Klinkklaar
Daniel Hugo
Protea Boekhuis
SKU: 9781485312604
........
’n Nuwe digbundel van Daniel Hugo is altyd te verwelkom, nie alleen omdat hy so ’n produktiewe skrywer is nie, maar ook omdat sy arbeid op verskillende terreine rakende die letterkunde hom een van die bekendste kolporteurs van die Afrikaanse digkuns maak, iemand wat vandag baie deur die digkuns benodig word.
...........
’n Nuwe digbundel van Daniel Hugo is altyd te verwelkom, nie alleen omdat hy so ’n produktiewe skrywer is nie, maar ook omdat sy arbeid op verskillende terreine rakende die letterkunde hom een van die bekendste kolporteurs van die Afrikaanse digkuns maak, iemand wat vandag baie deur die digkuns benodig word. Ons leef in ’n tyd waarin die poësie die sentrale posisie in die Afrikaanse literêre kanon wat dit in die vorige eeu gehad het, moes afstaan ten gunste van die prosa. Dit behoef min verduideliking dat die woordkuns in gedrukte vorm beleër word deur die groot aanbod wat deur die elektroniese media, veral die visuele media, moontlik gemaak is. Daarby ly die opbloei in verhoogkuns wat deur kunstefeeste geïnspireer is, tans onberekenbare skade as gevolg van die Covid-inperkings wat nie werklik deur virtuele aanbiedings teengewerk kan word nie.
Om ’n ander rede is Hugo ook van belang: Sy verse is wat vorm en inhoud betref, steeds taamlik tradisioneel. Hy skryf steeds op die netjiese, afgeronde manier wat vir die meeste lesers die skrifbeeld voorhou wat met die eerste oogopslag as “poësie” herkenbaar is: versreëls van eweredige lengte, verdelings in strofes van twee, drie en vier reëls, paarrym, kruisrym of – sowaar! – hierdie keer ook halfryme in die rymposises. Ook inhoudelik hou Hugo hom grotendeels by wat “gewone” lesers van die digkuns verwag, soos verwoord in die allitererende titels van vyf van die ses afdelings van Klinkklaar: “Lae Lande”, “Lente”, “Liefde”, “Lamento” en “Lugtig”. So slim soos wat Hugo se gedigte is, laat hy nie sy lesers dom voel omdat hulle nie eens die betekenis van die afdelingstitels kan verstaan nie. Meestal het Hugo hom tevore ook nie op sleeptou laat neem deur een of ander “saak” nie (sy bekommernis oor die oorlewing van Afrikaans as kultuur- en literêre taal is die belangrikste uitsondering), al sou die stipte leser wel in vorige bundels bepaalde simpatieë kon aantoon.
Daniel Hugo is een van ’n groep digters/skrywers wat in die 1980’s gedebuteer het en aanvanklik as die Tagtigers geëtiketteer is. Onder hulle was die steeds aktiewe skrywers Etienne van Heerden, Johann de Lange, Johann Lodewyk Marais, Peter Snyders en Joan Hambidge, en Koos Prinsloo wat in 1994 oorlede is. Dié groep het nie doelbewus ’n bepaalde missie met hul skryfwerk gehad soos die Sestigers nie, en het eintlik uiteenlopende paaie bewandel. Opmerklik is wel dat hulle besonder produktief was/is en nog steeds ’n betekenisvolle bydrae tot die Afrikaanse letterkunde lewer. Hugo is een van die groep se lede wat hom as skrywer toegelê het op die poësie en tot dusver 17 digbundels gepubliseer het.
Benewens sy eie skryfwerk is Hugo ook andersins literêr besig: Hy was as radio-omroeper veral bekend vir die samestelling en aanbieding van radioprogramme en vir sy radiogesprekke met letterkundiges en skrywers; is ’n bedrywige vertaler van sowel prosa as poësie uit Nederlands en Vlaams (sy vertaling van die monumentale Die verdriet van België van Hugo Claus het in 2020 verskyn); en het ook opgetree as bloemleser van onder andere gedigte oor Namibië in Land van sonlig en van sterre (2006), as samesteller van die bundel Maskers en mure, gedigte oor die COVID-19-pandemie (2021), en as mede-aanbieder van die televisiereeks Ek wou nog sê, waarin bydraers tot Avbob se gelyknamige bloemlesing oor hul gedigte gesels.
