In gesprek met Frederick Botha oor Seuns weet

  • 0

Frederick Botha (Foto: Stefaans Coetzee)

Frederick Botha het nie die boek gesteel nie, hy het hom verdien. In die openingsverhaal van sy debuutbundel, Seuns weet, steel die verteller ’n kopie van Huppelkind en sy maats. “Ek het die boek in graad een by die prysuitdeling gewen, as beste leser in my klas,” sê hy.

Ons gesels by Aardklop, buite die ATKV-Boek-oase, bestuur deur Exclusive Books. Seuns weet staan op die ronde swart tafel voor Botha. Aan sy nek hang die kaartjie wat hom as spreker en skrywer identifiseer.

“Dit was nog altyd een van my groot drome om te kan skryf, spesifiek kortverhale,” sê hy.

Alhoewel Botha grootgeword het in ’n huis waar veral sy pa graag gelees het, was hy nie een van daardie kinders wat saans met slaaptydstories in die bed gesit is nie. Terwyl ander kinders maatjies gaan soek het, kon hy homself ure lank in die tuin vermaak deur denkbeeldige wêrelde te skep en avonture uit te dink.

Sy pa het die Trompie-reeks vir hom gekoop, maar die boeke het hom verveel. Saartjie se avonture saam met haar vriendinne het hom meer aangegryp. In die laerskool het hy ook die Afrikaanse vertalings van die Goosebumps-boeke, wat in Afrikaans as die Grillers-reeks verskyn het, geniet, maar sy liefde vir lees het eers later werklik posgevat.

In graad 10 gee sy pa vir hom Wilbur Smith se Rage om te lees. Die eksplisiete sekstonele verras hom en hy besef dat ’n mens ook oor sulke dinge kan skryf. Later, tydens ’n vakansie by sy ouma, ontdek hy Marita van der Vyver se Griet kom weer. Die omslag trek sy aandag en hy koop die boek met sy sakgeld.

“Toe begin ek seks in Afrikaans te lees,” vertel hy.

Botha wou graag drama studeer, nie soseer om op die verhoog te staan nie, maar om draaiboeke te skryf en agter die skerms te werk. Sy ouers was nie oortuig dat drama ’n bestendige beroep sou wees nie. Toe hulle daarop aandring dat hy ná matriek verder studeer óf gaan werk, het hy die universiteit se prospektus nadergetrek. Hy het van Afrikaans en Engels op skool gehou, veral wanneer dit by voorgeskrewe letterkunde gekom het, daarom besluit hy op ’n BA.

Dit was tydens sy voorgraadse studie dat kreatiewe skryfwerk begin posvat het. In sy derde jaar stuur hy ’n kortverhaal aan die destydse kunstydskrif Bravo!.

“Daai was vir my nogal ’n waterskeidingsoomblik,” sê hy. “Daai eerste keer as jy jou verhaal en veral jou naam as skrywer in gedrukte vorm sien.”

Daarna verskyn kortverhale in Nuwe stories 2 en Nuwe stories 3; met laasgenoemde het hy die wenverhaal geskryf. Ander verhale word ook in bloemlesings opgeneem.

Die publikasies het hom geleer hoe dit voel om sy werk aan ander mense bloot te stel en terugvoer daarop te ontvang.

“Aanvanklik,” erken Botha, “het ek gedink ’n verhaal is klaar wanneer ek dit geskryf het. Eers wanneer ander mense daarop reageer, besef ’n skrywer wat nog moontlik is. ’n Redakteur of keurder kan iets raaksien waaraan die skrywer nie gedink het nie. Die verhaal kan verander, verbeter en uiteindelik ’n groter potensiaal bereik.”

Botha het sy voorgraadse studie, honneurs- en meestersgraad in Afrikaans voltooi voordat hy sy doktorsgraad in Afrikaans en Nederlands aan die Noordwes-Universiteit behaal het. Later het hy ’n meestersgraad in kreatiewe skryfkunde aan die Universiteit Stellenbosch aangepak, onder leiding van Alfred Schaffer en Willem Anker.

Ná sy doktorsgraad het ’n nuwe vraag opgeduik: Wat nou?

“Ek is ’n nuuskierige mens. Ek is ’n ewige student,” sê hy.

Die meestersgraad in kreatiewe skryfkunde het ’n oplossing gebied. Dit sou hom weer in ’n akademiese omgewing plaas, maar hierdie keer met ’n praktiese doel: om gedissiplineerd aan ’n manuskrip te werk.

Seuns weet het in 2026 by Protea Boekhuis verskyn. Die bundel bestaan uit 16 kortverhale waarin ’n jong, wit, gay Afrikaanse man sy ervaring van seksualiteit, geloof, gesinslewe, vriendskap en skrywerskap ondersoek. Daar is ooreenkomste tussen die verteller en Botha se eie lewe, maar die openingsverhaal, waarin die boek gesteel word, herinner die leser ook daaraan dat ’n fiktiewe karakter en sy skepper nie dieselfde mens is nie.

Die verhale staan elkeen op hul eie, maar vorm saam ’n groter geheel. Botha het doelbewus met die struktuur en aanbieding geëksperimenteer sodat die bundel ook ’n deurlopende narratief sou hê.

