Ope brief aan Phumelele Buthelezi, vakadviseur KwaZulu-Natal: Die toekoms van Afrikaans op skool

  • 2

Wouter Gildenhuys (foto: verskaf)

Ek het vroeër vanjaar na ’n interessante gesprek vanaf die US Woordfees geluister. Volgens hulle is die stand van Afrikaans op skool in die land heel billik. Wel, die prentjie in KwaZulu-Natal is heel anders! Die toekoms van Afrikaans in KwaZulu-Natal is glad nie so rooskleurig nie.

Ek wil begin deur ’n retoriese vraag te stel. Waarom word daar nog onderskei tussen Huistaal-leerders en Eerste Addisionele Taal-leerders op skole? Dié praktyk is in wese elitisties en eksklusief en dit skep net verdeeldheid!

Die uitdaging is om die inklusiewe en transformatiewe aspekte van Afrikaans aan ’n breër Suid-Afrika voor te stel.

Toe ek Latyn/Frans/Duits op skool geleer het, het ek Duits geleer – nie ’n Eerste Addisionele Taal nie, maar ’n volwaardige TAAL. Die verdelende stelsel van die verlede moet opgelos word – nie deur mooi woorde nie, maar deur tasbare dade en stelsels.

Tans neem die stelsel ook nie die ewolusionêre ontwikkeling van die taal op skool in aanmerking nie. Afrikaans, soos enige ander taal, is dinamies en gedurig besig om te groei en te ontwikkel soos onlangs deur die toevoeging van nuwe woorde in die nuwe HAT gedemonstreer is. Dit is belangrik dat voorsiening gemaak word vir hierdie ontwikkeling in die taal en veral vir die invloede van nuanses deur die invloede/gebruike as ’n streekstaal.

’n Mens praat ’n taal goed of beter – nie ’n addisionele eerste taal nie. Hoekom is daar so ’n groot verdeeldheid en hoe kan ons dit omsluit/oplos?

Ons moet juis nou ’n stelsel ontwikkel wat alle leerders insluit. (Ek was op my dae ’n lektor so ek is met die uitdagings van die onderwysstelsel vertroud.) Hoe is die huidige stelsel op skool inklusief? Die huidige stelsel is in wese eksklusief – dit sluit die ander uit – deur die blote feit dat daar nog onderskeid getref word tussen verskillende taalbekwaamhede. Totdat ’n stelsel ontwerp word wat almal insluit, ongeag ras, taalagtergrond, bekwaamheid of ekonomiese verskille is dit ’n eksklusiewe sisteem.

Ons moet die gemeenskappe nader aanmekaar bring. Woorde en teorieë op papier maak nie altyd voorsiening vir die werklikhede in die praktyk nie. Die werklikheid is dat daar nog groot ongelykhede bestaan in die onderrig van Afrikaans in skole. Totdat ’n nuwe-stelsel/sisteme ontwikkel word wat dit aanspreek sal die “taal-diskriminasie van Apartheid” voortbestaan/voortleef. Daar is verskillende organisasies/unies/ens soos FEDSAS, ATR, SAOU, die Departement van Basiese Onderwys, ensovoorts wat hulle beywer vir die regte (toekoms) van Afrikaans. Ongelukkig, in my ervaring, het die verskillende organisasies elk hulle eie agenda wat nie altyd ooreenstem met mekaar nie. Elkeen veg vir sy eie oorlewing wat ook nie altyd tot die voordeel van die taal is nie. Al hierdie verskillende entiteite moet deel vorm van ’n nasionale gesprek sodat daar ’n nasionale, oorkoepelende benadering geskep kan word. Die agendas van die verskillende organisasies moet binne hiérdie raamwerk ontwikkel word sodat almal dieselfde doelwit nastreef naamlik: die oorlewing van Afrikaans.

Volgens statistieke van 2011 is Afrikaans die moedertaal van 602 000 Suid-Afrikaners. Ek kan u verseker dat dit in die afgelope nege jaar daadwerklik verander het. Die 2011-data is ’n wanvoorstelling van die lewensvatbaarheid van Afrikaans. Rome is aan die brand ...