........
Ons leef in ’n tyd waarin die poësie die sentrale posisie in die Afrikaanse literêre kanon wat dit in die vorige eeu gehad het, moes afstaan ten gunste van die prosa. Dit behoef min verduideliking dat die woordkuns in gedrukte vorm beleër word deur die groot aanbod wat deur die elektroniese media, veral die visuele media, moontlik gemaak is. Daarby ly die opbloei in verhoogkuns wat deur kunstefeeste geïnspireer is, tans onberekenbare skade as gevolg van die Covid-inperkings wat nie werklik deur virtuele aanbiedings teengewerk kan word nie.
..........
Klinkklaar is besonder mooi uitgegee deur Protea, met ’n omslag na ’n kunswerk van Diane McLean. Dié olie-op-doek-skildery doen die etiket “stillewe” gestand. Anders as die swoele lewensdrif wat straal uit talle bekende stillewes van die Nederlandse Goue Eeu, word hier ’n verstilde lewe voorgestel – ’n enkele glashelder glas met ’n rangskikking van droë takke, ’n grys pot met ’n helder wit ligkol aan die linkerkant, ’n wit, ovaalvormige voorwerp, moontlik ’n eier, links voor, en in plaas van die menslike skedel wat dikwels as memento mori of herinnering aan die sterflikheid op ouere stillewes aangebring is, verskyn hier die skedel van ’n bok, moontlik ’n steenbok of rietbok. Die “gedempter tinte” van die omslag én die bundel spreek in “Kunsklas” (32) mee:
Die Skepper skilder elke lente
ekspressionistiese prente
dit wat ons retina prikkel
met roekelose kleuraksente
Hy’s minder uitbundig in die herfs
wanneer Hy gedempter tinte verf
die moet gemoedere kalmeer
oor alles wat in die winter sterf.
Die dood is “ysingwekkend” teenwoordig in “Grysland” (20), maar dit is veral in die afdeling “Lamento” se 18 gedigte dat die sterflikheid herhaaldelik aan bod kom, ook in die knap vertalings van gedigte van WB Yeats, Dylan Thomas, RS Thomas, ee cummings en Emily Dickinson. Hugo se eie registrasie van die COVID-19-pandemie vind neerslag in “Twintig-twintig” (53):
agter dun maskers en luike
hou mense hulle koes
in die strate dwaal die virus
met ’n droë hoes.
As keersy tot die voorstelling van die mens as slagoffer van die pandemie, word in “Herstel” (54) die mens as skuldige vernietiger van die aarde uitgesonder:
hierdie virus is kieskeurig:
hy vind die besoedelaar, die mens.
Die gevoeligheid vir plek, veral die Karoo en die Boland van Stellenbosch, is minder aantoonbaar teenwoordig in Klinkklaar as in Takelwerk en Openbare domein. Maar skerpsinnige verwoording van sintuiglike waarneming en die ontasbare eggo’s van musiek en die woorde van Eybers, Marsman en Van Wyk Louw is wel te vinde in die afdeling “Lae Lande”: Amsterdam met sy weerkaatsings van gewels en swane en “klassieke kanale / van welvaart en weerbaarheid”, daarteenoor die aweregse beeld van Gent met sy dronk studente en ’n kraai wagtend op ’n lamppaal. Die besef van die tydelikheid van dinge dring reeds in hierdie afdeling na vore, soos in die slotkwatryn van “Jacob Israël de Haan” (11):
dat ek ’n wilde genieter was
wie se vreugde wrang was en wie se wroeging wranger
dit sal mense weet solank hul Hollands lees
maar geensins langer.
