
Kategismus deur Daniel Hugo (Turksvy, 2025)
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Titel: Kategismus
Skrywer: Daniel Hugo
Uitgewer: Turksvy (2025)
ISBN: 9781037042133
Kom ons begin met die titel. Kenners van Daniel Hugo se kreatiewe werk sal sekerlik nie deur die titel mislei word nie, want ’n handboek oor die grondliggende leerstellinge van ’n godsdiens is hierdie kategismus gewis nie, hier staat niet wat er staat. Maar klassieke Hugo is dit wel, soos die leser al van die kernagtige, beknopte vorm van die titel met sy religieuse sinspeling kan aflei.
Dit word dan ook verder bevestig deur die kort omvang wat die oorwegende getal verse van dié bundel met sy 121 gedigte (op 155 bladsye) kenmerk. Die groot aantal kort verse (koeplette, tersines, kwatryne, haikoes) pas uiteraard goed by die knap, dialektiese driesprong en die epigrammatiese aanleg wat die digter blykbaar verkies. Dat die grondliggende toonaard van die bundel as geheel ironies is, sal kenners van dié gesoute rymsmid – wat hoeka enkele maande gelede die Bybels-verkondigde sewende dekade bereik het – ook nie verbaas nie, om nie eens te praat van die skriftuurlike en godsdienstige leksikon wat ’n oorvloedige voorraad poëtiese materiaal aan die digter voorsien om sy beelde mee te smee nie. Tog gaan dit telkens ook oor die ambag en materiaal van die skrywer, soos in die volgende kwatryn:
Biegstoel
agter hierdie verstralies kan ek bieg
my allerpersoonlikste sê kom sê –
selfs godloënende calviniste
wil selfvertroetelend ’n gehoor hê (bl 37)
Die tweeledigheid wat eie is aan die ironie, bepaal ook die dubbele siening van die spotter en humoris, die jukstaposisie van teenoorgesteldes, die botsing van skyn en werklikheid, die letterlike en die figuurlike, en les bes, die vergesogte verbinding van teenstrydighede, soos in die gedig:
Teen wil en glo
ek is klaarblyklik doof
vir God se stem in my ore
ek praat ook nie met Hom nie
maar my tinnitus bly Hom loof:
in my kop sing engelkore
wat wragtig nooit verstom nie (bl 96)
Maar bowenal is Daniel Hugo se digterstuin ’n ware Eden van taal, ’n copia verborum (om Erasmus van ouds se term hier aan te pas), ’n warboel en weelde, ’n oorvloed van woorde wat wag om vir poëtiese gebruik gepluk en tot ’n potpourri vermeng te word. Dis ’n wêreld van woorde en beelde, ’n “ritselende labirint: / ’n leksikon, ’n tresoor van klank en tint” (“Warreling”, bl 40), soos in die Karoo: “hier lees jy die landskap / (alles neig tot simboliek) / soos ’n geopende boek: / hier praat God opnuut antiek” (“Kersfees in die Karoo”, bl 95). Dis dan ook nie verbasend nie dat die vier seisoene in die poësie van die ouerwordende woordwerker “inkrimp tot ’n haikoe / op die middernagkassie” (“Ou digter”, bl 46).
........
Maar bowenal is Daniel Hugo se digterstuin ’n ware Eden van taal, ’n copia verborum (om Erasmus van ouds se term hier aan te pas), ’n warboel en weelde, ’n oorvloed van woorde wat wag om vir poëtiese gebruik gepluk en tot ’n potpourri vermeng te word.
........
In een van die laaste kwatryne in die bundel, “Dementerende digter” (bl 144), kom Hugo se vernuftige gebruik van beeldspraak (“wegvlieënde voëls, die leeg wordende takke”), semantiese spel (“winterkaal: ontbloot”) en skynbaar onopsigtelike rymwoorde en -klanke (met tak) wat oor en weer na mekaar gekaats word, oortuigend aan bod:
al die vertroude name verlaat haar stuk-stuk
soos ’n swerm voëls uit ’n boom wegvlieg
dan word die winterkaal takke ontbloot, maar
sy praat selfverseker voort: die sintaksis bly intak
Interessant genoeg ontbreek juis dié rymwoord wat die leser hier sou verwag, naamlik woord, wat as’t ware deur voort opgeroep sou kon word, sodat die sinsbou nog behoue bly, terwyl die singewing weggeraak het. Hierdie gebrokenheid word sinvol deur die enjambement bevestig (“ontbloot, maar / sy praat”).
Van rym gepraat: Hugo se minimalistiese benadering het tot gevolg dat die digter presiese gewig op sy poëtiese materiaal moet lê. Dit verwys natuurlik in die eerste plek na die gebruik van rym, wat in hierdie bundel by nadere betragting haas oraloor kop uitsteek en soms byna onopsigtelik ’n poëtiese allegaartjie laat opklink, want “uit die kombuis verneem ek / ’n geneurie van geure / egte alchemiese gebeure” (“Komposisie”, bl 89). In ’n wêreld van woorde-oorvloed wemel dit prakties van spontane rymparings, met soms oorbluffende – of is dit gewaagde? – kombinasies: “Die digter Omar Khajjam was ’n Pers / wat die rooiwyn berym in vers ná vers. / Eeue later land Hugenote aan die Kaap / met húl psalms en eie druiwepers” (“Khajjam in die Boland”, bl 44). Ja, selfs die wind bied aan die digter ’n palindroom (bl 24) en “dit reën idiome en clichés” (“Beeldspraak”, bl 33).
In die woord-oerwoud skuil daar egter ook gevare, en “as niemand die digter keer / hou hy aan improviseer” (bl 32), sodat poëtiese smukwerk soos eind- en binnerym, alliterasie en assonansie die ritmiese vloei van die vers kan oordonder en selfs verstik. Vergelyk byvoorbeeld die oneweredige metriese beweging in die volgende:
ek het jou kronies lief / soos ’n roker verknog is aan sy kug / ek het jou fataal lief / as die laaste dôner wat rymend dig / my liefde vir jou is dus terminaal / solank ek bly asemhaal (“Prognose”, bl 83)
Waar dit egter slaag, werk dit baie goed, soos in die titelgedig met sy slim oorname van die Sokratiese (of dan, toepasliker, kategetiese) metode, sy teenoorstelling van “omhoog en laag” wat deur die twee tersines met hul enerse rymskema aba, cbc weerspieël word en die oorwegende jambiese metrum, asook die subtiele gebruik van alliterasie:
Here God, watter nut het muskiete in u skepping,
een en almal bloeddorstige droomverkragters
wat boonop irriterend eentonig daaroor lofsing?
Hoor net wie praat, antwoord die Skepper yskoud,
sowaar een van die onversadigbare massaslagters!
In die ganse heelal was julle my enigste fout. (“Kategismus”, bl 52)
Ten slotte is die artistiese credo van die gewaande ateïstiese digter – ironie der ironieë! – blykbaar nie alte ver verwyder van die puriteinse Protestant se werks- en geloofsetos nie:
Monnikewerk
raak ontslae van die luide self
lê die eie ek af soos ’n kleed
soos ’n cliché – vind ’n poel
van rus in die troebel gees
onttrek jou van die verwar-
rende werklikheid – soek
die lewegewende metafoor
wat transformeer en troos
wat die verlossende stilte skep (bl 150)

Lees ook:
’n Lesersindruk van die belewenisse van ’n latinis deur Jan Swanepoel
Vogelgedichten / Voëlgedigte deur Benno Barnard, vertaal deur Daniel Hugo

