openbare domein deur Daniel Hugo: ’n resensie

  • 0

openbare domein
Daniel Hugo
Naledi, 2018
ISBN 9781928426073

Daniel Hugo behoort tot die geslag Afrikaanse digters en skrywers wat in die jare sewentig en tagtig van die vorige eeu debuteer en dus met een voet in die apartheidsera geplant is en met die ander in ietwat onsekere ewewig in die oorgang na die millennium en die (destyds nog) nuwe Suid-Afrika staan. Oor al daardie jare heen – en die skynbare breuk tussen toe en nou ten spyt – tik hy onverpoosd met sy beiteltjie, skryf gedigte met vaste reëlmaat en bundel hulle elke paar jaar so betroubaar soos Namakwaland se madeliefies wat gereeld teen Augustusmaand hul verskyning maak. Hugo se métier is hoeka die gebonde vers, vormvas en heg gebou, pittig en epigrammaties in sy uitspraak. Van meet af aan beïndruk sy gedigte deur “die oorspronklikheid wat beeldspraak betref, die vermoë om disparate dinge bymekaar te bring, die netjiese sluiting en deurkomponering van beelde, die intellektuele tug en die fyn woordgebruik,” soos Kannemeyer dit in sy kommentaar op Hugo se vroeë bundels stel.

En met openbare domein, Hugo se jongste bundel, doen hy so voort. Dit beslaan 103 genommerde bladsye met altesaam 93 hoofsaaklik korter gedigte (eintlik is dit 93 plus die een op die agterblad) wat in vier afdelings verdeel is. En hoewel dié ongetiteld is, herken ’n mens tog die teen nou bekende – en breedweg outobiografiese – gegewens uit die Hugo-oeuvre: die huis en tuin (én verhuising), die liefde, asook (dit spreek byna vanself) digters en digkuns, en les bes die (Karoo-)landskap. Die omslagfoto deur Marlene Malan vang die rustige toonaard van die bundel mooi vas, met sy warm kleure en die blik van binne ’n huislike ruimte: die bodeur is oop en sy houtwerk weerspieël die son wat daar buite net-net opkom – of is dit dalk ’n sonsondergang?

Voordeur (agterblad)

die dag dring die kamer binne
met klank en kleur, met geur en lig
die woordventer kom tot sinne
begin stamel aan ’n gedig

die teks het sy eie drumpel
waaroor woorde versigtig tree:
wat binnerym sag laat rimpel
word in die buitelug geskree.

Dié balans tussen oop en toe, binne en buite, wat die leser na ’n plattelandse werf uitnooi en haar terselfdertyd ’n warm ontvangs in ’n gemoedelike binnekamer (en ’n proesel poësie) belowe, gee ’n visuele dimensie aan die bundel se beweging tussen naby en ver, die natuur en die mens, landskap en kuns – asook, nota bene, die private en die openbare domein – en is ’n aanduiding van hulle vervlegting, ten spyte van die konstant aanwesige antitetiese spanning, veral danksy die poëtiese verwerking daarvan, in die eerste instansie deur die metafoor, soos in die volgende voorbeeld met sy onpretensieuse beeld wat die natuur, die mens, die kuns letterlik saam verweef:

Droomvangers (bl 11)

soggens stap ek uit in die tuin

tussen bitter aalwyn en soetdoring
span die spinrag stralend in die son

die hele nag is daar hard gewerk
om ons toe te draai in ’n droomkokon

die kunstige werk van trillende klein
strikstellers, elk met sy eie venyn.

Ek het ook gehou van die impressionistiese “Somerdag” (20) wat op ’n soortgelyke trant die loom atmosfeer van die natuurbeeld subtiel met kunsvlytige werksaamheid byeenbring – en boonop deur ’n skynbare vals rym (heuning: mening) en die slim spel met die “son” (horison: sonneblom) beklemtoon:

traag syfer die dag soos helder heuning

dan sweef die volmaan geel
uit bo die horison
soos ’n korrel stuifmeel
van die groot sonneblom

môre werk die bye weer met mening.

Lesers wat vertroud is met Hugo se poëtiese siening sal ook hier die persoonlike aanslag en die introspektiewe blik – Hugo se handelsmerk, as ’t ware – herken wat meestal die gevaar van selfbeheptheid omseil met ’n stewige dosis (self-)ironie en ’n lakoniese blik op gewigtige én banale aspekte van die lewe, maar veral deur middel van die kenmerkende wederkerige werking van mikrokosmos en makrokosmos. Daardeur ontstaan daar dikwels die ongewone beeldspraak en sy tegniek van verrassende kombinasies wat ’n mens aan die “far-fetched association of the dissimilar” van die 17de-eeuse concetto laat dink: “alles bestaan gelyktydig/ die toe word nou, die hier word daar/ met’n kat se kort kwantumsprong” (“Die skrywer se kat”, 72). En as Donne ’n gedig oor ’n vlooi geskryf het, kan ’n muskiet tog ook kosmologies bygehaal word, dan nie?

