#SansSouci: ’n Gesprek met ’n oudonderwyser oor wat onderwysers én kinders nodig het

  • 2

Dewald Koen (foto verskaf)

https://www.litnet.co.za/category/skoleseminaar/

’n Voorval waartydens ’n leerder deur ’n onderwyseres in ’n klaskamer deur die gesig geklap is, het onlangs aandag getrek. Sonja Loots het ’n rubriek in Rapport hieroor geskryf. 

Naomi Meyer vra vir Dewald Koen, wat self ’n onderwyser was en nou ’n dosent is, wat hy dink van die kinders én die onderwysers in hedendaagse Suid-Afrika: van wie hulle is, en ook van hulle behoeftes.

Dewald, hoe sien jy die Alfa-generasie, oor wie Sonja Loots onlangs in Rapport geskryf het? Vir my is dit die kinders van millenniërs, diegene wat nie dink dis vreemd om voortdurend 'n selfoon in die hand te hê nie want dis immers 'n verlengstuk van jou menswees; jy, synde half mens, half robot = androïde.

Ek is nie ’n ouer nie, dus kan ek die vraag slegs as voormalige onderwyser en huidige dosent beantwoord. My interaksie met Generasie Z is en was beperk tot die klaskamer en/of lesingsaal. Generasie Z is ’n groep kinders en tieners wat te veel uitdagings het om op daaglikse basis te moet trotseer. Vyftig jaar gelede was daar nie kuberboelies op Facebook nie. Kinders kon in die straat speel sonder dat hulle deur ’n dwaalkoeël van ’n bendegeveg getref word. Ek dink selfone het kinders se spreekwoordelike skild teen die gevare van die samelewing geword. Kinders het nie voldoende emosionele ondersteuning nie (weens afwesige ouers en/of vaderfigure ens). Hulle kruip weg in die kuberruim. Jy hoef nie van aangesig tot aangesig met mense te kommunikeer nie. Selfone, tablette en rekenaars word deur kinders en tieners as ’n veilige sone beskou. Ek dink nie ons as volwassenes sal ooit weet wat in hul koppe aangaan nie. (Ons is self maar effens verslaaf aan ons selfone ...)

Ja, vorige generasies moes wêreldoorloë en apartheid trotseer, maar die druk wat deur tegnologie veroorsaak word, was afwesig. Vandag moet kinders en tieners fisieke geweld tesame met tegnologiese geweld in die gesig staar.

Die Alfa-generasie is baie meer as net robotte, ek weet. Wat gaan binne-in elkeen aan, gebaseer op wat jy beleef het? Kan ek vra wat jý dink die lewensbeskouing is van kinders in vandag se klaskamers?

Ek dink kinders is ontnugter deur die samelewing in sy geheel. Suid-Afrikaanse kinders word blootgestel aan die buitewêreld deur middel van tegnologie. Hulle sien watter geleenthede kinders in ander welgestelde (meestal Eerste Wêreld-) lande het. Generasie Z moet die prys betaal vir die sondes van die voorvaders. Die oorgrote meerderheid kinders leef in armoede. Hulle word groot in ’n samelewing waar hul daagliks aan sosio-ekonomiese ongelykheid blootgestel word. Dit lei tot frustrasie en woede. Dit is wat tans by universiteite gebeur. Die oorgrote meerderheid studente is gefrustreerd. Verandering gebeur te stadig en aangesien Generasie Z gewoond is aan onmiddellike bevrediging, is hulle nie altyd bereid om die uitgerekte prosesse te volg om verandering teweeg te bring nie. Veral wit kinders voel dat hulle spreekwoordelik “gestraf” word vir hul ouers se aandeel aan apartheid en kolonialisme in Suid-Afrika. Wit seuns het gereeld vir my as onderwyser gevra waarom hulle byvoorbeeld nie vir mediese studie aan ’n universiteit toegelaat word nie terwyl ’n swart student met laer punte wel toegelaat word. Hulle kon nie insien waarom hulle as sulks “gestraf” moet word vir die onregte wat in die verlede in ons land gepleeg is nie. Swart leerders is gefrustreerd met die oorheersend Westerse skoolsisteem waar hul kultuur nie altyd gerespekteer word nie. Suid-Afrikaanse kinders moet al die “Westerse” probleme die hoof probeer bied terwyl hul boonop ’n “normale” samelewing in ’n eens “abnormale” land moet skep. Die emosionele druk en verwagtinge op Generasie Z is abnormaal hoog.

