Kan ons nou ’n slag oor die ding van ras kom? 

  • 10

Ons kom swaar gewond van al die kwessies van rassisme uit 2018 en daar begroet 2019 ons met nog ’n beweerde geval van rassisme by nog ’n skool. Selfs al is al die feite nog nie in vanweë die hangende ondersoek nie, is Suid-Afrikaners weer eens diep verdeeld oor die kwessie van ras.

Die raskwessie kan maar net nie kan weggaan nie. Dit is soos ’n reeksverhaal met ’n klomp episodes. Ons weet dat die toneel afspeel in ’n skool en dan wyer uitkring na die gemeenskap en die land. Ons weet ook dat die politici en die media nie kan wag om te spring op so ’n “scoop” nie en dan eskaleer dit tot nasionale status. Dan volg die bekgevegte op sosiale media waar ons almal herinner word aan hoe verskillend ons eintlik is en verskillende groepe wat kompeteer om die morele bogrond te beklee.

Maar ten spyte van die negatiwiteit rondom sulke gevalle bied dit telkens aan ons ’n geleentheid – ’n geleentheid om op te hou om weg te hardloop daarvan om ons blinde kolle oor die aangeleentheid aan te spreek, ’n geleentheid om uit ons foute te leer. Maar ons “slaagsyfer” oor hierdie aangeleentheid is so power soos ons matriekuitslae. Soos dit ’n goeie opvoeder betaam, probeer ek maar weer met ’n ander aanslag dieselfde probleem verduidelik. Net omdat opvoeders ’n kwalifikasie het, beteken dit nie dat hulle nie ook hoef te leer nie. Om die waarheid te sê, dit is kritiek dat opvoeders moet leer uit die foute in die geskiedenis, omdat hulle tussen die verskillende werklikhede, lewenservarings, kultuur- en taalverskille van ’n diverse Suid-Afrikaanse samelewing staan. Nog meer belangrik is die feit dat opvoeders ons kinders moet toerus met gereedskap waarmee hulle suksesvol deur ’n diverse Suid-Afrika en wêreld kan navigeer.

Nou hoor ek al hoe iemand weer sê: “Die storie is al holrug gery” of “Aag, hier gaan ons al weer.” Dit is egter presies hierdie soort woorde wat ’n bepaalde gesindheid van onkunde of traak-my-nie-agtigheid weerspieël wat ons verhoed om die probleem te verstaan, vir goed aan te spreek en aan te beweeg soos baie wil hê ons moet doen. Die spanning rondom ras en taal lê diep gewortel in diskoerse wat in die verlede geskep is. Hierdie diskoerse infiltreer dikwels Suid-Afrikaners se denke en gevolglik hul praktyke. “Hou op praat van die verlede; hou op terugkyk, want jy gaan oor jou voete val; hou op leef in die verlede,” hoor ek iemand weer sê. Maar soos Barthelemy Boganda (in Du Preez 2015) opmerk: “I would stop talking about the past, if it weren’t so present.” Omdat hierdie ding so diep in ons psige lê, moet ons dalk die psigiatriese roete volg en eers die probleem in die gesig staar, dit probeer verstaan en dan kyk na moontlikhede van genesing.

Vandeyar en Killen se 2006-studie oor die interaksie van leerders en opvoeders in multikulturele klaskamers in Suid-Afrika help ons om nie net die kwessies waarmee ons steeds worstel te beskryf nie, maar ook om introspeksie te doen oor ons onverdraagsaamheid rondom die kwessies van ras, rassisme, burgerskap en diversiteit. Anders as in die res van die wêreld, voer die skrywers aan, is hierdie kwessies noukeurig ontwerp en polities gelegitimiseer in ’n diskoers van pigmentokrasie (2006:383).