Maar Klinkklaar sou nie ’n egte Hugo-bundel wees sonder ’n versameling speelse verse nie: In “Lugtig” word die vergrootglas gelig na veral die lastiges – die vlieë, miere, muskiete, perdebye en wespe. Die vernuf van die digter het my meermale oorbluf gelaat met die inspeling op ander tekste (“Die vlieë sal die aarde beërwe” en “Antwoord aan Yeats”), of met die hiperboliese of onverwagse woordkeuses. Hugo het tevore al sy jaloesie op die vernuftige rymvonds van “malaria” met “aria” in AD Keet se “Muskietejag” uitgespreek, maar in “Muskiet” lewer die verplasing van die vabond na verre lande ook ’n vermaaklike vonds op:
Muskiet
dié muezzin van oase en moeras
gil oor gehug en stad
roep onverbiddelik elke volgeling op
tot bloedige djihad.
Soos in vorige bundels neem besinnings oor die digkuns in Klinkklaar ’n belangrike plek in, hier veral in die lywigste, laaste afdeling, ook “Klinkklaar” betitel. Daar is inspelings op ander digters, gedigte opgedra aan die muse, aan ander digters, ’n aweregse huldiging van JC Kannemeyer en ’n vers opgedra aan die kritici. Teen die einde van die afdeling kom ’n aankondiging dat die digter sy rekening sluit:
Kennisgewing
ek het nou genoeg ryme verslyt
in die klinkende munt van die taal:
die voorraad is byna uitgeput
ek wil nog graag enkeles nalaat
vir ander wat nagte gaan deursit
en reken op ’n sinryke slot
hiermee word my rekening gesluit.
Die leser moet die aankondiging miskien maar met ’n knippie sout neem. Die laaste gedigte, oor God en die gode en die finale “Götterdämmerung”, wil oënskynlik klaarspeel met sowel digkuns as die metafisika – maar hoe dan gemaak met die “verdomde nuwe heelal” wat uit die finale, groot knal blom?
Inhoudelik hou Hugo hom (op die oog af) ook nie op met die swaar intellektuele, die vraagstukke van die postmodernistiese letterkunde met sy gelyktydige aanwesigheid van verskillende betekenisladings) en die gelade eggo’s van die Franse en Engelstalige gunstelinge van intertekstualiteit nie. Dit ten spyte van die uitgebreide kennis wat Hugo deur sy vertaalwerk van die Dietse letterkunde moes opgedoen het. Nou en dan is daar ’n kopknik na die Amerikaanse en Britse letterkunde, soos in die afdeling vertalings waarna reeds verwys is. Hier, in Klinkklaar, het die klaarheid dus ook te make met helderheid en verstaanbaarheid vir ’n groter groep lesers as dié wat angsvallig let op wat in die Amerikaanse akademia ontplooi en met groot geleerdheid terselfdertyd ook verhul en versteek word vir die gewone leser.
Hugo se digkuns bevat net enkele registrasies van die wêreld buite sy eie netjies afgebakende werklikheid. Die Suid-Afrikaanse aktualiteit, die politieke en sosiale realiteite van die land buite die digter se eie bestaan vind weinig neerslag in sy poësie. Dit hoef ook nie. Met hulle dikwels humoristiese aanslag is sy verse toeganklik en genietlik vir meer as net ’n uitgelese, moeg-geleeste groep lesers. Die toeganklikheid word ook onderlê deur sy styl: ’n verskuns wat vormlik streng eise aan die digter stel, en terselfdertyd met sy vaste rympatrone, netjiese strofebou en kort versreëls, dikwels met ’n vaste aantal lettergrepe per reël, enigsins aan ouer skrywers herinner. Daardeur bewerkstellig Hugo iets vertrouds by die leser – selde hoef die leser te wonder of hy/sy wel met poësie te make het. Op die oog af lyk die verse soos die ryme wat van kindsbeen af bekend is.
Hugo skryf vir Afrikaanse lesers: Die werklikheid waaroor hy skryf, is (oorwegend) Suid-Afrikaans; die digters na wie hy graag verwys, sluit ook ouer Afrikaanse digters in met wie ’n ouer groep lesers op skool kennis gemaak het. En van wie Hugo en sy lesers klaarblyklik ook gehou het en wat hulle steeds onthou.
