Suid-Afrika se onderwys is ’n “katastrofiese mislukking”

  • 17

Foto: YouTube

Suid-Afrika is tans die mees ongelyke land ter wêreld en een van die redes daarvoor is die mislukte onderwysstelsel.

Suid-Afrikaners moet hulle nie laat flous deur die jaarlikse verbetering van die matriekslaagsyfer nie. Die land se onderwysstelsel is ’n katastrofiese mislukking, sê oudpresident FW de Klerk.

’n Kommerwekkende prentjie van die groter wordende kloof tussen ryk en arm is deur De Klerk geskets tydens die 10de jaarlike konferensie van die FW de Klerk-stigting in Kaapstad. Die tema van die gesprek was om ongelykheid aan te pak.

Die gaping tussen die bevoorregtes en minderbevoorregtes is selfs groter as in 1994 toe die land ’n demokrasie geword het. Ongelykheid het die afgelope 25 jaar onder alle bevolkingsgroepe toegeneem, maar in die besonder tussen swart Suid-Afrikaners onderling.

De Klerk sê dit is ’n nasionale skande dat Suid-Afrika die mees ongelyke land ter wêreld is en nie daarin kon slaag om ongelykheid suksesvol aan te pak nie. Een van die dryfvere vir die toenemende ongelykheid is volgens hom die uiters swak skoolprestasie van die meerderheid Suid-Afrikaanse kinders. Hy sê dit is een van die grootste dryfvere van armoede en ongelykheid omdat daar ’n direkte verband is tussen onderwysvlak, inkomstevlak en werkloosheid.

Hy het statistiek van die Organisation for Economic Co-operation and Development (OECD) in 2015 aangehaal. Uit 76 lande wat geassesseer is, was Suid-Afrika tweede laaste op die lys. In 2016 was die land feitlik heel laaste in ’n internasionale studie wat leerders van 57 lande se wiskunde- en wetenskapvaardighede getoets het.

Suid-Afrikaanse leerders vaar swakker as kinders van veel armer lande. Na ses jaar op die skoolbanke kon 27% Suid-Afrikaanse kinders nog nie lees of skryf nie, vergeleke met slegs 4% in Tanzanië en 19% in Zimbabwe.

Een van die probleme is volgens De Klerk dat miljoene kinders na die eerste drie jaar op skool in Engels onderrig word – ’n taal wat veral plattelandse kinders nie verstaan nie.

Uit elke 100 kinders wat begin skoolgaan, sal die helfte uitval voordat hulle in matriek is, 40 sal slaag en slegs 12 sal universiteitstoelating kry.

In effek beteken dit dat slegs 12 uit elke 100 kinders wat in die land se skole opgeneem word, 12 jaar later ’n aanvaarbare kwalifikasie het. Die ongelykheid word verder verhoog omdat kinders uit die laer ekonomiese vlakke dubbel benadeel word. Kinders in die topkwintiel geniet onderwysopleiding op dieselfde vlak as die meeste ander middelklaslande, maar diegene in die laer kwintiel se onderwysgehalte neem eksponensieel af.

Blankes is steeds die mees bevoorregte groep in Suid-Afrika in terme van inkomste en opvoeding, maar die situasie is vinnig besig om te verander. De Klerk sê in 1995 het blanke Suid-Afrikaners 69% uitgemaak van die land se topinkomsteverdieners. In 2007 het dit gedaal tot 43%. Volgens Statistiek Suid-Afrika het slegs 38% blanke huishoudings nou ’n maandelikse besteding van meer as R10 000.

In 2016 het sowat 1,7 miljoen swart, bruin en Indiërhuishoudings ’n groter maandelikse bestedingsinkomste gehad as 30% van die blanke huishoudings. Daar was ook 3,9 miljoen swart, bruin en Indiër-Suid-Afrikaners met ’n hoër opvoedingskwalifikasie as meer as die helfte van die land se blankes.

De Klerk het die ANC krediet gegee dat daar sedert 1994 vordering gemaak is om genderdiskriminasie te verminder, maar het ernstige kritiek uitgespreek teen die land se onderwysbeleid en werkloosheid.

