Ongelykheid in skole, en hoe blind almal daarvoor is

  • 3

https://www.litnet.co.za/category/menings/skoleseminaar/

Na hul op 15 September 2018 teen die Springbokke verloor het, het die All black- afrigter, Steve Hansen, sy span gevra: “After being a champion for so long, what were your habits from last Sunday to today?”

Wanneer ons jaarliks op 5 Oktober wêreldonderwysersdag vier, moet ons dalk dieselfde vraag vra. Watter gewoontes het ons aangeleer nadat ons so mooi op koers was as die wêreld se model van ’n rëenboognasie? Het ons dalk op ons louere gaan rus en weer verval in ons ou gewoontes – dié wat ons verdeel eerder as saamsnoer? Het ons weer begin vinger wys na die ander as die oorsaak van die probleem? Lê die fout dalk by swak bestuur en korrupsie in die regering of die voortdurende begeerte van sommige landsburgers om in ’n staat binne ’n staat te bestaan? Is daar dalk fout met ons lense oor wat reg of verkeerd is as ons die VBS se R2 miljard-verlies beskou as die “grootste bankrooftog” terwyl die Steinhoff-verlies van R400 miljard beskryf word as “onreëlmatige uitgawes”? Die feit is dat ons doen en late ná Madiba se vertrek ons weer op ’n destruktiewe koers geplaas het en as ons nie vroeg genoeg wakker skrik nie, stuur ons af op ’n gewelddadige konflik.

Materiële strukturele ongelykheid in Suid-Afrika word alom aanvaar as een van die grootste redes waarom daar gedurige struweling in die land is. As skole ’n mikrokosmos van ’n samelewing is, soos Adams (2000) argumenteer, dan staan skole in die middel van waarheen ons ons kinders wil neem en die beleefde lewenswerklikhede waarmee leerders na die skool kom.

In ’n wêreld van globalisasie is alle lande besig om hul opvoedingstelsels te herstruktureer ten einde hul kinders op te voed om aktiewe deelnemers in ’n baie wisselvallige 21ste-eeuse ekonomie te wees enersyds, en om ’n kulturele identiteit te kan hê andersyds. Die probleem is dat ons hierdie doelwitte probeer bereik deur dinge te doen wat ons in die verlede gedoen het, en as gevolg daarvan reproduseer skole ongelykhede. As ons na die Suid-Afrikaanse skoolstelsel kyk, lyk dinge nie baie optimisties nie, want na meer as 20 jaar van demokrasie sukkel die meeste werkersklasskole steeds om ekonomiese aansporings om te skakel in aanvaarbare skolastiese prestasies wat op dieselfde vlak is as dié van voormalige model C-skole en die meeste van ons buurlande. Nog ’n komplikasie is dat ons net nie verby die kwessie van uitsluiting kan kom nie, want alhoewel ras nie meer die mees opvallende kwessie is nie, is dit wat in die skoolstelsel gebeur, nóú gekoppel aan ras.

Die uitdagings is kompleks

Aan die een kant ...

