
Agtergrondfoto: Henryk Niestrój | Pixabay
...
Veral die noem van Catullus se naam het my aan die opwindings en verwarrings van my prille jeug laat dink, hy wat sy geliefde stoutmoedig vra – of is dit soebat, dalk uitdaag? – om hom weer en weer te soen: Duisend maal, daarna honderd en dan weer ’n duisend maal.
...
Die titel: die belewenisse van ’n latinis
Skrywer: Jan Swanepoel
Prys: R250,00
ISBN: 978-0-6397-4513-8
Uitgewer: Turksvy Publikasies
Bestel by https://turksvypublikasies.co.za
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Volgens die inligting op die omslag van hierdie digbundel is Jan Swanepoel ’n afgetrede akademikus wat 50 jaar aan die NWU verbonde was, as dosent in beide Latyn en regsfilosofie en later as dekaan van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte. Verder verneem die leser dat hy hom met studies oor Vergilius en Catullus respektiewelik vir sy meesters- en doktorsgraad onderskei het. ’n Latinis dus, soos die titel reeds laat blyk.
Bewapen met hierdie inligting het ek die bundel met sekere verwagtings ter hand geneem. Veral die noem van Catullus se naam het my aan die opwindings en verwarrings van my prille jeug laat dink, hy wat sy geliefde stoutmoedig vra – of is dit soebat, dalk uitdaag? – om hom weer en weer te soen: Duisend maal, daarna honderd en dan weer ’n duisend maal. Catullus, die ewige jongeling wat in sy vroeë dertigerjare oorlede is en die drifte en hartstogte van die jeug, vurige liefde, haat en jaloesie alte goed geken en in sy gedigte tot uitbarsting gebring het. TJ Haarhoff, een van die eerste Latiniste van die Afrikaanse letterkunde, het hoeka ’n hele bundel aan Die liefde van Catullus gewy, reeds voor die Digters van Dertig, maar vandag helaas lank vergete.
Die temas wat Catullus in sy poësie behandel, dek egter ’n breër veld as die erotiese, en die toonaard kan boonop nie deurgaans of selfs oorwegend as elegies getipeer word nie. Hy is immers ook bekend vir sy speelse en onbeswaarde verse. Dink net aan die treursang wat hy, blykbaar in alle erns, ter ere van sy beminde se gestorwe hansmossie aanhef.
Waar daar in die Afrikaanse lettere sprake van ’n klassieke invloed of tradisie is, dink ’n mens onwillekeurig aan inhoudelike of tematiese aspekte, in DJ Opperman se Periandros van Korinthe byvoorbeeld, of NP Van Wyk Louw se Germanicus en selfs ook Tristia. Die bynaam wat Catullus vir sy beminde gebruik, Lesbia, is egter nie net ’n huldeblyk aan Sappho (oftewel Sapfo), die beroemde digteres van Lesbos, en die hoogstaande gehalte van haar poësie nie, maar is tewens ook ’n bevestiging van die waarde van die Griekse digkuns vir sy eie werk. Dit behels ook die aandag wat hy in navolging van sy voorbeeld aan metrum en versvorm gee.
Ons bevind ons hier in die 21ste eeu uiteraard baie ver verwyder van die klassieke tydvak, en die meeste van die magdom dikwels uiters ingewikkelde versvorme in die Griekse en Latynse digkuns het in ieder geval mettertyd in onbruik verval en in later tye voor die vrye vers geswig. Dieselfde geld ook vir streng rymskemas, wat weliswaar nie ’n vaste plek in die antieke prosodie het nie. Hierdie bestanddele van ’n klassieke poëtika, asook die soeke na ewewig en harmonie binne die estetiese primaat is grotendeels afwesig in Swanepoel se gedigte. Desnieteenstaande het hy juis met sy poging om groot gebare en swaarwigtige uitsprake te vermy in ’n mate daarin geslaag om wyle Winckelmann se kernagtige definisie van die klassieke kuns, naamlik “edele eenvoud en rustige verhewenheid”, op sy eie manier te verwesenlik.
Die bundel met sy vyftigtal gedigte van wisselende lengte bestaan uit vier langer afdelings met min of meer ’n dosyn gedigte elk plus vier korteres. Die bundel is netjies afgewerk met ’n aantreklike foto op die buiteblad van ’n stemmige interieur van ’n voorkamer wat ’n blik op ’n voorstedelike tuin deur ’n skuifraamvenster verskaf. Dit pas mooi by die introspektiewe aard van die meeste gedigte, die algemene beskoulike houding en die mineurtoon van die bundel as geheel. Die belewenisse wat in die titel genoem word, is dus eerder ’n terugskouing op die “vlietende jare wat verbyrol” en die wete van die mens se sterflikheid, waaraan die openingsgedig (“bestek”) ons met die woorde van die Prediker herinner: “die dae waarvan daar gesê word / mens het daar geen behae in”. Of soos dit in ’n ander verband verbeeld word: “die fyn / vergeelde perkament / van ’n liefde wat so veel / beloof het” (“kom”).