Die lande met die grootste gelykheid ter wêreld ten opsigte van inkomste is die Tsjeggiese Republiek, Noorweë, Swede en Denemarke. In daardie lande verdien die top 10% van die bevolking net effens minder as die saamgestelde inkomste van die laagsbesoldigde 40% van die bevolking. Daarteenoor verdien die top 10% Suid-Afrikaners meer as sewe maal meer as die onderste 40% van die bevolking.

De Klerk sê die belangrikste ongelykheidsverdeling in Suid-Afrika is nie meer tussen wit en swart nie, maar tussen diegene wat vaardighede en opvoeding het en dié wat dit nie het nie, en tussen diegene wat werk het en die sowat 40% van die land se werklose bevolking.

Hy sê die land moet sy onderwysstelsel regruk. Vanjaar se onderwysbegroting beloop R277 miljard. Saam met ander onderwysuitgawes kom dit neer op R16 000 per leerder of student. “Ons moet daarop fokus om seker te maak dat ons en ons kinders behoorlike waarde kry vir hierdie enorme belegging,” het De Klerk gesê.

Dit beteken:

  • daar sal ’n behoorlike onderwysomgewing vir kinders geskep moet word
  • die kwaliteit van onderwysers moet opgeskerp word
  • uitstekende skoolhoofde moet gevind en aangestel word
  • leerders moet in die eerste ses jaar moedertaalonderrig ontvang voordat hulle op hoërskool na Engels oorslaan
  • daar moet ’n einde kom aan die toksiese invloed wat sekere onderwysvakbonde het.

Die adjunk-direkteur-generaal vir onderwysbeplanning, evaluering en monitering (EPEM) van die Oos-Kaapse departement van onderwys, Penelope Vinjevold, het gesê daar moet begin word om die graad 1-slaagsyfer te verbeter.

Sy het ook die matriekslaagsyfer van 78% bevraagteken en gesê dit is nader aan 40% as die uitvalsyfer in ag geneem word.

  • 17

Kommentaar

  • Avatar
    Melanie van Eeden

    Stel MEER onderwysers aan, kleiner verhouding leerling-onderwyser, kleiner klasse gee beter resultate🤷‍♀️

  • Avatar
    Oupagrootjie Piet Afrikavark

    Tragies, tragies, tragies. Seker weer kolonialisme, apartheid, rassisme en Jan van Riebeeck se skuld. Die vraag is: "Wat en wanneer indien wel, gaan die ouergemeenskappe omtrent hierdie 'katastrofiese mislukking' doen?"

  • Daar moet weer behoorlike dissipline gehandhaaf word. Kinders het te veel regte gekry ... ouers mag nie meer hul kinders dissiplineer (pak gee nie). Hulle is te bewus daarvan DAT hulle nie meer hard hoef te leer nie ... DAT hulle net aangeskuif sal word sou hulle dop ... 30%slaagsyfer? Waar gaan dit eindig?

  • Ek staan verstom oor navorsing wat bewys wat reeds voor 1994 voor die hand liggend was. Ek kan net nie die naiëwiteit verstaan dat mense geglo het standaarde dieselfde sou gebly het nie. Die bevrydingsbeweging het belowe en hulle moes presteer. Wat is die resultate? Ek kan dit ongelukkig nie in die volgende 50 jaar sien gebeur nie. Al wat Afrika van 'n gewisse ondergang gaan red is re-kolonialisering. Geskiedenis het dit reeds bewys. Is daar iemand wat die teendeel kan bewys?

  • Avatar
    Gerrit Boonstra

    As n kind nie op laerskool kan leer om te skryf en spel nie, nie vlot kan lees met begrip nie, nie somme kan doen nie, is hulle bestem om hande-arbeid die res van hulle lewens te verrig. Die onderwysers moet meer tyd aan belowende leerders bestee om uitnemend te word.