Eksklusiwiteit in skole het bloot net ’n gedaanteverwisseling ondergaan waar ras vervang is deur klas. Skoolkeuse byvoorbeeld lyk op die oog af maklik en ongekompliseerd, maar dit verdoesel eintlik die feit dat daardie keuse in ’n groot mate beperk is tot die ekonomies bevoorregtes en die politieke elite. Selfs al het nietradisionele leerders nou toegang tot voorheen eksklusiewe skole, word hulle steeds gekonfronteer deur hewige weerstand om die hegemoniese kultuur in daardie skole onveranderd te hou. Toe swart ouers ná die verwoesting van apartheid hul kinders na voormalige model-C-skole begin stuur het, was hulle gekonfronteer deur allerhande koverte uitsluitingsmeganismes. Hiervan getuig die talle hofsake waarin skole weerstand bied teen verandering. Die Laerskool Mikro [2006 (1) SA 1; 2005 (10) BCLR 973 (SCA)-hofsaak word uit sommige oorde beskou as ’n oorwinning vir die Afrikaanssprekende skoolgemeenskap van Kuilsrivier omdat hulle standpunt ingeneem het vir ’n reg wat deur die Skolewet aan hulle toegeken is, maar wat die saak eintlik belig, is die skoolgemeenskap se weerstand om tred te hou met die demografiese veranderinge in die gemeenskap en Engelssprekende leerders ook te akkommodeer. Die Daily Maverick van 14 Augustus 2018 het berig dat Overvaal Höerskool vroeër in die jaar die middelpunt van stryd om toegang was wat voortslepende weerstand teen transformasie in die vorm van ras- en taalkwessies in die opvoedingstelsel belig; verder, dat die Federasie van Skoolbeheerliggame (Fedsas) in ’n 2016-Hoër Hof-saak nagenoeg 70% skole in Gauteng wat wit en enkelmedium is, verteenwoordig het in ’n saak wat hoofsaaklik gehandel het oor die gebruik van taalbeleid as uitsluitingsmeganisme vir swart leerders uit hierdie skole. In hierdie hofsaak het die skole staatgemaak op die handjievol swart Afrikaanssprekende leerders in hul skole om te bewys dat die skole genoegsaam tot transformasie verbind was. Die hof het saamgestem.

So was daar ook die hofsake van Hoërskool Ermelo, ’n Afrikaansmediumskool wat swart, Engelssprekende leerders van die nabygeleë township geweier het ten spyte van die feit dat hulle kapasiteit gehad het. Nieteenstaande die feit dat die hof beslis het dat die provinsiale departement verkeerd gehandel het deur die skool se taalbeleid op te skort, het die Konstitusionele Hof steeds die skool beveel om hul taalbeleid te belyn met die veranderde samelewing. In die Rivonia Primêre Skool-saak het die provinsiale departement die skool se besluit dat hulle vol was, omgekeer en leerders fisies in die skool gaan plaas. Die Konstitusionele Hof het in hierdie geval beslis dat die provinsiale departement wel die reg het om te verwag dat die leerders toegelaat word ten spyte van die skool se toelatingsbeleid, maar dat kapasiteit in samesprekings tussen die skool en die provinsiale owerhede bespreek moet word. Alhoewel ouers via skoolbeheerliggame ’n onmiddellike belang het, het die hof beslis dat die behoeftes en belange van alle leerders nie geïgnoreer kan word nie. (https://www.dailymaverick.co.za/article/2018-08-14-race-and-language-concourt-misses-chance-to-guide-transformation-of-the-education-system)

Vandeyar (2010:334) het die migrasiepatrone van leerders waargeneem en bevind dat soos wat swart leerders na historiese wit en Indiërskole gestroom het op soek na beterkwaliteit-opvoeding, ’n groot persentasie wit en Indiërleerders na voormalige model- C- en privaatskole migreer het. Die algemene persepsies was die vrees dat die standaard van opvoeding sou daal. Hierdie migrasiepatrone het ’n mark in die privaatsektor laat ontstaan en allerlei privaatskole het in Suid-Afrika ontstaan. Die aanname van dalende standaarde is polities gelaai, want dit impliseer dat iemand se standaarde die goue standaard is om na te streef.

Hierdie uitsluitingstrategieë (lees apart-wil-wees-strategieë) is dikwels nou verwant aan ras en word elke nou en dan blootgelê. Dit wissel van die haredebakel in die geval van die Sans Souci- en Pretoria-hoërskole en leerders wat fisiek aangeval word deur ouer seuns in Graeme College, tot die traagheid in St John’s College om met openlike rassisme om te gaan, tot die opvoeder wat by Westville Girls’ High bedank het nadat sy rassistiese beledigings teenoor leerders geuiter het.

Al is swart leerders die numeriese meerderheid in voormalige model C- en privaatskole, bly hulle steeds die kulturele minderheid. Roets (2016) het in haar studie oor rassistiese diskoerse in voormalige model C-skole bevind dat swart leerders dikwels bang is om in klasse te praat uit vrees dat daar vir hul swart aksent gelag sal word. Dit beteken dat die kultureel diverse leerders probeer om aspekte van hul kulturele identiteite weg te steek uit vrees vir vernedering in hierdie skole.

