’n Respons op Wouter Gildenhuys se ope brief aan Phumelele Buthelezi oor die toekoms van Afrikaans in skole

  • 0

https://www.litnet.co.za/category/skoleseminaar/

Foto: Pixabay

Ek het vir ’n tyd lank Afrikaans by twee swart skole in Pretoria aangebied. Die keuse om te noem dat dit swart skole was, is met ’n doel: dit het die implikasie dat enigiemand wat in die onderwys staan, sal weet dat dit daarom Afrikaans Eerste Addisionele Taal was. Ek het die onderwys met groot drome betree en was vol moed om my passie vir Afrikaans aan elke leerder wat voor my sit, oor te dra. My ontnugtering het sommer al vroeg voor pouse gekom toe ek moes besef die Afrikaans wat ek ken en lief het, vir ander ’n vreemde taal, ’n gehate taal en die taal van die onderdrukker is.

Alhoewel Gildenhuys se vraag oor waarom daar onderskeid tussen Huistaal-leerders en Eerste Addisionele Taal-leerders getref word, retories is, voel ek tóg om dit te beantwoord. Dit is ’n eenvoudige antwoord – EAT-leerders sal nooit die mas opkom as hulle op dieselfde standaard as HT-leerders gemeet word nie. Meer nog is daar ’n groter probleem – EAT-leerders kom nie eers met EAT-standaarde die mas op nie. Die vereistes wat aan leerders gestel word, maak dit van die begin af vir hulle byna onmoontlik om suksesvol in die vak te wees. Aan die begin van die jaar wanneer jy as onderwyser met jou nuwe leerders kennis maak, tel jy bloot die bruin leerders en jy weet hoeveel leerders in jou klas gaan slaag. Die res – die uitgesluites, kry selde ’n slaagsyfer sonder intensiewe intervensie. So sit ons selfs in ’n EAT-klas met eksklusiwiteit. Daar was al by die skole waar ek betrokke was sprake van die skep van ’n enkele HT-klas om die verskillende vlakke van onderrig wat in een klas van die onderwyser vereis word, te oorbrug. Tog lei dit ons nie een tree verder weg van die idee dat Afrikaans vir ’n eksklusiewe en elite groep bedoel is nie – inteendeel.

Die onderskeid wat tussen HT en EAT getref word is soos Gildenhuys sê elitisties en eksklusief. Ek het dit selfs as onderwyser by distriksvergaderings en groepsbyeenkomste ervaar. Die HT- en EAT-onderwysers het apart in die skoolsaal of personeelkamer gesit en waar die betrokke byeenkoms ook al gehou is en wanneer daar byvoorbeeld oor die letterkunde van die graad 12’s gepraat is, het ons almal geweet die Huistaal-onderwysers het ’n groter taak op hande met hulle roman, drama en gedigte. In werklikheid werk EAT-onderwysers net so hard (indien nie harder nie) selfs al doen hulle graad 12’s een genre minder. Die rede? Hulle moet die vak Afrikaans in Afrikaans verduidelik terwyl meer as 80% van die leerders in die klaskamer nie eers ’n enkelvoudige sin in Afrikaans kan maak nie.

Die vermoë van die EAT-leerder om homself in Afrikaans uit te druk is ver verwyderd van dieselfde vermoë van die HT-leerder, maar as ek die naaste familielid (dus ’n moedertaalspreker van Afrikaans) nadertrek en vra om vir my ’n enkelvoudige sin te maak, kan ek amper my kop op ’n blok sit dat hulle nie presies weet watter sin ek nou eintlik van hulle vra nie. Ek hoor baie moedertaalsprekers van Afrikaans sê dat hulle nooit die reëls van die taal geleer het nie en hoofsaaklik op gevoel eksamen geskryf het. Die meeste mense gaan op wat reg klink of reg lyk en is verbaas wanneer hulle vir die eerste keer hoor dat “huidiglik” nie ’n woord is nie. Dit is dieselfde mense wat byvoorbeeld sal kla dat die poging om Afrikaans meer inklusief te maak, die taal bloot reduseer. Dieselfde mense wat luidkeels skree dat Afrikaans vir seker moet bly, weet nie wat die verskil tussen “vir seker” en “verseker” is nie. Vandag is die fundamentele beginsels van Afrikaans soos ’n attributiewe en predikatiewe byvoeglike naamwoord vir die meeste Afrikaanssprekendes ’n vloekwoord. So, terwyl Huistaal-leerders sukkel om te onthou na watter kant toe die strepie van ’n akuut lê en om die dood nie ’n behoorlik literêre opstel kan skryf nie, sukkel EAT-leerders om enigsins uit te maak wat die som van die woorde voor die vraagteken van hulle vereis. Terloops, EAT-leerders moet boonop óók weet na watter kant toe die strepie van ’n akuut lê.

