Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2021: ’n onderhoud met Valda Jansen

  • 0

Foto van Paulethuis: Jakes Gerwel Stigting; foto van Valda Jansen: verskaf

Die fokus van die program is veral skrywers wat nuwe stories na die Afrikaanse letterkunde bring en leefwêrelde oopskryf wat nog nie voldoende in die letterkunde gehoor is nie.

Die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans het ses suksesvolle aansoekers aan vir die maand lange skrywersresidensie wat dié twee organisasies weer vanjaar aanbied, gekeur.

Die fokus van die program is veral skrywers wat nuwe stories na die Afrikaanse letterkunde bring en leefwêrelde oopskryf wat nog nie voldoende in die letterkunde gehoor is nie.

Valda Jansen, een van die skrywers wat suksesvol vir die skrywersresidensie aansoek gedoen het, praat met Naomi Meyer oor hierdie geleentheid.

.......

Ek wil aanhou om die soort boeke te skryf wat ek graag wil lees.

.........

Vertel asseblief vir ons lesers van jou agtergrond.

Ek is iemand wat van kleins af reeds skryf, maar eers laat in my lewe ’n roman voltooi het. My eerste liefde is woorde, veral poësie. Ek lees en skryf graag gedigte, want ek hou van die kuns om veel te sê met min woorde.

Wat is jou skryfdrome? Waaroor skryf jy graag, en oor watter karakters?

.......

Ek skryf, ten spyte van mense rondom my wat doodgaan, ten spyte van verbrokkelende verhoudings, ten spyte van persoonlike verhoudings wat dawerend in duie stort.

........

My skryfdrome en drome as skrywer is onlosmaaklik met my persoonlike lewe verbind en vervleg. Of ek dit nou wil hê of nie. Ek moet skryf, al wil ek nie. Ek skryf, al voel dit ek kan nie meer nie. Ek skryf, ten spyte van mense rondom my wat doodgaan, ten spyte van verbrokkelende verhoudings, ten spyte van persoonlike verhoudings wat dawerend in duie stort.

Ek wil aanhou om die soort boeke te skryf wat ek graag wil lees.

My droom is om boeke te skryf wat iets sal beteken vir diegene wat dit lees; boeke wat iets kan sê oor ’n tyd wat verby is.

Want net soos ek hier sit en my verbeel hoe die lewe 200 jaar gelede in hierdie land was, net so sal daar in die toekoms altyd mense wees wat sal wil weet hoe óns gelewe het.

Waarom het jy aansoek gedoen vir hierdie residensie? Wat beteken die toekenning vir jou?

........

Jakes Gerwel die mens, die akademikus, was nog altyd ’n baken vir baie van ons. Hy het ons gewys hoe om grense te oorskry en hoe om dit vreesloos te doen. Ons het graag na hom geluister, graag gelees wat hy geskryf en gesê het. Hy was die soort mens in wie se voetspore ons graag volg.

........

Die waarde van ’n wegkomkans, ’n tydelike ontvlugting. Die luukse daarvan om myself in ’n onbekende omgewing te bevind sodat ek weer my eie gedagtes kan hoor.

Jakes Gerwel die mens, die akademikus, was nog altyd ’n baken vir baie van ons. Hy het ons gewys hoe om grense te oorskry en hoe om dit vreesloos te doen. Ons het graag na hom geluister, graag gelees wat hy geskryf en gesê het. Hy was die soort mens in wie se voetspore ons graag volg.

Lees ook:

Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2021: ’n onderhoud met Salvia Ockhuis

Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2021: ’n onderhoud met Andries Bezuidenhout

Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2021: ’n onderhoud met Lydia Gittens

Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2021: ’n onderhoud met Sarie Nell

Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2021: ’n onderhoud met Mercy Kannemeyer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top