Cummins (1997 in Roets 2016) sê die leerders word sigbaar, onsigbaar en onhoorbaar. Wanneer bruin of swart ouers Engels verkies as die taal van onderrig omdat hulle ’n berekening maak van die sosiale en ekonomiese potensiaal van Engels vir mobiliteit in ’n multikulturele nuwe Suid-Afrika en die arbeidsektor, word hulle begroet met hewige teenkanting van skoolbeheerliggame wat veg vir die behoud van monokulturele instellings. Die feit dat hierdie ouers nie hul teenkanting verbaliseer nie, word dikwels verkeerdelik as konsensus opgeneem. Burgerlike verenigings wat hulle beywer vir die behoud van Afrikaans poog dikwels om nie-Engelssprekendes onder een politieke sambreel te bring in ’n oppervlakkige skema van eksklusiwiteit. Vir dekades was Afrikaans op swart burgers afgedwing, en noudat daar pogings is om die bordjies te verhang, is daar hewige teenkanting vanuit hierdie groepe.

Afrikaans-ekslusiwiteit is vir Jansen (2013) ’n ernstige bedreiging vir rasseverhoudings in Suid-Afrika, want jy kan nie jongmense voorberei om te handel met die skade van die verlede sonder om optimale geleenthede in klaskamers te skep om saam te leer nie. Vir hom is dit belangrik dat die transmissielyn vir die oordrag van “bitter kennis” verbreek word.

In reaksie op Panyaza Lesufi (LUR vir onderwys in Gauteng) se argument dat die polariteit in die onderwysstelsel veroorsaak word deur uitsluitingsmeganismes in tradisioneel wit skole waar daar gepoog word om die personeelbevolking homogeen te hou, het Debbie Schäfer (LUR vir onderwys in die Wes-Kaap) toegegee dat daar wel onderduimse uitsluitingsmeganismes (soos taal en kriteria in posadvertensies) gebruik word om bepaalde bevolkingsgroepe uit te sluit en skoolbevolkings homogeen te hou.

Wanneer diskrepansies in skole uitgewys word, word die slagofferkaart dikwels uitgehaal. Elders (Joorst 2017) het ek Paul Colditz, uitvoerende hoof van Fedsas, aangehaal wat die bewerings van koverte uitsluitingspraktyke deur middel van taal as “absolute onsin” afgemaak het en aangevoer het dat die regering nou probeer om openbare skole terug te verander na staatskole deur “skoolkaping” (gesprek op die geselsprogram Monitor op RSG, 23 Oktober 2017). Sy adjunk, Jaco Deacon, se posisie hieroor is dat die staat ’n “outokratiese stelsel wil voorskryf” en dat “Afrikaans-enkelmediumskole spesifiek geteiken word, terwyl 95% van die land se skole Engels-enkelmediumskole is” (Facebook, 14 November 2017). Verder word gal gebraak op Monitor en Spektrum op RSG se Facebook-inskrywings van 24 Oktober 2017 wat wissel van “standaarde en kwaliteit van opvoeding wat afgetrek word” en die regering se skynbare “sosialistiese agenda” tot vrees dat die regering eenvoudig in ’n “duiwelstaat” verval. 

Baie ironies gebruik die burgerregte-organisasie AfriForum die 1976-Sharpeville-slagting as fondasie vir hul argument oor selfbeskikking en die behoud van Afrikaans in skole (lees ’n staat binne ’n staat). Die organisasie wat hulself voorhou as beskermers van minderhede se regte, gebruik dikwels nie-Engelssprekende bruin groepe as kanonvoer vir hul eie agitasie oor Afrikaans.