Die onderwysers wat skool hou deesdae is jonk – dis dalk net my eie persepsie soos wat ek ouer word. Wie dink jy is Generasie Z se onderwysers? (Kan hulle spel? Nee, jy hoef nie hierdie vraag te beantwoord nie.) Net: wie dink jy is vandag se onderwysers? En aan watter soort druk is hulle uitgelewer? 

Ek hou baie van hierdie vraag. Dit is ’n vraag wat eenvoudig gevra moet word. Daar bestaan ’n groot gaping tussen die ouer, meer ervare onderwysers en die nuwe, jonger-generasie-onderwysers wat vandag klaskamers betree. Ek gaan nou ’n gewaagde uitspraak maak, maar dit moet gesê word: Die jonger onderwysers wat aangestel word, het nie voldoende kennis en/of ervaring om die uitdagings in die klaskamer baas te raak nie. Die probleem kan aan allerlei faktore toegeskryf word.

Eerstens moet onderwys ’n passie wees. Ek vind dat talle studente onderwys studeer omdat dit as die “maklike” opsie op tersiêre vlak beskou word. Boonop is daar talle beurse vir onderwysstudie beskikbaar en is die toelatingsvereistes vir onderwys nie op dieselfde peil as byvoorbeeld vir ingenieurswese of vir mediese studente nie. Ek veralgemeen nou liederlik, maar ek is onder die indruk dat jou toppresterende studente selde onderwys as loopbaan kies. Gevolglik word onderwysers wat nie altyd ’n passie of belangstelling in die beroep het nie opgelei om kinders te onderrig. Op hoërskoolvlak word onderwysers met BEd-kwalifikasies in klaskamers geplaas om op graad 12-vlak te onderrig sonder dat hulle die vak (byvoorbeeld Afrikaans of wiskunde) voorgraads tot op derdejaarsvlak studeer het. Sulke onderwysers is dus nie vakspesialiste nie. As voormalige onderwyser en departementshoof wat gereeld onderwysstudente moes oplei, het die gebrek aan vakkennis my geweldig gefrustreer. Talle jong onderwysers kan nie behoorlik lees, spel of skryf nie. Dit is kommerwekkend, aangesien hulle kinders moet leer lees en skryf. Daar sal indringend aan die probleem aandag gegee moet word. Opvoedkundefakulteite sal hoër standaarde daar moet stel om studente voldoende vir die klaskamer op te lei.

Onderwys is wel ’n uitdagende en uiters spanningsvolle beroep. Die geweld, intimidasie, dreigemente, druk om te presteer en totale gebrek aan respek vir die beroep sowel as die onderwyser as persoon is maar enkele faktore waaraan onderwysers daagliks blootgestel word. Die meeste onderwysers gebruik antidepressante of kalmeermiddels. Boonop is die werkslading, swak besoldiging en gebrek aan ondersteuning vanaf die Departement van Basiese Onderwys, beheerliggame, skoolhoofde en ouers kommerwekkend. Die onderwysberoep geniet geen aansien meer nie. Jong onderwysers word gou ontnugter en verlaat die beroep binne twee tot vyf jaar. Dit is nie die geval by alle Suid-Afrikaanse skole nie, maar is op die oorgrote meerderheid van toepassing.

Ek krap dalk aan iets wat irrelevant voel in vandag se Suid-Afrika: die vraag oor wie die mense in die klaskamer is en tot watter generasie hulle behoort. Van groter belang is dalk: die meeste mense het nie kos in die huis nie. En wat dink jy is ooreenkomste in hierdie generasies se kinders, of hul ryk is of arm?

