Is vennootskappe die antwoord op die land se onderwysprobleem?

  • 0

Die manier waarop Suid-Afrika se demografie vandag vervleg is met sistemiese sosio-ekonomiese probleme is net weer ’n bewys van ons land se lang geskiedenis van ongelykheid. Dit het oor dekades heen ook op direkte en indirekte maniere in ons land se skoolstelsel ingesypel, soos die groot skeiding in gehalte in hedendaagse skole getuig. Ons weet ook dit is vir die regering ʼn groot uitdaging om gehalte-onderrig landswyd te verkry en handhaaf (Westaway, 2012:188).

Die instelling en implementering van wat bekend staan as die Openbare Skole Vennootskappe (OSV’s) is die nuutste in ’n reeks pogings om hierdie struikelblokke aan te spreek. Die doelwit van ʼn OSV is om die verskillende rolspelers in die onderwysveld saam te bring met die uitsluitlike doel om die gehalte van onderrig in skole te verbeter. Daar is al bewys dat die stigting van hierdie vennootskappe kan lei tot ʼn daadwerklike verbetering in die gehalte van onderwys in skole (Bezzina en Cutajar, 2013:20–1).

Die OSV-model het begin in die buiteland, waar dit ʼn mate van sukses in Engeland, die VSA sowel as Swede opgelewer het (Eyles en Machin 2015:1). Die model is gebaseer op ʼn vennootskap tussen die onderwysdepartement, donateursorganisasies, niewinsgewende organisasies en skole. Hierdie verskillende rolspelers vat dan hande om die gehalte van onderwys in die betrokke skole te verbeter asook om geleenthede te skep vir bykomende befondsing vanaf skenkers.

In Januarie 2016 het die Wes-Kaap se Departement van Onderwys (WKOD) die OSV’s in die Wes-Kaap geloods; hierdie pioniersprojek is Collaboration Schools genoem. Meer as 3 000 leerders in vyf openbare skole (Laerskool Oranjekloof, Hoërskool Silikamva, Hoërskool Langa, Forest Leadership, Leadership Academy en Happy Valley Laerskool) het deel van hierdie projek gevorm. Die WKOD het gepoog om die gehalte van onderwys in hierdie skole te verbeter met die hulp van niewinsgewende organisasies. Hierdie organisasies dien dan as “ondersteuningsvennote” vir skole. Buiten die befondsing wat hierdie skole vanaf die WKOD ontvang, bied hierdie eksterne organisasies ook finansiële ondersteuning waar nodig (Zille 2016).

Die organisasie Equal Education (EE) is egter gekant teen instelling van Collaboration Schools omdat dit teenstrydig is met die gees van demokrasie. Volgens EE is die onverkose deelname van privaat ondersteuningsvennote of donateurs op ʼn skool se beheerliggaam teenstrydig met die Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 1996, wat die demokratiese bestuur van ʼn skool affekteer. Hulle is veral ook gekant teen die inmenging van besigheidsbelange in die beheer van sulke skole. Verder is die EE ook van mening dat Collaboration Schools ʼn groter administratiewe lading op die opvoeders plaas wat die onderrigpraktyke in die klaskamers kan benadeel (Equal Education 2018:4-6).

Die Wes-Kaap het as ʼn provinsie hul eie onderwyswetgewing, naamlik die Wes-Kaapse Provinsiale Skoolonderwyswet, 1997 (Wet 12 van 1997) ("die Wes-Kaapse Skolewet") ingestel. In artikel 12 (1)(g) van die wet word dit gestel dat die provinsiale minister van onderwys enige ander soort skool wat hy of sy nodig ag vir onderwys, mag instel. Op grond van hierdie wetgewing mag die Wes-Kaap Collaboration Schools ingestel het. Daar is ʼn beleid vir Collaboration Schools opgestel (Schäfer 2017). In November 2018 is die skep van Collaboration Schools in die Wes-Kaap as ʼn amptelike beleid aanvaar en dit stel die Wes-Kaap se Onderwysdepartement in staat om wettige voorsiening te maak vir die instelling van Collaboration Schools en donateurbefondste openbare skole (Provincial Gazette Extraordinary 2018). Volgens ʼn verslag wat bekend gemaak is deur die provinsiale minister van onderwys, Debbie Schäfer, is dit die grootse publieke opvoedkundige hervorming sedert 1994. Sy het verder verduidelik dat die goedkeuring van privaat befondsing aan skole die enigste manier vir die Wes-Kaapse regering is om die gaping tussen arm en ryker publieke skole te vernou (Schäfer 2018).