As ons aanvaar dat skole mikrokosmosse is van die gemeenskappe waarin dit geleë is, gemeenskappe deel van dorpe, dorpe deel van stede, provinsies en uiteindelik ’n land is, is dit veilig om af te lei dat dit wat in die land, ’n provinsie, stad, dorp of gemeenskap teenwoordig is, weerspieël sal word in ’n skool, want leerders en opvoeders kom in die skool met die disposisies waarin hulle gesosialiseerd is. Omdat skole in Suid-Afrika moet uiting gee aan die reëls en gees van versoening, eenheid in diversiteit, inklusiwiteit en demokrasie, kan skole nie net meer eksklusief wees vir een bepaalde groep leerders wat lei tot die marginalisering van ’n ander groep nie. Opvoeders in ’n demokratiese Suid-Afrika moet veranderingsagente wees en deur hul onderrigpraktyke leerders toerus met gereedskap om die herhaling van dinge soos rassisme te verhoed. Skoolbestuurders is veronderstel om hierdie genoemde waardes aktief na te jaag en te bestuur. Ouers se rol is om eienaarskap te neem van die skool. Ouers, deur hul beheerliggame, is veronderstel om eienaarskap te neem van hul skole en om die skool, opvoeders en leerders te ondersteun in die nastrewing van hierdie ideale. As dit ons gemeenskaplike doelwit is as ’n samelewing, hoekom ervaar ons dan nog steeds so baie bewerings van rassisme in (veral voormalige Model C-) skole? Kan dit wees dat ons nou nog nie verstaan wat die konsep beteken, hoe dit manifesteer in skole en die breë samelewing en wat die gevolge daarvan is nie?

Rassisme manifesteer in ons samelewing, en veral in skole, in komplekse vorme van insluiting en uitsluiting. Soms is rassisme waarneembaar (soos wanneer iemand geslaan word as gevolg van rassehaat of toegesnou word met openlike rassistiese woorde, of wanneer iemand ’n grap vertel met ’n duidelike neerhalende en vernederende toon teenoor die ander ras). Hieraan kan mens gewoonlik iets doen, byvoorbeeld deur die oortreder mondeling te vermaan om die gedrag te staak of hom of haar te straf. Maar rassisme is nie beperk tot wat ons doen nie. Minder-waarneembare rassisme (soos wanneer ’n opvoeder twee kinders subtiel verskillend behandel en sodoende ’n bepaalde boodskap aan hulle kommunikeer dat die een soort welkom is en waarde het en die ander een nie) is meer problematies. In watter vorm ook al, dit is altyd ’n vergestalting van mag, geweld en uitsluiting. Die verskillende vorme van in- en uitsluiting vloei uit ’n diskoers van haat, selfsug, mag, meerderwaardigheid, dominansie, bevoorregting, verdeling en geweld.

Rassisme word in ouerhuise aangeleer, in plekke van leer en aanbidding geïnstitusionaliseer, en in mense se sosialisering genormaliseer. Hierdie sosialisering vind oor tyd plaas waarin die individu blootgestel word aan herhaalde en genuanseerde vorme van rassisme wat uiteindelik deel word van die individu se interne logika. Indien hierdie abnormaliteit gereeld genoeg voorkom, word dit later “normaal” vir die individu. ’n Mens kan sê dat dit die individu se identiteit word, omdat dit wat jy doen, gedoen word sonder dat jy daaroor dink. Dit kom net spontaan. Daarom is die individu so verbaas as iemand op sy/haar rassistiese gedrag wys. Dit is onverstaanbaar, selfs onaanvaarbaar dat die slagoffer die oortreder van rassisme beskuldig. Vir verdere verduideliking van rassisme, andersheid en stigma as konsepte, kan ek skrywers soos Erwin Goffman (1963), Lewis Gordon (1993), Frants Fanon (2005) en Mohamed Adikharie (2013) aanbeveel.

Advies vir skole (vir die soveelste keer)

