
(Skets: Aristal Branson | Pixabay)
Word intimiteit op ons skerms uitgebuit in die naam van realistiese storievertelling of word die aanvaarding daarvan bepaal deur die kyker se eie ervaring en morele waardes?
Intimiteit is die fisiese en/of emosionele nabyheid aan ’n ander persoon en om hierdie veilige spasie en vertroue tussen akteurs te verstaan, kyk ons dieper in die wêreld van intimiteit in Suid-Afrikaanse produksies.
Intieme tonele vir sterker stories
Afrikaanse TV-produksies is besig om grense te skuif met reekse en films soos Koek, Wyfie, Eksie perfeksie en Die dekonstruksie van Retta Blom. Die druk om meer intimiteit en naaktheid op skerm te wys, kan alleenlik regverdig word indien dit daar is om ’n sterk storie te vertel en nie om kykers te prikkel of doelbewus te skok nie.
Produksiehuise voel dat dit nou ’n veilige tyd is om oor intimiteit te praat en gemakliker is om daardie oomblikke op skerm te deel.
Intimiteitskoördineerders neem produksiespan se kwesbaarheid in ag
Wêreldwyd bied intimiteitskoördineerders alternatiewe om intimiteit op skerm uit te beeld en help skep die ruimte vir ’n meer positiewe uitbeelding van dit wat as privaat beskou word.
Intieme tonele en sekstonele is slegs toneelspel, maar dit is die hele produksiespan se werk om dit eg te vertoon. Die onus om dit so gemaklik moontlik te maak vir die hele span rus op die skouers van die intimiteitskoördineerder.
Èmil Haarhoff, ’n gesertifiseerde intimiteitskoördineerder, tree op stel op as ontwerper en choreograaf met verskeie bewegings en kreatiewe vaardighede. Dit is sy taak om “te baklei vir die akteurs se toestemming en gemak,” sê Haarhoff.
Hy sê: “Die intimiteitskoördineerder is daar om te help grense stel, soos waar die ander persoon mag vat of nie. Jou lyf ken nie die verskil tussen wat werklik is en net ’n simulasie nie en kan reageer, opgewonde raak, of selfs skrik.”
Haarhoff sê voorts dat elke produksie van mekaar verskil en moet volgens hul eie behoeftes evalueer word. Akteurs het ook verskillende vlakke van gemak en sy rol as koördineerder is “’n aktiewe een, voor, gedurende en na die tonele”.
Die teenwoordigheid van intimiteit op Suid-Afrikaanse TV-produksies, selfs in Afrikaans, het sy plek gevind om stories te help vertel. Met protokolle in plek wat die hele produksiespan beskerm, kan die kyker verseker wees van veilige en smaakvolle verfilming.
Wyfie se Mienke Ehlers het nog nooit onveilig gevoel nie
“Daar is dinge in plek om intimiteittonele aan te pak en dit maak my dankbaar.” So gesels aktrise Mienke Ehlers. Sy sê dat intieme tonele gebruik word “as narratief om die kyker meer insig in die karakter se wêreld te gee”.

Mienke Ehlers (Foto: IMDB)
Haar karakter Mia in Showmax se Wyfie het, veral in die eerste seisoen, baie intieme tonele gehad terwyl sy deur emosionele onrus gegaan het. Mienke se eerste blootstelling aan intimiteittonele was tydens Dinge van ’n kind en sy sê sy “was maar skrikkerig, maar die intimiteitprotokolle was in plek. Ek is mooi deur die tonele gelei, was in ’n veilige spasie en het nog nooit onveilig op stel gevoel wat intimiteittonele betref nie.”
“As akteur moet jou kop sterk wees om jou karakter se emosies en probleme te verstaan en te ervaar sonder dat dit jou raak.” Mienke het haarself voorberei deur gereeld ’n sielkundige te sien om seker te maak haar “geestesgesondheid bly ongeskonde”.

(Plakkaat: IMDB)
Sy beklemtoon ook die belangrikheid van ’n intimiteitskoördineerder op stel: “Daarsonder sal dit chaos wees en niemand sal werklik weet wat om te doen nie. Hy of sy is seker dié belangrikste persoon op stel waar intimiteittonele geskiet word.”
Sy het raad aan nuwelinge wat voor die keuse van ’n intieme toneel staan. “Gebruik elke stukkie raad en kyk mooi na jouself. As jy ’n intimiteitskoördineerder en ’n produksiemaatskappy het wat jy vertrou, sal jy okay wees.”
Intimiteit en paaldans vir Jacques
Jacques Bessenger het tydens die kykNET Silwerskerm-toekennings vir film en TV die toekenning as beste akteur (drama) gewen vir sy rol as Ryno in die Showmax Original Koek. Jacques het Ryno, ’n ontkleeklubchoreograaf wat verlief is op sy baas se kêrel, Pitbull (Clayton Evertson), vertolk.

