Seuns weet deur Frederick Botha: ’n resensie

  • 0

Titel: Seuns weet
Skrywer: Frederick Botha
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781485316121

Botha se ontwikkeling as skrywer

Omdat elke verhaal onafhanklik funksioneer, word ’n kortverhaalbundel dikwels strenger beoordeel as ’n roman; daarom kan selfs een swak verhaal die geheelindruk benadeel. Menige leser sal maklik by só ’n verhaal ’n boekmerk indruk en nooit weer na die bundel terugkeer nie. Dit is ook die maatstaf waarmee ek Frederick Botha se debuut-kortverhaalbundel, Seuns weet, benader het.

Ek het lank uitgesien na ’n bundel uit Botha se pen. Ek het hom die eerste keer ontdek in Suzette Myburgh se breinkind Nuwe stories 2 (Human & Rousseau, 2013). Sy verhaal “Petrus” – in Seuns weet herdoop tot “Rocket Man” – het my aan ’n moderne Koos Prinsloo herinner. In die verhaal sterf die verteller se oupagrootjie en hy woon vir die eerste keer ’n Katolieke begrafnis by. Later leen hy sy oumagrootjie se kosbare bidsnoer vir ’n universiteitspartytjie, maar lieg oor waarvoor dit is. By die partytjie voel hy skuldig oor sy oneerlikheid en besef hy hoe belangrik haar geloof en tradisies vir haar is.

Later het ek Botha weer raakgelees in ’n Woordfees-verhaalbundel, en daarna in Rudie van Rensburg se bundel met 15 speurverhale, Op die spoor van (Tafelberg, 2017), waarin Botha met “Vryheid” bygedra het. “Vryheid” handel oor ’n Skeppende Skryfwerk-student Kaye wat doelbewus ’n saamrygeleentheid reël met ’n ou genaamd Brendon, nadat sy vermoed dat hy moontlik betrokke was by ’n groepverkragting van haar. Sy gebruik die roadtrip van Pretoria na die Vrystaat as ’n lokval: Sy bedwelm hom, konfronteer hom met wat gebeur het, bind hom uiteindelik vas en probeer hom dwing om skuld te erken.

Die speurelement lê in digitale nasporing en Facebook-ondersoekwerk. Dit is amper ’n spanningsverhaal, ook ’n sielkundige wraakverhaal, eerder as klassieke speurfiksie. Daardie verhaal is minder poëties as die verhale in Seuns weet. Dit is meer visueel en filmies. Selfs die geweldstonele word meer funksioneel vertel: “Sy sprei sy bene wyd oop. Aan die buitekant van elke enkel kap sy ’n tentpen in die grond” (Op die spoor van, bl 74).

Botha werk tans as fiksieredakteur by Jonathan Ball Uitgewers. ’n Vroeë weergawe van die bundel is ingelewer as deel van die skrywer se meestersgraad in Kreatiewe Skryfkunde in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch. Nie al die verhale in die bundel is nuut nie. Buiten “Petrus”, het “Wat is daar nou eintlik om daaroor te sê?” (Nuwe stories, 2014), “Warning caracals” (Ons Klyntji, jaargang 122, 2018) en “Please help, God bless” (LitNet, 2026) voorheen verskyn, hoewel hulle vir hierdie bundel herbewerk is.

’n Tekskritiese vergelyking van vroeë en herverwerkte verhale

Wanneer die LitNet-weergawe van “Please help, God bless” met die bundelweergawe vergelyk word, is dit duidelik dat die nuwe weergawe meesterlik gesny is. Een voorbeeld:

Soos ek by die verkeerslig by die kruising van Main Road en 4de Laan stilhou, verander ek van stasie en skakel in op RSG waar Lynette Francis op Praat Saam met ’n sielkundige gesels oor die onderwerp van tienerselfmoord. (LitNet)

Teenoor:

Ek sit my Placebo playlist af, skakel oor na die radio. Lynette Francis gesels op RSG met ’n sielkundige. (Seuns weet, bl 73)

Die resultaat is ’n vinniger ritme met minder afleidings; dit plaas groter fokus op die sentrale obsessie. Die nuwe teks beweeg dus nader aan ’n kortverhaal wat op spanning en herhaling werk, eerder as ’n stadsessay met ’n narratief daarin.

Die nuwe weergawe sny ook die verduidelikings weg en vertrou meer op suggestie. Die vroeë weergawe verduidelik die verteller se gevoelens eksplisiet, terwyl in die nuwe weergawe baie van hierdie self-analise uitgesny is. In die gepubliseerde weergawe word sekere motiewe skerper gestruktureer, waar dit in die 2016-weergawe meer verspreid tussen al die stadsdetail is.

Die vroeë teks voel soms asof dit alles wil insluit, te veel waarnemings wil dokumenteer en die skrywer sy slimheid wil wys. Die nuwe weergawe vertrou meer op stilte, weglating en spanning. Hiermee bewys die skrywer dat minder méér doen.

Die grootste verandering lê in die slot. Die vroeë weergawe s’n is baie eksplisiet en grafies. Omdat die nuwe weergawe die obsessie beter struktureer, kry die seksuele uitbarsting groter simboliese gewig: Dit voel soos ’n psigiese breuk en nie net ’n groteske toneel nie.

’n Uitgebreide Koos Prinsloo-vergelyking

Net soos Prinsloo s’n, werk Botha se 16 verhale amper soos ’n sleutel tot sy lewe én sy skrywerskap. As mens hulle langs die biografiese inligting oor hom lees, sien jy hoe sterk sy werk op persoonlike ervarings steun, maar ook hoe hy daardie ervarings literêr transformeer.