Alhoewel daar groot sosio-ekonomiese ongelykhede tussen kinders in verskillende dele van die land en samelewing in die geheel bestaan, is daar heelwat faktore wat in enige huishouding, hetsy arm of ryk, teenwoordig is. Daar kan wel ’n spreekwoordelike “gesig” aan Generasie Z gekoppel word. Dit mag dalk wees dat die probleme waaraan hulle blootgestel is, nie uniek aan die 21ste eeu is nie, maar daar is definitief meer probleme waarmee die oorgrote meerderheid kinders wat deel uitmaak van Generasie Z, worstel. Enkelouergesinne, egskeiding, geweld, seksuele misbruik, die rol van tegnologie (hetsy positief of negatief), pornografie, alkoholmisbruik en dwelmmisbruik is maar enkele voorbeelde van wat enige kind, hetsy in Waterkloof of Khayelitsha, kan affekteer. Ons mag dus veralgemeen deur laasgenoemde faktore op Generasie Z in sy geheel van toepassing te maak, aangesien ’n kind se lewe deur een of meer van die faktore geaffekteer kan word.

Wat dink jy het die Alfa-generasie in hierdie land nodig? In terme van versorging - fisiek en emosioneel - en ook in terme van tegnologie (moet hulle nie dalk meer hiervan gespaar word nie, eerder as om tablette uit te deel?), betreffende kos en boeke en taal en toegang? En ook: Wat dink jy is onderwysers in hierdie land se behoeftes? Wat het húlle nodig?

Die probleme wat Suid-Afrikaanse kinders ervaar, is nie uniek nie, maar die feit is dat ons vanweë ons geskiedenis in ’n land woon waar groot sosio-ekonomiese ongelykhede aan die orde van die dag is. Dit gaan dekades neem om die ongelykhede selfs slegs gedeeltelik reg te stel. Ek wens ek het ’n towerstaffie gehad om alle probleme uit te wis! Hoe kan ons as Suid-Afrikaners verwag dat ’n dertienjarige seun/meisie op skool moet presteer wanneer hy/sy die versorger van sy/haar jonger broers en susters is? Kinders word deur ons as volwassenes in die steek gelaat. Dit is ons verantwoordelikheid om vir kinders te sorg, hetsy as ouer, oom, tannie, oupa, ouma, neef, niggie, voog, ouer broer of suster. Kinders benodig meer as net fisiese dinge soos kos, klere en ’n dak oor hul kop. Suid-Afrikaanse kinders smag na emosionele ondersteuning. Weens die gejaagde samelewing waarin ons leef, het ouers of voogde nie altyd tyd om saam met hul kinders te spandeer nie. Hoeveel ouers maak daagliks tyd om met hul kind te gesels? Om voor slaaptyd saam te sit en lees? Hoeveel ouers is werklik bewus van wat in hul kind se lewe aangaan? As onderwyser het ek gevind dat baie ouers bloot die kind by die skool aflaai en verwag dat die onderwyser die rol van ouer, sielkundige, mentor, opvoeder en rolmodel moet vertolk. Dit is onregverdig teenoor onderwysers. Ons as volwassenes en as ouers moet ons rol ernstig opneem.

Ek het gemengde gevoelens oor tegnologie. Ek glo dat kinders wel daaraan blootgestel moet word, maar vir spesifieke doeleindes. Die grootste onding in skole is die gebruik van tablette in klaskamers. Ek het eerstehands ervaar watter onreg aan leerders gedoen word indien onderwysers nie opgelei is en/of onwillig is om tablette in die klaskamer te gebruik nie. Dit word bloot ’n duur speelding. Geen tablet kan ’n gedrukte boek of kennis en akademiese leiding van ’n onderwyser vervang nie. Kinders moet veral in taalvakke gedrukte boeke lees. Hul moet die papier kan voel, aantekeninge kan maak en ’n liefde en waardering vir boeke kan kweek. ’n Tablet of selfoon is nie daar om die kind besig te hou terwyl die onderwyser sy/haar administrasie doen nie. Indien dit nie vir ’n spesifieke doel in die klaskamer gebruik word nie, hoort ’n selfoon of tablet nie in die klaskamer nie. Alle skole behoort leerders en onderwysers te dwing om daagliks vir minstens 30 minute in die klaskamer te lees. Dit is ononderhandelbaar.