Die GRONDWOORDE Digkompetisieprojek is in 2016 geloods om deur die gebruik van Afrikaans tussen diverse groepe leerders brûe te bou, en ook om die Afrikaanse digkuns te bevorder onder Hoërskoolleerders. Tot op datum het ek ongeveer 250 skole betrek by die digkompetisie. Ek verstout myself om te sê dat dit al die hoërskole in KZN is waar Afrikaans nog in een of ander vorm aangebied word. In 2017 was 155 skole betrek by die GRONDWOORDE Digkompetisie. In 2018 het 18 van dié skole (om en by 15%) nie meer Afrikaans aangebied nie. Hierdie afname is ontstellend, maar dit is die realiteit! Dit is natuurlik ’n komplekse probleem soos die tekort aan gekwalifiseerde leerkragte, hulpmiddele, ens.

Daar is blykbaar ook nog net vyf skole wat as “Afrikaanse skole” in KZN geklassifiseer kan word. In een jaar het ± 15% van die skole Afrikaans afgeskaf. Dit is rofweg 18 000 leerders wat nie meer toegang tot Afrikaans het nie. Die tendens sal voortduur tensy daar daadwerklike pogings aangewend word om dit te stuit deur betekenisvolle veranderinge/ingrypings.

Volgens my ervaring is die gesindheid tot Afrikaans baie positief, maar die leerkragte is in die algemeen baie bekommerd oor die toekoms van Afrikaans. Die volgende statistiek is nog meer kommerwekkend. Nie net is daar alreeds ’n tekort aan gekwalifiseerde onderwysers op sowel hoër- as laerskoolvlak nie, maar as die huidige korps aftree dan is daar nie gekwalifiseerde leerkragte om Afrikaans op hoërskoolvlak oor te neem nie. Afrikaans sal in die volgende twee tot drie jaar eenvoudig “sterf” in ± 150 skole in KZN. Dit is nie eens ’n politieke-dood nie, maar bloot as gevolg van ’n afwesigheid van pro-aktiewe beplanning. Dit is skrikwekkend!

Die situasie word vererger en gekompliseer deur die feit dat daar nie instansies is waar leerkragte opgelei kan word nie. Verder, as gevolg van die feit dat daar van “geleentheids-” onderwysers op laerskoolvlak gebruik gemaak word, is die standaard onvoldoende as die leerders op hoërskoolvlak kom. Daar is ’n dringende behoefte aan ’n “oorbruggingswerkboek”. (En ook ’n dringende tekort aan opgeleide leerkragte op laerskoolvlak!)

Ek is ook ingelig dat daar verskeie poste is as gevolg van die tekort aan gekwalifiseerde onderwysers wat nie gevul kan word nie. Sogenaamde swartskole kan nie Afrikaans aanbied nie, want daar is nie onderwysers beskikbaar nie.

In baie gevalle wil die leerders op hoërskoolvlak vir Afrikaans registreer, maar daar is nie ’n oorbruggingsopsie nie. As ’n werkboek saamgestel kan word wat aan hierdie vereiste voldoen, sal dit ’n positiewe invloed uitoefen op toekomstige getalle.

’n Baie interessante aspek van Afrikaans op skoolvlak is die feit dat die buitelandse leerders, van onder andere Botswana, Malawi, Mosambiek, Rwanda, DRC, ensovoorts, verkies om Afrikaans eerder as isiZulu op skool te neem. Alhoewel dié leerders blykbaar isiZulu praatmagtig is (hulle bly gewoonlik tussen isiZulu-sprekende mense) vind hulle dit moeilik om dit as skryftaal/eksamenvak aan te leer en verkies om liewer Afrikaans te neem.

Hierdie aspek belowe opwindende geleenthede en ’n toekoms vir Afrikaans op die vasteland van Afrika.

Die leerders wil ook graag Afrikaans “oefen”/praat, maar daar is nie geleenthede nie. Miskien kan ’n uitruilprogram daargestel word waar Natallers in die res van land kan oefen om Afrikaans te praat. Dit op sigself belowe om diepgaande interaksies tussen diverse groepe leerders te fasiliteer.

Die skole het ook ’n groot tekort aan leesboeke in Afrikaans.

In skole wat Eerste Addisionele Taal aanbied, doen die leerders oor die algemeen baie goed in isiZulu, of dit nou Eerste Taal of Eerste Addisionele Taal is. Die meeste A-simbole in graad 12 word verkry in isiZulu. Dit word deels daaraan toegeskryf dat die standaard van die vraestelle vergeleke met Afrikaans nie so “uitdagend” is nie. Daarteenoor is die standaard wat verwag word, veral van Afrikaans Eerste Addisionele Taal, blykbaar baie moeilik. Gevolglik is die resultate “onbevredigend” en dringende aandag moet hieraan geskenk word.