Terwyl rassisme aan die kaak gestel moet word, voel ek terselfdertyd vir daardie opvoeders wat opreg is met hul bedoelings, en vir die kinders wat in grootmense se politiek meegesleur word. Skole moet (deur hul prinsipale, opvoeders en skoolbeheerliggame) eerlike introspeksie doen oor hul verstaan van konsepte soos integrasie, multikulturalisme en kleurblindheid, want dit lyk asof skole hierdie konsepte omseil met praktyke wat eenvoudig ’n bespotting daarvan maak. Integrasie (in skoolverband) is ’n proses waardeur die kwaliteit van kontak nie alleen in die persoonlike houdings van opvoeders en leerders nie, maar ook in die institusionele organisasie, beleide en etos van die skool in oënskou kom (Sayed 2001:254). Integrasie poog om kinders te help om kennis te bekom, houdings te ontwikkel en met mense van diverse burgerlike en morele gemeenskappe wat ’n gemeenskaplike samelewing nastreef, te kommunikeer (Banks 2001; Gay 2000). Multikulturele opvoeding poog om gelyke opvoedkundige geleenthede vir leerders van diverse rasse-, etniese, sosialeklas- en kultuurgroepe te skep. Multikulturalisme is gebaseer op die veronderstelling dat rassisme die gevolg is van bevooroordeeldheid en onkunde. Kleurblindheid, sê McCarthy en Crichlow (1993:131), vind plaas wanneer opvoeders die negatiewe denke wat hulle teenoor leerders van ander rasse huldig, onderdruk deur aan te voer dat hulle nie kleur sien nie.

Kom ons gebruik nou ons begrip van hierdie terme om ons sienings en praktyke te toets.

In plaas van leer uit ons geskiedenis, gaan ons voort om posisies in te neem en stellings te maak wat ingegee word deur uitgediende en kwetsende ideologieë. Dit is hierdie soort retoriek (van die verlede) wat ons elke keer gevaarlik na aan ’n laeskaalse oorlog laat draai. Ras het ons verstekposisie geword en ons is maar te gereed om dit in oomblikke van stryd teen mekaar te gebruik. Dikwels is halwe waarhede op sosiale media genoeg om ons te oortuig van wat die werklike stand van sake is. In die proses word reputasies geruïneer, mense getraumatiseer en verskillende groepe verder van mekaar af verdryf.

Die verlede het ons nooit toegelaat om met mekaar te praat nie. Sou ons die kans gegun word, sou ons kon ontdek dat ons baie meer gemeen het; dat ons dieselfde drome en aspirasies het vir ons geliefdes; dat ons ewe feilbaar is as mense; en dat biologie of gene nie die een meer gevorderd as die ander maak nie. Daar is darem hoop, want rassisme (van watter kant van die kleurgrens ook al) word aangeleer en daarom kan dit afgeleer word.

Opvoeders wat in ’n multikulturele bestel werk, moet uiters sensitief wees en met groter omsigtigheid omgaan met leerders wat vanuit verskillende taal-, geloofs- en kultuuragtergronde kom, want rassisme is ’n plofbare kwessie wat groot skade aan opvoeders en skole se reputasies kan aanrig. Opvoeders staan tussen die lewensrealiteite, hul unieke kulture, taal, gelowe en toekomste van leerders en die verwagtinge van die staat en die wêreld. ’n Houding van: “Dit is ons skool, ons kultuur, ons taal en daarom lyk jy, klink jy en dink jy soos ons” help eenvoudig nie, want assimilasie veroorsaak dat leerders tweeledige persepsies van hulself opbou. Opvoeders moet besef dat ’n mens tegelyk ingesluit en uitgesluit voel. ’n Leerder kan byvoorbeeld die skool se uniform dra en tussen honderde ander leerders wees, maar terselfdertyd uitgesluit voel vanweë die implisiete kultuur- of taalverskille in die skool. Skole sal baie meer moet doen rondom die kwessie van inklusiwiteit as om leerders met dieselfde taal of ras saam te gooi in ’n klaskamer. Dit is elke opvoeder se plig om elke leerder tegemoet te kom in terme van hul uniekheid. Die opvoeder moet die brugbouer wees tussen die leerder se werklikhede en die verwagtinge van die kurrikulum. Die feit dat hulle die grootste gedeelte van die dag met leerders werk, bied aan hulle die gulde geleentheid om leerders toe te rus met vaardighede en gesindhede om die toekomstige Suid-Afrika en wêreld beter te navigeer, asook om die narratief van die verlede te onderbreek. Dit is kritiek vir Suid-Afrika om nou finaal oor die ding van ras te kom.

