bestel:

Titel: Dis net vel, my pel!
Skrywers: Nina Jablonski en Holly Y McGee
Illustrasies: Karen Vermeulen
Uitgewer: Powerssquared, ’n druknaam van Catalyst Press
Verspreiding word tans deur Protea hanteer.

In Engels:

Titel: It’s just skin, silly!
Skrywers: Nina Jablonski en Holly Y McGee
Illustrasies: Karen Vermeulen
Uitgewer: Powerssquared, ’n druknaam van Catalyst Press
Verspreiding word tans deur Protea hanteer.

 

  • 5

Kommentaar

  • Jakob-regoploop

    Daar is natuurlik 'n hele klomp twak wat so lekker verkoop word in hierdie boek dat sommige dit kan glo. Om te pas by die alewige politiek-korrekte narratief. Die verduideliking vir die ontstaan van swart en wit velle is nie net naief nie, dis sommer plein bollie. Baie van wat Nina Jablonski kwytraak is haar subjektiewe mening en duimsuigery. Holly McGee se claim to fame is Afrika/Amerika politiek en geskiedenis. Jammer die mening van kundiges ontbreek in die boek.

  • Hanno Visagie

    Ek stem saam met Jakob-regoploop. (Die woke Litnet-admin is blykbaar tydelik aan die slaap gevang, want gebruiklik word my response as 70 jarige Christengeneesheer nie geplaas nie.)

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top