Karoonagte (bl 32)

snags sluimer ons in die onmeetlike ruimte
van dié ruwe aardklip en sy sterrewoesteny

aan muskiet en verskietende meteoriet
uitgelewer droom ons onverstoord tot dagbreek voort

terwyl die sonar van vlermuise oor ons waak
en die spreilig van die maan op ons werwe skyn

die bemoerde haan sal vroegdag alarm maak
voor die son se rolbos weer oor die vlakte brand.

Ja, dit is die Karoo, wat in hierdie bundel die omliggende locus uitmaak. Tog is dit by dié digter se verliterariseerde opvatting van die wêreld opvallend dat die Karoo as literêre topos soos dit in die ryk skatkis van die Afrikaanse poësie, en veral in die werk van digters soos Van Wyk Louw, Boerneef, Ernst van Heerden, George Weideman en ander voorkom, hier haas geen weerklank vind nie, afgesien van enkele, en dan redelik bleek, verwysings.

Een rede daarvoor is gewis dat Hugo se blik telkens van die wêreld daar buite wegswenk en hy sy fokus gedurigdeur op taalgerigte aspekte, veral op die assosiasie van beeld en woord, rig, sodat die leksikale aspek van die beskrywing telkens ander taalverbande en -verwantskappe oproep en ’n paronomastiese spel van homonieme word wat dan ’n eie assosiatiewe ketting van woord en beeld voortbring: “soos ’n boekanier vaar ek die boek-/ winkel binne” (“Die boekanier kom tot rus”, 54); “van voortye reeds weet hul dit/ die setlaar en die soldaat:/ wat jy beset sal jy besit/ dit word ’n stat en ’n staat” (“Vers-set”, 60); “die sin van die syn wat ons ontglip/ is juis die soeke na daardie sin” (“Bidsnoer”, 85). Dis klassieke Hugo-terrein dié, Karoo of te nie.

’n Ander bekende tema waarmee ons hoeka vertroud is in Daniel Hugo se poëtiese oeuvre is die gesprekke met skrywers. Wat skuil agter hierdie verse wat sy digtende kollegas naderroep en as ‘t ware in ’n galery voor ons opstel? By nadere beskouing kan hulle nie almal oor een kam geskeer word nie – daar is byvoorbeeld ’n stuk of nege wat aan ’n digter opgedra is, ’n ironiese klop op die skouer van sy “bloedbroer”, Gerrit Komrij (“Trooswoord”, 57), ’n aantal huldigings (Ina Rousseau, byvoorbeeld, of MM Walters, Pieter Fourie, Breyten en Eben Venter), sardoniese spot- en hekelverse (vir die “onbeminde” Barend Toerien of Karel Schoeman), of waar woorde van die digter aanleiding tot ’n eie gedagtegang gee, bv “Edms Bpk” (76), verse uit Tristia (74), of die elegiese “Winternag” (99). (Terloops, daar is ook verse wat aan ’n hond en ’n kat opgedra is ...)

Ek wil hier veral die huldigings aan Hennie Aucamp (64) en die “digter-dokter” Phil du Plessis (67) as besonder geslaag, ja indrukwekkend, uitsonder. Hulle is al twee te lank om in hulle geheel aangehaal te word; ek volstaan met die volgende uittreksel uit laasgenoemde:

wanneer die gedigte en pasiënte wegbly
speel hy wankelrig viool, met die branders
se basso profundo op die agtergrond

en die siellose geklak van ’n metronoom –
op ’n dag spoel die woorde soos skulpe uit
en in ’n doktershandskrif krap hy dit byeen:

verse oor Valsbaai, sy gebreekte rug, valse vriende
en die altyd teenwoordige eensaamheid
in daardie lendelam huis langs die onsterflike see.

Dit alles, tesame met verdere verwysings na onder meer Tolstoi, Johann de Lange, of Opperman, plaas die digter in ’n ander ruimte, waar hy – met hoeveel (skynbare) respekloosheid of die immer teenwoordige ironie ook al – die grense van sy eie poëtiese visie kan afbaken en homself as eweknie van gewaardeerde en bewonderde digters kan voorstel. En daarmee word ook duidelik gesinjaleer dat Daniel Hugo se poësie om die poësie wentel: metapoësie as vorm, tema en opdrag. En hier kan ’n mens dan Kannemeyer se mening dat Hugo se digwerk ’n metafisiese dimensie ontbreek, korrigeer: die dimensie is dalk nie van ’n transendentele (dus: konvensioneel religieuse) aard nie, tog is die digkuns by hom, in dié gesekulariseerde sin, nie minder metafisies nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top