Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2021: ’n onderhoud met Lydia Gittens

  • 0

Foto van Lydia Gittens: verskaf

Die fokus van die program is veral skrywers wat nuwe stories na die Afrikaanse letterkunde bring en leefwêrelde oopskryf wat nog nie voldoende in die letterkunde gehoor is nie.

Die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans het ses suksesvolle aansoekers aan vir die maand lange skrywersresidensie wat dié twee organisasies weer vanjaar aanbied, gekeur.

Die fokus van die program is veral skrywers wat nuwe stories na die Afrikaanse letterkunde bring en leefwêrelde oopskryf wat nog nie voldoende in die letterkunde gehoor is nie.

Lydia Gittens, een van die skrywers wat suksesvol vir die skrywersresidensie aansoek gedoen het, praat met Naomi Meyer oor hierdie geleentheid.

Baie geluk met jou PEN Afrikaans-Jakes Gerwel-residensie, Lydia. Vertel asseblief vir ons lesers van jou agtergrond.

........

Ek is tans werksaam as verpleegkundige in ’n rehabilitasiesentrum vir alkohol- en dwelmverslaafdes. Dis ook hier waar my passie vir skryf werklik begin het.

..........

Baie dankie. Ek is ’n Gautenger van geboorte af. Het in Pretoria gematrikuleer en gestudeer. Ek is tans werksaam as verpleegkundige in ’n rehabilitasiesentrum vir alkohol- en dwelmverslaafdes. Dis ook hier waar my passie vir skryf werklik begin het. In 1995, ná ’n groot motorfietsongeluk, kon ek vir ’n hele paar maande nie werk nie. Opgeskeep met myself en met meer as genoeg tyd tot my beskikking het ek my hand gewaag aan ’n lang-gekoesterde jongmeisiedroom om skrywer te word. Ek het begin skryf. My eerste poging (ek hoef seker nie te sê hoeveel keer ek dit herskryf het nie) is deur Huisgenoot aanvaar. Dit was een van die grootste wow-oomblikke in my lewe. Van daar, soos die spreekwoord sê, was die koel deur die kerk. ’n Nuwe liefde is gebore. 

Wat is jou skryfdrome? Waaroor skryf jy graag, en oor watter karakters?

Sjoe. Hoeveel tyd het jy? Toemaar, ek terg net. Ek het al twee romanses en ’n paar liefdesnovelles vir LAPA-Romanza geskryf wat ek vreeslik geniet het. En steeds wil doen. Ek geniet dit om te skryf oor mense wat eg is. Mense wat ek en jy elke dag ontmoet of eendag graag sou wou onmoet. Mense wat  ons drome uitleef, wat ons pyn ervaar, dit deurwerk en oorwin. Dan geniet ek dit ook om te skryf oor daardie ding, mens of droom wat net-net buite jou bereik is maar wat jy in ’n storieboekwêreld vir ’n oomblik joune kan máák. My grootste skryfdroom is om ’n jeugboek te skryf wat tieners wil lees. Om hulle ’n passie vir lees te laat ontwikkel en hulle uitdaag tot meer. 

.........

My grootste skryfdroom is om ’n jeugboek te skryf wat tieners wil lees. Om hulle ’n passie vir lees te laat ontwikkel en hulle uitdaag tot meer. 

...........

Waarom het jy aansoek gedoen vir hierdie residensie? Wat beteken die toekenning vir jou?

Ek het aansoek gedoen sodat ek voltyds net kan skryf. Ek loop met ’n jeugboekidee in my kop rond waar ek al baie werk ingesit het (karakterkaarte, navorsing en plotuitleg), maar as gevolg van werksdruk te wyte aan Covid ens kom ek net nie by die eintlike skryf van die manuskrip uit nie. Ek glo drie weke van net skryf gaan my ’n baie groot hupstoot gee. Ek hoop om in dié tyd my eerste konsep te kan skryf en klaar skryf. 

Die toekenning beteken oneindig baie vir my. Net om te weet iemand buite my familie en vriendekring glo aan en ondersteun my storie-idee en droom is ’n geweldige boost. Dankie PEN Afrikaans en Jakes en Gerwel Stigting 

Soos hulle sê: Hou dié spasie dop.

Lees ook:

Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2021: ’n onderhoud met Sarie Nell

Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2021: ’n onderhoud met Salvia Ockhuis

Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2021: ’n onderhoud met Andries Bezuidenhout

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top