Ode aan ons liefde

  • 14

Foto: Canva.com

Ode aan ons liefde

Jare gelede het ons 
ons name 
in twee harte oor mekaar 
op ’n akkerboomstam 
uitgekerf;

jy het plegtig belowe 
jou liefde vir my 
sal ’n mooi skildery 
van ons lewe saam verf

en dat dit sou bly lewe, 
selfs nadat jy sou sterf;

jy het jou aai-hande 
soms teer, 
soms gulsig 
oor die kontoere 
van my gewillige lyf 
in ’n ontdekkingstog 
laat vaar

en met jou oë  
wat in myne staar 
romantiese drome  
in my jongmeisiehart  
gebaar:

ons weë saam 
sou deur 
helder sterre gaan 
en in die landskap  
van ’n volsirkelmaan, 
sou ons oorvloed 
brood breek, 
– oorstelp van liefde – 
dit in mekaar 
se wyn week.

Nou word 
dié naskrif-gedig 
in deurleefde inkverf 
uitgekerf:

ons lewe was soms 
skaars aan oorvloed, 
ons had te dikwels 
te min wyn

maar in my oë  
het jy die lig 
altyd laat skyn

en al is my hande nou 
bruin bevlek, 
blou beaard, 
verkalk aan’t bewe,

bly fier vir jou 
my liefde lewe;

ek sal my bietjie brood 
weer met jou breek, 
my laaste leksel wyn 
deur jou lippe dring,

met my mond die oorvloed  
van ons samesyn besing,

ek sal 
die mooiste van my lewe 
as ode 
aan jou liefde bring.

  • 14

Kommentaar

  • Jeremy Bruintjies

    Dis ń baie mooi gedig. Schoonspruit het jou baie goed geleer. Ek veronderstel dat Mr De Laura sou ook baie trots wees op jou.
    Lank lewe "Raka".

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top