Oor wit bevoorregting sê Ernst Roets van AfriForum dat hy wel bevoordeel was op die basis van sy vel, maar hy regverdig dit deur aan te voer dat swart mense ook nou bevoordeel word op die basis van hul velkleur. So asof die een verkeerde die ander een regverdig. Hy argumenteer dat “wit mense beter skole het en daarom beter opvoeding” en “dat die meeste disfunksionele skole swart is”. Roets is wel reg in sy argument dat die huidige regering 20 jaar kans gehad het om dinge reg te stel, maar solank hulle natuurlik nie raak aan sekere skole nie. Dit is verbysterend dat hierdie groep nie die engheid raaksien in hul retoriek nie, naamlik dat dit nie saak maak hoe hulle hul motief vermom in woorde nie, dit eintlik vir hulle gaan oor die beskerming van die wit Suid-Afrikaners. Ras het in die proses dus ’n gedaanteverwisseling ondergaan en taal geword.

Roets se gespreksgenoot, Eusebius McKaiser (aanbieder op Radio 702), se reaksie hierop is dat die “maar”-woord bevraagteken moet word, want dit dien baie keer as voorspel vir iets baie wreeds wat volg. Sy siening oor wit bevoorregting is dat hierdie mense dit gewoonlik probeer ontken of minimaliseer of daarvan deflekteer. (http://bookstorm.bookslive.co.za/blog/2015/11/12/eusebius-mckaiser-debates-white-privilege-with-ernst-roets-of-afriforum-podcast)

Aan die ander kant ...

Skole se gebrek aan toerekeningsvatbaarheid, meen Duncan Hindle, ’n senior opvoedkundige beampte, dra dikwels by tot disfunksionaliteit. Hy skryf dit toe aan opvoeders wat dikwels afwesig bly sonder goeie rede, opvoeders wat laat opdaag vir werk en ander wat nie voorberei is vir werk nie. Begrafnisse en vakbondverpligtinge word ook gerieflike verskonings om nie op te daag vir werk nie. Vrydae en einde van die maand, sê hy, word vroeë skoolsluitdae in sekere skole (Hindle in Netshitangani 2018:98). Terwyl Duncan ’n punt beet het, is dit belangrik om te noem dat ons disfunksionaliteit ook in funksionele skole kry en funksionaliteit ook in disfunksionele skole.

Motshohi (2011) beskryf die vernietigende rol wat die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (Sadou) speel in die aftakeling van die bestuur in veral arm gemeenskappe. Hy en baie ander beskryf hoe prinsipale in hierdie skole geïntimideer en onder druk geplaas word wanneer hulle dissipline probeer afdwing en skole wil normaliseer. Die ironie, sê hy, is dat die kinders van die opvoeders wat hulle hieraan skuldig maak, by meer gegoede skole is.

Wanneer die provinsiale hoof van onderwys in KwaZulu-Natal (Maritzburg College v Dlamini NO & Others (2005) JOL 15075 (N)), meer as 18 maande voete sleep om ’n skool te ondersteun met die uitsetting van ’n leerder (toevallig swart) en eers deur ’n Hoër Hof beveel moet word om op te tree, is dit ’n aanduiding van die oorverpolitisering van opvoeding. Selfs nadat die hoof van onderwys wel opgetree het en die amptenaar erken het dat die leerder wel skuldig was aan ernstige wangedrag, het hy steeds geweier om teen die leerder op te tree. Hierdie selektiewe optrede skep die persepsie van politieke apatie teenoor mense wat nie soos jy lyk nie.

Wanneer die begrotings wat spandeer behoort te word aan die opgradering van skole verduister word en veroorsaak dat leerders in put-toilette sterf, laat dit die hare op ’n mens se vel behoorlik orent staan en verdiep dit die persepsie van onkunde en blatante kriminaliteit.

As die nasionale adjunkminister van onderwys ’n vrou aanrand en dan bloot op die vingers getik word, terwyl opvoeders vir ver minder as dit afgedank word, laat dit mens twyfel oor regverdigheid in die stelsel.

So ook wanneer ’n voormalige president van die land hom openlik skuldig maak aan verdagte gedrag, en sy volgelinge openlik populistiese retoriek teenoor ander rasse aanblaas, kan mens verstaan waarom mense ’n renons opbou in ander. Die ongeluk hierin is dat alle swart mense dan oor dieselfde kam geskeer word as onbevoeg, barbaars en korrup. Wanneer politieke onderwyshoofde wysigings in wette voorstel en wil deurvoer sonder konsultasie, kan weerstand verwag word.

