Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2021: ’n onderhoud met Salvia Ockhuis

  • 0

Foto van Paulethuis: Jakes Gerwel Stigting; foto van Salvia Ockhuis: verskaf

Die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans het ses suksesvolle aansoekers vir die maand lange skrywersresidensie wat dié twee organisasies weer vanjaar aanbied, gekeur.

Die fokus van die program is veral skrywers wat nuwe stories na die Afrikaanse letterkunde bring en leefwêrelde oopskryf wat nog nie voldoende in die letterkunde gehoor is nie.

Salvia Ockhuis, een van die skrywers wat suksesvol vir die skrywersresidensie aansoek gedoen het, praat met Naomi Meyer oor hierdie geleentheid.

Baie geluk met jou PEN Afrikaans-Jakes Gerwel-residensie, Salvia. Vertel asseblief vir ons lesers van jou agtergrond.

Ek is op Clanwilliam gebore, het op Heuningvlei, naby Wupperthal, grootgeword en aan die Senior Sekondêre Skool Schoonspruit op Malmesbury gematrikuleer. Na skool het ek in ’n biblioteek gewerk voordat ek verder gaan leer en ’n geregistreerde professionele verpleegkundige (suster) geword het. Ek woon tans in Kaapstad.

.........

My ma het dikwels vir die gemeenskap toneelstukke geskryf en opgevoer en ek moes haar help deur die woorde wat die verskillende “akteurs” moes leer, af te skryf.

..........

Skool was van kleins af vir my baie lekker en ek was veral lief vir wiskunde en wetenskap, maar is ook altyd geprys vir my vermoë om goeie opstelle te skryf. My ma het dikwels vir die gemeenskap toneelstukke geskryf en opgevoer en ek moes haar help deur die woorde wat die verskillende “akteurs” moes leer, af te skryf. Ek glo dit het daartoe bygedra dat my skrywersdrome ontkiem het. 

.........

Ek was ’n finalis in al twee LAPA/Kuier-kortverhaalkompetisies en my kortverhale het ook in Kuier, Huisgenoot en in bundels by LAPA en Tafelberg verskyn.

.........

Ek was ’n finalis in al twee LAPA/Kuier-kortverhaalkompetisies en my kortverhale het ook in Kuier, Huisgenoot en in bundels by LAPA en Tafelberg verskyn. Avbob Poetry en LitNet het al van my gedigte gepubliseer.


Hier is sommige van Salvia se gedigte op LitNet:

Winter

In memoriam 

Ode aan ons liefde

Verpleegster


Verder sien ek uit na die verskyning van die bloemlesing Maskers en mure (Turksvy Publikasies), ’n digbundel met COVID-19 as tema, wat hierdie maand deur die KKNK bekendgestel gaan word, aangesien een van my gedigte ook daarin opgeneem is. 

Ek het twee lieflike kinders sonder wie ek my die lewe nie kan indink nie.

Wat is jou skryfdrome? Waaroor skryf jy graag, en oor watter karakters?

Ek sou baie graag in die afsienbare toekoms ’n kortverhaalbundel, digbundel en roman die lig wou laat sien.

.......

Ek skryf graag stories oor my komvandaan, aangesien daar nie juis sodanige letterkunde tans bestaan nie en die ouer garde besig is om (stories en al) uit te sterf.

.........

Ek skryf graag stories oor my komvandaan, aangesien daar nie juis sodanige letterkunde tans bestaan nie en die ouer garde besig is om (stories en al) uit te sterf. Dis ook vir my lekker om stories te skryf wat nie altyd probeer inpas by die samelewing nie en dikwels hul eie koppe volg, of om in my verhale moeilike, haas onontkombare situasies te skep. In sommige van my verhale is daar ook ’n tikkie misterie of iets bonatuurliks of spookagtigs. Verder wens ek ook om met my verhale mense te inspireer om bo moeilike omstandighede uit te kom.

My karakters is meesal alledaagse mense wat in vreemde of buitengewone omstandighede beland en “buite die boks” moet dink om daar uit te kom.

........

My karakters is meesal alledaagse mense wat in vreemde of buitengewone omstandighede beland en “buite die boks” moet dink om daar uit te kom.

.........

Waarom het jy aansoek gedoen vir hierdie residensie? Wat beteken die toekenning vir jou?

Ek is regtig in die wolke oor hierdie geleentheid wat oor my pad gekom het en kan nie genoeg dankie sê daarvoor nie. Om in so ’n mooi omgewing ongehinderd en na hartelus te kan skryf is seker enige skrywer se idee van hemel-op-aarde. Ek beplan om my tyd daar baie produktief te benut en glo dat dit goeie skryfpraktyk in my sal versterk en bestendig. Dis ’n geleentheid wat my skrywersdrome se vlerke baie sterker sal maak en vir seker ook tot beter insig in my skrywer-self kan lei.

Natuurlik sien ek ook uit daarna om my skryfhuismaats te ontmoet en die mooi omgewing te waardeer.

Lees ook:

Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2021: ’n onderhoud met Sarie Nell

Persverklaring: Ses skrywers gekies vir die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2021

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top