Dis duidelik dat ons in die onderrig van Afrikaans met twee pole sit. Aan die een kant het ons leerders wat Afrikaans op tweede taalvlak móét leer, terwyl dit eintlik hulle derde of vierde taal is wat hulle nêrens hoor tensy hulle die televisie na 7de Laan oorskakel nie. Aan die ander kant het ons leerders wat Afrikaans op eerste taalvlak neem en buiten Engels geen ander taal magtig is nie. Albei moet drie vraestelle in Afrikaans skryf wat op taal, letterkunde en skryfwerk fokus. Beide leerders duik in die hek by vraestel een en vra waar hulle dan ooit die lydende vorm gaan gebruik. Beide leerders vind die voorgeskrewe letterkunde ’n lang uitgerekte episode wat daartoe lei dat hulle voorgeskrewe werk moontlik die enigste literêre werk is wat hulle ooit sal lees. En laastens vind beide leerders die skryfproses uitmergelend waarin hulle eie opstelle hulle tot die dood toe verveel en hulle die marteling kortknip met ’n reël soos “... toe ek wakker word, was alles net ’n droom” (jy is gelukkig as die leerder die komma tussen “word” en “was” onthou het).

Eksklusief en elite is Afrikaans Huistaal beslis, maar na dese sou ek sê dat ’n EAT- en HT-leerder nogal iets sou hê om vir mekaar te sê as hulle in dieselfde Afrikaansklas sou wees. So vra ek ook soos Gildenhuys: hoe kry ons dit reg om die inklusiewe en transformatiewe aspekte van Afrikaans aan hierdie twee verskillende leerders en die breër Suid-Afrika voor te stel? Gildenhuys se antwoord is om ’n nuwe stelsel te ontwikkel wat alle leerders insluit. Ek stem saam hiermee en sal nog verder gaan om te sê ’n nuwe vak moet ontwikkel word. Met die implementering van die Kurrikulum en assesseringsbeleidsverklaring (KABV) is die moontlikheid afgeskaf om Afrikaans op die vlak van hoër- of standaardgraad te neem. Dit is myns insiens ’n tree in die regte rigting en as ons dieselfde met HT en EAT doen en één Afrikaans vir almal skep, sal dit nog ’n tree in die regte rigting wees.

Daar is natuurlik nou baie onderwysers wat op hulle perdjies spring, maar hoe het die manier wat ons Afrikaans onderrig oor die jare verander? Nie veel nie. Verandering bring vernuwing en daarom kan ons vra hoe vernuwend is die manier hoe ons Afrikaans onderrig? Dit het dieselfde antwoord: nie veel nie. Ons skop altyd teen verandering – dink net terug hoe almal teen die prikkels van die KABV geskop het en steen en been gekla het omdat vrae nou volgens Barrett se taksonomie uitgewerk moet word. Verandering bring vernuwing en vernuwing is nodig as ons wil hê Afrikaans moet voortleef – of selfs, oorleef. Ons kan nie bloot staatmaak op die mense wat Afrikaans by kunstefeeste en om ’n braaivleisvuur staan en praat nie. Afrikaans moet sy hoër funksie behou. Verskeie internasionale voorbeelde wys dat die voorbestaan van ’n taal in die geborgenheid van sy hoër funksies lê. Lees gerus meer hieroor: https://goo.gl/WRAzD7.

Ek stem saam met Gildenhuys dat dit tyd geword het vir die instansies wat vir die behoud van Afrikaans veg om die toekoms van Afrikaans op skolevlak te verseker. Ons kan nie net aanhou om ons koppe in die sand te druk nie. Dit het tyd geword om die situasie waarin Afrikaans homself bevind aan te spreek voor dit ’n krisissituasie word. Hoe kan ons voornemende onderwysers juis oor die aanbied van Afrikaans opgewonde maak? Hoe gaan ons vir leerders die geleentheid gee om Afrikaans te praat sodat hulle dit geniet? Hoe gaan ons leerders kry om Afrikaans te lees? Hoe gaan ons leerders kry om met nuwe oë na Afrikaans te kyk?

Ek glo die antwoord op al hierdie vrae is ’n nuwe Afrikaans, ’n nuwe vak met ’n nuwe uitgangspunt. ’n Vak waar die eksamenvraestelle nie bloot leeg teruggegee word omdat dit uit voeling met die werklikheid is en aspekte assesseer wat nie in die praktyk nodig is nie. As ons sê dat Afrikaans die somtotaal van ál sy variëteite is, moet dit op skoolvlak gesien kan word. Dan behoort ons nie net Kaapse Afrikaans in ’n gedig hier en daar raak te loop nie, maar ons behoort Karoo-Afrikaans, Swartlandse Afrikaans, Griekwa-Afrikaans, Namakwalandse Afrikaans, Boesmanlandse Afrikaans, Voortrekker-Afrikaans, Oos-Kaapse Afrikaans, Vrystaatse Afrikaans en Overbergse Afrikaans in die klas te sien. As ons sê Afrikaans behoort aan ons almal, behoort dit inklusief te wees. Dit beteken nie die taal moet gereduseer word nie – jy kan dit steeds op universiteit neem en alles van fonetika, morfologie, sintaksis, semantiek en nog meer gaan leer. Ons kan nie langer sê Afrikaans is ons almal se taal as ons dit so eksklusief op skool aanbied nie.

Ope brief aan Phumelele Buthelezi, vakadviseur KwaZulu-Natal: Die toekoms van Afrikaans op skool

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top