Tot hiertoe blyk dit daar in alle skole in die land kwessies is wat tot ’n baie ongesonde situasie in ons onderwysstelsel lei. Buiten die geboue, bestaan skole uit mense – mense wat weet dat ons eenmaal in dieselfde situasie was; mense wat deeglik daarvan bewus is dat hulle blinde kolle het wat aangespreek moet word.

Blindheid

Suid-Afrikaners het weer eens ’n blindheid begin ontwikkel vir die idee van saambestaan. Die #FeesMustFall- en #RhodesMustFall-betogings sedert 2015 het die strukturele, materiële ongelykhede in die land weer onder die vergrootglas geplaas en getoon dat ’n volstruisbenadering tot die probleem nie ’n oplossing is nie. Die gevolg van laer trek vir die behoud van wat klaarblyklik gesien word as ’n reg om in isolasie te leef, te leer en te bestaan, die ontkenning, minimalisering en defleksie van bevoordeling en ras enersyds, en die frustrasie oor die gebrek aan erkenning van bevoordeling en die reg op gelyke behandeling aan alle groepe andersyds, het die potensiaal om die spreekwoordelike vonk in die kruitvat wees. Ons skoolstelsel in sy huidige vorm reproduseer ongelykhede, want ons het blind geword vir die institusionele klasapartheid wat dit bevorder.

Wanneer AfriForum voorhou dat ekonomiese krag van mense die gevolg is van “behoorlike opvoeding”, maar dan ’n groot fonds stig vir die opvoeding van wit, Afrikaanse kinders en die uitsluitingsmeganismes teen niewit kinders in skole kondoneer deur die narratief van minderheidsgroepe, belig dit nie net hul selektiewe geheue oor die oorsake van die tweeledigheid in die skoolstelsel nie, maar ook hul noue siening van gehalte-opvoeding vir alle landsburgers. Wat goed is vir my kind, moet mos ook goed wees vir iemand anders se kind.

Wanneer Black First, Land First revolusionêre ekonomiese transformasie propageer wat gebaseer is op ’n bepaalde siening van wit monopolistiese kapitaal, vertoon hulle ’n blindheid teenoor die korrupsie in eie geledere, en wanneer hulle ander stemme doodskreeu, word hul onverdraagsaamheid jeens ander sienings ontbloot.

Wanneer mense beweer dat hulle patrioties is, maar dan net ’n sekere deel van die nasionale volkslied sing, of iemand lê ’n eed af, maar jok daaroor om landsbelang voor eie belang te stel, laat dit ’n mens wonder oor die opregtheid van hierdie mense. As niemand hul blinde kolle wil erken nie, hoe gaan ons die prentjie verander in die belang van ons almal se kinders? As opvoeders in hul tientalle verkies om eerder oorsee te gaan skoolhou, wat presies vier ons met internasionale onderwysersdag?

Ons het inderdaad in verkeerde gewoontes verval, want ofskoon die rolspelers in leierskap verander het, doen ons dieselfde dinge aan mekaar wat ons dekades gelede gedoen het. Die geskiedenis van Suid-Afrika leer ons dat dominante groepe wat ander onderdruk deur hulle uit te maak as ondergeskikte mense, net vir so lank daarmee kan wegkom. Die nadeel van onderdrukking is dat jong kinders dit oor tyd internaliseer, dit deel maak van hul psige en daardie persepsies reproduseer. Die kultuur van selfsug, haat en vooroordeel teenoor ander mense verdoesel dikwels skewe godsdienstige argumente, inhalige selfbeskikkingsideologieë, basislose biologiese aannames en opvoedkundige regverdigings wat die produk van jare lange indoktrinasie is. Dit lei dikwels tot nie net baie eng sienings van die self in verhouding tot ander nie, maar ook ’n verwronge beeld van wie en wat ons kan wees as ’n nasie. Die geskiedenis het ons geleer dat magsmisbruik, korrupsie en kwaadstokery uiteindelik ontbloot sal word. Ons weet ook dat intimidasie en vergrype nie daarin slaag om gemarginaliseerde mense te stuit teen hul soeke na geregtigheid nie. Geen wetgewing of beleidsverandering kan mense se konfigurasie van hulself in gemeenskappe, organisasies, skole en algemene interaksie met mekaar stuit nie. Maar tog repliseer ons dit.