En tog lei daardie memento mori op die omslag die leser om ook te soek, op die spoor te gaan van die eksistensialistiese wete van die Sein-zum-Tode; spore wat ook reeds in sy vroeëre poësie teenwoordig is en waarna Kannemeyer al verwys het as ’n gevoeligheid vir die sterflikheid. Vroeg lees ons in Klinkklaar al van die “stinkende spesmaas” in “Kraai”, dat die voël met sy weersinwekkende gekrys die spreker “kil in die oog hou”; die ou man in “Asiel” wat by sy leë glas bly sit, vermoedelik bevrees vir die “loopdop die ewigheid in”; en reeds in die tweede afdeling staan die gevatte maar wrange tweereëlige “Naskrif”:
doodgaan doen mens alleen, my lief
ten slotte sterf ons almal stief.
Daar is ook die skynbaar versteoretiese vraag: “hoe rym ek myself uit die weg?” (21) en die sinistere vraag na die verband tussen “vers” en “sterf”. Dalk is dit juis hierin dat die bundel se raison d’etre lê: die bedink, beteken en be-taal van taal en vers as die tot spreke bring van die onbespreekbare: die sterflikheid, die groot wete van die pandemie. Nie verniet nie dat tussen die talle verse oor die digkuns, digters en die rym, die letterlik sentrale posisie in die bundel ingeneem word deur twee verse oor die pandemie – verse wat die wentelpunt van die bundel vorm.
Vanselfsprekend dui die titel van die bundel op die heldere, die duidelike en die klinkende van die soort poësie wat Hugo skryf. Maar terselfdertyd klink ook die ander betekenis van “klaar” saam: dit wat afgehandel, voltooid is of moet word, ook die klaar wees met die klinkende klank (voorlopig, altans, hoop ons!).
Hierdie bundel met sy skone, grys omslag bevat meer as selfbewuste skrywery oor die rymery; dit staan in die teken van die groter wete van die dood wat onsigbaar skuil in die lewensasem, die besef dat die helder werklikheid kleur verloor het (daar is opvallend min verwysings na kleur en lig in die bundel). Die wêreld wat hier geregistreer is, is as ’t ware met ’n grys potlood ingekleur. In hierdie werklikheid is ook die digkuns weinig meer as ruimterommel (“Dichterdämmerung”, 90):
niemand het so ’n vrye sê
as die hedendaagse digter nie, want
g’n niemand lees gedigte nie
die mees radikale uitspraak
eggo in die niet – die digter
se ego verkrummel en verskiet
tot ruimterommel wat geluidloos
eindeloos tuimel, geïgnoreer
deur teleskoop en satelliet
die aarde het ’n stralekrans
radelose ryme, stoffies wat dans
in die lig van die afsydige son.
En tog demonstreer die dikwels lugtige, dikwels ironiese verse in die bundel die teendeel: Een ding wat duidelik geword het in wat die nou al geykte en niksseggende “nuwe normaal” genoem word, is dat die gedrukte woord steeds die standhoudendste, die betroubaarste registrasie van die gees van ’n tyd bly, en dat die poësie steeds dié genre bly wat die gedagtes, gemoedstemminge en gebede van ’n radelose mensdom op die vinnigste, indringendste en aangrypendste wyse kan uitspreek.
Kommentaar
Poësie, soos musiek, is suurstof vir die covid-voos mensdom. Dankie, Daniel, vir 'n netjiese bundel.
If it is art, it is not for all, and if it is for all, it is not art
Arnold Schoenberg.
dan moet die digkuns
vallende staan
Covid het ons verander... en ons beteken alle rasse op aarde. Om te dink aan die aanslag was dramaties, maar ons slimmigheid het tog gewen om op te lig en te verbeter. Dankie, Daniel Hugo, vir jou bydrae.
Boeiende resensie, wat my na die lees van die bundel (hy lê al hier op my leesrak) laat uitsien.