In die Oos-Kaap was ek blootgestel aan ʼn soortgelyke projek, naamlik die Willowvale-projek, oftewel die Amajingq-projek in Xhosa. Dit is ook ʼn pioniersprojek gebaseer op die OSV-model. Dit het in 2018 tot stand gekom nadat Axium, ‘n niewinsgewende organisasie, deur die agt skole in die Willowvale-streek (Amatola-Oos-distrik) vir ondersteuning genader is. Axium, wat gebaseer is in ’n landelike nedersetting in die Oos-Kaap genaamd Zithulele, het toe begin dien as ʼn ondersteuningsvennoot vir die bogenoemde skole.

Axium word bestuur deur twee gedrewe en ervare Suid-Afrikaanse onderwysers genaamd Craig en Michelle Paxton. In Axium se agt jaar van bestaan het dié organisasie al meer as ’n 1 500 leerders bygestaan en in die proses matrikulante se slaagsyfer vir wiskunde en natuurwetenskappe al vyf maal verbeter. Die organisasie se uiteindelike doelwit is om te verseker dat leerlinge in landelike gebiede skool verlaat met die vermoë om vir hulself ʼn beter toekoms te skep. Die ondersteuning wat hulle aan hierdie projek verleen, is van beide ʼn administratiewe en ‘n finansiële aard.

My navorsing het gepoog om te beantwoord wat die OSV is, hoe dit werk en hoe dit is vir ʼn opvoeder om saam met ‘n OSV te werk. As gevolg van die geografiese uitdagings was die studie beperk tot 20 opvoeders vanuit die agt verskillende skole. Kwalitatiewe navorsers kyk holisties na die sosiale wêreld en spesifieke mense se ervaringe. Hierdie kwalitatiewe data het ek bekom deur opnames van onderhoude wat ek met die opvoeders gevoer het en as navorser het ek uiteindelik as die interpreterende instrument vir die ontleding van die data gedien (De Vos ea 2011:310).

Die opvoeders saam met wie ek gewerk het vir my studie, is meestal Xhosa-Engelssprekendes en woon almal in die plaaslike omgewing.

Daar is uiteraard vele uitdagings wat voortspruit uit so ʼn vennootskap, en vervoer is sekerlik die grootste struikelblok – dit neem sommige van die opvoeders soms twee ure net om by die skool uit te kom. Dan lê daar nog ʼn hele skooldag met oorvol klasse voor.

Die opvoeders het ook talle ander uitdagings uitgelig, waarvan sekeres taamlik algemeen is in landelike gebiede van die Oos-Kaap, soos ʼn tekort aan personeel en hulpbronne (Cole 2004:6). Dié uitdagings beïnvloed direk die effektiwiteit van ‘n OSV en volgens Cole (2004:5) is die tekort aan hulpbronne in Oos-Kaapse skole ʼn groot tragedie.

Wat by die opvoeders veral ʼn negatiewe houding teenoor die vennootskap ontlok het, was die feit dat die OSV ʼn groter werkslading op hulle plaas in hulle in streng skedules waarbinne hulle moet presteer. Hulle voel ook daar is opdragte aan hulle toegeken sonder dat die uitdagings wat hul prestasie beïnvloed, éérs aangespreek is.