Bronnelys

Banks, J., 2001. Approaches to multicultural curriculum reform: guidelines for teaching multicultural content. In: Banks, J.,Banks, C. (Eds.), Multicultural Education: Issues and Perspectives, fourth ed. Wiley, New York.

Du Preez, M. 2015. A rumour of spring. Zebra Press

Gay, G., 2000. Culturally responsive teaching. Theory, Research and Practice. Teachers College Press, Columbia University, New York.

McCarthy, C., Crichlow, W. (Eds.), 1993. Race, Identity and Representation in Education. Routledge, New York.

Vandeyar, S en Killen, R. 2006. Teacher–student interactions in desegregated classrooms in South Africa. International Journal of Educational Development 26 (2006) 382–393.

  • 10

Kommentaar

  • Baie goeie en geldige artikel. Ek voel skole moet die leiding hier neem en harde besluite maak. As die skool nie uitsluitlik Afrikaans is nie, moet die taal van onderrig uitsluitlik Engels wees. Geen dubbelmedium nie. Hoekom moet die Afrikaanse (meestal ouers) in so skool kan aandring op 'n Afrikaanse klas, terwyl die ander ouers slegs die keuse van 'n Engelse klas het ongeag hulle huistaal? Dit skep daardie "ons en hulle". Intussen speel die kinders in elk geval saam in pouse en in sportspanne, baie keer salig onbewus dat hulle ouers politieke probleme met mekaar het.

  • As ons kyk na die foto, sien mens engelse kinders een kant en ander kant Afrikaanse kinders. Waaroor gaan alles? Hoekom kleur en rassisme inbring in 'n onskuldige gebaar. Kinders is kinders, hulle sien nie kleur nie en wie is die grootste onreg aangedoen? Die engels en afrikaanse kinders. Ons grootste probleem is ons grootmense het verkeerde brille op.

  • Avatar
    Veronica Ungerer

    Miskien moet die opvoeders die kinders deurmekaar laat sit en die swart taal wat oorwegend is, Engels en Afrikaans teenoor mekaar neerskryf sodat die kinders al drie tale kan verstaan want as ek die Engelse woord ken en sien dit is wat die Afrikaanse woord is en die swart taal se beskrywing van die woord leer hulle sommer twee tale by die van hul huistaal. Ek voorsien egter probleme as daar meer as een swart taal in dieselfde klas is, want dan raak die saak al ingewikkelder. Sal moedertaal-onderrig dan maar nie die beste oplossing wees nie met Engels as tweede taal en 'n keuse of jy Afrikaans wil leer? As dit van graad een af toegepas word sal dit vir die meeste wit kinders voordelig wees dat die swart taal wat in hul streek gepraat word te leer en te praat en omgekeerd by die swart leerlinge. Soos daar tereg gesê word die, kinders speel tog speeltye met mekaar en so leer hulle integrasie.

  • Avatar
    Beskeie Bekommerde Bosvark

    Ek verwag van alle politici om volhoubaar die voorbeeld te stel en opbouende nie-rassistiese rolmodelle vir alle Suid-Afrikaners, insluitende die jeug, te wees. Ook in die wetgewing wat hulle aanneem. Ons kan nie verwag dat onderwysers semi-gode rolmodelle moet wees maar vele politici is nie rolmodelle nie. Kom ons begin by die politici! Publiseer asseblief voor einde Maart 2019 in LitNet 'n opvolgartikel oor politici en rassisme en die pad vorentoe. Ek sien vooruit na hierdie opvolgartikel. Groetnis

  • Beste Ena. Ek wil sover gaan om te sê dat party ouers die raskaart losweg gebruik. in ons eie ervaring by skole, is daar ouers wie duidelik nie hul kant bring byvoorbeeld om die korrekte prosedure te volg tydens registrasie nie. As hulle dan te laat registreer of nie die nodige dokumentasie saambring nie en dan uitvind hul kinders gaan benadeel word, wil hulle rassisme skree. Ek het al op verskillende platforms gesê dat sosiale media (in die hand van onkundiges), 'n baie gevaarlike wapen is omdat halwe waarhede so maklik as waarhede aanvaar word sonder dat mense hulle vergewis van die konteks of ingewikkeldheid van 'n saak. Ek self weet nie die detail van die SR-saak nie en ek hoop van harte dat die juffrou se bedoelings onskuldig was. Maar dit kan ook wees waar die probleem lê, want wat vir een doodnormaal en aanvaarbaar is, is nie noodwendig vir die ander nie. Die feit dat die WVK ons nie almal die geleentheid gegee het om te praat nie, en mense maar eenvoudig net voortgaan met hul aparte lewens, veroorsaak baie dikwels dat ons die ander met agterdog bejeën. Skole moet egter meer moeite doen rondom die kwessie van andersheid en nie aanvaar dat almal op dieselfde golflengte hieroor is nie.