Wanneer ’n mens met ’n kortverhaalskrywer praat, is die vraag oor ’n roman nooit ver weg nie: Wanneer gaan die langer boek verskyn?

“’n Roman het nie ’n groter bestaansreg as ’n kortverhaal nie,” sê hy. “Die kortverhaal vereis dat ’n skrywer met dieselfde narratiewe elemente werk, maar dit binne ’n veel kleiner ruimte moet doen.”

Dit gaan ook oor ’n bepaalde manier van na die lewe kyk. ’n Verhaal kan kort wees sonder om eenvoudig te wees.

“Dit is nie ’n ‘stepping stone’ na ‘regte skryfwerk’ toe nie,” sê hy.

Botha erken dat hy in die aande nie altyd die energie het om ’n roman te lees nie. Hy bevredig wel sy leeslus deur saans eerder ’n kortverhaal of ’n paar gedigte te lees.

“Voor ek daai lig afskakel, moet ek beslis eers lees,” voeg hy dadelik by.

Hy vind dit vreemd dat die kortverhaal nie groter aftrek kry in ’n tyd waarin mense dikwels min tyd het om te lees nie. “Miskien,” wonder hy hardop, “het die lang tradisie van skrywers wat met kortverhale begin en later romans skryf, bygedra tot die persepsie dat die genre bloot ’n voorbereiding vir iets anders is.”

Wat ook al die rede, hy wil nie hê die kortverhaal moet sy plek in die Afrikaanse letterkunde verloor nie.

“Ek dink die belangrikste is net solank daar mense is wat nog waardering het vir die genre en skrywers wat nie opgee om kortverhale te skryf nie.”

Wanneer hy oor sy eie invloede praat, noem hy die Amerikaanse skrywer Raymond Carver. Hy het Carver se kortverhale, onder meer die bundels Cathedral, Elephant, Will you please be quiet, please? en What we talk about when we talk about love, intensief gelees tydens sy meestersgraad in kreatiewe skryfkunde en die ontwikkeling van sy manuskrip.

Wat hom by Carver tref, is die gestroopte skryfstyl en die gewone mense wat sentraal staan in die verhale. Die karakters is nie noodwendig buitengewoon nie, maar die manier waarop Carver hulle en hul lewens beskryf, is vir Botha ’n belangrike les in tegniek.

Ons onderbreek die gesprek vir ’n oomblik om Martin Steyn te groet voordat hy vir sy eie gesprek moet aanmeld. Daarna keer ons terug na Botha se raad aan opkomende kortverhaalskrywers.

Hy voel dat Die Afrikaanse kortverhaalboek die beste vertrekpunt is om die genre se geskiedenis en moontlikhede te leer ken.

“Jy kan nie kortverhale wil skryf as jy nie weet wat al in die genre gebeur het en hoe dit lyk nie,” sê hy. “Lees dus die mense wat voor jou geskryf het, en lees ook buite Afrikaans.”

Botha beskou platforms soos tydskrifte, kompetisies, slypskole en bloemlesings as belangrike ruimtes vir opkomende skrywers. Dit bied nie net die kans om gepubliseer te word nie, maar ook die geleentheid om terugvoer te ontvang, te leer herskryf en selfvertroue op te bou.

Hy werk tans as fiksieredakteur by Human & Rousseau.

“Dit is vir my ’n interessante nuwe posisie. Ek lees graag en geniet dit om manuskripte te help ontwikkel. Die tegnieke wat ek tydens my meestersgraad in kreatiewe skryfkunde geleer het, hoop ek ook om aan die skrywers met wie ek werk, te kan oordra.”

Hy wonder hoe die redakteurswerk sy eie skryfwerk gaan beïnvloed. Sal hy minder tyd en energie vir sy eie verhale hê wanneer hy heeldag met ander mense se manuskripte werk? Hy het nog nie die antwoord nie.

Hy ken wel die selftwyfel en die gevoel dat daar altyd nog iets is wat verander kan word voordat ’n mens die werk as klaar moet beskou. Omdat hy self aan albei kante van die proses staan, hoop hy dat hy skrywers met groter begrip kan benader.

Hy is tans besig met ’n huldigingsbundel oor Etienne van Heerden vir die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Hertzogpryswenners-reeks.

’n Tweede kortverhaalbundel is beslis deel van sy toekomsplanne. Hy het idees, hoewel hy nog nie aktief daaraan skryf nie. Die publisiteit rondom Seuns weet is iets wat hom op hierdie stadium nog besighou, en hy weet dat die volgende manuskrip op sy eie tyd sal kom.

Hy is nie van plan om sommer na ’n ander genre oor te skakel nie.

“Ek geniet dit om kortverhale te lees en ek geniet dit om kortverhale te skryf.”

Lees ook:

Seuns weet deur Frederick Botha: ’n resensie

Oop boek: Gesprek met Frederick Botha oor Seuns weet

Seuns weet deur Frederick Botha: ’n lesersindruk

Boekevat met Deborah: Seuns weet deur Frederick Botha en Grensloos deur Wilna Adriaanse

Frederick Botha beantwoord vrae oor Seuns weet

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top