Dan is daar ook die mikropolitiek binne die OSV. Hierdie mikropolitiek het te doen met die aksie wat opvoeders neem om hulself in die veranderde werksomgewing te verdedig (Ballet en Kelchtermans  2002:107). Tydens my studie het ek gevind dat kommunikasie ʼn deurslaggewende rol speel tydens die implementering van ʼn OSV. Ons weet ook dat die gehalte van kommunikasie ʼn belangrike rol speel in die produktiwiteit van ʼn skool. Ballet en Kelchtermans (2002:106) het al daarop gewys dat daar gereeld in skole probleme met hiërargie en die bestuur van leerders voorkom. In hierdie geval het die feit dat daar soms direk met die leerders gekommunikeer is en indirek met die opvoeders, geweldige spanning geskep tydens die implementering van die OSV en heelwat interne politiek veroorsaak.

Ek sou dus voorstel dat so ʼn vennootskap in die vervolg eers die basis van kommunikasie vasstel voordat dit geïmplementeer word. Die verwagtinge en werkinge van die beplande vennootskap sal vooraf aan al die personeel gekommunikeer moet word, saam met ʼn geraamde tydlyn vir elke proses, en albei partye sal daartoe moet toestem.

Uiteindelik het die meeste van die spanning tussen die twee partye te doen met kultuurverskille. Beide Axium en die opvoeders het ʼn begeerte om die projek te laat werk, maar daar is groot verskille in hul onderskeie agtergrond, werksetiek en visie. Albei partye is egter bereid om heelwat tyd en energie daaraan te bestee om vir die leerders die beste ondersteuning moontlik te bied.

Axium is ʼn niewinsgewende organisasie met ʼn Westerse agtergrond en hulle wil eerstens ʼn behoefte aanspreek in skole gebaseer op wat hulle van buite af sien. Hulle het hoofsaaklik ʼn langtermynuitkyk en soek na ʼn volhoubare manier om die projek te bestuur. Hulle het byvoorbeeld baie gespook om die strukturele en administratiewe aspekte van die vennootskap gevestig te kry. Dit is gedoen onder andere deur die werksaamhede van die OSV saam te vat in kontrakte asook die implementering van bywoningsregisters in klasse.

Dit lyk egter vir my asof die opvoeders weer ʼn korttermynvisie het en eerder graag die onmiddellike uitdagings in hul klasse wil aanspreek. Hulle voel soms dat Axium nie hulle behoeftes raaksien nie, soos kleiner klasse en opleiding vir die personeel. Die opvoeder wat Engels Tweede Taal aanbied sit byvoorbeeld met meer as 90 leerders in sy klas en soms moet die leerders selfs hul eie toetse nasien. Hy het eenvoudig nie die tyd en hulpbronne om kwaliteitonderrig aan al sy leerders te gee nie.

My waarneming is eindelik dat Axium eerder graag ʼn standvastige basis wil skep waarvanaf die projek verder kan ontwikkel, terwyl die opvoeders weer die onmiddellike struikelblokke in hul omgewing aangespreek wil hê; met ander woorde, al het Axium en die opvoeders verskillende invalshoeke tot die projek, is albei tog oortuig dat die projek kan slaag.

Dit sal altyd ʼn uitdaging wees vir niewinsgewende organisasies om in skole in te beweeg, maar ten spyte van die uitdagings wat ek gesien het, glo ek tog dit is ʼn moontlike oplossing vir die onderwyskrisis in Suid-Afrika. Veral aangesien ons weet dat die regering nie tans die nodige kapasiteit en kapitaal bied om die diepgewortelde probleme in ons onderwysstelsel op te los nie.

Ten spyte van die uitdagings, het die implementering van die OSV in die Willowvale-kluster wel meer voordele as nadele vir die skole ingehou. Die positiewe resultate sluit in ʼn verbetering in akademiese resultate sowel as die verbetering in klasbywoning en ʼn sigbare gevoel van positiwiteit onder die personeel. Hulle het werklik ervaar dat dit die skool se onderrigpraktyke verbeter het en dat die projek wel die behoeftes in die Willowvale-distrik kan aanspreek.