Jacques Bessenger (Foto: Izak de Vries)
Jacques sê hy is bly mense begin vrae vra oor wat agter die skerms aangaan tydens die verfilming van intimiteittonele. “Dit is eintlik so ’n onnatuurlike natuurlike posisie om in te wees,” sê Jacques. Hy gesels oor die vlakke van intimiteit, van soen tot die werklike simulasie van ’n sekstoneel.
Jacques sê die volgende aspek is naaktheid en baie akteurs skei die twee van mekaar. “Soms het ’n akteur nie ’n probleem met intimiteit nie, maar keer wanneer daar naaktonele is.”
Hy skerts dat hy ook maar selektief is oor naaktonele. “Dit word vir ewig op kamera vasgevang en my ma en almal gaan dit kyk; ek wil nie hê hulle moet dit sien nie.”

(Plakkaat: IMDB)
As manlike akteur pas Jacques aan by die vroulike akteur en dit waarmee sy gemaklik is. Hy sê: “Jy is eintlik so bewus van waar jy is, dat die kamera op jou is en daar mense om jou is.” Die tonele word tegnies benader en voel meer soos gechoreografeerde dans tussen die akteurs.
In die tyd voor intimiteitskoördineerders was daar ’n ander benadering op stel en het dit maar meestal afgehang van hoe die regisseur sy stel benader het. “Dit is nou baie anders, want daar word voor die tyd met ons gepraat, afsonderlik en gesamentlik.” Hy verduidelik dat elke akteur se sensoriese herinneringe van mekaar verskil.
Oor die vraag oor sy rol in Koek antwoord Jacques dat dit goed ontvang is deur sy familie, vriende en selfs die publiek. Hy is eerder geloof oor sy diversiteit en talent as akteur en dat daar net so “hier en daar kras kommentaar” was.
“Party mense is net nie fisiese mense nie en hulle wil dit nie sien nie. Ek hou daarvan om te sien dat twee karakters aangetrokke is tot mekaar,” sê Jacques wanneer ons gesels oor kykers se tradisies en veral morele waardes. “Dit is hoe dit is in die regte lewe, wanneer mense verlief is wil hulle dinge saam ervaar. Twee verliefde karakters raak tog aanmekaar.”
Oor sy voorbereiding vir Koek sê Jacques dat dit die moeilikste was “om op die paal te kan dans”.
Retta Blom het die weg gebaan vir Antoinette Louw
SAFTA-wenner Antoinette Louw stem saam dat intimiteit op TV net daar behoort te wees “as dit die storie dien” en nie bloot om te skok nie. Mense sal sien as dit “onnodig is en dit goedkoop maak”.

Antoinette Louw (Foto: IMDB)
Antoinette gesels oor Retta Blom en die karakter se weerloosheid. “Dit is iets waarmee baie Afrikanervroue worstel.” Vroue is skaam om oor seksualiteit te praat. “En moet tog net nie sê jy hou van seks nie!”
Die dekonstruksie van Retta Blom het veral onder die ouer vroulike kykers aanklank gevind en Antoinette sê dit is nie meer net jonger vroue in romantiese en intieme tonele nie.

(Boekvoorblad: Kwela | Filmplakkaat: IMDB)
Baie vroue is skaam om spontaan in die slaapkamer te wees. Daar heers ’n inherente ongemaklikheid, ’n skuldgevoel en skaamte wat onnodig is, en Antoinette het in Retta Blom se skoene geklim om die vroulike kyker, veral die ouer vroue, die bemoediging te gee dat dit okay is.
“Ons word gebombardeer daarmee dat jy jonk, mooi en maer moet wees en ek is moeg daarvoor,” sê Antoinette. “Dit is nie net hierdie vroue wat sexy mag voel nie. As ek so voel moet daar ander vroue ook wees en dit is wat Retta Blom se karakter aan vroue gewys het.”
Die meeste vroue is in ’n stryd met hulle eie lyf en Antoinette verwys na Kate Moss se bekende stelling dat “nothing tastes as good as skinny feels”. Sy sê dit doen skade aan vroue se selfbeeld en spontaniteit.
Aanvanklik was dit vir Antoinette moeilik om haarself só op skerm te sien. “Dit is nie iets waaraan ek gewoond is nie en het myself geoordeel.” Tog het sy besef dat “’n intimiteitrol nie die aktrise definieer nie. Ek het ’n karakter se storie vertel.”
“Om in Retta se skoene te klim was ’n persoonlike reis. Daar was ongemaklike en selfs weerlose oomblikke, maar ek het nooit onveilig gevoel nie. Retta het my baie van myself geleer, maar ek het dit ook vir ander vroue gedoen.”
Antoinette sê sy het “selfs empowered” gevoel, maar sou dit nie gedoen het sonder die teenwoordigheid van ’n intimiteitskoördineerder nie.

Die dekonstruksie van Retta Blom (Foto: IMDB)
Op die vraag of ons haar weer in so ’n intieme rol sal sien, sê Antoinette dat sy baie versigtig sal wees om dit weer te doen. “Dit was ’n groot stap en die storie moet dit regverdig.” Antoinette skerts dat haar vriende en familie baie ondersteunend was en die film geniet het, maar haar pa “wou dit nie sien nie”.
Die dekonstruksie van Retta Blom is tydens die 2024-kykNET-Silwerskermfees bekendgestel en het ’n dawerende applous ontvang.
Lees ook:
Romantiese en erotiese fiksie in Afrikaans: variasies op ’n wenresep?
Eksie perfeksie is ’n speelse ondersoek na sigself én ’n hele genre
Boekresensie: Die dekonstruksie van Retta Blom deur Zelda Bezuidenhout