Die bundel staan in die teken van ’n einde, met die intens-persoonlike gevoel dat die dood vroeër of later met sy “slopery” gaan begin. Daar is dan ook ’n aantal afskeidsverse van “dié na aan my”: ’n vader, ’n broer, ’n moeder, verskeie vriende. Hier is dit egter nie die Romeinse digter wat vertroosting verskaf by die besef van die nietigheid van ons bestaan nie, maar die poëtiese boodskap van die Psalmis wat in die gedig “U en ons” berusting en aanvaarding gee:
[...] ons loof U, God, U wat
die lieflike lig aan ons gee
die veerkrag in ons stap
ons wat kan ken, kan
name gee en gryp
na onbegryplikhede.
U maak ons groot, skaars
minder as ’n goddelike wese
maak U ons, en maak ons klein
en krimp ons wêreld in [...]
Die digter slaag grotendeels daarin om die diep-persoonlike gevoel van verlies te temper en dit in ’n groter verband te plaas, hoe wrang en ironies dit ook mag blyk in “verweer en omkeer”:
[...] denk-
beeldig is die pyn van huis en haard
glad nie. tog eindig heel die wêreld
nie by my, by pyn van hulle
naby aan my nie.
die tyd het aangebreek: ek moet
koers kry, vir eens en altyd
klinkklaar vir huisgenote
en vir lesers demonstreer dat ek
wel deeglik weet van leed gely
deur mense in die wêreld
rondom my. [...]
Maar die poësie bied ook ’n toevlug teen die aanslae van die lewe, al klink hierdie troos nogal bedrieglik. Wanneer “die leed uitgely is / die doodsliedere gesing”, wat anders bly oor vir die digter “as om ou stryk te dig” (“introspeksie 2”)?
In “huis in die wind” waar die meedoënlose rukwind buite ’n aanskoulike metafoor word vir die innerlike wroeging en bekommernis van die pa wat by sy seun se bed waak, is dit die poëtiese tegniek, veral alliterasie en woordspel, wat ten spyte van, of dalk danksy, die ligte irritasie wat deur die oordrewe gebruik en herhaling van dié handgrepe veroorsaak word, wat die emosionele spanning in die menslike situasie juis oortuigend oordra:
die wind is om die huis
onrustig ruk en pluk
die wind, laat ruite
ratel in hul rame
die rus ontwyk
my en my seun
hy sê volsinne
in sy slaap
ek raak hom aan
probeer rus bring
en noem hom
op sy naam
onrusbarend loei en
loei die wind om my
en om my kind.
Die gedigte spreek veral tot die leser deur die volgehoue terughouding ten opsigte van diep gevoelens, deur ’n bewuste weerhouding van emosies: “En dié gedig / mag nié meesleurend náklink nie, / niks groots wees nie, nie ’n pretensie / van tragiek bevat nie. Ek sit en rook [...]” (“Antigone op televisie”). Die gevolg is soms ’n bewuste stylbreuk, ’n jukstaposisie van verhewe inhoud en platvloerse taal, soos in die geval van die onrustige pasiënt wat die plafon met haar oë verken op soek na die plek “waar sy die tydelike / kan verwissel / met die ewige, ten slotte / lepel in die dak kan steek.” (“wys my die plek”; hoe goed pas die Leipoldt-verwysing in die titel in dié konteks nie!)
In ’n ander geval (“in memoriam s 2”) is dit die kil formule van die doodstraf wat die leser ruk:
jy het huis toe gekom
hulpeloos na jou ma toe gekom
om vir laas te groet. jou op-
gehang aan jou nek geswaai
tot jy dood was.
Dikwels word hierdie knaleffek nog versterk deur die vernuftige aanwending van enjambement en verder ondersteun deur binnerym, alliterasie en slim woordspel, soos in “in memoriam s 3”:
jou ma het hierdie dag verwag, bang
maar moedig het sy hierdie dag probeer
wegweer van jou. jou probeer beskerm
soos ’n hen haar kuiken. eindelik
breek die dag aan, kom die dood
soos ’n dief
en geen haan kraai daarna nie.
ons sit by haar met ons stom troos.
ons weet jy was weerloos, sat
tot die dood toe.
Terwyl die onderwerp van die broosheid van die bestaan en die verganklikheid van die vlees soos ’n goue draad deurgaans in die bundel aanvoelbaar is en die digter dit veral in korter gedigte byna epigrammaties tot knap gekonsentreerde segging voer, slaag die langste gedig ongelukkig nie daarin om dié leser te boei nie. Ek praat hier van “nuusberigte 2020”, wat met sy titel Van Wyk Louw se gelyknamige gedig uit Tristia met sý noem van die jaar 1956 oproep. Ook die lengte van die gedig en die verwysing na mediaverslae oor aktuele gebeure is in navolging van Louw se bekende gedig. By Swanepoel gaan dit in wese oor gebeure in ’n wyer, ook internasionale, konteks, soos die Covid-pandemie, die polisie-optrede teen George Floyd in die VSA of Trump se kaskenades of dan, les bes, ongedurighede in Suid-Afrika.
In ’n pessimistiese bui sê Louw in ’n ander gedig uit Tristia: “Laat bitterheid nou finaal word. / Dis derde gelui.” Swanepoel stem met Louw saam dat dinge onredbaar lyk, tog behou hy die hoop: “voorwaar dis laaste gelui; laat bitterheid tog nie finaal word nie.” En hy betrek nogmaals Louw om sy ingesteldheid te verwoord: “laat toorn maar eerder omslaan in ironie. / daarvoor het ons ten minste heelwat ruimte.”