Ek is egter van mening dat so ʼn model in skole uitgerol kan word net indien al die kontekstuele, kulturele en institusionele probleme wat rolspelers soos die opvoeders ervaar, eers behoorlik in ag geneem is. Daar moet ook onthou word dat hierdie proses nog in sy beginfase is en uiteraard baie groeipyne sal hê, maar op grond van my bevindinge glo ek dit het werklik die potensiaal om as ʼn antwoord op ons huidige onderwyskrisis te dien.

  • Ek het met hierdie projek begin terwyl ek besig was met my BEd Honneurs by die Universiteit Stellenbosch onder leiding van Jerome Joorst van die Departement Opvoedkundigebeleidstudie. Ek het belanggestel in opvoeders se reaksie teenoor hierdie OSV’s en die doel was om opvoeders se ervaringe vas te vang tydens hul werksaamhede saam met die OSV.

 

Bronnelys

Ballet, K en G Kelchtermans. 2002. The micropolitics of teacher induction. A narrative biographical study on teacher socialization. Teaching & Teacher Education, 18(1):105-20.

Bezzina, C en M Cutajar. 2013. Collaboration: Joint working by individual state-maintained schools in a new statutory system in the Maltese Islands. Management in Education, 27(1):19–24.

Cole, P. 2004. A comparative analysis of education expenditure in Eastern Cape Schools [Intyds]. Beskikbaar: http://ecdoe.co.za/files/resources/resource_79 [5 Oktober 2018].

De Vos, AS, H Strydom, CB Fouché en CSL Delport. 2011. Research at grass roots for the social sciences and human services professions (4de uitg). Pretoria: Van Schaik Publishers.

Equal Education. 2018. Equal Education’s submission on the Western Cape Provincial School Education Amendment Bill. [Intyds]. Beskikbaar: https://equaleducation.org.za/wp-content/uploads/2018/08/EE-Submission-on-the-WC-Provincial-School-Education-Amendment-Bill-2018.08.10.pdf (26 Maart 2019).

Provincial Gazette Extraordinary. 22 Augustus 2016, bl 2.

Eyles, A en S Machin. 2015. The introduction of Academy Schools to England Education. Germany: IZA.

Rossman, GB en SF Rallis. 2003. Learning in the field: An introduction to qualitative research (2de uitg). Newbury Park, Kalifornië: Sage Publications.

Schäfer, D. 2017. Collaboration Schools reflect commitment to building partnerships. [Intyds]. Beskikbaar: https://www.westerncape.gov.za/news/collaboration-schools-reflect-commitment-building-partnerships (25 Maart 2019).

. 2018. Education Amendment Bill: The biggest public education reform package since 1994. [Intyds]. Beskikbaar: https://www.westerncape.gov.za/news/education-amendment-bill-biggest-public-education-reform-package-1994 (25 Maart 2019).

Westaway, A. 2012. Rural poverty in the Eastern Cape Province: Legacy of apartheid or consequences of contemporary segregations? Development Southern Africa, 29(1):115–25.

Zille, H. 2016. How collaboration can transform under-performing schools [Intyds]. Beskikbaar: https://www.westerncape.gov.za/news/how-collaboration-can-transform-under-performing-schools (4 Maart 2018).

https://www.litnet.co.za/category/skoleseminaar/

Lees ook:

Ongelykheid in skole, en hoe blind almal daarvoor is

Kan ons nou ’n slag oor die ding van ras kom? 

Suid-Afrikaanse skole: hoe kan dit beter werk?

Suid-Afrika se onderwys is ’n “katastrofiese mislukking”

Kô proe, wan soe smaakie Souci!

#SansSouci: ’n Gesprek met ’n oudonderwyser oor wat onderwysers én kinders nodig het

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top