As ’n samelewing moet ons eers erken dat ons almal 25 jaar gehad het om die euwels van die verlede af te breek, maar ons het kollektiewelik daarin gefaal. Ons het verval in die ou gewoontes van vinger te wys na ander en van die regverdiging van die verkeerde. Ons het verval in ons apartheidsmentaliteit waar ons soms openlik en soms deur aannames ander mense kategoriseer in terme van waardevol en waardeloos. Onder die huidige dominante marklogika het ons ’n nuwe taal gevind om apatiese houdings, sienings en aksies te legitimiseer. Dit is dus belangrik dat ons ons morele blinde kolle moet kan identifiseer ten einde betekenisvol met ander om te kan gaan. Hierin kan opvoeders ’n deurslaggewende rol speel.

Wat word benodig?

Dit is ons kollektiewe verantwoordelikheid om die narratiewe van wetteloosheid, selfsug, uitsluiting, onderdrukking, korrupsie en so meer af te breek ten einde ’n beter toekoms saam te bou. In skole het opvoeders die geleentheid om inspraak te maak in die lewens van toekomstige burgers en ’n kans om dominante narratiewe te bevraagteken en te toets. Die opvoeder is tussen die vereistes van ’n snelveranderende globale samelewing en die beleefde realiteite van hul leerders geposisioneer. As agente van verandering het hulle dus die geleentheid om ons kinders toe te rus met gereedskap en taal wat hulle anders oor hulself in verhouding met ander menses kan laat dink. Opvoeders kan kinders deur herverbeelde lense na die lewe en na ander laat kyk en die ooreenkomste eerder as die verskille in hulself en ander mense raak te sien.

Maar opvoeders kan dit nie alleen doen nie. Hulle het die hulp nodig van die samelewing wat eers haar blinde kolle moet erken en bieg dat ons verval het in ou gewoontes wat ons op die oomblik nie nader aan mekaar bring nie. Opvoeders se gesagsposisie wat voortspruit uit die gemene reg moet weer in ere herstel word. As ouers moet ons besef dat opvoeding ’n geïntegreerde benadering verg om suksesvol vir alle kinders te wees. Opvoeding kan net slaag as daar samewerking tussen al drie die hoofrolspelers (ouerhuis, gemeenskap en skool) is. Ons het opvoeders nodig wat leerders leer dat die kognitiewe nie alleen belangrik is nie, maar ook sosiale en emosionele intelligensie sodat mense in staat kan wees om hulself te reguleer. Van ’n vroeë ouderdom af moet kinders geleer word hoe om met stres en verandering om te gaan. Suid-Afrika het al voorheen gewys dat die land uitdagings kan oorkom indien mense hul individuele verskille bylê en gesamentlik fokus op landsbelang. Daar is ongetwyfeld genoeg diepte en integriteit in die land om die magtigste in die wêreld aan te vat en te klop. Maar om dit te kan doen, moet ons verby ons blinde kolle kom en doelbewus die gewoontes van ons verlede verwyder deur dit te vervang met nuwe verbeeldings van wie en wat ons gesamentlik kan wees. Opvoeders kan ons fakkeldraers van sosiale geregtigheid wees. Wanneer ons dus weer op 5 Oktober internasionale onderwysersdag vier, laat ons dink aan opvoeders wat, soos kerse, hulleself moet uitbrand om ander die lig te wys.

Bibliografie

Adams, A.T. 2000. The status of school discipline and violence. The Annals of the American Academy of Political and Social Science, 567(1):140–56.