  • Beste Gerrit
    Dit sal nie gebeur nie. Toe vroulief na 'n tydperk van amper 40 jaar in die onderwys
    besluit het genoeg is genoeg, nadat 'n duur selfoon tydens mondeling gesteel is.
    Die skuldige is opgespoor nadat hy amper R500 oorgeplaas na sy pa se selfoon onder haar Vodacom-kontrak!
    'n Saak van diefstal het niks opgelewer nie en na 'n uittrapparade het die jongman sy skoolloopbaan voltooi en was een van die 'onaantasbares' op die skool.
    Die kameel se rug is gebreek toe sy in haar klaskamer ernstig aangerand is. Die aanranding is op selfoon vasgelê. Gelukkig het van die seuns wat tydens klaswisseling gesien het wat besig was te gebeur tot haar redding gekom.
    Sy ly jare daarna nog aan die nagevolge en loop met moeite. 'n Saak van aanranding is geopen, maar het niks opgelewer nie. Die Polisie se verskoning, die dag was dat die nodige 'resources' nie beskikbaar nie nie. Geen petrol vir speurders se voertuie nie en dit nadat die skuldige se adres aan hul verskaf is.
    Siviele vervolging het wel tot skuldigbevinding gelei en is die 'dame' in afwesigheid skuldig bevind en ’n aansienlike bedrag aan my vrou as skadevergoeding toegestaan. Toe die 'dame' daarvan te hore kom het sy gevlug van een dorp na 'n ander en was die balju elke keer net te laat. Na al die jare het ons besluit om op te hou soek, want privaatspeurders kos geld. Al die mediese onkoste het ons medies erg geknou en van ondersteuning van skool en staat het dadels gekom.
    So terloops, as van die leerlinge die dag nie lus vir klas was nie ,het hul by tye die sleutelgat verstop of die deurhandvatsel afgebreek, So maklik soos dit. Het in die laaste jaar van haar loopbaan 'n paar deurslotte van die klaskamerdeur vervang.
    Dit is vir my baie duidelik dat die afskaffing van lyfstraf 'n bydraende faktor was vir die huidige toedrag van sake. In baie gevalle is die 'learners' baas en die onderwysers klaas. Dat die stert besig is om die hond rond te swaai is duidelik sigbaar op alle vlakke van onderwys.
    Ek mis die dae toe kinders skool toe kon loop of ry met 'n fiets, sonder die vrees van aanranding. 'Vryheid' het nie sonder 'n prys gekom nie en is ons nou 'gevangenes' agter hoë mure en staalhekke.
    Selfs ons winkelsentrums is nie meer veilig nie en moes ons in 'n winkel toegesluit word, toe 'rowers' in die plafon van die winkelsentrum aan die slaap geraak het en met daglig begin rondbeweeg het. Paniek was die gevolg en ons het gesukkel om die parkeerterrein te verlaat, want almal wou wegkom.

  • Nee FC, waarvan praat jy dan nou? Jy is te "old school". Ons sien nog net die ore van die seekoei. Die slagoffer van enige aanranding of geweldadige aksie word skuldig laat voel. Dit is duidelik dat daar geen respek menslikheid en meelewendheid bestaan nie. Ons (wittes) se "bevoorregte posisie" in die samelewing is daarmee heen, indien ons dit ooit gehad het. Ons "standaard/beskawing" is vreemd en onderdrukkend. Alle vorme van menseregte word deur dissipline onderdruk. Ons moet ons "kultuur" verander om in die nuwe samelewing aan te pas of ons gaan dit nie maak nie.

  • Reusedwerg, herkolonialisering is inderdaad die antwoord, en het Frank Westerman in sy boek El Negro en ek (vertaal deur Daniel Hugo in Afrikaans) daarop ingegaan en gesinspeel daarop dat weer daaroor gedink moet word in terme van die wenslikheid daarvan, met gebruikmaking van een van die Noord/Sentraal-Afrikaanse persoonlikhede daarin.
    Gevestigde - establishment aangevuurde - en verstokte denke is besig om vinnig te verdwyn en deur meer realistiese denke vervang te word! Sien ook die SA ANC regime ('n skande!) se ondersteuning saam met ander muishonde v/d politieke wêreld, aan die misdadige Maduro-regime van Venezuela!
    Ek stem definitief vir HERkolonialisering, dit is inderdaad Afrika se ENIGSTE hoop!

