
Foto: Canva.com
Verpleegster
Nogeens moet haar
moeë oë
opkyk na die lig,
weg van die snerp
van COVID-19 se kil gesig:
al lê die
olie in haar lamp
lankal veels te vlak
en moet sy te dikwels
onder meedoënlose druk
na asem snak;
al eb haar moed
soms soos die dag
se laaste sonnegloed
weg oor die kim
as donker skadu’s dreigend
uit hul skuilings klim,
bly sy die hoop
wat naarstig glim;
sy weet:
haar moeë oë
op die lig,
haar wil wat aanhou beur
is mede-voorvegter
en pasiënt
se allerlaaste
verweer;
deur ander se heil gerig
is sy twintig-twintig
se beeldskone gedig.


Kommentaar
Pragtige gedig, Salvia!
Ek waardeer jou woorde, Anze. Baie dankie.
So menslik wys jy hoe iemand in dié beroep, wat tans onder "meedoënlose druk" verkeer, ondanks moegheid, diens bly lewer weens "haar wil wat aanhou beur". Só besielend Salvia!
Louis du Plessis baie dankie. Waardeer. Dit is regtig wat hulle doen. Ek was self 'n teatersuster en noodeenheid-verpleegkundige. Ek weet waarvan ek praat. Dankie vir jou saamlees en kommentaar.