Ally, N. en S. Brener. 2018.  Race and language: ConCourt misses chances to guide transformation of the education system. The Daily Maverick, 14 Augustus. Beskikbaar by https://www.dailymaverick.co.za/article/2018-08-14-race-and-language-concourt-misses-chance-to-guide-transformation-of-the-education-system (13 Oktober geraadpleeg).

Hoërskool Ermelo v Head, Department of Education, Mpumalanga 2009 JOL 23349 (SCA).

Jansen, J. 2013. Afrikaans white schools a threat to race relations in South Africa. Politicsweb, 2 Oktober. Beskikbaar by http://www.politicsweb.co.za/news-and-analysis/afrikaans-white-schools-a-threat-to-race-relations (13 Oktober geraadpleeg).

Joorst, J. 2017. Die wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys en hoe om nuwe denke rondom skole te bou. LitNet Skoleseminaar.

Laerskool Middelburg v Departementshoof, Mpumalanga Departement van Onderwys 2003 4 SA 160 (T). 2003.

Maritzburg College v Dlamini NO & Others, 2005. JOL 15075 (N).

Motsohi, T. 2011. The corrosive influence of unions on SA schools. Mail & Guardian, 18 Augustus 2011. Beskikbaar by https://thoughtleader.co.za/thabangmotsohi/2011/08/18/the-corrosive-influence-of-sadtu-undermines-discipline-in-public-schools (14 Oktober geraadpleeg).

Netshitangani, T. 2018. Management style and school violence: South African perspectives. International Journal of Educational Management, 32(1):96–106.

Roets, C. 2016. Racialised discourse in the former Model C school: Discourse of exclusion and inclusion. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.

Schleicher, A. 2015. Global perspectives on education and skills. Beskikbaar by http://oecdeducationtoday.blogspot.co.uk/2015/05/education-post-2015.html (15 Oktober geraadpleeg)

St John’s College: Teacher found guilty of making racist remarks has resigned. TimesLive, 28 Julie 2018. Beskikbaar by https://www.timeslive.co.za/news/south-africa/2017-07-28-st-johns-confirms-teacher-found-guilty-of-making-racist-remarks-has-resigned (15 Oktober geraadpleeg).

The Federation of Afrikaans Cultural Associations welcomes the Mikro Judgement. 2005. Beskikbaar by http://vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=272 (14 Oktober geraadpleeg).

Vandeyar, S. 2010. Responses of South African teachers to the challenge of school integration. South African Journal of Education, 30(3):343–59.

Western Cape Minister of Education v Governing Body of Mikro Primary School 2005 10 BCLR 973 (HHA).

 

In die greep van geweld!

’n Respons op Wouter Gildenhuys se ope brief aan Phumelele Buthelezi oor die toekoms van Afrikaans in skole

’n Taalplan vir Afrikaanse skole: ’n reaksie

  • 3

Kommentaar

  • Toe ons met die Reënboognasie in 1994 begin het, het ons met skole gesit wat deel was van die struggle – liberation before education en pass one pass all – was die slagspreuke. Kinders en onderwysers is gebruik om hierdie stryd te voer en daarna weggegooi deur ons nuwe heersers. ’n Geslag van ongeletterdes het groot geword. Die onderwysprofessie is vir baie onderwysers maar nog net ’n job. Hulle gee nie ’n snars om vir die kinders in hul klasse nie. Waar dit die uitsondering is in Model C-skole is dit in baie van die townshipskole die reël. Die Model C-skole is seker die mees geïntegreerde skole in die land.
    Na die hofsake waar na hier verwys word het ek net kennis van Mikro Laerskool. Die feite is dat daar 19 kinders in die skool deur die departement geplaas is om in Engels onderrig te kry. Dit het geblyk dat die meeste kinders kinders van die amptenare van WKOD was. Terwyl die hofsaak aan die gang was het die skool uit skoolfonds ’n Engelssprekende onderwyseres aangestel om die leerlinge te onderrig. Daar is gevra dat die departement leermateriaal moet verskaf en hulle het belowe, maar die skool wag nou nog daarvoor. Volgens die onderwyseres was die Engels van die meeste leerders baie swak op dieselfde vlak as tweede-taalsprekers. Van die ouers het ook later gevra dat hulle na die Afrikaanse klasse oorgeplaas word. Dit wys net weer waar jy iets wil forseer sal jy min bereik. Engels is nie die oplossing vir ons leerders nie. Dwarsoor die wêreld word moedertaalonderrig hoog geag, maar in SA word dit nie ontwikkel nie. Die oplossing vir ons onderwys is om verby ras te kyk as ons wil transformeer tot beter. Net die beste mense moet aangestel word om ons onderwys te bedryf van bo na onder. Studente-onderwysers moet in skole van hul eerste dag van studie geplaas word sodat hulle alles in die praktyk kan sien.

