Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2021: ’n onderhoud met Mercy Kannemeyer

  • 1

Foto van Paulethuis: Jakes Gerwel Stigting; foto van Mercy Kannemeyer: verskaf

Die fokus van die program is veral skrywers wat nuwe stories na die Afrikaanse letterkunde bring en leefwêrelde oopskryf wat nog nie voldoende in die letterkunde gehoor is nie.

Die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans het ses suksesvolle aansoekers aan vir die maand lange skrywersresidensie wat dié twee organisasies weer vanjaar aanbied, gekeur.

Die fokus van die program is veral skrywers wat nuwe stories na die Afrikaanse letterkunde bring en leefwêrelde oopskryf wat nog nie voldoende in die letterkunde gehoor is nie.

Mercy Kannemeyer, een van die skrywers wat suksesvol vir die skrywersresidensie aansoek gedoen het, praat met Naomi Meyer oor hierdie geleentheid.

........

Ek staan in twee wêrelde – teater en Afrikaans. Soms kom die wêrelde byeen, en soms nie.

........

Baie geluk met jou PEN Afrikaans-Jakes Gerwel-residensie, Mercy! Vertel asseblief vir ons lesers van jou agtergrond.

Ek het drama en teaterstudie aan die Universiteit Stellenbosch studeer en in 2021 my MA in Drama aan dieselfde universiteit voltooi. Ek is ’n teatermaker, regisseur, toegepasteteaterpraktisyn, skrywer en meningsvormer. Ek staan in twee wêrelde – teater en Afrikaans. Soms kom die wêrelde byeen, en soms nie. Ek het in die Afrikaanse bedryf begin werk in 2017 nadat my dokumentêr Die ander kant / The other side vrygestel is. Die doccie kyk na Afrikaans as onderrigtaal aan die Universiteit Stellenbosch en vra wat ons kan verloor indien die Universiteit Stellenbosch Afrikaans as onderrigtaal afskaf. Sedert die doccie uitgekom het, het ek van verskillende platforms gebruik gemaak om my menings rondom Afrikaans aan die lig te bring.

Met betrekking tot teater het ek onder andere die verwerking en regie van Jeanne Goosen se Ons is nie almal so nie gedoen, sowel as die regie vir Woorde op akkoorde saam met Frazer Barry, Deniel Barry, Jolyn Phillips, Diana Ferrus, Churchil Naudé en Hermien de Vos. Ek was ook regisseur en medeskrywer van Ekstra large, asseblief? saam met Anke Cullinan, Nane Zietsman, Marichje de Necker en Melanie Scholtz.

Ek skryf gereeld rubrieke en het al ’n paar kortverhale gepubliseer. Ek is ook die aanbieder van ’n nuwe podcast, Sitkamer, wat deur die Afrikaanse Taalraad en die Internasionale Vereniging vir Afrikaans geborg word. Op die oomblik werk ek ook as storyliner vir die telenovela Arendsvlei.

Wat is jou skryfdrome? Waaroor skryf jy graag, en oor watter karakters?

My skryfdrome is om nog vir so lank as moontlik te skryf en om myself meer uit te daag met die tipe stories wat ek skryf. Ek wil ALLES skryf (wel, op hierdie stadium alles behalwe ’n roman) – teatertekste, kortverhale, poësie, draaiboeke, ’n PhD (eendag!), resepte ...

.........

Tydens die residensie gaan ek aan ’n kortverhaalbundel werk. Ek het alreeds ’n hele paar kortverhale geskryf en sien uit daarna om dit tydens die residensie te voltooi.

.........

Tydens die residensie gaan ek aan ’n kortverhaalbundel werk. Ek het alreeds ’n hele paar kortverhale geskryf en sien uit daarna om dit tydens die residensie te voltooi. Ek skryf graag oor dinge wat rondom my gebeur, ek vra baie vrae, en ek probeer soveel as moontlik luister. Ek skryf oor goed waaroor ek en my vriende gesels – feminisme, identiteit, kultuur. Soms kom die tema voor die storie en soms kry ek eers die storie en dan figure ek later uit wat die tema is wat uit die storie kom. Die tipe karakters is maar mense wat ek uitdink, en dis enigiemand.

Ek het in my derde jaar in Afrikaans en Nederlands Kreatiewe Skryfkunde as module geneem en die fokus was op poësie. Ek wil graag so gou as moontlik weer poësie skryf. Ek smag na daai dissipline wat poësie van ’n skrywer verg! 

Waarom het jy aansoek gedoen vir hierdie residensie? Wat beteken die toekenning vir jou?

Ek het in my aansoekvorm geskryf: “Ek wil graag van die skryfresidensie gebruik maak, omdat ek gereeld gejaag voel om werke uit te sit. Dit voel vir my asof ons in ’n worsmasjien-era leef. Ek wil graag my tyd vat met my werk. Alles anders voel soos ’n wedren, maar wanneer ek die geleentheid kry om te skryf, voel dit my wêreld gaan oop. Ek glo dat die residensie my die nodige kalmte, gemak en inspirasie gaan bied om my doel te bereik.”

Ek voel bevoorreg dat ek hierdie geleentheid kry. Ek sien uit om in Somerset-Oos te wees en my medeskrywers te ontmoet.

Lees ook:

Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2021: ’n onderhoud met Sarie Nell

Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2021: ’n onderhoud met Salvia Ockhuis

Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2021: ’n onderhoud met Andries Bezuidenhout

Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2021: ’n onderhoud met Lydia Gittens

  • 1

Kommentaar

  • Wow! Great stuff. Ek sal myself graag eendag ook wil omring of omarm met hierdie potensiaal, aangesien die skryfgogga my ook aan my gat beet het. Nadat ek dit nou gelees het, ontwaak iets besonders binne-in my. Ek weet wat dit is.....

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top