Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2021: ’n onderhoud met Andries Bezuidenhout

  • 1

Foto van Paulethuis: https://jgf.org.za/; foto van Andries Bezuidenhout: verskaf

Die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans het ses suksesvolle aansoekers vir die maand lange skrywersresidensie wat dié twee organisasies weer vanjaar aanbied, gekeur.

Die fokus van die program is veral skrywers wat nuwe stories na die Afrikaanse letterkunde bring en leefwêrelde oopskryf wat nog nie voldoende in die letterkunde gehoor is nie.

Andries Bezuidenhout, een van die skrywers wat suksesvol vir die skrywersresidensie aansoek gedoen het, praat met Naomi Meyer oor hierdie geleentheid.

.......

Ek dink ’n oorhoofse tema in my akademiese navorsing, gedigte, musiek en skilderwerk is waarskynlik Suid-Afrikaanse landskappe en mense se ingewikkelde en verwikkelde verhoudings met daardie landskappe.

..........

Baie geluk met jou PEN Afrikaans-Jakes Gerwel-residensie! Vertel asseblief vir ons lesers van jou agtergrond.

Baie dankie Naomi. Ek het aansoek gedoen om aan ’n derde digbundel te werk en om meer te leer oor die Jakes Gerwel Stigting se gemeenskapsprojekte. My vorige twee digbundels was Retoer (2007, Protea Boekhuis) en Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle (2014, Protea Boekhuis). Die manuskrip waaraan ek werk, is redelik ver gevorder. Ek weet gewoonlik dat dit einde se kant toe staan as ek soveel gedigte het dat ek van sowat ’n derde ontslae kan raak en die bundel steeds staande sal bly. Op daardie punt is daar egter nog baie werk wat gedoen moet word, soos die redigeer van bestaande gedigte, elke gedig beoordeel binne die konteks van die bundel in sy geheel, nuwe gedigte skryf met daardie tema in gedagte en besluite oor die volgorde waarin die gedigte moet verskyn. Ek is ook ’n musikant en skilder en in die dag doseer ek ontwikkelingstudies aan die Universiteit van Fort Hare. Ek woon in Alice, ’n klein universiteitsdorpie hier in die Oos-Kaap.

Wat is jou skryfdrome? Waaroor skryf jy graag, en oor watter karakters?

........

Landskappe is fisiese plekke met berge, riviere, vlaktes, treinspore, mure, heinings, strate en geboue. Waar jy jou op die landskap bevind, bepaal hoe jy die landskap beleef – of jy tuis of vervreemd voel, of dalk gemengde gevoelens daaroor het, of jy in ’n woonstelblok, ’n sekuriteitskompleks of ’n informele nedersetting woon. Landskappe is ook hoogs simboliese plekke.

..........

Ek dink ’n oorhoofse tema in my akademiese navorsing, gedigte, musiek en skilderwerk is waarskynlik Suid-Afrikaanse landskappe en mense se ingewikkelde en verwikkelde verhoudings met daardie landskappe. Landskappe is fisiese plekke met berge, riviere, vlaktes, treinspore, mure, heinings, strate en geboue. Waar jy jou op die landskap bevind, bepaal hoe jy die landskap beleef – of jy tuis of vervreemd voel, of dalk gemengde gevoelens daaroor het, of jy in ’n woonstelblok, ’n sekuriteitskompleks of ’n informele nedersetting woon. Landskappe is ook hoogs simboliese plekke. Noem plekname soos Westdene, Marikana, Sharpeville of Manenberg – elkeen van hierdie name dra ’n lading wat die fisiese plek aan die geskiedenis verbind. Of selfs Alice. Om in Alice te woon en om by die Universiteit van Fort Hare te werk, eerder as by Wits of Tukkies, is ’n keuse oor die tipe rol wat ek in my lewe wil speel en waaroor ek wil nadink en skryf. Vir my dra Somerset-Oos ook so ’n lading. Ek en my vrou Irma het die dorp al ’n paar keer so deur die jare besoek. Ons het lank reeds met waardering dopgehou hoe Jakes Gerwel daardie mooi ou huis in Pauletstraat gerestoureer het. Daar is ook die Walter Battiss-kunsmuseum en ’n plaaslike museum met ’n makabere artefak: die balk waaraan die Slagtersnek-rebelle in 1816 opgehang is. Jy voel die geskiedenis aan jou lyf as jy deur Somerset-Oos se strate loop.