  • Daar word so baie geskryf en gepraat oor onderwys in Suid-Afrika en dis natuurlik altyd die Afrikaners se skuld dat swart kinders nie presteer nie.
    Wat my aanhou verbyster, is dat die betrokke mense nie hulle oë kan oopmaak vir die mees voor die hand liggende waarheid nie, naamlik dat al die baie woorde wat geskryf en gepraat en geskree word oor allerhande dinge gaan, maar die eintlike mens oor wie dit gaan, word heeltemal buite rekening gelaat, naamlik die kind. Skynbaar stel niemand daarin belang nie om te begin by die vraag: wat is die (eksistensiële) nood van die kind?
    Wanneer 'n mens gebore word, het hy/sy 'n tweeledige nood, naamlik die versorgende gesag van Ma en die leidende gesag van Pa. Hierdie platform is nie die regte plek vir my om uit te brei hieroor nie en daarom net enkele opmerkings:
    ♦ Die daaglikse skeiding tussen ouers en kinders, vir sommige van so jonk as drie maande af, is die grootste ramp wat die mensdom getref het.
    ♦Sedert 1945 het ouers hoe langer hoe meer die taak van opvoeding oorhandig aan die skool. Vandag beskou skrywers van artikels dit as die oorspronklike Waarheid dat kinders deur skole opgevoed word. Geen kind het nood aan 'n skool nie. Dis nie 'n kindvriendelike plek nie en die grootste invloed op 'n individuele kind kom van die portuurgroep af, nie van volwassenes nie.
    ♦Duidelik weet ouers en onderwysbestuurders nie hoe 'n oorspronklike taal (moedertaal) in 'n mens tot stand kom nie en hulle glo duidelik ook nie dat dit nodig is om daaroor te wonder nie. As hulle die moeite sou doen, sou hulle besef dat dit persoonsvernietigend is om 'n kind wat xyz-taal as moedertaal verwerf het, in 'n skool te plaas waar abc-taal die dominante taal is. Jy kan so 'n kind netsowel in eensame opsluiting plaas – dit sal dieselfde effek hê. Ek dwing myself met moeite om nie verder hierop in te gaan nie.
    My pleidooi is dat die mense in beheer moet ophou met hierdie onophoudelike geskrifte wat voortdurend mense se lewens wil verpolitiseer en liewer op 'n eerlike manier die ware kragte van menswording wil navors en implementeer.

  • Ongelykheid in skole, Waar begin dit? Ons kan die antwoord wyd en ver gaan soek, anderkant die draad, maar ek dink nie dit is waar ons moet begin nie.
    By ons in die Noordkaap is daar 'n ernstige probleem met kinders wat "dom gedrink is" nog voor hul geboorte, die groot hartseer moet ons nie miskyk as ons begin wonder oor swak prestasie by skole nie. Dalk is dit grotendeels die rede vir ons land se lae IK.
    Dit is maar deel van 'n eie-ek lewensbeskouing, `n "jy sal my nie sê nie ek maak soos ek wil" houding.
    Ons is maar lekker blind vir die probleem. Lei 'n volk se vroue op, dan voed jy die volk op!
    Ek is oortuig ons moet in ons harte verander, regtig begin omgee vir ons kinders, (ook die ongeborenes) minder eie wil laat geld, dan sal dinge verbeter.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top