Die skrywer se vergrootglas op mikro-detail breek nêrens die tempo van die storie nie. Inteendeel, dit skets ’n tasbare atmosfeer wat ek laas in Dana Snyman se vroeë werke ervaar het. Maar anders as Snyman, volg Botha in Prinsloo se voetspore waar observasie dikwels opstapel. Een detail haak aan die volgende totdat die wêreld amper te veel word. Byvoorbeeld: In “Die affair” (Slagplaas, Human & Rousseau, 1992) skryf Prinsloo:

“It is charming how much you want me,” het hy gesê, halfhartig besig om sy geruite katoen boxer short van Hilton Weiner met een hand bó te probeer hou, oor my kompulsiewe verknogtheid soggens aan sy klein, wit, seningrige aerobics-lyfie – tingerig soos Giovanni Bellini se maer blanke Jesus in Die bloed van die Verlosser [...] (bl 14)

Sy waarnemings hou nie op waar dit “nodig” is nie; dit versamel, assosieer en katalogiseer. Botha doen presies dieselfde. Die opbou van die bedelaar in “Please help, God bless” illustreer dit goed:

Sy grys hemp is slordig by sy swart broek ingesteek, die moue is opgerol, die linkerkantse een hang papperig onder sy stompie. Sy bruin sandale is twee nommers te klein. (bl 73–4)

Ook hier stop die observasie nie. Die verteller kyk te lank en dit is ’n belangrike Prinsloo-ooreenkoms: Die detail is nooit onskuldig nie; die detail verraai obsessie. Die verteller probeer rasionaliseer waarom hy kyk.

Prinsloo het verder ’n manier om seksuele of liggaamlike detail só eerlik te maak dat dit amper vernederend voel om te lees. In “Die affair” skryf hy: “[T]oe ek sy prostaat raak, was hy gou daar [...]” (bl 12).

Seks is nooit eroties op ’n glansryke manier nie, maar altyd klinies, intiem en menslik. Die liggaam word nog minder geromantiseer. In “Please help, God bless” gebeur dieselfde met die bedelaar: “Ek ignoreer die vrot reuk en pluk vinnig daaraan” (bl 78).

Daardie detail vernietig enige moontlikheid van “sexy”, maar juis daarom word dit intens intiem. En dan die klimaks: “Sy stompie lyk soos die flappende vin van ’n vis wat op droë grond spartel” (bl 78).

Dit is grotesk én sensitief, terselfdertyd. Presies soos Prinsloo: Die liggaam word nie sensueel gemaak deur mooiheid nie; dit word sensueel gemaak deur ongemaklike konkreetheid.

Die sterkste ooreenkoms lê waarskynlik in hoe die twee vertellers hulle eie psige kompromitteer. By Prinsloo verraai die verteller homself voortdurend. Hy probeer intelligent klink, maar sy begeertes, obsessies en emosionele wonde lek deur. In “Die affair” ontleed die verteller almal, maar ontbloot eintlik homself: sy behoefte aan liefde, sy vernedering, sy obsessie met begeerte en sy familietrauma. Die “ek” word algaande minder betroubaar.

In “Please help, God bless” gebeur dieselfde. Aanvanklik lyk die verteller normaal, selfs effens sinies. Hy oordeel die bedelaar: “Hierdie ene het nie eens moeite gedoen met ’n bord nie” (bl 74).

Sy psige begin stadig verbrokkel. Die bedelaar verander nie dramaties nie – die verteller se verhouding tot die bedelaar verander wel. Die ereksie word ’n obsessie, dan ’n bedreiging, daarna paranoia en laastens kompulsie. Net soos Prinsloo: Die verteller word gevang deur dit wat hy probeer beheer of bespot. En uiteindelik kompromitteer hy homself volkome: “Ek steek my regterhand by die venster uit, grawe sy voël uit sy broek.” (bl 78).

Die daad voel terselfdertyd impulsief en onafwendbaar, psigies voorbereid deur alles wat vooraf gekom het. Dit is tipies Prinsloo: Die self word nie vernietig deur groot drama nie, maar deur obsessiewe bewussyn.

Ten slote

Dit titel is geleen uit Jan van Elfen se boek Wat seuns wil weet (Tafelberg, 1978).

Die verhale raak aan geloof, politiek en gaywees. Die vertelstem in hierdie publikasie praat in die eerstepersoon (“ek”), wat maak dat ons direk binne sy gedagtes leef. Jy ervaar sy emosies, onsekerheid, frustrasie en begeertes onmiddellik saam met hom. Die leser voel amper soos ’n mede-passasier in die verteller se kop. Met Seuns weet lees jy dus nie net stories nie – jy word deel daarvan.

Die poëtiese kwaliteit lê in skerp en oorspronklike beelde. Botha bring ’n literêre diepte in sy verhale wat jy nooit in Huisgenoot-verhale sal raaklees nie. Elke verhaal in hierdie bundel het ’n herhalende beeld (’n dummy, ’n bidsnoer, of selfs ’n boks) wat terugkeer en meestal die klimaks beïnvloed.

Abraham H de Vries sou vir hierdie skrywer op aandag staan, want elkeen van hierdie verhale is ’n pryswenner.

Lees ook:

Oop boek: Gesprek met Frederick Botha oor Seuns weet

Please help, God bless

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top