  • Die artikel ignoreer totaal die beginsels van soort soek soort waar taal en kultuur 'n belangrike rol speel. Selfs in die sogenaamde model 'C'-skole sal Engelssprekende kinders hulself by ander Engelssprekendes aansluit en hul ook so in klaskamers groepeer.
    Dit is 'n natuurlike verskynsels en dit help nie om dit te ignoreer of om die hele 'raskwessie' te probeer ryp druk nie deur gedwonge maatreëls nie, dit bring net meer ongemak en wreweling mee. Los kinders om mekaar op 'n natuurlike manier te vind.
    Buite die raskwessie is daar ook 'klassekwessies’ en selfs die president se kinders was op die hoog aangeskrewe Roedean College in Parktown, Johannesburg, waar onderhoudsgeld tot R153 000 (betaalbaar voor 31 Januarie) per jaar kan beloop.
    Hierdie is nie 'n onnatuurlike verskynsel nie. Selfs in my skooldae het kinders van ryk ouers nie eintlik met armgatte gemeng nie. Moet dus nie die rassekwessie probeer 'ryp' druk nie en gee voorkeur aan moedertaalonderrig, want dit is die taal waarin 'n mens jou die beste kan uitdruk en die medium waardeur jy selfs ander tale leer.
    Lyk my die mense in beheer van ons onderwys ly aan een of ander minderwaardigheidskompleks en steek dit weg agter 'ons is nou baas' houding.' wat weerspieël word in die talle opdragte aan skole, oor hoe dinge gedoen moet word.

  • Mnr Joorst, jou skrywe dra gewig as jy 'n klaslose, kleurlose identiteitslose samelewing daar wil stel. Ongelukkig is die woord rassisme die gonswoord en word alles en almal aan die term gemeet, geweeg en in alle tye skuldig bevind. In ons diverse samelewing is net die blankes (wittes/kaukasiërs) rassiste. Ongelukkig word die "probleem" van rassisme altyd voor die deur van die wittes gelê. Jy kan gaan oral oor die wêreld, jy gaan nie 'n perfekte samelewing kry nie. Iewers gaan jy geweeg word en te lig bevind word. Hetsy dit jou kleur, finansiële stand of agtergrond betref. Iemand gaan iewers teen jou diskrimineer. Ongelukkig in ons situasie is jy 'n rassis wanneer jy dit doen. Kom oor dit. Aanvaar dit. Beweeg aan.

  • Jerome Joorst
    Jerome Joorst

    Beste Reusedwerg
    Ek hoor jou argument en gee jou gelyk. Die "oor dit kom" en "aanbeweeg" -versoek is iets waarvoor ek ook staan, maar ons kan dit nie onkrities doen van die realiteite van die land nie. Die verlede is so teenwoordig in die hede dat ons eenvoudig nie 'n keuse het om daardeur te werk nie. Ek stem saam dat wittes dikwels blameer word vir rassisme, maar ek wil byvoeg dat (generiese gesproke) swartes ook blameer word. Beide kante moet ook blaam aanvaar vir die beskuldigings van rassisme, want aan beide kante van die grens gaan ons voort om dinge te doen wat uitsluit eerder as insluit. Ons is dus gesamentlik verantwoordelik. Oor diversiteit in enige samelewing het ek geen twyfel nie. Maar ek steun nie die idee dat diversiteit misbruik word om aparte bestaan, leef en praat te regverdig nie. Die verlede het ons geleer dat dit eenvoudig nie werk nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top