Daar is duisende onderwysers wat passievol is oor hul beroep. Hulle is uitstekend opgelei, het jare se onderrigervaring en versit daagliks berge vir hul leerders. Die meeste onderwysers sal openlik erken dat hulle nie onderwys as beroep gekies het weens die salaris nie. Beter besoldiging sou verwelkom word, maar ek dink die meerderheid onderwysers wil eerder meer deur die leerders, ouers, skoolbestuur en gemeenskap in die geheel gerespekteer word. Onderwysers is geleerde mense wat een van die belangrikste take in die samelewing vertolk – om die toekomstige leiers, wetenskaplikes en ekonome (om maar enkele voorbeelde te noem) op te lei. Onderwysers benodig ondersteuning. Nie bloot in terme van goedtoegeruste klaskamers en hulpbronne soos handboeke nie, maar veral emosionele ondersteuning. In Engels word daar verwys na “wellness”. Suid-Afrikaanse onderwysers is oorwerk, verkeer onder enorme druk met te veel administrasie, ’n groot aantal leerders in die klaskamer en hopeloos te veel assesserings wat gedoen moet word. Skole sal self planne moet beraam om seker te maak dat die emosionele welstand van hul onderwysers as ’n prioriteit beskou word. Indien dit gebeur, gaan ons nie insidente hê waar ’n onderwyser ’n leerder klap nie. Onderwysers is ook mense met gevoelens. Ons sit op ’n spreekwoordelike tydbom wat enige oomblik gaan ontplof. Dit is in almal se belang dat die behoeftes van kinders en onderwysers dringend aandag geniet.

Lees ook:

Kô proe, wan soe smaakie Souci!

  • 2

Kommentaar

  • Anthony Wilson

    Dankie vir 'n baie insiggewende artikel met 'n besondere gas! Ek kom uit die era waar ons geleer was: "Die beskawingspeil van enige volk word gemeet aan die standaard wat in sy onderwys handhaaf word." Enige persoon wat vandag Onderwys swot is baie braaf en passievol want hiersonder sal niemand so 'n besondere en gevaarlike beroep kies nie. Ouers EN hul kinders maak dit nie maklik nie en dit is jammer dat dié generasie waarvan u praat (Generasie Z) dit so laat uitrafel het.
    Stoute en onbeskofte kinders word onbeskofte ouers en hulle kies altyd hulle kinders se kant. Die Laerskool Bully word die Hoërskool Bully, Word die Universiteit of Kollege Bully ... word die Korporatiewe Bully! Hulle Bully die hele Gemeenskap van meet af!
    ONS as ouers en GROOTOUERS moet onderwysers se hande neem, dit omhoog hou en soos die Dominee Digter Eugene Beukes sê: Saam na die horison stap."
    Anders gaan die WONDERLIKE BEROEP ten gronde gaan. Blykbaar toe die dokters en professore vir Angela Merkel vra waarom sy onderwysers beter as hulle betaal, was haar antwoord: "Hoe kan ek die mense wat julle geleer het minder betaal?"

  • Jerome Joorst

    Goeie artikel. Ek is bekommerd oor die eskalasie van fisiese geweld teen opvoeders en waarom daar, na soveel insidente, absoluut niks gedoen word nie. Nadat juffrou en leerder op dieselfde dag voor die hof verskyn het, is die reaksie van die onderwysowerhede ... wag daarvoor ... NIKS.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top