Seuns weet deur Frederick Botha: ’n lesersindruk

  • 0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Titel: Seuns weet
Skrywer: Frederick Botha
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 0781485316121

Frederick Botha se debuutkortverhaalbundel Seuns weet herinner my aan ’n kaleidoskoop wat ek as kind gehad het. Ek het ure lank die kartonbuis gedraai en probeer uitwerk of die patrone waarin die stukkies glas val hulself herhaal. Met elke draai het ’n nuwe beeld verskyn; verwant aan die vorige een, maar nooit heeltemal dieselfde nie.

Met elke herlees val die verhale anders op die hart en die verstand. Is dit nie juis die wonder van kuns nie? Die kunstenaar neem die alledaagse waar en verwerk dit deur sy eie unieke lens; die leser bring weer sy eie ervaringswêreld na die teks. In die ontmoeting tussen dié twee ontstaan betekenis. Die verhale in Seuns weet is vir my soos die draai van ’n kaleidoskoop: Met elke lees vorm ’n nuwe woordprent, elkeen verrassend, elkeen uniek.

Lees ’n mens die bundel deur die motto’s as lense, vorm een patroon. Die aanhaling uit Jan van Eeden se Wat seuns wil weet roep ’n wêreld op waarin geloof, seksualiteit en skuld innig vervleg is. Natuurlike liggaamlike impulse word met moreel belaaide terme soos selfbevlekking benoem en só word die spanning tussen begeerte en aanvaarding reeds voor die eerste verhaal gevestig.1

Die tweede motto draai die lens en ’n ander patroon verskyn. Waar die eerste motto die spanning tussen geloof en begeerte beklemtoon, rig Jaco Barnard-Naudé se om my kastele in Spanje te sloop die aandag op identiteit self. Die verhale word nou gelees as ondersoeke na manlikheid, kwesbaarheid en die verhale wat mans oor hulself vertel.2

Draai ’n mens die kaleidoskoop nóg ’n keer, verskyn ’n derde patroon. Botha se Seuns weet bring die innerlike spanning van ’n jong gay Afrikaanse man na vore wat probeer sin maak van identiteit, begeerte, geloof en waar hy inpas binne ’n veranderende sosiale werklikheid.3 Skielik val dieselfde verhale in ’n nuwe lig.

My gunstelingverhaal in die bundel is “Rocket man”. Moenie vra waarom nie. Hoe verklaar ’n mens waarom een verhaal, gedig, liriek, skildery, beeld, of foto jou dieper raak as ’n ander? Sielkundiges weet dalk.

“Rocket man” is nie net ’n bekende Elton John-treffer nie, maar ook die titel van die 2019-rolprent oor die sanger se lewe. Die lied is in 1972 deur Bernie Taupin geskryf en, volgens hom, deels geïnspireer deur Ray Bradbury se The illustrated man, ’n bundel wetenskapfiksieverhale wat ook ’n verhaal met die titel “The rocket man” bevat. Interessant genoeg gaan nóg Bradbury se verhaal nóg Taupin se liriek werklik oor ruimtevaart. Albei handel eerder oor die emosionele koste van afstand: ’n man wat van sy huis, sy geliefdes en uiteindelik ook van homself vervreem raak.

Dit is juis hierdie gevoel van isolasie, eensaamheid en emosionele afsnyding wat Taupin in die bekende liriek vasvang:

I’m not the man they think I am at home
Oh, no, no, no, I’m a rocket man
Rocket man, burning out his fuse up here alone.

Vir Elton John het die lied later ook ’n persoonlike betekenis gekry. In sy memoir Me beskryf hy die spanning tussen Elton John, die wêreldberoemde popster, en Reginald Dwight, die private mens agter die verhoogpersona. Die temas van vervreemding en identiteit wat in die lied opgesluit lê, sou daarom ’n deurlopende draad in sy eie lewe word.

Dit is waarskynlik waarom Rocket man uiteindelik ook die titel van die 2019- biografiese rolprent geword het. Volgens die vervaardigers verken die film temas van isolasie, identiteit, selfvernietiging en uiteindelik selfaanvaarding.

“Rocket man” as titel van hierdie besonderse kortverhaal is, volgens my, met groot literêre bewustheid gekies. Die temas wat met die lied geassosieer word – buitestanderskap, vervreemding en die spanning tussen wie ’n mens is en wie ander verwag jy moet wees – loop soos ’n onderstroom deur die verhaal.

Aanvanklik het ek gedink dat die titel “Rocket man” en ’n ander Elton John-treffer “Sacrifice” die sleutel sou wees wat die verhaal ontsluit. Die opening versterk dié vermoede: gebruikte teesakkies, afgespoelde clingwrap, ’n ou man se dood en ’n familie wat nie heeltemal bymekaar uitkom nie. Isolasie, verlange, andersheid en verlies is inderdaad oral in die verhaal teenwoordig. Maar met elke draai van die kaleidoskoop verander die patroon. Gaandeweg word dit duidelik dat Botha hierdie temas nie as eindbestemming gebruik nie, maar as vertrekpunt vir iets anders.