  • Reusedwerg, herkolonialisering is inderdaad die antwoord, en het Frank Westerman in sy boek El Negro en ek (vertaal deur Daniel Hugo in Afrikaans) daarop ingegaan en gesinspeel daarop dat weer daaroor gedink moet word in terme van die wenslikheid daarvan, met gebruikmaking van een van die Noord/Sentraal-Afrikaanse persoonlikhede daarin.
    Gevestigde - establishment aangevuurde - en verstokte denke is besig om vinnig te verdwyn en deur meer realistiese denke vervang te word! Sien ook die SA ANC regime ('n skande!) se ondersteuning saam met ander muishonde v/d politieke wêreld, aan die misdadige Maduro-regime van Venezuela!
    Ek stem definitief vir HERkolonialisering, dit is inderdaad Afrika se ENIGSTE hoop!

  • Na so bietjie denke oor her-kolonialiseeing het ek tot die volgende besef gekom. Ons bure noord van die Limpopo is reg vir her-kolonialisering. Botswana was nog nooit weg daaruit nie. Zambië, Zimbabwe en Mosambiek is sprekende voorbeelde van lande wat reg is daarvoor. Ons broers hier ter plaatse is nog vêr van her-kolonialisering aksie. Ek huldig die opinie want ons broers het nog nie swaar gekry soos in swaar kry nie. Hulle praat van rewolusies en drastiese maatreëls, vergrype en oornames van die kolonialiste se bates ens. Die ou in die straat in die voorgenoemde lande het jare lange se burgeroorloë gehad waartydens hulle op die rant van totale ineenstorting was. Hongersnood, tekorte en despotiese weermagte het hulle onderdruk soos geen imperialistiese kolonialistiese staat dit gedoen het nie. Hierdie manne het dit te lekker gehad. Net gekry. Die wiel draai mos maar.

  • Avatar
    Benita de Beer

    Ek beskuldig apartheid vir die agterstand wat ons in SA se onderwysstelsel beleef heel eerste. Ongeag die feit dat ons nou meer as 20 jaar 'n demokrasie en nuwe SA is. Apartheid het ongekende skade berokken. Dink gou hoe dit sou wees as almal ewe veel en regverdige opvoeding en geleenthede in SA gehad het vir die afgelope 118 Jaar? Ja, jy kry die prentjie. En as wit Suid-Afrikaner is ek baie skaam oor apartheid, al was ek maar net 'n onskuldige kind in daardie tyd. Maar aan die ander kant is ek ook ook dankbaar dat ek 'n aanvaarbare/redelike goeie skolastiese opvoeding ontvang het. So, hoe nou verder? Wat kan ek doen behalwe om nie rassisties te leef nie, en nie negatief te word oor ons huidige situasie nie? Ek kan werk verskaf, maar ek moet werk verskaf meesal aan 'n ongeskoolde persoon, en dis probleem nommer een. Tweedens, ek kan goeie geld betaal maar die werknemer woon meesal in armoede, leef in armoede, en moet almal in sy/haar huishouding met slegs een salaris onderhou, want bitter min kry werk en is skolasties bevoeg om iets beter te kry. Derdens, die kinders van my werknemer kry baie swaar want die onderwysers in die plakkerskampskool kry nie veel salaris nie, en hy/sy is minder goed opgelei, en hy/sy is self in armoede gedompel, en hy/sy moet met honger en moeë kinders probeer leer, en dit boonop nog in 'n skool wat nie die basiese geriewe soos skoon lopende water, skoon toilette, redelike speelarea, en sportgeleenthede het nie. Gaan Bishop Lavis toe een dag en dan sien jy hoe lyk skole daar. Dis haglik! Dit alles moet nou slaag vir die werknemer, onderwyser, en die kinders in daardie woongebiede, en skole te midde van plakkerskampe/stedelike lokasies se ongelooflike hoë misdaad en geweld! Hoe verwag ons wat rustig en knus in 'n huis sit met kos en gerieflike slaapplek van die 30-40 miljoen armes in ons land om die mas op te kom in haglike omstandighede? Dis onrealisties om dit te verwag, en nog erger om dit af te dwing omdat infrastruktuur wat uitmekaar val en omdat fondse wanbestee is/word. Fondse moes in die jare voor en tydens apartheid reeds ingespan gewees het indien enige van ons voorvaders 'n visie vir ons land gehad het. Ek voel dikwels hopeloos as ek die bedelende jong kindertjies op die hoek van die straat sien staan, in die hoop om 'n klein aalmoes of iets te ete te kry. Ons moet die werkloosheid eerste takel. Sodat ons die armoede tweede kan takel. En eers dan moet ons die onderwys met baie wysheid regstel sodat dit kinders opbou en nie afbreek nie. 'n 100 maal JA vir moedertaal onderrig parallel met Engels tweede taal, want kinders skakel af as hulle iets nie verstaan nie. Kinders kan nie leers as hulle nie verstaan wat hulle hoor nie. Die drie eerstes is dalk die sleutel, maar ook die grootste uitdagings. Baie belangrik: ons moet dit as 'n land SAAM doen. Misdaad is besig om ons baie vinnig uit te roei, en ons kinders ly die heel ergste daaronder. Ek was onlangs in Khayalitsha. Ek was in 'n kerk en die mense het God aanbid en uitgeroep om hulp by Hom wat ons nooit verwerp nie. Hulle het hoop want hulle het God, en hulle werk hard en maak 'n goeie bestaan, maar vir al die res wat sonder Hom 'n bestaan probeer maak, stop! Kry jou hart reg voor God. Bely jou sonde van die verlede en die hede, en begin hard werk om iets doen om mense in ons land op te help. Bid, ondersteun, help, voed op, verskaf werk. Enigiets, maar solank dit 'n blywende en progressiewe poging/projek is wat mense kan gebruik om hulself uit die puin en armoede te lig. Ek glo ons kan, want my God is getrou.