Waarom het jy aansoek gedoen vir hierdie residensie? Wat beteken die toekenning vir jou?

........

Ek het nog altyd ’n bewondering vir Jakes Gerwel gehad; waar hy vandaan kom en wat hy in sy lewe bereik het, wat hy by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) kon regkry, sy bemoeienis met ’n sosiologiese benadering tot literatuur, die feit dat hy ’n kenner van Karel Schoeman was.

..........

Ek het nog altyd ’n bewondering vir Jakes Gerwel gehad; waar hy vandaan kom en wat hy in sy lewe bereik het, wat hy by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) kon regkry, sy bemoeienis met ’n sosiologiese benadering tot literatuur, die feit dat hy ’n kenner van Karel Schoeman was. Ek het reeds die feit genoem dat ek by Fort Hare werk. Vir my is wat Jakes Gerwel en ander by die UWK kon regkry ’n inspirasie. Ek weet ook dat Jakes Gerwel na my musiek geluister het en byvoorbeeld spesifieke betekenis in my opname van “Die laaste brandwag” gevind het. Dit is ’n tipe troos, selfs ’n riem onder die hart, want ’n mens voel soms alleen as musikant en digter wat nie juis in die hoofstroom beweeg nie. So vandat die Jakes Gerwel Stigting die Paulet Huis as projek begin het, wou ek op een of ander wyse betrokke raak, deels omdat hulle die wêreld van letterkunde en musiek aan gemeenskapsbetrokkenheid verbind. Dis ook ’n verbintenis tot die Oos-Kaap as provinsie op Suid-Afrika se rand. Ek sou uit hul ervaring wou leer, maar ook ’n bydrae wou lewer indien ek sou kon. Met die opening van die huis moes ek by die opening van ’n kunsuitstalling in Graaff-Reinet optree, so ek kon dit met ’n swaar hart nie bywoon nie. Jan Rabie se stelling dat Afrikaans Suid-Afrika se grootste nierassige prestasie is, is nou al voos aangehaal. Ek sou ’n klemverskuiwing wou voorstel, omdat daardie prestasie steeds meer potensiaal as werklikheid is. Dit kan ’n werklikheid word, maar die taal se hulpbronne is nie eweredig onder die sprekers verdeel nie. Nou doen ek aansoek – as iemand wat as deel van wit Suid-Afrika grootgeword het – vir ’n skrywersresidensie by die Jakes Gerwel Stigting. Kan ek dit aan myself regverdig? Ek het lank hieroor gedink voor ek die aansoek ingedien het, ook omdat dit deels is waaroor my halfgebore digbundel handel.

........

Nou doen ek aansoek – as iemand wat as deel van wit Suid-Afrika grootgeword het – vir ’n skrywersresidensie by die Jakes Gerwel Stigting. Kan ek dit aan myself regverdig? Ek het lank hieroor gedink voor ek die aansoek ingedien het, ook omdat dit deels is waaroor my halfgebore digbundel handel.

..........

Ek is verlig dat my aansoek nietemin geslaag het en sien uit daarna om aan die bundel te werk in daardie pragtige huis en dorp. Ek sien uit na gesprekke oor aandete met medeskrywers, mense by wie ek kan leer. Die geleentheid is vir my ’n massiewe voorreg en eer.

Lees ook:

Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2021: ’n onderhoud met Salvia Ockhuis

Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2021: ’n onderhoud met Sarie Nell

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top