Daar is ook ’n probleem met vakadviseurs vir grade 8 en 9. Daar is ’n tekort aan voldoende gekwalifiseerde persone.

Oor die algemeen is daar ’n behoefte aan ondersteuning en akademiese materiaal, veral vir die digkunsafdeling. Daar moet onthou word dat die leerkragte Afrikaans praat as ’n tweede taal, in sommige gevalle derde taal, en die standaard wat verwag word, is onrealisties moeilik!

In die verlede kon die leerders TV-programme gebruik as praktiese leermiddel, maar die taalgebruik in TV-programme is blykbaar nie meer na wense nie. Dit is nou blykbaar deurspek met Engelse woorde.

In baie gevalle wil leerders Afrikaans neem, maar daar is nie genoeg gekwalifiseerde leerkragte nie met die gevolg dat van die skole nie meer Afrikaans as ’n vak kan aanbied nie.

Die ander verdoemende aspek is die feit dat die eksamen-vraestelle van Afrikaans so moeilik is dat dit leerders “wegjaag” van Afrikaans af. Ons moet ’n sisteem ontwikkel wat die leerders op ’n meer inklusiewe manier eksamineer. Daar moet ook daadwerklik en krities na die sillabus gekyk word, die relevansie/toepaslikheid daarvan en die volhoubaarheid van die stelsel. Blykbaar is die keuse van die gedigte tans baie meer toeganklik, ’n bietjie meer “modern”. Dit is ’n positiewe verandering, maar die “standaarde” wat verwag word van die leerders is bo hulle vuurmaakplek.

Om aan te hou om aan sogenaamde standaarde (byvoorbeeld die moeilike eksamenvraestelle) in ’n veranderende milieu vas te kleef, dui daarop dat ons nog ’n eksklusiewe beleid volg.

Ons wil leerders behou en lok na Afrikaans en nie wegdryf nie.

Dit is van kardinale belang dat ons moet luister na die stem van die ander, wat in my ervaring glad nie die geval is nie. Daar is ’n gevoel dat baasskap in Pretoria nog hooggety vier as gevolg van ’n onveranderde elitistiese sisteem.

Dit is die algemene gevoel onder leerkragte in KZN!

Die toekoms van Afrikaans is in die hande van die swartman.

Ons moet dus:

  1. meer inklusief dink;
  2. ons organisasies/taalstrukture meer verteenwoordigend maak van die Suid-Afrikaanse demografiese profiel;
  3. demokraties verteenwoordigende stelsels implementeer;
  4. transformasie ten alle koste nastreef; en
  5. wegdoen met lippetaal.

As ons die bogenoemde teikens met ywer nastreef sal daar dalk ’n toekoms vir Afrikaans wees. Die huidige stelsel versmoor Afrikaans en lei tot die, nie stadige, maar haastige dood van Afrikaans.

In 2017 was daar blykbaar 50 000 moedertaal- en 120 000 nie-moedertaal-leerders wat vir die Graad 12-eksamen ingeskryf het. Terselfdertyd het KZN, in een jaar, ± 18 000 toekomstige/potensiële leerders van Afrikaans as vak verloor! Dit is meer as 10% van die bogenoemde nasionale statistieke.

Daar is soveel moontlikhede vir die groei van Afrikaans in KZN maar as ek kyk na die terugvoering wat ek kry, versterk dit my oortuiging dat diegene in beheer van die taal nie bewus is van die werklikhede nie, wat nog die ondergang van Afrikaans in KZN sal wees.

Ek skryf vanuit my ondervindinge in KZN, maar ek is seker dat dit in die algemeen op die res van Suid-Afrika van toepassing is.

Wouter J Gildenhuys: Projekkoördineerder, GRONDWOORDE

Grondwoorde: ’n digkompetisie vir hoërskoolleerlinge in KwaZulu-Natal

 

  • 2

Kommentaar

  • Albertje Fouché

    Baie dankie vir u skrywe. Ek het dit baie insiggewend gevind. Ek hoop dat dit nie op dowe ore sal val nie.

  • Rêrig? Klink nie of u enigsins weet wat in die klaskamer aangaan nie. Sekerlik stel u dan voor dat daar ook gekyk word na Engels wat op een vlak aangebied word? Of Zulu op een vlak om dit makliker te maak vir die wat wel Zulu praat maar nie kan skryf of lees nie? Hoekom spesifiek Afrikaans in dié artikel?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top