  • Benita, ja. Apartheid gaan nog vir baie jare vir alles wat tans skeefloop verantwoordelik gehou word. Ons wittes sal nog geslagte verskoning moet vra vir apartheid se gru dade. Ek weet nie of jy al oor ons grense in naburige lande gereis het nie. Ek dink ons land is tans een van die lande wat swakste met wiskunde en wetenskap vaar. Daar is kinders wat nie ordentlik kan lees of skryf nie. Ek is nie 'n voorprater van die verlede was beter as die hede of die toekoms nie, maar om apartheid vir alles die skuld te gee is bietjie te vergesog en absurd.

  • Die stuk van Benita de Beer is so mooi geskryf - weldeurdag en uit die hart uit - dankie vir die respek wat jy toon vir die lesers, en jou erns met die saak! Hoop jy kry al die gesprekke aan die gang wat in jou stuk begin word!

  • Driekwart van die krisis in die onderwys is nog nie gesê nie. Dit is die onreg en miskenning van plaaslike kennis - die kennis waarmee mense ‘n lewe maak, in al die tale van die land, Afrikaans ook - die oorheersing van die oorspronklike Europese meesters wat hier ter plaatse met die Kompanjie begin is, en deur alles Frans, Spaans, Portugees en Duits voortgesit is, en deur die Engels vervolmaak is, en steeds in stand gehou word, is nog met ons. In die onderwys ly almal aan die effek van kennis wat beskou was, en steeds gesien word as museumstukke: inheemse artefakte en in kalbasse wat in die museum hoort, danksy die volkekundiges, danksy die wetenskaplikes wat alles plaaslik in inheems as nie-kennis geïgnoreer en uitgesluit is, en danksy ons huidige generasie wat net een ding ken, en dit is om die glans van alles Europees en modern voort te sit, selfs met volle BEEE-gradering.
    Slegte nuus - die kennisprobleem in die onderwys en die wetenskap is een van “epistemicide” - kennisignorering, kennismoord, en kennisaflegging - soos ook gebeur elders in die gekoloniseerde Suide, en met alle onderwerpe mense die wêreld oor. Die wenners is steeds die meesters in beheer, deesdae die globaliserendes, die moderniste, die korporatiewes, die neo-liberales.
    Wat staan ons nou te doen? Herbedink denke soos die skrywers Odora Hoppers en Richards in hulle boekie Rethinking thinking aanbeveel! Vervang die moederbord, restoureer die kennis-industrieë, werk aan die gesond word van mense wie se kennis vir eeue ontken was - ook aan die gesond word van diegene wat die ontkenning gedoen het. Herbedraad die prosesse van kennisontwikkeling om ruimte te maak vir die groei van kennispluraliteit.
    Kan die regte NSA weer hieruit groei?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top