Dit laat my met ’n ander vraag: Wat gebeur wanneer jy besef dat jy nie noodwendig hoef te wees wie jou familie, kultuur, of gemeenskap verwag jy moet wees nie?

Oupa George word nooit heeltemal as een van die familie voorgestel nie. Reeds vroeg word hy beskryf as “die Engelsman wat ons ‘oupa George’ genoem het” (36). Selfs tydens sy begrafnis bly hy die Engelsman, die Katoliek, die buitestander. Tog is hy juis die familielid met wie die verteller die sterkste identifiseer. Botha suggereer daarmee iets belangriks: Andersheid hoef nie uitsluiting te beteken nie. ’n Mens kan van die groep verskil en steeds behoort. Daarom is dit betekenisvol dat Ouma uiteindelik die kosbare Royal Albert nie vir ’n denkbeeldige eerste skoondogter bewaar nie, maar vir die verteller. “Dit bly binne die familie,” sê sy vroeër (36). Wanneer sy later fluister: “Die Royal Albert is joune” word die verhaal se sentrale insig sigbaar: Andersheid kanselleer nie behoort nie.

’n Belangrike leidraad lê in die oomblik wanneer die verteller tydens oupa George se begrafnis saam met die Katolieke gemeente antwoord: “Lord have mercy!” (38). Anders as die res van sy familie, wat die rituele met ongemak en selfs spot bejeën, beweeg hy spontaan in George se wêreld in. Die verbintenis word verder bevestig deur die voorwerpe wat deur die verhaal loop: die rosary, die Royal Albert-stel en uiteindelik oupa George se skoene. Botha suggereer dat liefde en behoort nie altyd in woorde uitgespreek word nie. Soms word dit bewaar in die dinge wat mense nalaat. Daarom is die toneel waarin die verteller George se skoen teen sy mond en neus druk meer as bloot rou; dit is ’n poging om vas te hou aan iemand in wie hy iets van homself herken. ’n Sterk beeld hier is ook die grys klippie wat hy in een van die gleuwe onder Oupa se skoen kry. Andersheid = ’n klippie in ’n skoen. Dit maak die lewe erg ongemaklik, maar die klippie kan verwyder word.

Wat ek aanvanklik as ’n verhaal van oorlewing gelees het, het mettertyd verander in ’n verhaal van voortsetting. In die openingsparagraaf klou Ouma aan gebruikte teesakkies en afgespoelde clingwrap; niks word sommer weggegooi nie. Teen die slot besef ’n mens dieselfde beginsel geld op emosionele vlak. Die verteller hou vas aan oupa George se nalatenskap deur die rosary te bewaar. Hy gooi dit nie weg nie, maar hang dit aan die truspieëltjie waar dit oorspronklik in Oupa se motor gehang het. So word die hergebruik van voorwerpe aan die begin van die verhaal subtiel omvorm tot die voortsetting van herinnering, identiteit en behoort.

Die verteller identifiseer hom deurgaans sterk met oupa George. Dit kom veral na vore in drie voorwerpe wat soos motiewe deur die verhaal beweeg: George se rosary, sy Royal Albert-stel en sy skoene. Die verband tussen die twee word verder versterk wanneer die verteller alleen tussen George se besittings sit en die woorde van “Rocket man” oproep: “I’m not the man they think I am at home.” In dié oomblik begin die titel van die verhaal ook anders resoneer. Die buitestander waarna die lied verwys is nie meer net Elton John se rocket man nie, maar moontlik ook die verteller wat iets van homself in George herken.

Botha se grootste prestasie is dalk dat hy sy karakters met deernis benader. Selfs wanneer hulle buitestanders is, word hulle nooit bloot tot slagoffers of simbole gereduseer nie, maar bly hulle volledig mens.

“Rocket man” se prentjie in my kaleidoskoop is dié van ’n jong man wat homself begin herken in ’n ander buitestander – oupa George – en wat uiteindelik sy eie pad kies sonder om die nalatenskap wat hom gevorm het, agter te laat. In Botha se hande word buitestanderskap nie ’n verhaal van uitsluiting nie, maar van behoort – anders is nie reg of verkeerd nie; dit is net anders.

Notas:

1 https://af.wikipedia.org/wiki/Jan_van_Elfen

2 https://versindaba.co.za/2024/05/17/resensie-om-my-kastele-in-spanje-te-sloop-jaco-barnard-naude/

3 Inligtingstuk van Protea Boekhuis

Lees ook:

Oop boek: Gesprek met Frederick Botha oor Seuns weet

Seuns weet deur Frederick Botha: ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top